weer ’n gereelde besoeker aan die villa sal wees, en sý sal bepaald weer gedwee moet sit en kyk hoe die swartkop haar flikkers vir Edoardo gooi. Sy wens Edoardo wil nou gou ’n einde aan hierdie klugspul maak sodat sy terug Suid-Afrika toe kan gaan. Dalk sal sy hom, en haar liefde vir hom, dáár kan vergeet.
Die beeld van die aantreklike baron is maar altyd in haar gedagtes: sy raafswart hare wat hy glad agteroor kam, sy adellike gelaatstrekke en die regop, trotse houding van sy kop. Sy het al so dikwels gewonder hoe hy sonder die donkerbril lyk. ’n Mens sien hom nooit daarsonder nie. Sy dink aan sy sensitiewe mond, die mond wat Francesca dikwels geliefkoos het, en wonder hoe dit voel om deur hom geliefkoos te word. Hierdie gedagte veroorsaak ’n byna fisieke pyn in haar.
Lizelia voel hoe die trane warm agter haar ooglede brand, want sy weet dat sy nooit die voorreg sal hê om deur Edoardo geliefkoos te word nie. Sy liefde sal altyd net aan Francesca behoort.
Die slaap bly Lizelia ontwyk.
Haar lyf is oral waar dit gekneus is, seer, en haar hart voel net so seer en gekneus. Sy wonder hoe lank Tina en Marco nog in die buiteland gaan rondreis en wat hulle van die hervatting van die vriendskap tussen Edoardo en Francesca gaan sê.
Uiteindelik raak sy aan die slaap, maar dit is ’n rustelose slaap, want haar lyf is seer en haar arm pyn soms geweldig.
Maar soos ander oggende, is sy die volgende oggend vroeg uit die bed, onberispelik aangetrek en betyds vir ontbyt – al voel sy eerder daarna om in die bed te bly.
Edoardo-hulle is net besig om vir ontbyt aan te sit, toe Lizelia haar verskyning in die eetkamer maak.
Sy groet almal vriendelik, neem haar plek aan tafel in en sê sag: “Ek is jammer dat ek laat is, maar dit het ietwat langer geneem om aan te trek. Ek sal egter ’n punt daarvan maak om môreoggend vroeër op te staan.”
“Maar ek het verstaan dat u glad nie vandag moes opstaan nie, barones,” hoor sy die huishoudster besorg sê. “Meneer Borsetti sê die dokter het gisteraand aanbeveel dat u ten minste twee dae in die bed moet bly …”
“My liewe mevrou Bartoldi, jy moet nooit ’n dokter se woorde so letterlik opneem nie,” sê Lizelia tergend.
Sy wil nog meer sê, maar dan sê Edoardo met ’n baie besliste stem: “As dit die dokter se bevel is, Lizelia, kan jy gerus maar dadelik teruggaan bed toe. Jou ontbyt sal in die bed bedien word. En moenie probeer om my te flous nie. Ek sal self ná ete gaan seker maak of jy in die bed is.”
Edoardo is ’n man wat sy woord hou, want ’n halfuur na ontbyt bring Mario hom na Lizelia se kamer en help hom versigtig om op ’n stoel langs die bed te sit.
“Ek is vreeslik jammer dat ek nie vandag op my pos kan wees nie, Edoardo, maar ek kan nog vir jou uit die koerant voorlees en …” begin Lizelia verontskuldigend verskoning maak.
“Vergeet die koerant en rus,” maak hy haar dadelik stil. “Jy was reeds vroeër vanoggend ongehoorsaam deur die dokter se raad in die wind te slaan en op te staan. Ek dring daarop aan dat jy in die vervolg beter na jou gesondheid omsien. Maar wat ek eintlik wou sê, is dat ons verblyf hier in Rome haas verstreke is. Die tyd het aangebreek om terug te gaan na my kasteel toe – die De Mashatini-kasteel.”
“Waar is jou kasteel, Edoardo?” vra sy belangstellend.
“In Noord-Italië langs die Arnorivier, tussen Florence en Arrezzo,” sê hy. “Die kasteel is geleë bo-op ’n hoë, bosbegroeide koppie wat ’n mooi uitsig oor die rivier bied. Kan jy swem?”
“Ja, nogal taamlik goed,” verseker sy hom. “Maar hoekom vra jy?”
“Omdat daar ’n heerlike swemplek in die rivier is – naby my kasteel.”
Edoardo vertel haar van sy kasteel en van sy plaas in die Povallei, waar sy oom en neef die boerdery vir hom waarneem. Dan kom mevrou Bartoldi die kamer binne en kondig aan dat juffrou Bove in die ontvangskamer op die baron wag.
