Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 6


Скачать книгу

      Sy snak na haar asem en bly vasgenael staan. “Friedrich?” vra sy verbysterd.

      Hy maak die deur toe en vryf oor sy linkerhand. “Het jy slagtande, meisiemens? My hand bloei!” grom hy, maar sy stem is steeds gedemp.

      “Ek wens ek het jou hand afgebyt!” sis sy. “My hart kon van skok gaan staan het toe jy my so skielik van agter in die donker gryp!”

      “Volgende keer sal ek jou eers katswink slaan en dan gryp,” dreig hy. Hy kyk na die donker huis en fluister gebiedend: “Kom saam.”

      Hulle bly in die skadu van die struike totdat hulle ’n opening in ’n hoë heining bereik. Friedrich neem haar aan die arm en stoot haar op ’n wit geverfde tuinbankie neer. “Sit. Ons moet praat,” sê hy bruusk.

      “Om eenuur in die oggend?” vra sy sarkasties, maar haar hart sing ’n jubellied in haar ore. Friedrich het na haar toe gekom. Wat maak dit saak wat sy rede was? Hy is hier en al maak hy die res van die nag met haar rusie, sal sy doodtevrede wees om na sy beledigings te luister.

      “As ek nie gekom het nie, het Dieter jou op die galery betrap,” sê hy grimmig.

      “Maar Dieter is vanaand vroeg bed toe. Ons het saam aandete genuttig en hy het aan tant Henriëtte gesê hy gaan vroeg slaap.”

      Hy buk nader aan haar en in die lig van die sterre is sy oë die kleur van maanlig op ’n donker meer: silwergrys. “Onthou dan in die toekoms om nooit vir broer Dieter te glo nie. Tant Hanna het my toevallig vertel dat tant Henriëtte gekant is teen Dieter se verhouding met ’n sekere weduwee, daarom lieg hy oor sy kuiertjies aan haar. Tant Meraai sou jou ook daarvan kon vertel het. Het jy haar gevra waar Dieter is voordat jy met jou nagtelike snuffelwerk begin het?”

      “Nee … nee, ek het nie, maar …” Sy ruk haar kop ergerlik op. “Hou op om na my te gluur, Friedrich. Ek sou definitief die voordeur hoor oopgaan het.”

      “Het jy gehoor toe ek by die sy deur ingekom het?” vra hy strak.

      “Wel, nee, maar die sydeur was nie gesluit nie.”

      “Dit was, en die slot het soos ’n donderslag geknal toe ek dit oopgesluit het. Jy vergeet: ou huise kraak snags, daarom hoor jy later nie die geluide nie; of jy glo dis maar ’n balk of die vloer wat kraak.”

      “O …” Sy byt skuldig op haar onderlip. “Ek sal in die toekoms versigtiger te werk gaan.”

      “Daar gaan nie vir jou ’n toekoms van snuffelwerk wees nie, klein Grietjie. Ek weier om jonk dood te gaan omdat ek te veel spanning moet verduur. As ek vyf minute later opgedaag het, het Dieter jou op heterdaad betrap.”

      “En? Hy sou my nie lewend opgeëet het nie,” sê sy vererg.

      “Watter verduideliking sou jy aan hom gegee het?”

      “Die verduideliking wat ek aan enigiemand anders ook sou gegee het: dat ek na ’n goeie skuilplek vir my diamanthalssnoer soek.”

      “Jou wát?” vra hy oorbluf.

      “Die halssnoer wat ek om my nek dra: dit het aan my oorlede ma behoort en ek weet dis ’n klein fortuintjie werd. Tant Henriëtte het so ’n lae dunk van haar diensmeisies – en dit sluit my in – dat sy my sou geglo het as ek aan haar gesê het ek vertrou nie die huishulpe nie,” verduidelik sy vermakerig.

      “Bygesê, as sy nie haarself sou wysmaak dat jy een van die halssnoere gesteel het nie,” sê hy wrang en glimlag teësinnig. “Ek bewonder in elk geval jou vindingrykheid, klein snip, maar ná vannag … Ek sal liewer snags self Kaiserburg binnesluip en na die dokumente kom soek, want ek ken die huis.”

      “Kan ek dan maar teruggaan Blumenstrauss toe?” vra sy gretig.

      “As jy wil, ja, maar ek het gehoop jy kan oom Otto se vertroue wen. Wie weet, dalk praat hy eendag met jou oor die skuilplek of die dokumente. Of dalk, as hy yl …” Hy swyg en staar haar in stilte aan. “Ons is vriende, Gretha, maar vriendskap stel nie eise nie. Jy kan môre terugkom Blumenstrauss toe as jy nie kans sien om langer hier te bly nie.”

