tannie hê ek moet terugkom hierheen?”
“Ja, hartjie. Ons het tog beplan om saam vakansie te hou. Friedrich is bekommerd oor jou veiligheid en aangesien jy op sy aandrang Kaiserburg toe is, voel hy vir jou verantwoordelik,” sê Amalia paaiend.
“En oom Otto dan?”
“Friedrich sal met dokter Steenkamp reël om ’n ander verpleegster in jou plek te kry. Asseblief, Gretha, ek wil jou by my hê.”
“Ek kan nie nou terugkom nie, tant Amalia. Ek is besig om oom Otto se vertroue te wen. Dis net moontlik dat hy my sal vertel waar die geheime skuilplek is. Ek moet daar bly totdat ek dit weet,” sê Gretha met dringende erns.
Amalia staar haar in stilte aan en sug verslae. “Ek kan jou nie dwing nie, hartjie, maar of Henriëtte dit gaan goedkeur of nie: ek kom van nou af gereeld by jou in Kaiserburg kuier.”
Gretha loop die breë trap ligvoets op. Sy sien dat Otto se kamerlig brand toe sy die trapportaal bereik en sy rek haar treë. Waarom is hy wakker, wonder sy bekommerd. Sy was twee uur lank weg, maar ná sy inspuiting behoort hy nie pyn te hê nie.
“ … lieflike bruid … My pragtige Henriëtte … hoor jy die kerkklokke lui? Dis ons troudag, Henriëtte,” hoor Gretha Otto ylend praat en skok in haar spore tot stilstand. Meraai het haar gewaarsku: Otto gee net voor dat hy oor sy troudag yl wanneer Henriëtte met hom rusie maak. Wat soek Henriëtte dié tyd van die nag in sy slaapkamer?
Sy beweeg geluidloos nader en loer om die deurkosyn. Henriëtte staan in ’n dreigende houding oor Otto en fluister verwoed: “Die briewe en dokumente – waar het jy hulle versteek, Otto? Praat, jou hulpelose sot, of ek versmoor jou met jou eie kopkussing!”
7
Wanhopige angs spyker Gretha se voete aan die vloer vas. Otto is ’n hulpelose, sterwende man en haar pasiënt, daarom is dit haar plig om hom te beskerm. Maar Henriëtte is ’n onstabiele vrou wat deur haar eie woede en frustrasie tot moord gedryf sal word.
“My beeldskone bruid … my liefste Henriëtte …” praat Otto ylend. “Hoor jy die troumars, Henriëtte? Dis ons troumars … ek is die gelukkigste man op aarde, my liefling …”
“Stommerik!” krys Henriëtte ingehoue, gryp Otto aan sy skouer en ruk hom soos ’n willose strooipop in haar hande rond. “Luister na my, Otto. Ek moet die briewe en die dokumente vernietig. Waar het jy hulle versteek? Otto … Otto, hoor jy wat ek sê?”
Henriëtte gaan nie dadelik haar dreigement uitvoer om oom Otto met sy kussing te versmoor nie, besef Gretha, en sy draai weg en vlug in die gang af na Meraai se slaapkamer. Sy maak die kamerdeur oop sonder om te klop en skakel die daklig aan.
“Fielefooi!” protesteer Meraai gesmoord van haar bed af en sit steunend orent. Sy knip haar oë vinnig teen die skerp lig, maar Gretha het haar reeds bereik.
“Kom gou, tant Meraai. Tant Henriëtte is by oom Otto in sy kamer en sy dreig om hom met sy kopkussing te versmoor. Kom tog, tannie!” pleit sy desperaat en kry Meraai aan die arm beet.
Meraai se oë rek wyd oop, ineens helder wakker. “Versmoor, sê jy, liefie? Toe, toe, gee my ou kamerjassie aan. Ek moet net eers my ou pantoffeltjies – nou waar kruip die goetertjies nou weer weg?” vra sy en buk moeisaam af.
Gretha kniel voor Meraai en trek haar pantoffels vir haar aan.
“Wat maak jy, Grethatjie? Ek kan mos self …” protesteer sy.
“Om liefdeswil, tannie mors tyd. Kom net!” soebat Gretha, haar stem skor van ingehoue trane. Waarom is sy so magteloos? As Otto vannag sterf, sal sy vir sy dood verantwoordelik wees, dink sy skuldig.
“Fatsoenlikheid,” sê Meraai en trek haar lippe vroom op ’n tuit. “Ek is ’n ongetroude vrou, ’n oujongmeisie, Grethatjie, daarom moet ek fatsoenlik wees as ek in ’n man se teenwoordigheid is.”
“Wat gaan tannie se fatsoenlikheid tannie baat as oom Otto reeds dood is?” vra Gretha bitter.
