wees. Maar as u van blonde dames hou, sal die barones vir u die mooiste wees.”
“En as ’n man nie omgee of die dame donker of blond is nie, wie is dan die mooiste van die twee?” wil die baron gemaak ongeërg weet.
“Wel, in daardie geval is die barones definitief die mooiste, my heer die baron …”
“In watter opsig is sy die mooiste, Angelo?” wil die edelman fronsend weet.
“Wel, wat my betref, is sy in elke opsig die mooiste. Ek het al baie filmsterre met blou oë gesien, maar die barones het die mooiste en die sagste oë wat ek nog ooit gesien het. Haar oë is so blou soos ’n winterhemel, blink en half deurskynend. Sy lyk amper soos Gina Lollobrigida …”
“Wat bedoel jy met amper?”
“Die barones is korter as Gina en haar gesiggie is ook fyner as Gina s’n, my heer. Haar hare is goudblond, en sy het ’n baie ligte vel.”
“Jy sê die barones is mooier as juffrou Bove?” sêvra Edoardo ingedagte.
“Baie mooier, my heer die baron. Sy pas ook baie mooier by u as juffrou Bove,” verseker Angelo die edelman baie ernstig.
“Dankie vir jou eerlikheid, Angelo,” sê Edoardo. “Solank ek blind is, moet julle almal die barones beskerm teen voorbarige mans soos juffrou Bove se broer. Ek het dit nog nie vantevore gemeld nie, en ek wil ook nie nou daaroor praat nie, maar daar is ’n geringe moontlikheid dat ek ná ’n oogoperasie weer sal kan sien. Ek het die oogspesialis drie maal besoek, en ’n week voor my troue het hy my verseker dat ek moontlik weer eendag sal kan sien. Maar ek verkies dat ons dit voorlopig geheim hou, want die moontlikheid dat die operasie sal slaag, is baie gering. Die spesialis weet ook nog nie wanneer hy die operasie sal kan uitvoer nie.”
Hulle gesels nog ’n rukkie oor sake wat die baron se aandag dringend vereis; dan kom Mario hom haal om vir aandete te verklee.
Edoardo is baie ontsteld toe hy aan tafel hoor dat Gino die barones sonder sy wete hospitaal toe geneem het vir behandeling.
“So, en waarom hoor ek nou eers daarvan, mevrou Bartoldi? Waarom is ek nie eers geraadpleeg nie?” wil Edoardo verontwaardig weet.
“My heer die baron, u het my vroeër opdrag gegee om na die barones se beserings om te sien …” verduidelik die huishoudster beleef.
“Ek was toe nie daarvan bewus dat sy so ernstig beseer is nie, mevrou Bartoldi,” sê hy bitsig. “Ek keur dit ten strengste af dat hier dinge in my huis gedoen word sonder my medewete. Hoe ernstig is die barones beseer?”
“Meneer Borsetti meen dat die barones se arm moontlik gebreek is, my heer die baron,” stamel die huishoudster ietwat verbouereerd. “Dan is die moontlikheid van inwendige beserings ook nie uitgesluit nie.”
“Dan moes sy baie hard geval het.” Dis eerder ’n stelling as ’n vraag.
“Die barones het nie net geval nie, sy het ook met die trappe afgerol, my heer die baron,” help mevrou Bartoldi hom reg.
Ná hierdie kort gesprek is die edelman vreemd stil en afgetrokke. Ná ete versoek hy Mario om hom na die klein sitkamertjie te neem, waar hy op die barones se tuiskoms sal wag en sommer ook na die aandnuus oor die radio sal luister.
Terwyl Gino geduldig in die hospitaal se wagkamer op Lizelia sit en wag, word sy sorgvuldig deur een van die geneeshere ondersoek. Daarna word daar ’n hele aantal x-straalplate van haar arm, haar rug en een been geneem.
Dit is byna elfuur toe die geneesheer weer sy opwagting by Lizelia maak en haar vertel dat haar linkervoorarm gekraak is en in gips geplaas sal moet word.
Dit duur gelukkig nie lank nie. Daarna word sy op ’n stoel uit die gipskamer na die wagkamer gestoot. Terwyl Lizelia van die stoel afklim, sluit die geneesheer ook by hulle aan.
“Ek vrees u het baie kneusplekke opgedoen, barones,” sê die arts besorg. “Ek stel voor dat u ’n dag of twee in die bed bly.”
“Ek sal daaroor dink, dokter,” glimlag Lizelia verwese. Sy groet en stap saam met Gino na die motor wat voor die hoofingang van die gebou staan.
