ewenaar die warmte van die somerson toe sy na Ferdi en Gretha toe draai. “’n Dokter en ’n verpleegster – die tweetjies is vir mekaar gemaak. Hartlik geluk, dokter Steenkamp. Jy kry ’n wonderlike bruid.”
“Dankie, tant Meraai,” sê Ferdi en hy druk die swygende Gretha se skouers bemoedigend.
“Die meisie dra nie ’n verloofring nie,” sê Henriëtte agterdogtig. “Verpleegsters verdien nie veel nie, maar jý kan seker darem ’n verloofring vir jou meisie bekostig, dokter Steenkamp?”
“Ongetwyfeld, maar sedert Gretha hier begin werk het, het sy nog nie ’n dag vry gehad sodat ons ons ring kon gaan uitsoek nie.” Hy wend hom tot Meraai. “Ek neem aan mevrou Falkenstein het nie vandag my professionele dienste nodig nie?”
“Sy het alles wat sy nodig het, dankie, dokter Steenkamp,” sê Meraai en wuif met ’n pofferhand na die eetkamerdeur. “Toe, toe, Grethatjie, stap saam met jou verloofde voordeur toe. Julle kry min genoeg tyd om mekaar alleen te sien.”
“Die ontbyt –” begin Henriëtte ergerlik.
“Kan wag,” val Meraai haar beslis in die rede. “Tot siens, dokter Steenkamp.”
“Tot siens, tannie. Mevrou Falkenstein …” groet Ferdi en loop vinnig saam met Gretha by die eetvertrek uit.
Hulle stap woordeloos na sy motor toe, kyk na mekaar en lag verleë.
“Ek moet seker dankie sê,” kom dit bedroë van Gretha.
“Ek het ’n klap verwag,” erken hy en vervolg bekommerd: “Ek het dit gesê om jou te beskerm, Gretha. Almal op Donkerbaai is bewus van mevrou Falkenstein se onnatuurlike besitlikheid wat betref Dieter. Of is jy werklik aan iemand anders verloof?”
“Is jy dommer as tant Henriëtte? Jy kan tog sien ek dra nie ’n verloofring nie.”
“O … ja, natuurlik. Dan gee jy nie om om my ring te dra nie?” vra hy hoopvol.
“Ons ken mekaar nie, Ferdi! ’n Verlowing is ’n ernstige saak,” protesteer sy.
“Jou veiligheid is van groter belang. ’n Verloofring sal jou teen tant Henriëtte se jaloesie beskerm … en hopelik vir Dieter op ’n afstand hou.”
“Nou praat jy soos Friedrich. Het Dieter werklik so ’n swak reputasie?” vra sy ongelowig.
Hy glimlag skeef. “O, hy het ’n reputasie, maar ek hou mevrou Henriëtte daarvoor verantwoordelik. Hy besef sy ma sal enigiets doen om te verhoed dat hy trou, daarom flankeer hy na hartelus rond.” Hy frons nadenkend. “Maar deesdae praat die mense minder oor sy eskapades. Ek het ’n vermoede hy is werklik lief vir Alexandra Myburgh.”
“Ek weet hy is lief vir haar. Ek en Dieter het smiddae skelmpies gaan perdry. Hy het my vertel dat niks hom gelukkiger sal maak as om met Alexandra te trou en Son en See sy permanente tuiste te maak nie,” vertel sy.
“En Kaiserburg dan?” vra Ferdi verras.
“Solank as wat tant Henriëtte in die ou huis koning kraai, sal niemand daar gelukkig kan wees nie. Ek verkwalik Dieter nie dat hy die ou plek haat nie, want tant Henriëtte maak van hom ’n gevangene.”
“Kom ons hoop dan dat Dieter die moed het om binnekort met Alexandra te trou,” sê Ferdi. Hy maak sy motordeur oop, maar talm nog. “Sal ons met ons skynverlowing voortgaan totdat jy Kaiserburg verlaat?”
Sy huiwer. Die beeld van ’n donker man met purperblou oë is voor haar geestesoog. Sy wil niemand anders as Friedrich se verloofring dra nie, maar die moontlikheid dat so iets sal gebeur, is ’n ronde nul. Sy was ’n dwaas om hom lief te kry en sy sal ’n groter dwaas wees om aan te hou hoop dat hy haar eendag sal liefkry. Wie weet, dalk kan Ferdi haar help om haar gevoel vir Friedrich te vergeet, dink sy; maar sy glo haarself nie.
“Ek sal geen eise aan jou stel nie, Gretha. Ek dink jy is pragtig en begeerlik, maar ek besef ook dat jy my nie liefhet nie. Ek kan seker hoop dat jy sal leer om ’n klein bietjie van my te hou wanneer ons mekaar eers beter ken, maar intussen … Dis net ’n skynverlowing,” pleit hy.
