het eendag iewers gelees dat u ’n groot versameling skilderye van onskatbare waarde het, baron,” kom dit belangstellend van Alberto. “Ek sou graag eendag die versameling wou sien.”
“Byna die hele versameling word in die De Mashatini- kasteel gehou. Ek vrees dit sal nooit aan die publiek vertoon word nie, meneer Bove,” sê Edoardo baie beslis.
“Jy kan gerus die barones vra om vir jou die deel van die versameling te wys wat hier in die villa gehou word, Alberto,” stel Francesca voor. “Jy gee mos nie om nie, Edoardo?”
Lizelia verstyf dadelik toe sy Francesca se voorbarige voorstel hoor. Sy wens uit haar hart dat Edoardo hierdie versoek moet weier, maar hy sê geredelik: “Gaan wys maar die skilderye vir hom, Lizelia.”
Lizelia se gesig is stroef en geslote toe sy van die rusbank af opstaan en die ontvangskamer saam met Alberto verlaat. Hulle stap met die trappe op wat na die ander twee verdiepings toe lei. Dan hoor sy Alberto met ’n pleitende laggie sê: “Moet asseblief nie so onvergenoeg lyk nie, barones. Jy is so mooi dat geen man dit ooit oor sy hart sal kry om jou leed aan te doen nie. Ek wil maar net ’n vriend wees, niks anders nie …”
“Baie dankie,” sê sy kil, “maar ék wil jou nie as vriend hê nie, meneer Bove. Ek het nog nooit van ’n voorbarige man gehou nie.”
Hulle bereik die tweede verdieping waar die skilderye en ander kosbare oudhede gehou word. Lizelia maak die vertrek se deur oop en laat Alberto ingaan, terwyl sy self in die oop deur bly staan.
Daar is ’n ligte frons op die jong man se aantreklike gelaat terwyl hy elke skildery oënskynlik noukeurig betrag. Hy kan nie die barones se afkeer van hom verstaan nie. Vroumense was nog altyd gretig om hom ’n guns te bewys en tot dusver kon hy na hartelus kus en keur onder die skone geslag.
Lizelia is so diep ingedagte waar sy in die oop deur staan dat sy nie eens opmerk dat Alberto na haar toe aangestap kom nie. Sy ruk soos sy skrik toe hy skielik sy arm om haar sit en haar nader trek. Verskrik sien sy hoe sy kop stadig afbuig, en sy weet intuïtief dat hy haar gaan soen. Die volgende oomblik ruk sy haar met geweld los uit sy omhelsing en vlug verward met die trappe af.
Lizelia is so verbouereerd en geskok dat haar voet halfpad met die trappe af gly. Met ’n benoude gil stort sy na onder en kom met ’n sagte kreun op die laaste trap tot stilstand.
Alberto, nou self bleek geskrik, is binne enkele sekondes langs haar. Hy steek sy hande uit om haar op te help, maar Lizelia klap sy hande weg en snou hom half histeries toe: “Los my uit, jou boef, en trap liewer uit die huis uit!”
“Wat gaan hier aan, Lizelia?” klink die baron se stem skielik agter Alberto op. Hoe hy so gou sonder hulp by die trap opgedaag het, weet niemand nie. Maar dit is vir almal baie duidelik dat hy woedend is.
“Meneer Bove wou my daar bo vasdruk en soen,” vertel Lizelia met ’n bewerige stem, onbewus van Mario, Gino, die huishoudster en Francesca wat nou ook by die edelman aangesluit het. “En toe ek van hom af wegvlug,” gaan sy voort, “gly my voet op die trappe en … Ek dink my arm het seergekry, Edoardo.”
Daar is ’n streng trek om die baron se mond en sy stem is onvriendelik toe hy sê: “Meneer Bove, verlaat asseblief my huis onmiddellik, en neem jou suster saam.”
Francesca is rooi van woede omdat Alberto al weer verbrou het. Maar dan dring dit tot haar deur dat Edoardo nie net haar broer uit sy huis uit weggejaag het nie, maar ook vir haar.
Sy is merkbaar bleek toe sy haar na die edelman wend en pleitend sê: “Edoardo, jy durf my nie straf vir my broer se oortreding nie! Ek het jou lief …”
“Jou liefde is heeltemal onnodig en ongevraag, Francesca. Ek is getroud, as jy dit miskien vergeet het,” wys Edoardo haar met ’n onverbiddelike stem tereg.
“Dit maak nie saak dat jy getroud is nie, Edoardo. Ek wil net vriende wees met jou … met julle. Ek kan nie glo dat jou gevoel vir my heeltemal dood is nie …”
“Jy maak jouself bespotlik, Francesca,” sê Alberto kwaad. “Kom ons ry liewer.” Hy wend hom tot die edelman. “Ek vrees u kan mans nie kwalik neem as hulle u vrou onweerstaanbaar vind nie, baron. Sy is beeldskoon … betowerend. Maar ek sal u nie weer lastig val nie, want ek gaan Rome vandag nog verlaat. Ek sê u eerlik, ek sien nie kans om in dieselfde stad as die skone barones te bly sonder om haar elke dag te probeer sien nie. Tot siens, baron … barones!”
