sal nie verstaan nie, Meraai,” sê Henriëtte, en sy lig haar ken hooghartig. “Professor Lottering is gewoond aan intellektuele geselskap en al die gerief wat geld kan koop.” Sy kyk na Amalia. “Ek verneem jy het skatryk geërf na jou pa se dood, Amalia.”
“Ek was ’n enigste kind en kleinkind, daarom het ek heelwat geërf. Maar ek geniet my vakansie in Blumenstrauss, Henriëtte. Tant Hanna gaan uit haar pad uit om my verblyf so aangenaam moontlik te maak. Ek sal haar onnodig beledig as ek nou hierheen kom,” sê Amalia beslis.
Meraai snuif ergerlik deur haar stomp neusie. “Party mense vat nie hulle rykdom kop toe nie. Hulle ken hulle maniere,” sê sy vies.
Henriëtte ignoreer haar en frons. “Moenie my verkeerd verstaan nie, Amalia. Ek het niks teen Hanna nie, maar ek is bewus van Friedrich se teenwoordigheid in Blumenstrauss. Ek het sestien jaar lank probeer om hom ’n ordentlike opvoeding te gee, maar een maal ’n optelkind, altyd ’n optelkind. Pla sy buffelagtige houding jou nie?”
“Inteendeel, ek en Friedrich kom goed oor die weg. Hy is toevallig my ginekoloog. Ek kan nie anders as om met die grootste lof van hom te praat nie,” antwoord Amalia gelykmatig.
“’n Verkleurmannetjie, dis wat hy is,” sê Henriëtte misnoeg. “Maar ek vertrou hom nie. Hy het met my skoonmoeder gekonkel en gesorg dat hy Blumenstrauss inpalm. Ek waarsku jou, Amalia, hy is heel waarskynlik agter jou geld aan.”
“Ek waardeer jou waarskuwing, maar Gretha is reeds my erfgenaam,” lig Amalia haar met ’n ongesteurde glimlaggie in.
Henriëtte sit meer regop, ’n gierige gloed in haar donker oë. “Gretha? Verpleegster Wolmarans?” vra sy verras.
“Ja, Henriëtte. Gretha het haar moeder verloor toe sy nog baie jonk was. Ek en wyle Annelie het mekaar gedurende ons studentejare leer ken en boesemvriendinne geword. Dis waarom sy my gevra het om Gretha se peetmoeder te wees. Ná Annelie se dood het ek al hoe meer die rol van Gretha se ma begin speel, daarom is sy vir my soos ’n eie dogter.”
Meraai snuif aangedaan. “Haai, dat ek jou nou so verkeerd kon opsom, Amalia. Reken, ek dag jy is ’n geleerde vrou met ’n woordeboek waar jou hart moet wees, maar nou moet ek hoor jy het ’n sagte moederhart, nes ’n gewone mens … te wonderlik!”
“Stil, Meraai,” beveel Henriëtte onthuts, draai na Amalia toe en vervolg gretig: “As ek net al die dinge vooraf geweet het, Amalia … ek kwel my al jare lank oor Dieter se toekomstige vrou, maar ’n meisie uit ’n goeie stand; ’n meisie wat nie net ’n gewone arbeider is nie …”
“As jy na Gretha verwys, Henriëtte: die meisie het ’n aardige sommetjie geld van haar ouma aan moederskant geërf. En dan is daar hulle familiejuwele. Gretha is beslis nie ’n kerkmuis nie,” val Amalia haar in die rede met ’n tikkie ergernis in haar stemtoon.
“Maar …” Henriëtte staar haar ontsteld aan. “Nou kan ek begryp waarom dokter Steenkamp so gretig was om aan jou peetdogter verloof te raak, Amalia. Hy is nog besig om te betaal vir sy praktyk wat hy by ou dokter Lategan oorgeneem het. Hy hoop natuurlik om met Gretha te trou sodat sý vir sy praktyk kan betaal.”
“As die kinders mekaar liefhet …” sê Amalia onverskillig.
“Liefde is nie ter sprake nie. Ek sê jou mos: die doktertjie soek net ’n ryk vrou. Jy sal daadwerklik moet optree om ’n einde aan hulle verlowing te maak, Amalia. Ek glo Dieter is die aangewese bruidegom vir Gretha,” sê Henriëtte vasbeslote.
Amalia onderdruk met moetie ’n glimlag. “Ek het hierheen gekom met die doel om Gretha se verlowing met haar te bespreek. Sal dit vir haar geleë wees om nou met my te praat?”
“Vanselfsprekend, Amalia. Maar wil jy nie eers saam met my tee drink nie? Ek vergeet my rol as gasvrou …”
“Die tee kan wag, dankie, Henriëtte. Waar sal ek na Gretha gaan soek?”
