Schalkie van Wyk

Schalkie van Wyk Keur 6


Скачать книгу

Jou onbeheerste uitbarstings en histerie is alles slim toneelspel om almal na jou pype te laat dans. Jy is ’n vrou van ses en vyftig, maar jy gaan soos ’n bedorwe kind te kere as jy nie jou sin kan kry nie. Dit raak jou nie dat die mense glo ek versorg ’n kranksinnige vrou nie, solank as wat jy koning kan kraai in Kaiserburg. Praat ek die waarheid?”

      “My ouers het my nooit teëgegaan nie. Ek was altyd hipersensitief en gespanne. Die dokter het hulle aangeraai om my my sin te gee,” antwoord Henriëtte verontskuldigend.

      “Die dokter was ’n kwaksalwer met die intelligensie van ’n brulpadda. Ongelukkig het jou ouers hom geglo, omdat hulle dit kon bekostig om jou te bederf. As jy my ouers se dogter was, sou jy na ’n gewone skool toe gegaan het en jou swak senuweetjies agter ’n ploeg in die mielieland uitgesweet het. Maar nee, die bedorwe Henriëtte moes ’n goewernante en ’n geselskapsdame hê, daarom het jy ’n mislukking van jou lewe en jou huwelik gemaak,” sê Meraai verdoemend.

      “Ek het nie!” protesteer Henriëtte heftig en draai beskuldigend na Otto toe wat roerloos op sy bed lê. “Jy weet hoe gelukkig ek kort na my troue was, Meraai. Maar hý het daardie optelkind hierheen gebring; hý is die oorsaak van al my hartseer en ellende.”

      “Nee, Henriëtte. Jy was te selfsugtig om Otto met enigiemand te deel. Jy was jaloers op die aandag wat Otto aan die klein Friedrich gegee het, want jy moes altyd die middelpunt van sy bestaan wees. Jy verwag selfs dat Dieter sy jeug ter wille van jou moet opoffer, maar hy is nie jou betaalde geselskapsdame nie. Dieter het die reg op ’n eie lewe en geluk. As ek besluit om hier aan te bly, sal jy maak soos ek sê, anders gaan pak ek nou my tasse,” dreig Meraai.

      Henriëtte gluur Meraai venynig aan en laat sak dan haar blik. “Jy ontstel my, Meraai. Ek wil nie met jou rusie maak nie. Kom ons gaan na my kamer toe,” sê sy gedwee.

      “Gaan jy na my luister, Henriëtte?” vra Meraai en bly onbeweeglik in die deur staan.

      “Jy weet ek het jou nodig,” sê Henriëtte verwytend.

      “O, ek weet, daarom sal jy maak soos ek sê. Kom!” beveel Meraai en vergesel ’n bedeesde Henriëtte na haar slaapkamer toe.

      “Sjoe!” Gretha slaak ’n hoorbare sug van verligting en beweeg na Otto se bed toe. Sy merk dat sy oë toe is en plaas haar hand werktuiglik op sy pols.

      Hy maak sy oë oop en glimlag moeisaam. “Ek lyk net soos ’n oorledene, meisie, maar daar skort niks met my nie,” stel hy haar gerus.

      “Ek is bitter jammer ek was nie hier om te verhoed dat tant Henriëtte oom ontstel nie,” sê sy spytig.

      Hy glimlag breër. “Het jy nie na Meraai geluister nie? Ek is dertig jaar lank met Henriëtte getroud. Sy is so normaal soos ek, maar sy gebruik haar kamtige senutoestand om ons almal in vrees te laat leef en na haar pype te laat dans.”

      “Maar sy wou Friedrich met ’n skêr aanrand!”

      Die glimlag wyk nie uit sy oë nie. “Omdat sy glo haar swak senuwees gee haar die reg om onverantwoordelik op te tree.”

      Sy uitdrukking word sober. “Dis waarom ek haar soms vrees, Gretha. Sy is so gewoond om haar sin te kry. Niemand kan voorspel wat sy sal doen as jy haar teëgaan nie.”

      “Nogtans het oom vir Friedrich hierheen gebring toe hy ’n baba was? Was oom nie toe bang sy sou iets onverantwoordeliks doen nie?” vra sy verward.

      “Nee, want sy het geweet dat ek net my plig gedoen het. Ek het haar haar sin gegee, ingestem om te swyg oor Friedrich se afkoms … en vandag is ek bitter spyt daaroor.” Hy kyk haar oomblikke lank stilswyend aan. “Jy weet dat my tydjie baie kort is, Gretha.”

      Gretha sluk droog, soek na woorde van troos, maar sy weet dat sy nie in staat is om hom te bedrieg nie. “Ek weet, oom Otto.”

      “Dis waarom die waarheid moet uit. Is Friedrich bly dat hy nou weet wie sy ouers was?”