“Henriëtte sal nie moor nie,” sê Meraai met onwrikbare oortuiging. “Maar kom ons loop, liefie, voordat jy in trane uitbars.”
“As oom Otto iets oorkom …”
“Sjuut!” waarsku Meraai en sluip in die gang af na Otto se slaapkamer.
“… die duurste verloofring, my liefling. Maar dis nie mooi genoeg nie, Henriëtte. Niks is goed genoeg vir my beeldskone bruid nie,” prewel Otto toe Meraai en Gretha sy kamerdeur bereik.
“Jy het ’n keuse, Otto” sis Henriëtte wat met haar rug na die deur gekeer oor Otto se bed buk. “Jy gaan my vertel waar jy daardie briewe en dokumente versteek, of so nie, gaan jy sterf. Ek sal nie toelaat dat ’n optelkind met my seun se erfenis wegstap nie. Praat, Otto, of jy sterf nog vannag!”
“Nee, maar ek wil dit hê!” sê Meraai uitkoggelend en kruis haar arms oor haar bors.
Henriëtte ruk om en krys beangs: “Meraai!”
Meraai ignoreer haar en praat met Gretha: “Jy het met jou eie ore gehoor mevrou Falkenstein dreig om haar hulpelose man te vermoor, verpleegster Wolmarans. Jy sal in ’n hof onder eed kan getuig dat mevrou Falkenstein nie normaal optree nie.”
Gretha veg teen die begeerte om histeries te begin lag toe Meraai ongemerk vir haar knipoog, maar slaag daarin om met oortuigende erns te sê: “Ja, tant Meraai. Ek het elke woord gehoor en ek is bereid om in die hof te getuig.”
“In daardie geval, liefie: kom ons gaan pak ons tasse. Ek is nie van my lewe seker in ’n huis saam met ’n moordenares nie.”
“Meraai, asseblief!” Henriëtte storm nader en kry Meraai aan die arm beet. “Meraai, luister na my. Jy kan my nie nou in die steek laat nie. Jy weet ek het jou nodig. Veertig jaar, Meraai … Jy pas my al veertig jaar lank op. Ek kan nie sonder jou klaarkom nie,” pleit sy met die hulpeloosheid van ’n kind.
Meraai se uitdrukking bly ongenaakbaar. “Ek het jou nooit opgepas nie, Henriëtte. Ek was jou geselskapsdame … toe jy soos ’n normale vrou opgetree het. Maar as jy moord beplan … Ek gaan nie saam met jou hang vir ’n moord wat jy gepleeg het nie.”
“Ek het sommer net gepraat, Meraai. Jy weet ek sal niemand vermoor nie. Ek wou net hê Otto moet na my luister,” verduidelik Henriëtte skuldig.
“Dis wat jy nou sê, maar ek is nie meer ’n kind nie. Jy het iemand nodig om jou vier en twintig uur per dag te bewaak. My kragte laat my nie toe om aan jou die aandag te gee wat jy nodig het nie, daarom vertrek ek nog vannag, Henriëtte,” sê Meraai beslis.
“Jy durf nie! Jy het my ouers plegtig beloof om vir die res van jou lewe my geselskapsdame te wees. Het my pa nie gesorg dat jou pa nie sy plaas verloor het nie? Die groothartige Jean-Pierre de Villiers het julle spul Spannenbergs ingestop, daarom het jou broers vandag hulle geleerdheid. Hoe kan jy so ondankbaar wees, Meraai?” vra Henriëtte driftig.
“Harde werk en saamstaan het verhoed dat my pa sy plasie verloor, want al wat hy ooit van jou pa ontvang het, was my maandelikse salaris. My pa is jare gelede dood en my broers is lankal selfstandig. Hulle is lankal nie meer afhanklik van die salaris wat ek maandeliks ontvang nie,” antwoord Meraai met opsigtelike trots.
“Maar jý is afhanklik van jou salaris. Wat gaan van jou word? Jy het jou eie kamer en jou etes is vry. Jy leef in weelde. As jy my in die steek laat, sal ek sorg dat niemand anders jou weer in diens neem nie,” sê Henriëtte vermakerig.
Meraai lag dat haar skouers en maag gesellig saamskud. “Maar hoe werk jou verstand, Henriëtte? Jy het self gesê: ek is al veertig jaar lank in jou diens. Ek het nie my geldjies gemors nie. Toe my pa nie meer my salaris nodig gehad het nie, het ek my geld gespaar. Ek het oorgenoeg – en ek het vyf broers wat my met ope arms sal verwelkom omdat ek vroeër so baie vir hulle opgeoffer het.”
Gretha kyk met verbasing hoe Henriëtte se gesig skielik verkrummel en hoe trane haar oë volloop en