“Sê asseblief vir juffrou Bove dat die barones ongesteld is en dat ons vir die volgende twee dae geen besoekers ontvang nie, signora Bartoldi,” sê Edoardo met ’n gesteurde frons.
Lizelia se hart begin dadelik bly en opgewonde klop, maar haar opgewondenheid is van korte duur. Die huishoudster is nog besig om na haar werkgewer se opdrag te luister, toe die lang, rysige gestalte van Francesca ongenooi in die oop kamerdeur verskyn.
6
__
“Jou gas het jou ewe eiegeregtig hier uit die kamer kom haal,” sê Lizelia effens sarkasties. Dit ontgaan nie Edoardo se oor nie en hy glimlag in sy enigheid.
“Die barones het gelyk,” praat Francesca nou van die oop kamerdeur af, “ek het signora Bartoldi gevolg, Edoardo. Ek kan nie sien waarom die barones se ongesteldheid jou moet verhoed om my te ontvang nie.”
Sy stap Lizelia se slaapkamer ongenooi binne en kom stil agter Edoardo se stoel staan. Dan plaas sy haar hande liefderik op sy skouers terwyl sy saggies pleit: “Moet my asseblief nie wegstuur nie, skat. Ek soek net geselskap en …”
“Ek was ernstig toe ek netnou gesê het dat ons vir twee dae geen gaste ontvang nie, Francesca,” val hy haar in die rede. “Ek en die barones het verlede nag baie min geslaap. Ons gaan albei nou rus, as jy nie omgee nie.” Hy wend hom na mevrou Bartoldi, wat nog steeds eenkant staan. “Signorina Bartoldi, vergesel asseblief vir signorina Bove na haar motor. Sy gaan nou dadelik ry.”
Francesca se swart oë skiet vuur toe sy die huishoudster aangluur en met onderdrukte woede sê: “Jy het nie nodig om my na my motor te vergesel nie, signora Bartoldi. Ek ken hierdie villa soos die palm van my hand … Tot siens, Edoardo! Ek sien jou weer oormôre!”
Met hierdie belofte verlaat Francesca die vertrek saam met die huishoudster.
Daar is ’n ligte frons tussen Lizelia se mooi, ligbruin wenkbroue terwyl sy aan Francesca se voorbarige opdringerigheid dink. Sy is óf voorbarig óf sy weet dat Edoardo se huwelik sommer net ’n klug is. Hierdie gedagte laat haar vra: “Ek veronderstel jy het juffrou Bove vertel dat ons slegs in naam getroud is?”
“Nee, ek het nie, en sy kon dit ook van niemand anders gehoor het nie, want net ek en jy weet dat ons huwelik net in naam is – totdat ek anders besluit. Maar waarom vra jy, Lizelia?”
“O, ek het maar net gewonder watse soort mens sy is om haar so aan jou op te dring, en dit terwyl sy onder die indruk verkeer dat jy ’n gelukkig getroude man is. Is al die meisies hier in Italië so skaamteloos?”
“Nee, net Francesca – noudat sy uitgevind het hoe ’n groot flater sy begaan het om my af te sê vir ’n man wat nie haar duur smaak kan bevredig nie,” antwoord Edoardo ongeërg asof hy die weer met haar bespreek.
“Wat sou gebeur het as jy getroud was met ’n vrou wat jy liefhet en wat jou liefhet?” wil Lizelia belangstellend weet.
“Wel, in daardie geval sou my vrou op haar regte gestaan en Francesca die deur gewys het,” sê Edoardo. “Sy wonder seker waarom jy dit nog nie gedoen het nie.”
“Sy verkeer seker onder die indruk dat ek nie genoeg vir jou omgee om terug te veg nie,” sê Lizelia met ’n sagte laggie.
“Hm, so ’n misverstand is beslis nie strelend vir my ego nie. Ek hoop nie dit is wat sy dink nie.” Edoardo glimlag ook nou.
“In elk geval, noudat juffrou Bove gery het, kan jy in vrede gaan rus, Edoardo,” stel Lizelia bedagsaam voor. “Moet ek vir Mario ontbied om jou by te staan?”
“Sal jy omgee as ek my baadjie uittrek en eenkant op jou bed gaan lê? Ek belowe om jou nie te steur nie en my goed te gedra.”
“Op daardie voorwaarde gee ek hoegenaamd nie om nie,” glimlag Lizelia. “Laat ek net my kamerjas aantrek, dan help ek jou …”
“Toe maar, dit is nie nodig nie, dankie,” keer hy dadelik. “Ek kan my baadjie self uittrek, en ek kan ook self na die ander kant