tog aan jou pa.”
“In naam, maar my ma kraai al die jare koning oor ons almal. Sy … sy sê Friedrich is my pa se buite-egtelike seun en …”
“Wát?” val sy hom oorbluf in die rede.
“Asseblief, Gretha, moenie die saak met enigiemand bespreek nie. Ek weet nie of dit die waarheid is nie, maar as Friedrich werklik my halfbroer is …Hy is twee jaar ouer as ek. Hy het eerste aanspraak op Kaiserburg.”
“En jy wil nie die ou huis en die landgoed verloor nie?” vra Gretha simpatiek.
Bitterheid trek diep lyne langs Dieter se mond. “Ek háát die ou huis. Maar my ma het ’n pragplaas, Overberg, van haar ouers geërf. As ek onterf word … Ek gee nie om om dit ruiterlik te erken nie: ek is gewoond aan weelde. Ek het ’n mislukking van my studie gemaak, daarom het ek nie eens ’n graad nie. Wat moet ek doen as ek onterf word? Ek sien nie kans om vir ’n paar rand op ’n vissersboot te gaan werk nie.”
“As Alexandra jou liefhet … Sy het ’n plaas van haar oorlede man geërf,” probeer Gretha hom troos.
“Nooit! Ek het nog my trots. Ek sal nie toelaat dat my ryk vrou my onderhou nie. Dis waarom my ma my soos ’n marionet aan ’n toutjie laat rondspring, want sy hou my toekomstige geluk in haar hande.”
“Ek wens ek kon help, Dieter, maar … ek beloof jou ek sal nie met Ferdi trou solank as wat jou pa my hulp nodig het nie.”
Hy glimlag dankbaar. “Jy is beeldskoon én dierbaar, Gretha. As ek nie vir Alaxandra liefgehad het nie, sou ek …” Hy kug en bloos verleë. “Kom ry saam met my perd,” verander hy die rigting van hulle gesprek.
“Ek kan nie. Jou pa moet binnekort weer ’n inspuiting kry en jou ma … Ek is nie lus vir nog ’n rusie nie.”
“En jy is nou ’n verloofde meisie,” sê hy wrang, draai om en klim op sy perd wat reeds opgesaal is. Hy wuif met sy karwats en ry op ’n galop weg.
Gretha loop na die perd, Jasmyn, wat Dieter gewoonlik vir haar laat opsaal en voer haar ’n paar suikerklontjies. Jasmyn vreet knarsend, soek snuifend na nog suikerklontjies en blaas in Gretha se nek.
“Dalk gaan ry ons vanmiddag, Jasmyn. Ek en jy … Jieee!” gil sy verskrik toe sy van agter aan die skouers gegryp en omgeruk word. Haar skok verander in verontwaardiging toe sy vaskyk in Friedrich se grimmige gelaat. “Jou onnosele –” bars sy driftig uit.
“Bly stil!” snou hy en skud haar liggies aan haar skouers. “Wat skort daar met jou gesonde verstand, Gretha? Jy het my laat verstaan jy is ’n intelligente meisie, ’n gegradueerde verpleegster, maar jy tree so onverantwoordelik soos ’n bakvissie op.”
“Los my, jou ellendige bullebak! Hoe kan ek praat as jy my ruk dat my tande klap?” vra sy boos.
Hy laat sak sy hande vinnig. “Praat dan. Wat is jou verduideliking?”
“Ek was in die agterplaas toe Dieter na die stalle gekom het om te gaan perdry. Ons het –”
“Meisiekind, wil jy hê ek moet jou aan die naaste balk ophang?” val hy haar verwoed in die rede. “Ek wil weet wat jou besiel het om aan ’n wildvreemde man verloof te raak?”
Hy is kwaad oor haar verlowing aan Ferdi, besef sy. Is hy dalk ’n klein bietjie jaloers? wonder sy en glimlag breed. Dan besef sy dat sy glimlag, en trek gou ’n vroom gesig. Friedrich lyk asof hy ’n moord kan pleeg, daarom sal sy die situasie met die nodige erns benader, besluit sy en sê formeel: “Dokter Steenkamp het my gevra om aan hom verloof te raak, en ná ernstige oorweging het ek ingestem.”
“Snert! Jy ken die man nie. Jy het hom ook nie lief nie.”
“Hoe weet jy, dokter Falkenstein? Jy glo nie eens aan liefde nie,” kap sy terug.
“Miskien nie, maar ek het ’n gesonde verstand. Jy het Ferdi een of twee maal gesien en nou is jy skielik aan hom verloof. Hoekom?”
“Omdat … e … omdat dit die gebruik is om eers aan ’n man verloof te raak voordat jy met hom trou,” antwoord sy koel.
