het jy laas ’n brief van Tina gehad, Lizelia?”
“Ek het verlede week van haar gehoor. Dit lyk my hulle sal nog ses maande in die buiteland vertoef.”
Terwyl sy hulle vertel van die lande wat Tina en Marco nog wil besoek, voel sy hoe Edoardo se hand na hare soek, dit vind en sy vingers vertroulik deur hare vleg – asof hy haar met hierdie gebaar wil dwing om by hom te bly. Of soek hy maar net morele ondersteuning?
Net voor middagete is daar ’n telefoonoproep vir Francesca, en tot Lizelia se vreugde vertrek sy byna dadelik ná die oproep.
Die dag daarop bly Edoardo feitlik heeldag in sy studeerkamer om sake met sy sekretaris te bespreek, aangesien hulle baie vroeg die volgende dag na sy kasteel vertrek. Lizelia gaan eers stad toe; daarna kyk sy toe terwyl haar kamermeisie al haar persoonlike besittings inpak.
Soos Edoardo beplan het, vertrek hulle vroeg die volgende oggend na die lughawe waar sy privaat vliegtuig gereed is om hulle na Florence te neem. Mario, Gino en Angelo vergesel hulle na die kasteel, maar mevrou Bartoldi en die res van die personeel bly agter om die villa te versorg.
Dit is mevrou Bartoldi wat Francesca by die voordeur ontvang toe sy later die oggend haar opwagting by die villa maak.
“Die baron en die barones is nie tuis nie, juffrou Bove,” sê mevrou Bartoldi kortaf, want sy verag die skaamtelose, opdringerige meisie wat nie sal skroom om die baron se huwelik te vernietig nie.
“Moenie vir my jok nie, signora Bartoldi,” roep Francesca onthuts uit. “Staan asseblief opsy sodat ek kan verbykom.”
“Ek kan u ongelukkig nie in die villa toelaat in die baron se afwesigheid nie,” sê die huishoudster nou met openlike veragting in haar stem. Dit ontgaan nie Francesca se oor nie. Mevrou Bartoldi kan nie verstaan waarom die baron hierdie skaamtelose meisie se besoeke duld nie. Hy behoort haar die deur te wys. Hy is ’n intelligente man en behoort te weet dat haar besoeke niks goed tot gevolg kan hê nie.
“Waar is die baron heen en wanneer sal hy tuis wees?” wil Francesca neerhalend weet.
“Die baron het my opdrag gegee om aan niemand te sê waarheen hulle is nie, signorina Bove.”
Mevrou Bartoldi wou nog meer sê, maar Francesca vlieg haar woedend in. “Jy sal hierdie dag nou berou, ou vrou,” snou sy die ouer dame onbeheers toe. “Die dag wanneer ek die barones word, sal dit met jou sleg gaan. Jy sal die eerste persoon wees wat ontslaan sal word. Maar jy het nie nodig om vir my te vertel waar ek die baron sal vind nie. Ek het my eie manier om dinge uit te vind.”
Op hierdie dreigende noot draai Francesca om en stap haastig na haar motor toe. Sy voel nou so gefrustreerd dat sy byna in die hekpaal vasry. Sy sal nog voor vanaand weet waar Edoardo hom bevind, dit neem sy haar voor.
Lizelia is ietwat teleurgesteld toe hulle deur die groot, hoë ysterhekke ry en voor die eeue oue kasteel stilhou. Edoardo het haar vertel dat sy kasteel een van die oudstes in Italië is, maar sy het iets heeltemal anders verwag, eintlik om ’n vrolike kasteel met baie skerp torinkies hier op die koppies te sien.
Die gebou wat Lizelia voor haar sien, is ’n massiewe klipgebou met talle vierkantige torings. Die vensters is besonder klein en die plek lyk somber en spookagtig vir Lizelia. Sy hoop heimlik dat dit nie vir haar nodig sal wees om lank in hierdie kasteel te woon nie.
“Jy is so stil,” merk Edoardo op toe hulle eindelik in die rigting van die hoofingang beweeg. “Wat dink jy van my kasteel?”
“Ek weet nog nie,” antwoord sy huiwerig terwyl sy die indrukwekkende familiewapen bokant die hoofingang bestudeer. “Die plek is so gróót en oud! Dit laat my bang voel!”
“Ag nee wat, dit is heeltemal onnodig om bang te wees, kleintjie,” glimlag Edoardo gemoedelik. “Ek belowe jou hier is nie ’n enkele spook in die hele kasteel nie, en ek behoort te weet, want ek is hier gebore en het hier grootgeword. Ek ken hierdie ou kasteel soos die palm van my hand.”
