bed loop. Sonder enige moeite gaan sit hy op die kant van die bed en strek hom dan met skoene en al bo-op die komberse langs haar uit. Hy haal sy bril af en hou dit na haar toe uit sodat sy dit langs haar op die bedkassie kan neersit.
Sy sit die bril versigtig op die kassie neer. Dan kyk sy lank na hom. Dit is die eerste keer dat sy hom sonder sy bril sien. Hy is inderdaad die aantreklikste man wat sy ken.
“So, nou is ons albei gemaklik,” sê hy met ’n sweem van ’n glimlaggie, “en nou kan ons oor ons vertrek na die kasteel gesels. Eerstens sal jy jou taallesse moet opsê en daarna met ’n bloemiste reël om elke week vars blomme op jou moeder se graf te sit …”
“Nee, ek sal maar liewer die blomme laat staan,” maak Lizelia beswaar. “As ’n bloemiste dit moet doen, gaan dit my baie geld kos – geld wat ek nie het nie. Voor ons vertrek sal ek kunsblomme op haar graf gaan sit.”
“Ek verstaan dit glad nie. Jy sê jy het nie geld nie, en tog het ek ook nog nooit ’n enkele rekening ontvang vir goed wat jy gekoop het nie,” sê hy fronsend. “Hoe kry jy dit reg om sonder geld te lewe, Lizelia?”
“Ek het darem nie heeltemal sonder geld gelewe nie,” sê sy kalm. “Ná my moeder se dood het ek nog ’n paar lire van ons sakgeld oorgehad, en twee weke gelede het ek my seëlring aan ’n juwelier verkoop.”
“En wanneer die ring se geld op is?” Hy draai sy gesig na haar.
Lizelia haal haar tingerige skouertjies liggies op en sê verleërig: “Ek sal maar seker my goue oorkrabbers moet verkoop.”
“So! En hoe lank gaan jy aanhou om jou persoonlike besittings te verkoop?” vra Edoardo geamuseerd.
“Wel, totdat jy voel jy het juffrou Bove genoeg gestraf vir die hartseer wat sy veroorsaak het en julle hierdie geskil uit die weg ruim en in die huwelik tree,” sê sy met ’n vreemde gelatenheid. “Daarna sal ek teruggaan na my eie land en weer aansoek doen om ’n onderwyspos.”
Hy swyg ’n hele rukkie, en sê dan ietwat afgetrokke: “Ek sal reël dat jy elke maand ’n toelaag ontvang. Moet dus nie weer van jou persoonlike besittings verkoop nie. Het ’n kêrel vir jou die seëlring gegee?”
Lizelia skud haar kop en sê sag: “Nee, dit is ’n ring wat ek op my sestiende verjaardag van my ouers ontvang het. Ek het nie ’n kêrel gehad nie, net ’n vriend wat my af en toe uitgeneem het. Maar hy is nie die soort man wat die son, maan en sterre laat skyn, of die son twee maal ’n dag kan laat uitkom nie. Hy was maar net ’n goeie vriend.”
Daar is ’n breë glimlag om Edoardo se mond toe hy vra: “Hoe laat ’n man die son, maan en sterre vir ’n meisie skyn, ou kleintjie?”
“O, hy kan dit net doen as die meisie hom baie liefhet,” glimlag sy terug. “Jy het seker al dikwels die son twee maal ’n dag vir juffrou Bove laat opkom …”
’n Hartlike lagbui van Edoardo maak dadelik ’n einde aan Lizelia se relaas.
“Ek glo nie ek het die son al ooit een maal vir Francesca laat skyn nie, Lizelia,” sê Edoardo toe sy lagbui eindelik bedaar. “Francesca is nie so ’n romantiese mens soos jy nie. Al wat sy van die lewe verlang, is die dinge wat ’n mens met geld kan koop.”
Ná ’n rukkie vra Edoardo besorg: “Waarom is jy skielik so stil? Skok dit jou om te hoor dat Francesca ook maar net belang stel in die dinge wat met geld gekoop kan word?”
“Wel … nee, nie juis nie,” antwoord sy half ingedagte. “Dit verbaas my net dat jy so ’n meisie kan liefhê.”
“Ek het dit nooit voorheen geweet nie. Trouens, ek vind dit ook maar nou eers uit. Maar ons gaan tog seker nie die heeldag oor Francesca se swakhede gesels nie, gaan ons?” Hy steek sy hand uit, neem Lizelia se regterhand in syne en vleg sy lang, slanke vingers versigtig deur hare. “Jy het mooi fyn handjies,” merk hy op. “Ek wens ek het die gebruik van my oë net ’n oomblik lank om te sien hoe jy lyk, Lizelia. Ek ken jóú al goed. Jy is ’n sagte mensie met ’n stil en rustige geaardheid. Jy is klein en fyn, en almal sê jy is die mooiste vrou in die wêreld. Maar vir my is jy op die oomblik ’n meisietjie sonder ’n gesig – en dit maak my ongeduldig.”