Lizelia gee vrye teuels aan haar gedagtes terwyl Gino die motor behendig deur die verkeer stuur. Sy wens sy het geweier om saam met Alberto na die skilderye te gaan kyk. Dan sou al hierdie dinge nooit gebeur het nie.
Edoardo is seker baie kwaad vir haar omdat sy by die trappe afgeval het. Dit was seker baie moeilik vir hom om Francesca en haar broer te vra om die huis te verlaat. Hy moes dit natuurlik teen sy sin doen om die skyn te bewaar. Sy het so ’n voorgevoel dat hy haar voor stok gaan kry oor die hele onaangenaamheid. Hy is kwaad vir haar; dis hoekom hy vanaand geloop het sonder om vas te stel of sy seergekry het.
Lizelia se gedagtes dwaal nou weer na haar gevoel vir Edoardo, haar liefde vir hom wat nog so nuut is dat sy met huiwering daaraan dink. Sy weet sy is ’n gek om hom lief te hê, maar haar verraderlike hart laat hom nie voorskryf nie. Edoardo is die enigste man wat vir haar die maan kan laat skyn, die sterre kan laat skitter en die son enige tyd van die dag kan laat opkom … Hy is die enigste man wat sy nog ooit liefgehad het, en ooit sal liefhê.
Lizelia merk dat daar nog lig in die klein sitkamertjie brand toe Gino voor die voordeur stilhou en haar tot by die deur vergesel. Sy bedank hom vir sy hulp en stap dan binnetoe.
Sy stap saggies na die sitkamer om die lig af te skakel, maar steek verbaas in die deur vas toe sy merk dat Edoardo nog nie gaan slaap het nie.
“Is dit jy, Lizelia?” vra Edoardo wat haar hoor inkom het.
“Ja, dit is ek, Edoardo. Ek was onder die indruk dat julle almal al slaap. Ek wou nou net die lig afskakel.” Sy stap nader en vervolg huiwerig: “Jy lyk ’n bietjie moeg. Waarom het jy nie gaan slaap nie?”
“Ek het gewag om te hoor hoe ernstig jy beseer is,” sê hy.
“Ek waardeer jou belangstelling, maar dit was nie nodig dat jy jouself al die ongerief moes aandoen om wakker te bly nie. Ek is per slot van rekening maar net een van jou werknemers. As jy miskien bang was dat ek nie môre op my pos sal wees nie, wil ek jou dadelik gerusstel. Ek makeer feitlik niks. Net my arm het ’n bietjie seergekry, maar dit is niks ernstig nie …”
“Kom sit hier langs my op die rusbank, Lizelia … aan my regterkant,” beveel hy haar.
Sy gaan langs hom sit en sien hoe sy hand voel-voel oor die klam gips aan haar arm gaan.
“Ek dog jy sê dit is nie ernstig nie!” roep hy beskuldigend uit.
“Dit ís nie ernstig nie. My arm is net gekraak, nie gebreek nie,” verseker sy hom. “Moet ek Mario vir jou ontbied?”
“Is jy haastig om van my ontslae te raak, of vra ek te veel vrae?” hoor sy hom met agterdog in sy stem vra.
“Nee, ek dink net jy moes lankal in die bed gewees het,” antwoord Lizelia ewe geduldig.
“Nou goed, roep maar vir Mario om my kamer toe te neem,” stem die edelman bedaard in. “O ja, ek glo nie jy sal ooit weer van Alberto Bove las hê nie. Ek verstaan hy het woord gehou en Rome verlaat.”
“Dit is baie goeie nuus,” glimlag Lizelia goedig. “Dit is net jammer dat sy voorbarige gedrag ’n verwydering tussen jou en juffrou Bove veroorsaak het …”
“Moet jou glad nie daaroor bekommer nie. Francesca het my vroeër vanaand gebel om te sê dat haar broer die stad verlaat het, en om weer die vrede tussen ons te herstel,” verseker hy haar.
“Ek is om jou ontwil bly dat julle weer vriende is,” sê Lizelia met geforseerde blydskap. “Ek roep gou vir Mario, dan kan hy jou kamer toe neem.”
“Ontbied jou kamermeisie ook. Sy sal jou moet help verklee,” herinner hy haar.
’n Verwese glimlaggie raak aan die hoek van Lizelia se mond toe sy sê: “Dis waar, ek het vergeet dat ek op die oomblik net een hand het.”
Net nadat