      “Die digter Byron het gesê vriendskap is liefde sonder vlerke,” sê sy impulsief.

      “Ekskuus?”

      “Ek het hardop gedink. Ek is nie van plan om reeds môre …” sy breek haar sin af toe sy iemand hard na haar hoor roep.

      “Gretha! Verpleegster Wolmarans, waar kruip jy weg?”

      “Verduiwels! Dis Dieter. Gou, Gretha, hy mag ons nie saam sien nie. Wag hom daar links van die ingang langs die heining in,” fluister Friedrich en help haar hardhandig orent.

      “Eina! Ellendige afknouer!” sis sy.

      “My hand bloei nog,” koggel hy toe sy vinnig na die ingang in die heining toe draf.

      Dieter gewaar haar byna onmiddellik en loop met lang hale op haar af. “Gretha!” Hy gryp haar in sy arms vas en soen haar in haar nek. “Toe ek jou nie in jou kamer kry nie, het ek geweet jy sal hier buite op my wag. Glo my, ek sal jou nie teleurstel nie.”

      5

      Waar is Friedrich? Waarom help hy haar nie? So dink Gretha terwyl sy verwoed spartel om haar uit Dieter se versmorende omhelsing te bevry. “Los my, Dieter! Ek het geen afspraak met jou gehad nie! Los my, jou ellendige seekat!” krys sy gesmoord.

      Dieter lag beskonke. “Ek hou van ’n bietjie teëstand poppie, want dit maak die oorwinning soveel soeter. Kom, ek wys jou hoe ’n meisie gesoen behoort te word.”

      “Nee! Ek sal …” protesteer sy en ruk haar kop wild heen en weer. Sy is net half bewus van ’n vinnige beweging agter Dieter, en dan ’n dowwe slag. Dieter kreun en sak soos ’n lappop voor haar voete inmekaar.

      Haar mond val oop en haar oë is donker van vrees terwyl sy na Friedrich kyk wat met ’n stuk hout in sy hand oor Dieter staan.

      “Is jy mal, Friedrich? As hy dood is …” stamel sy beangs.

      “Ek is ’n dokter, meisiekind. Ek weet waar om te slaan om nie ’n lyk op my gewete te hê nie,” antwoord hy bruusk. Hy kyk na haar en vra grimmig: “Is jy baie seker jy het nie ’n afspraak met die romantiese Dieter gehad nie?”

      “Het jy vergeet jý het my na die tuin toe gesleep, dokter Falkenstein?” vra sy bitsig.

      “Ek het nie, maar waarom het hy hier na jou kom soek?” vra hy agterdogtig.

      “Moontlik omdat ek gedurende aandete gesê het die tuin lyk sprokiesagtig in die maanlig. Tant Henriëtte het toe vertel dat sy en oom Otto in hulle jeug dikwels snags in die tuin rondgeloop het. Dieter se asem het na alkohol geruik. In sy beskonke toestand het hy heel waarskynlik my verwysing na die tuin onthou en toe hierheen gekom om na my te soek.”

      “Wel … dis seker moontlik.” Hy kyk haar skerp aan. “Solank as wat jy onthou dat Dieter ’n swak reputasie het … en dat hy deesdae by Alexandra Combrinck … e … Myburgh boer.”

      “Die meisie wat jy liefgehad het?” vra sy, sonder om te dink.

      Selfs in die maanlig kan sy die uitdrukking op sy gelaat sien verhard. “Tant Hanna skinder te graag. Maar ons het ’n ander probleem: Dieter. As hy bykom, sal hy wonder wie hom oor die kop geslaan het.”

      “Een van jou tuinwerkers?” stel sy hoopvol voor.

      “Jou intelligensie laat jou in die steek, klein Grietjie. Nie een van die Falkensteins se werknemers sal dit waag om die uitverkore erfgenaam van Kaiserburg aan te rand nie.”

      “Dalk moet ek voorgee dat iemand my ook oor die kop geslaan het,” dink Gretha hardop en snak na haar asem toe sy ’n hygende geprewel hoor.

      “Op my oudag … in my nagkabaai … en die sooltjies van my ou pantoffeltjies is juis so dun … Waar drentel die swernoter van ’n seunskind rond? As ek hom …” Meraai verskyn om ’n donker hibuskusstruik,