“Waarom maak dit jou ongeduldig, Edoardo? Ek is tog nie so belangrik nie!”
“Ek hou daarvan om te weet hoe almal om my lyk. Maar dit sal jy nie verstaan nie, Lizelia, want jy het nog nooit in so ’n wêreld geleef nie … Nou ja, enige man sal seker nuuskierig wees om te weet hoe lyk die vrou met wie hy getroud is. Of is ek ’n uitsondering?”
“Nee, ek sou seker dieselfde gevoel het, Edoardo. Maar gelukkig weet jy darem hoe juffrou Bove en al die ander hier in die villa lyk. Die mense in jou kasteel is ook nie vir jou vreemd nie.”
Hulle gesels nog oor sy kasteel totdat die werker hulle met oggendtee bedien. Daarna raak Lizelia aan die slaap en Edoardo is weer alleen met sy gedagtes …
Ook hy sluimer later in.
Lizelia is aangenaam verras toe Edoardo haar die volgende middag vertel dat hulle oor vier dae na die kasteel vertrek.
Sy bly twee dae in die bed soos die dokter beveel het. Noudat hulle op die punt staan om die villa te verlaat, is daar heelwat sakies wat sy moet afhandel. Dan moet sy ook nog haar daaglikse pligte teenoor Edoardo nakom.
Lizelia voel nog betreklik swak toe sy die baron ná ontbyt na die koel rustigheid van die somerhuisie lei, waar sy elke oggend uit die plaaslike koerant vir hom voorlees. Sy het nog nie eens die voorblad klaar gelees nie, toe ’n motor voor die villa stilhou. Sy weet sommer dadelik dat dit Francesca is, want net sy sal dit waag om by die villa besoek af te lê sonder ’n afspraak of ’n uitnodiging.
Lizelia frons vererg. Sy is nou baie moeg vir Francesca se skaamtelose voorbarigheid. Sy wens Edoardo wil nou finaal oor hulle toekoms besluit en klaarkry, sodat Francesca kan ophou om so ’n oorlas van haarself te maak. Sy sien buitendien ook geen sin daarin dat hy haar so aan ’n lyntjie hou nie. Dit is tog duidelik dat sy hom weer wil terughê. As hy háár dan nie meer wil hê nie, behoort hy ferm op te tree en haar weg te stuur.
Lizelia voel hoe Edoardo langs haar verstyf; dan merk sy die harde trek om sy mond en die donker frons tussen sy wenkbroue. Voordat sy ’n verklaring vir sy skielike wrewel kan vind, maak Francesca haar verskyning in die somerhuisie en groet hom met ’n vleierige stem en ’n vlugtige soentjie op die voorkop.
“Ek het na jou verlang, Edoardo, skat,” sê sy terwyl sy vir haar ’n stoel langs syne neersit en ongenooi plaasneem. “Dit was harteloos van jou om my vir twee dae van jou af weg te stuur …”
“Wat, harteloos?” vra die edelman met ’n minagtende stem. “Moenie dat ek lag nie, Francesca. Jy is inderdaad die laaste persoon op aarde wat my van harteloosheid durf beskuldig. Maar ek wil nie nou ou koeie uit die sloot haal nie, dus stel ek voor dat ons oor iets anders gesels. Hou net asseblief op om voor my toneel te speel, ek ken jou spel te goed.”
“Ek weet glad nie waarvan jy praat nie, skat,” sê Francesca gekrenk. Lizelia kan sien dat sy bitter vererg voel, want haar gesig is bloedrooi en haar lippe is dun saamgepers.
Edoardo reageer deur met ’n kortaf laggie en sê: “Toe maar, Francesca, jy weet baie goed waarvan ek praat. Onthou net, jou toneelspel beïndruk my glad nie. Ons verhouding is iets van die verlede. Trouens, ek dink nie eens meer daaraan nie. Hou maar op om my met geveinsde koketterie te probeer beïndruk. Jy ken my goed genoeg om te weet dat dit nie sal werk nie.”
Francesca byt haar onderlip nadenkend tussen haar tande vas. Sy besef dat dit haar skuld is dat hulle gesprek hierdie onplesierige wending geneem het. Sy moes nooit die woord harteloos gebruik het nie. Sy besef dat sy vinnig aan iets sal moet dink wat Edoardo weer in ’n gemoedelike stemming sal bring. Op die oomblik kan sy aan niks dink nie, dus vra sy sonder veel belangstelling: “Wanneer verwag jy Tina en Marco terug van hulle oorsese reis, Edoardo?”
“Ek en Lizelia verwag hulle wanneer ons hulle sien,” sê Edoardo ontwykend. “Ek hoor niks van hulle nie, maar ek dink my