Alberto neem Francesca ferm aan die arm en neem haar teen haar sin met hom saam.
“Ek sien jou gou weer, Edoardo!” roep Francesca vasbeslote oor haar skouer.
“Moet asseblief nie moeite doen nie, Francesca. Ek is nog steeds dieselfde blinde man wat jy ’n paar maande gelede laat staan het,” voeg hy haar onverskillig toe, en wend hom dan na Lizelia. “Ek sal mevrou Bartoldi ontbied om na jou beserings om te sien …”
“Jy het nie nodig om haar te ontbied nie, Edoardo. Sy, Mario en Gino is al drie hier,” lig Lizelia hom in. “Maar ek sal bly wees as iemand my net van die trap af wil ophelp.”
Die bonkige Gino is dadelik by en tel haar op asof sy so lig soos ’n veertjie is. Hy sit haar versigtig op ’n stoel neer. Lizelia sien hoe Edoardo die vertrek saam met Mario verlaat asof niks gebeur het nie; asof dit sommer ’n onbenullige, alledaagse ding is vir sy vrou om van ’n klomp trappe af te val; asof haar beserings hom nie in die minste kan skeel nie, al is dit sý vriende wat daarvoor verantwoordelik is.
Ek is maar net ’n werker en niks meer nie, dink sy afgehaal terwyl sy haar beseerde arm vashou. Dit sal vermetel van my wees om te verwag dat hy oor my besorg sal wees. Sy dink aan die harde woorde wat hy Francesca toegevoeg het. Hy wil haar seker maar net ’n bietjie straf vir die hartseer en pyn wat sy hom aangedoen het. Sodra hy haar genoeg gestraf het, sal hy sy sogenaamde huwelik tot niet maak en hom weer aan haar verloof …
“Het u baie seergekry, barones?” dring die huishoudster se besorgde stem deur tot die ongelukkige Lizelia.
Sy knik haar goudblonde kop en sê sag: “Dit voel of ’n trein my getrap het, mevrou Bartoldi. Maar ek sal bly wees as u net my arm, wat ontsettend pyn, sal verbind.”
Mevrou Bartoldi neem Lizelia se beseerde arm versigtig in haar hande. Dan hoor hulle Gino sê: “Ek stel voor dat ons die barones liewer hospitaal toe neem vir behandeling, mevrou Bartoldi. Die barones se arm mag dalk gebreek of gekraak wees.”
“Ja, ek dink jy het gelyk, meneer Borsetti.” Sy wend haar na Lizelia en verduidelik beleef: “Meneer Borsetti was ’n stoeier en het heelwat kennis van sulke beserings, barones. Dit is daarom beter om sy raad te volg.”
“Nou goed, ek is gereed om te gaan. Maar dit is nie nodig dat u ons vergesel nie, mevrou Bartoldi. Gino sal sorg dat ek niks oorkom nie. Hy het trouens nog altyd ’n wakende ogie oor my gehou.”
Net nadat Lizelia en Gino na die hospitaal vertrek het, ontbied Edoardo sy sekretaris, Angelo Calbo, na sy studeerkamer. Tot dusver het almal nog vir hom vertel hoe mooi Lizelia is, maar vanaand wil hy van Angelo weet wie nou eintlik die mooiste is, Lizelia of Francesca. Hy kan nie glo dat daar ’n mooier vrou as Francesca op die aarde is nie. Lizelia mag wel mooi wees, maar hy glo nie sy is mooier as Francesca nie.
“U het my ontbied, my heer die baron. Is daar iets wat ek vir u kan doen?” onderbreek Angelo se stem skielik Edoardo se gedagtes.
“Ja, maak die deur toe en kom sit. Ek wil vertroulik met jou gesels, Angelo,” antwoord die baron. Hy stoot sy lang bene gemaklik voor hom uit en vervolg sag: “Ek wil vanaand net die waarheid weet, moet dus nie eens probeer om my om die bos te probeer lei nie, want dit sal jou hoegenaamd niks baat nie. As ek uitvind dat jy vir my gejok het, sal ek jou onmiddellik uit my diens ontslaan.”
“Het ek al ooit vir u gejok, of u om die bos probeer lei, my heer die baron?” wil Angelo verontwaardig weet.
“Nee, jy het nie, my vriend, daarom weet ek jy sal vanaand ook eerlik wees,” sê Edoardo sag. “Sê vir my, wie is die mooiste, my vrou of signorina Bove? Almal sê my vrou is ’n beeld van