Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 6


Скачать книгу

geval hier? Ek is van plan om met my eie motor na Blumenstrauss toe te ry.”

      “Hou op terugrem, meisiekind, of ek tel jou op en dra jou na my motor toe,” sê hy ongeduldig. Hy bly skielik staan en ruk haar saam met hom tot stilstand. “En waag dit om weer my hand te byt, snip, en ek trek jou tande met ’n draadtang uit.”

      “Bullebak! Net omdat jy fisiek sterker as ek is, glo jy jy kan my hiet en gebied. Maar dis tipies van julle chauvinistiese … e …?”

      “Varke?” stel hy hulpvaardig voor.

      “Ek kan aan erger skelname dink,” antwoord sy nydig. “Waarom het jy my kom haal? Ek het my eie motor.”

      “Beskou my as Dieter se tweelingbroer: ek vind jou onweerstaanbaar,” spot hy.

      “Moenie my laat lag nie, dokter Falkenstein! Dieter is galant en bedagsaam. Hy ruk my nie aan my arm rond asof ek ’n lappop is nie,” sê sy boos.

      “Sowaar? Jy verkies dit om deur ’n beskonke man omhels te word!” Hy lag grimmig. “Ek sal dit onthou as ek jou weer in die donker inwag, verpleegster Wolmarans.”

      “Dieter het my lankal om verskoning gevra oor sy swak optrede. Ons is nou vriende.”

      “Vriende?” vra hy skepties en bly langs sy motor staan. “Jy, klein Grietjie, is dolverlief op die ryk, aantreklike Dieter Falkenstein. Sal ons hoop jou verliefdheid is net ’n stuiptrekking en dat jy dit spoedig sal ontgroei?”

      Sy gluur hom aan met al die woede en verontwaardiging tot haar beskikking, maar sy weet dat sy moet stilbly, anders sal sy in trane uitbars. Hoe kan enige man so ’n skreiende gebrek aan gesonde verstand hê? Sy voel asof daar in drukletters op haar voorkop staan dat sy hierdie groot, dom man wat voor haar staan, liefgekry het; maar hy verdink haar van verliefdheid op Dieter. Aan die anderkant: solank hy glo dat sy vir Dieter liefhet, sal haar liefde vir hom haar geheim bly. Sy sien eerder kans om afkeer as simpatie in sy oë te lees.

      “My gevoel vir Dieter kan jou nie raak nie, Friedrich. Ek weet wat ek doen,” sê sy kil.

      “Dis juis omdat jy nié weet wat jy doen nie dat ek jou waarsku, Gretha. Dieter boer by Alexandra Myburgh. Hulle is van plan om te trou,” sê hy dringend.

      “Hulle is nog nie getroud nie, ook nie verloof nie,” sê sy koppig, haar gesig afgewend.

      Hy plaas sy groot hande op haar skouers en sy onverwagte aanraking jaag haar bloed tintelend deur haar are. “Asseblief, Gretha, luister na my. Dieter het vir Alexandra lief. Hy het teenoor my erken dat hy van plan is om met haar te trou. Hy … hy gebruik jou net.”

      Sy ruk haar kop op, haar oë blitsend in syne. “Jou vermetele gonnabeentjie! Hoe durf jy voorgee dat ek sal toelaat dat enige man my gebruik? Lyk ek vir jou soos die soort meisie wat … wat … e … gebruik wil word?” vra sy ontstoke.

      “Liefde doen vreemde dinge aan meisies,” antwoord hy ernstig. “Ek is ’n ginekoloog. Ek weet.”

      “En ek is ’n meisie, ek weet ook, dokter Falkenstein. Onthou dit in die toekoms en moenie probeer om die rol van my pa te speel nie,” sê sy styf.

      Haar blonde hare is silwerwit in die maanlig, haar gelaatstrekke fyn en breekbaar soos porselein, dink hy en wens hy kan die uitdrukking in haar oë lees. Weet sy hoe bekoorlik sy is? As hy haar nou in sy arms neem en soen, sal hy haar van Dieter kan laat vergeet? So wonder hy, en skrik vir sy eie gedagtes. Wat besiel hom om aan so iets te dink? ’n Ligte flirtasie pas hom, maar Gretha … Sy is nie een van sy ervare vriendinne wat hulle geloof in die onverganklikheid van die liefde lankal verloor het nie. Gretha is ’n meisie met die onskuldige geloof van ’n kind in ’n sprokiesverhaal waarin die held en heldin vir altyd gelukkig saamwoon.

      “’n Sneeuvlokkie,” sê hy mymerend.

      “Ekskuus?” vra sy oorbluf.

      Hy glimlag flitsend. “Jy herinner my aan ’n sneeuvlokkie. Dis pragtig om na te kyk, maar as jy dit probeer vashou, smelt dit in jou hand.”