“Meraai sal haar hierheen bring,” sê Henriëtte en staan op. “Ek het jou besoekie geniet, Amalia. Maak weer so.”
“Ek sal, dankie, Henriëtte. Tot siens,” groet Amalia, ’n raaiselagtige glimlag om haar lippe. Daar was altyd praatjies dat Henriëtte in ’n kliniek vir sielsiekes hoort, maar daar het niks geskort met Henriëtte se geselsie met haar nie. Het tant Hanna en Meraai haar onder ’n valse indruk probeer bring? Nee … daar was die voorval toe Henriëtte vir Friedrich met ’n skêr bygedam het. Wie is die werklike Henriëtte? wonder sy fronsend.
In die gang draai Henriëtte met ’n triomfantlike glimlag na Meraai. “Wat sê jy nou, Meraai? Het ek my goed genoeg gedra?”
“Nie te sleg nie,” gee Meraai onwillig toe, haar oë agterdogtig op Henriëtte. “Maar watse bog is dit dat Dieter met Gretha moet trou? Heiden, vrou, Dieter is ’n man van agt en twintig. Hy is oud en lelik genoeg om self vir hom ’n bruid te kies.”
’n Sluwe gloed brand in Henriëtte se oë. “Dieter weet wie het die hef in die hand. Maak hy nie soos ek sê nie, sal hy Kaiserburg nooit erf nie.”
“Almiskie, maar jy kan nie vir Gretha dwing om Dieter lief te kry nie. sy is klaar aan dokter Steenkamp verloof,” sê Meraai vies.
“Watter normale meisie sal ’n onaantreklike, arm dokter bo my seun verkies?”
“’n Meisie wat liefhet,” antwoord Meraai uitdagend en kyk weer wantrouig na Henriëtte. “En daar is nog iets. Hoekom is jy skielik so gretig dat Dieter met Gretha moet trou? Al die jare belet jy die arme seun om ’n enkele meisie huis toe te bring, maar nou kan jy nie wag om hom met Gretha getroud te sien nie.”
“Ek het nie gesê hulle sal dadelik trou nie. Gretha is nog jonk. Hulle kan ’n paar jaar lank verloof wees. Gretha is ’n verpleegster. Sy kan hier in Kaiserburg woon en as ons goed oor die weg kom … Jy word nie jonger nie, Meraai. Gretha sal my kan help as jy my nie meer kan versorg nie.”
Meraai steek viervoet in haar spore vas en bars verontwaardig uit: “Jou selfsugtige blikskater! Jy soek nie ’n bruid vir Dieter nie, maar ’n slavin vir jouself. Skaam jy jou nie, Henriëtte Falkenstein? Kan jy aan niks anders as jou eie geluk dink nie?”
“Ek moet aan die toekoms dink,” sê Henriëtte met kille onverskilligheid. “Toe, gaan roep vir Gretha. Amalia wag op haar.”
“Slinkser as ’n slang,” mompel Meraai en loop met ’n ergerlike ruk van haar skouers na die bopunt van die trap toe.
Dieter skop-skop met die punt van sy kapstewel na ’n kegelsteen. Daar is ’n onvergenoegde uitdrukking op sy gelaat. “Dit maak nie vir my sin nie, Gretha. Waarom moes jy juis nou aan Ferdi Steenkamp verloof geraak het?”
“Sou môre of volgende week jou beter gepas het?” vra sy ligweg.
Hy kyk haar vies aan. “Dis nie wat ek sê nie, maar jy is my pa se privaat verpleegster. Selfs dokter Steenkamp weet nie hoe lank my pa nog sal leef nie, maar solank as wat hy leef, het hy jou nodig. Wat word van hom as jy skielik met Ferdi trou?”
“Daar ís ander privaat verpleegsters, Dieter.”
“Wie? Ou tantes met suur gesigte?”
“Maak dit saak? Wie ook al jou pa verpleeg, sal bekwaam wees.”
“Maar nie geselskap vir my nie!” bars hy driftig uit.
Sy staar hom onthuts aan. “Liewe land, Dieter, ek het nie hierheen gekom om jou geselskap te hou nie. Jy is van plan om met Alexandra Myburgh te trou. As jy vrouegeselskap soek, gaan kuier by haar.”
Hy pers sy lippe hard saam. “Jy weet my ma hou my soos ’n valk dop. Sy ken die klank van my motorenjin. Ek kan nêrens heen gaan nie of ek moet haar eers vooraf sê waarheen ek op pad is. En dan bel sy boonop om vas te stel of ek nie vir haar gelieg het nie.”
“Dis jou eie skuld. Jy is agt en twintig. Waarom dans jy na jou ma se pype?”
Hy kyk haar in stilte aan en twyfel verdonker in sy oë. “Dis … dis nie so eenvoudig