      “Hy weet nog nie, oom.” Sy leun nader aan hom, haar oë pleitend in syne. “Oom verwar vir Friedrich met oom se broer, Kurt. Oom en Kurt het ’n geheime skuilplek gehad, maar Friedrich weet nie waar dit is nie.”

      “Friedrich weet. Ek het hom jare gelede vertel. As hy mooi dink, sal hy onthou,” antwoord Otto met onwrikbare sekerheid.

      “Het oom nie dalk vir Dieter vertel nie?”

      Sy weet dat die pyntrek op sy gelaat nie deur fisieke pyn veroorsaak is nie. “Dieter was nooit my seun nie. Daarvoor het Henriëtte gesorg. Sy het gesê ek kan die optelkind kry, maar Dieter is hare. Ek sou Dieter nooit van die skuilplek vertel het nie.”

      “Maar as oom vir my daarvan vertel …” begin sy, maar Otto sluit sy oë om ’n einde aan die gesprek te maak.

      Gretha sug moedeloos en beweeg weg na die venster toe. Is dit waar dat oom Otto vir Friedrich van die skuilplek vertel het? tob sy. Nee, dit kan nie wees nie, want hy sou daarvan onthou het. Friedrich sal haar nooit liefhê nie, maar dalk sal hy haar met dankbaarheid onthou as sy die skuilplek ontdek. Vanaand is sy te moeg, maar môrenag sal sy weer met haar soektog begin, besluit sy en draai om om die lig van die bedlampie af te skakel, voordat sy na haar eie kamer toe loop.

      Henriëtte neem aan die ontbyttafel plaas en kyk gesteurd na die leë stoel regs van Meraai. “Waar is verpleegster Wolmarans, Meraai? Het jy dit nie aan haar benadruk dat ek dit van my huismense verwag om stiptelik vir etes te wees nie?”

      “Gretha is bewus daarvan, maar dokter Steenkamp is besig om Otto te ondersoek. Hy het Gretha nodig om hom met die ondersoek te help,” sê Meraai paaiend.

      “Dit verander die saak,” sê Henriëtte redelik en vou haar servet oop. Sy kyk na Dieter. “Jy kan die seën vra, Dieter.”

      Hy gehoorsaam, maak sy oë oop en vra verwonderd: “Wat het gebeur om Ma in so ’n goeie stemming te plaas? Het Ma goed geslaap?”

      Henriëtte kyk flitsend na Meraai en antwoord gesellig: “Meraai het my vertel verpleegster Wolmarans is Amalia Lottering se peetdogter. ’n Mens besef nooit hoe klein die wêreld is nie … Amalia is die dogter van my ouers se prokureur, Tertius Lottering. Ek was verras om te verneem Amalia kuier op Blumenstrauss. Ek sal haar graag weer wil sien.”

      “Ken Ma Gretha se peetma?” vra Dieter ingenome.

      “Jy raak te eie, Dieter. Moenie vergeet nie: verpleegster Wolmarans is in my diens,” sê Henriëtte afkeurend.

      “Dis moeilik om te vergeet as Ma my voortdurend daaraan herinner,” reageer hy ergerlik. “Nogtans: ek weet verpleegster Wolmarans hou van perdry. Sy bring ure lank in die siekekamer deur. Het Ma enigiets daarteen dat sy saam met my gaan perdry?”

      Gretha, wat saam met dokter Ferdi Steenkamp die eetkamer binnekom, steek verskrik in haar spore vas toe sy Dieter se versoek aan Henriëtte hoor.

      “Nee!” krys Henriëtte en gryp haar mes soos ’n wapen in haar hand vas. “Moenie my treiter nie, Dieter! Jy is die kroonprins van Kaiserburg, daarom sal jy met ’n meisie van my keuse trou. Besef jy nie dat jy jou verneder as jy saam met een van my bediendes uitgaan nie?”

      “Wees redelik, Ma,” sê Dieter koppig. “Ek het nie gesê ek wil met Gretha trou nie. Wat is nou so verskriklik om saam met haar te gaan perdry?”

      “Dit sal met perdry begin, maar waar sal dit eindig?” vra Henriëtte skril. “Die verpleegstertjie is uit die werkersklas. Sy sal haar voortande gee om met ’n ryk man soos jy te trou.”

      “Nee, ek sal nie, mevrou Falkenstein,” sê Gretha met ysige trots en beweeg na die tafel toe, “want ek is toevallig ’n verloofde meisie.”

      Henriëtte glimlag smalend. “Sowaar? Wie is die arme drommel? ’n Arbeider op ’n plaas?”

      Ferdi sien hoe die bloed uit Gretha se gesig dreineer en hy tree vinnig nader en plaas sy arm beskermend om haar skouers. “Gretha is my verloofde, mevrou Falkenstein,” sê hy, en glimlag breed.

      Hy hoor