      “Jy hou my skouers al ure lank vas en ek het nog nie gesmelt nie,” sê sy vies.

      “Moenie altyd oordryf nie, snip,” sê hy en neem sy hande vinnig van haar skouers af weg. Hy betrag haar sinies. “Jy glo aan die onsterflikheid van die liefde, nè, klein Grietjie?”

      “Vanselfsprekend. Maar ek weet ’n huwelik is nie maanskyn en rose … of ’n sprokie uit ’n kinderboek nie,” antwoord sy.

      “Onsterflike liefde is ’n sprokie. Ek is daarvan oortuig dat my ouers in ’n stadium geglo het dat hulle mekaar onsterflik lief- het – totdat ek my verskyning gemaak het. Oom Otto en tant Henriëtte het mekaar ook eenmaal onsterflik liefgehad, maar hulle liefde het lankal in haat verander.” Sy mond vertrek wrang. “Wat sê jy nou, slim Grietjie?”

      Gretha aarsel. “My pa is nooit weer getroud ná my ma se dood nie, want hy het my eenkeer vertel dat geen vrou haar plek in sy lewe kan inneem nie. En tant Amalia het ongetroud gebly, omdat sy die man wat sy liefgehad het, nooit kon vergeet nie.”

      “Uitsonderings. Solank jy onthou Dieter is nie jou pa nie. Kom ons ry,” sê hy en maak die motordeur vinnig oop, voordat sy die redenasie kan voortsit.

      Hulle ry in stilte deur die maanverligte nag na die huis op die hoë sandduin. Die stilte tussen hulle eggo die leegheid in haar binneste. Waarom het sy die groot man liefgekry, vra sy haarself wanhopig. Hy het haar nooit aanleiding gegee nie, maar sy het ook nie gevra om hom lief te kry nie. ’n Vergeefse liefde wat op fondamente van trane gebou is, dis al wat vir haar oorbly as sy nie spoedig elders troos gaan soek nie.

      Amalia stap die sitkamer met ’n skinkbord met tee in haar hande binne en plaas dit op die koffietafeltjie neer. Sy kyk vraend rond. “Wat het van Friedrich geword? Het hy nie gesê hy drink saam met ons tee nie?” vra sy vir Gretha wat op die rusbank sit en strak voor haar uitstaar.

      “Hy het besef ons sal alleen wil praat, tannie. Hy het ’n entjie gaan stap,” antwoord Gretha sonder om na haar te kyk.

      “Het julle twee rusie gehad?” vra Amalia vinnig.

      Gretha frons ongeduldig. “Hy is ’n inmengerige ou oom, tannie. Hy het besluit ek is verlief op Dieter Falkenstein en hy het vir my ’n ellelange sedepreek afgesteek. Liewe land, ek is nie sestien nie! Ek is bewus van Dieter se verhouding met Alexandra Myburgh. Ek gaan ry net gereeld perd saam met hom, omdat ek toevallig van perdry hou.”

      “Met of sonder Henriëtte se wete?” vra Amalia streng.

      “Sonder haar wete. Tant Henriëtte het my duidelik laat verstaan ek is net ’n diensmeisie. Aangesien ek ’n graad het, mag ek darem saam met hulle aan tafel eet,” antwoord sy met ’n skewe glimlaggie.

      Amalia gee vir Gretha ’n koppie tee aan en neem langs haar op die rusbank plaas. “Henriëtte se hooghartigheid amuseer jou, maar jy besef nie jy stel jou lewe in gevaar as jy saam met Dieter gaan perdry nie, hartjie?”

      “Onsin!” Gretha staar haar onthuts aan. “Ek besef tant Henriëtte glo ek is nie ryk genoeg om sosiaal met Dieter om te gaan nie, maar wat kan sy eintlik doen as sy uitvind ons ry saam perd?”

      “Ek herhaal net wat Friedrich vir my gesê het, Gretha: Henriëtte glo dat Dieter haar persoonlike besitting is. Sy sal hom nooit met enige vrou kan deel nie. Jy is bewus van sy verhouding met Alexandra, maar het Alexandra al ooit in Kaiserburg kom kuier?”

      “Nee … maar dis omdat tant Henriëtte so onvoorspelbaar optree. Ek glo sy is ’n verleentheid vir Dieter, daarom bring hy nie sy vriende huis toe nie.”

      “Die saak is ernstiger, my kind. Ek twyfel nie daaraan nie dat Henriëtte jou liggaamlike leed sal aandoen as sy besef dat jy en Dieter vriende is. Dis waarom …”

      “Moenie oordryf nie, tant Amalia,” val Gretha haar onthuts in die rede. “Tant Henriëtte is deesdae baie rustig. Friedrich het die tannie ’n spul bangmaakstories vertel omdat hy glo ek het Dieter lief.”

      “Die