Die massiewe houtdeur wat met koper beslaan is, gaan meteens oop en hulle word deur die huishoudster en die hoofkneg ontvang. Hulle is baie vriendelik, en dit is vir Lizelia duidelik dat hulle Edoardo respekteer. Sy het gelukkig die dag voor haar huwelik met die kasteel se personeel kennis gemaak, dus voel sy darem nie heeltemal soos ’n vreemdeling nie. Sy merk ook dadelik dat die kasteel darem al elektrisiteit het, maar die res van die kasteel lyk binne nog net soos dit seker eeue gelede moes gelyk het. Antieke meubels, kosbare behangsels en kunswerke, alles onbeskryflik mooi en baie indrukwekkend, laat die kasteel soos ’n museum lyk.
Lizelia het nooit kon droom dat die somber, ongenaakbare kasteel binne so sou lyk nie. Sy het haar voorgestel dat die plek binne ook maar vaal, neerdrukkend en koud sou wees. Sy is egter aangenaam verras en besef dat sy haar verblyf in hierdie ou kasteel, tussen soveel kosbare oudhede, baie interessant gaan vind.
Ná ete daardie middag bied die huishoudster, mevrou Bonera, aan om Lizelia deur die kasteel te neem sodat sy daarmee vertroud kan raak. Hierdie verkenningstog is vir haar ’n ware belewenis en sy leer daardie middag meer van die Italiaanse geskiedenis as wat sy van haar eie land se geskiedenis af weet.
Die son hang al laag in die weste toe hulle eindelik die dak van die kasteel, wat ’n lushof van blomme en struike is, bereik. Eenkant pryk ’n moderne tuinstel met ’n swaaibank en ’n groot, kleurvolle sambreel.
Lizelia sak ook sommer dadelik in een van die stoele neer en sê met ’n breë glimlag: “Ek hou hiervan! ’n Daktuin was nog altyd vir my iets besonders, en ek weet ek gaan baie aangename uurtjies hier deurbring, mevrou Bonera.”
“Die baron kom ontspan ook dikwels hier tussen die blomme en struike – veral soggens wanneer dit nog koel is, en ook smiddags laat,” vertel die huishoudster.
Lizelia verlustig haar vir ’n paar oomblikke in die onbelemmerde uitsig wat die daktuin oor die blink, kronkelende Arnorivier en die noordelike deel van die Apennyneberg bied.
Maar dan sê die huishoudster beleef: “Ek dink ons moet liewer nou afgaan, barones. Middagkoffie sal nou enige oomblik bedien word, en ek glo nie die baron sal daarvan hou om sy koffie alleen te geniet nie.”
Lizelia kyk na haar polshorlosie en kom dadelik orent.
“Jy het gelyk, mevrou Bonera,” glimlag sy vriendelik. “Die baron haat dit om alleen koffie te drink. Ek sal môreoggend vir hom die koerant hier tussen die blomme en struike kom lees.”
Lizelia voel skoon uitgeput toe sy eindelik by Edoardo aansluit. Sy is ook net betyds, want een van die diensmeisies is alreeds besig om die dienwaentjie binne te stoot.
“Wat dink jy nou van die kasteel, noudat jy die hele plek van binne gesien het, Lizelia? Maak die kasteel jou nog bang?” vra Edoardo terwyl hulle gesellig op die rusbank sit en koffie drink.
“Ek dink dis fantasties en onbeskryflik mooi,” antwoord sy opgewonde. “Veral die daktuin was ’n aangename verrassing. Dit is so afgesonder en rustig daar bo, en die uitsig oor die rivier en die Apennyneberg is onvergeetlik. Ek kan regtig nie begryp waarom jy so lank in Rome gebly het nie! Met so ’n kasteel en so ’n uitsig …”
“Ek moes in Rome bly omdat ek gereeld behandeling vir my oë moes ontvang,” verduidelik hy. “Dit was juis ná ’n behandeling, terwyl ek en Mario ’n rukkie in Villa Borghese se park ontspan het, dat ons met jou kennis gemaak het.”
“Ek veronderstel die behandeling het jou niks gebaat nie,” waag Lizelia om te vra. Sy het nog altyd die gevoel gehad dat Edoardo nie graag oor sy blindheid praat nie.
Die jong edelman skud sy kop en sê versigtig: “Ek sal nie sê dat die behandeling my niks gebaat het nie. Dit was net ná die ongeluk en ek het dikwels ontsettende hoofpyne gekry. Dis natuurlik nou iets van die verlede.”
Hy oorweeg dit eers om haar te vertel dat daar ’n geringe kans is dat sy sig herstel kan word deur ’n operasie, maar besluit daarteen. Lizelia vra ook nie verder uit nie.
Ná ’n rukkie sê Edoardo weer: “Jy het nog nie vir my gesê of jou slaapkamer jou geval nie,