Sy glimlag geforseerd. “Ek sal jou ring met dankbaarheid dra, Ferdi, veral as dit my teen tant Henriëtte beskerm.”
“Gaaf. Laat my weet wanneer jy vry is om jou ring te kom uitsoek,” antwoord hy, buk nader en soen haar vlugtig op haar lippe. “Dis ter wille van nuuskieriges wat ons moontlik dophou,” sê hy verskonend, klim vinnig in sy motor en ry weg.
Nou is sy ’n verloofde meisie, dink Gretha wrang en keer stadig terug na die eetkamer toe. Wat sal Friedrich se reaksie wees wanneer hy van haar verlowing hoor? Nee … nee, sy moet ophou om voortdurend aan hom te dink. Haar verloofring sal haar talisman wees, wat haar teen haar eie dwaasheid sal beskerm, want Friedrich sal hom allermins aan ’n verloofde meisie opdring, dink sy met ’n gevoel van verlies. Sy probeer opgewek lyk toe sy die eetkamer binnestap.
Friedrich sit op ’n hoë rots, sy oë op skrefies getrek, terwyl hy oor die deinende donkerblou van die rustelose see staar. Moet hy terugkeer Johannesburg toe? vra hy homself vir die soveelste maal. Sy besoek aan oom Otto het niks vrugbaar opgelewer nie. Miskien is daar ’n geheime skuilplek in Kaiserburg; miskien bestaan daar briewe en dokumente met inligting oor sy eie ouers, maar waar moet hy begin soek? Hy het sestien jaar lank in Kaiserburg gewoon en met die nuuskierigheid van ’n kind orals rondgesnuffel, maar nooit ’n geheime skuilplek ontdek nie. Hoe kan hy verwag dat sy kort, nagtelike besoeke beter resultate sal toon?
Hy is en bly ’n man sonder afkoms, sonder ’n eie naam … en sonder ’n toekoms. As hy ’n aangenome kind van liefdevolle pleegouers was, het hy moontlik anders oor die saak gevoel. Maar al wil hy, kan hy nie sestien jaar van vernedering in Kaiserburg vergeet nie. Optelkind. Hoe oud was hy toe hy hom voorgeneem het om eendag sy eie ouers op te spoor; om vir eens en vir altyd tant Henriëtte en Dieter se monde te snoer wanneer hy die dag sou kon sê: “Ek het ’n eie van. Ek weet waar ek vandaan kom. Ek weet wie ek is.”
’n Seepbeldroom, dink hy wrang en kyk gesteurd om toe hy die gedreun van ’n motorenjin hoor. Hy herken nie die wit sportmotor nie en kom vinnig orent, nie lus vir geselskap nie. Die motor ry nader en kom ’n paar treë van hom af tot stilstand. Hy draai sy rug op die motoris en begin met lang treë wegstap.
“Friedrich! Friedrich, herken jy my nie?” roep ’n helder vrouestem en hy hoor ’n motordeur vinnig oop- en toegaan.
Hy draai stadig om en sien Alexandra Myburgh in ’n fleurige, groen strandrok na hom toe aangestap kom. Sy het nie verander nie, besef hy. Die son verf haar hare koperrooi en weerkaats warmte in haar kastaiingbruin oë. Sy is lank, maar die vol rondinge van haar figuur beklemtoon haar vroulikheid en laat haar korter lyk. Sy bly voor hom staan en lag op in sy gesig.
“Gaan jy nie ’n ou vriendin groet nie, jou lieflike mansmens?” vra sy. Sy wag nie op sy reaksie nie, maar plaas haar arms om sy nek, staan op haar tone en soen hom vol op die lippe.
“Hallo, Alexandra,” groet hy en vererg hom vir die skorheid van sy stem. Hy skraap sy keel en sê formeel: “Ek het verneem van jou man se dood. Ek is jammer.”
Sy los hom en haal haar skouers onverskillig op. “Ek maak nie ’n moordkuil van my hart nie, daarom sal ek teenoor jou erken: ek is nie spyt of bly oor my man se dood nie. Ek het hom nooit liefgehad nie, maar ek was goed vir hom, omdat hy my soos ’n koningin behandel het. Ek glo ek het daarin geslaag om hom gelukkig te maak.”
“Ek begryp,” sê hy bruusk en vermy haar oë.
Sy lê haar hand op sy arm. “Jy het my liefgehad, Friedrich,” sê sy gedemp.
Hy kyk haar skerp aan. “Ek het dit nooit gesê nie.”
“Nee, maar ’n vrou weet. Wat jy nie besef het nie, is dat ek jou liefgehad het, maar jy … jy was ’n arm student. Ek het te veel in my jeug ontbeer om met ’n arm man te trou.”
“Dan erken jy dat jy ter wille van geld getrou het?”
“Waarom