“En omdat jy hom onsterflik liefhet?”
Sy kyk weg en sê nadruklik: “Ek sal nooit met ’n man trou as ek hom nie onsterflik liefhet nie.”
Friedrich hou haar met geskreefde oë dop, stoot sy vingers gefrustreerd deur sy hare en vra onverwags. “Kan jy my in die oë kyk en my vertel jy het hom onsterflik lief?”
As hy nie baie gou loop nie, gaan sy in trane uitbars, dink sy en hou haar gesig afgewend. Hoe kan enige man so siende blind wees? Kan hy nie sien hoe onvoorwaardelik sy hom liefgekry het nie? Sy het hom lief met elke asemteug, met elke klop van haar hart, maar hy verwag van haar om hom in die oë te kyk en te erken dat sy iemand anders liefhet.
“Jy is nie my pa nie, Friedrich. Hou op om soos ’n inmengerige ou oom op te tree. Ek en Ferdi is verloof en jy kan niks aan die saak verander nie,” antwoord sy en haar stem is skor van ongestorte trane.
Die woede wyk uit sy oë en hy kyk haar besorg aan. “Waarom, Gretha? Het jy finansiële probleme? Skuld wat jy nie kan betaal nie? Is dít die rede waarom jy so gretig is om met Ferdi te trou?” vra hy simpatiek.
Nou gaan sy soos ’n baba grens, dink sy. Die trane brand agter haar ooglede, en sy buig haar kop af.
Hy neem haar liggies aan haar boarms en trek haar nader aan hom. “As dit finansies of enige ander probleem is, klein Grietjie: ek sal jou help. Het jy vergeet ons is vriende? Dis nie vir jou nodig om met ’n wildvreemde man te trou bloot omdat jy geld nodig het nie.”
Haar skouers begin ruk en hy vou haar in sy arms teen sy bors. Sy snik willoos; huil met die ontroosbare seer van ’n meisie wat besef haar liefde is tevergeefs.
“Grietjie … Grietjie,” sê hy, sy stem diep en troetelend. “Niks kan so erg wees dat jy daaroor moet huil nie. Vertel my net wat ek moet doen om jou te help.”
“Ek … ek huil, omdat jy my so s-styf vashou. Jy v-versmoor my,” snik sy hulpeloos.
Hy neem haar aan haar skouer en stoot haar liggies weg van hom. “Hoekom vertrou jy my nie, Gretha? Hoekom skram jy weg van die waarheid af? Ek weet jy het Ferdi nie lief nie.”
Sy snuif, vee met haar hand oor haar oë, en neem die sakdoek wat hy haar aanbied en droog haar trane af. “Jy het self gesê jy glo nie aan die onverganklikheid van die liefde nie. Liefde gaan my huwelik met Ferdi nie gelukkiger maak nie. Ons het dieselfde belangstellings. Ons hou van mekaar. Dis voldoende.”
Hy sluk hoorbaar. “Daar ís so iets soos liefde. Jy weet daar is. Ek … e … ek het sommer net gepraat … onsin gepraat.”
“Jy het nie. Jy het jouself geglo. As jy eerlik met jouself is, sal jy erken dat jy Alexandra Myburgh nog altyd liefhet,” protesteer sy, voel haar oë volloop en vee vinnig met die sakdoek oor haar oë. Sy haat Alexandra Myburgh, want sy is die rede waarom Friedrich nooit ’n ander meisie sal kan liefkry nie, dink sy, al besef sy sy is onredelik. Alexandra het haar nie gevra om vir Friedrich lief te kry nie; sy het haarself nie eens gevra nie. Liefde is.
“Ek en Alexandra het ’n interessante gesprek op die strand gehad,” sê hy, merk die belangstelling in haar blik en vervolg: “Ek kan nie glo dat ek haar eenkeer liefgehad het nie.”
“Presies! Liefde is sommer net ’n woord. Dis belangriker om met iemand te trou wat jou belangstellings deel … met wie jy kan kommunikeer,” praat haar verstand haar voor, maar haar hart skree ’n ander waarheid uit.
“As dit waar is –” begin hy en byt sy woorde af, die uitdrukking op sy gelaat ineens onleesbaar. Wat makeer hom? dink hy verward. Was hy werklik van plan om aan Gretha te sê dat hy bereid is om met haar te trou? Nee … nee, nooit nie! Solank as wat sy verlede in duisternis gehul is, sal hy ’n vreemdeling vir die liefde bly. En tog … Hoe kan hy toelaat dat Gretha met Ferdi trou? Maar aan die ander kant: wat maak dit saak as sy wel met Ferdi trou? Sy het reg op ’n eie