knipoog en iets pluk aan Jemma se binnegoed. Verdomp, hy’s gorgeous.
“Hoekom laat iets my dink jy’t geweet ek is Juliemaand vry?” grom sy.
“Ek doen my huiswerk. Jy’t ’n onberispelike reputasie, almal in die veld respekteer jou.”
“Die heuningkwas gaan jou nêrens bring nie.”
“Hoekom ontmoet jy nie net vir Kaydee en Adam nie? Ons kan iets reël – ’n braai, miskien – en as jy daarna nog voel jy sien nie kans nie, dan het jy darem daardie handtekeninge gekry.”
“Nee. Ek wil hulle glad nie ontmoet nie. Ek het klaar besluit ek gaan nie die bevalling doen nie.”
“Genade, jy’s die hardkoppigste vrou wat ek nog teëgekom het! Dit moet die rooi lokke wees. Wat op aarde kan jy verloor deur hulle te ontmoet?”
Jemma plooi haar mond. “Daar’s één ding waarteen ek geen verweer het nie: ’n swanger vrou met ’n geboortedroom. Ek gáán Juliemaand afvat – ek’s dit aan myself en my pasiënte verskuldig. Maar ek weet daar sal niks van kom as ek eers jou Kaydee ontmoet het nie.”
Hy vee die skelm kyk so haastig van sy sexy gesig af dat sy dit ampertjies mis. Daar gee sy nou mooitjies die truuk waarmee hy haar kan sagmaak op ’n skinkbord vir hom aan! Sy skud haar kop dat haar poniestert wip.
“Aikôna, vergeet dit! Ek sien sommer hoe trek die rook by jou ore uit soos jy konkel, maar spaar jouself die moeite. Ek sê jou nou, ek gaan dit nie doen nie. Ek gaan nie eens met Kaydee práát nie. Buitendien, daar’s ander vroedvroue ook in die land, ek sal vir jou ’n paar nommers gee.” Sy blaai deur haar dagboek na die bladsy met telefoonnommers. “Waar’s die reservaat?”
“Naby Pilanesberg. Dis bietjie meer as ’n uur se ry van Rustenburg af.”
“ ’n Úúr van Rustenburg af?” Verligting sif soos somerreën oor Jemma neer. “Wel, in daardie geval is ’n tuisgeboorte in elk geval buite die kwessie, by my of enige ander vroedvrou. Mens moet ’n halfuur van die naaste groot hospitaal wees – een met ’n neonatale ICU.” Sy klap haar boekie toe. “Daar het jy dit. Jou kliënte sal maar ’n ander plan moet maak.”
Iets aan sy lag laat haar dink dat hy hierdie keer vír haar lag, nie saam met haar nie. Sy voel soos ’n skooldogter wat per ongeluk by die seunskleedkamers ingestorm het.
“Wat’s so snaaks?”
“Hulle sal binne ’n halfuur daar kan wees, Jemma.”
“Ag kom nou, jy’t nou net gesê Rustenburg is ’n uur weg. Miskien sal ons dit binne ’n driekwartier kan haal as ons die spoedgrens breek en laag vlieg, maar –”
“Maar wat as ons so ’n bietjie hoër vlieg?” Hy glimlag onskuldig. “Jy hou nie rekening met die mense waarmee ons te doen het nie. Hulle’s meer as ’n uur per motor van Rustenburg af, maar met een van hul helikopters is dit minder as ’n halfuur weg.”
Jemma voel hoe haar mond oop en toe gaap soos ’n sterwende forel s’n. Haar verskonings is besig om op te droog. Dan kom Reuben haar onverwags en onbedoeld te hulp.
“Buitendien hoef jy nie jou kop te breek oor noodgevalle nie. Dis waar ek inkom.” Verbeel sy haar, of swel sy borskas nog breër? “Ek’s ’n neonatoloog. Jy moet net vir ons die kerse aansteek, Kaydee se rug vryf en die baba in die jacuzzi vang. Maar die oomblik as Jordan Junior uit is, is hy my verantwoordelikheid. Hierdie ouers gaan nie kanse vat nie.”
Oombliklik is Jemma smoorkwaad. Só kwaad dat sy reeds haar vingers om Reuben se nek kan voel sluit, kan voel hoe sy die suurstof bietjie vir bietjie uit sy sexy strot wurg.
“Kanse vat?! O, ek sien! Jy bedoel ek’s daar vir window dressing, om die ervaring vir die bedorwe brokkie spesiaal te maak. Maar sodra dit by die lewensbelangrike kwessies kom, soos by die baba se gesondheid, dan kan ek nie vertrou word nie. Dan moet Hollywood die professionals inroep – iemand wat ten minste MBChB agter sy naam kan skryf!” En boonop lyk of hy van die ER-stel ontsnap het, dink sy heimlik.
“Wel, ek het nuus vir jou, dókter Stiller. Vroedvroue is kundiges in eie reg. Ons is heeltemal bekwaam om die verantwoordelikheid vir ma én baba te dra – ons doen dit al eeue lank. En as jy dink ek sal ewe gedienstig agternadrentel soos ’n gekniehalterde perdjie, maak jy ’n hengse fout! Ek’s geen dokter se handlanger nie. Sê vir Kaydee hier’s ’n news flash: you can’t have it both ways, dearie. Óf jy vertrou ’n vroedvrou volkome om na jou en die baba om te sien óf jy doen dit op die gewone manier, in ’n hospitaal, op die dokters se turf.”
Toe sy opkom vir asem lig Reuben sy hand in ’n vredesgebaar. “Hokaai, nie so vinnig op jou perdjie nie! Ek weet rooikopvroumense is berug vir hul kort humeur, maar gee ’n man darem ’n kans om te verduidelik –”
“Nee wat, ek dink nie jy moet eens probéér nie. Jy praat jouself net al dieper in die sop in met jou verfoeilike stereotipes. As dit nie teen vroedvroue is nie, is dit teen rooikoppe! Teen ‘vroumense’! Ek’t niks verder te sê vir ’n chauvinistiese snob soos jy nie. Kry jou ry, ek het werk om te doen.”
Toe hy nie dadelik gehoorsaam nie, kry Jemma hom aan een bultende boarm beet. Genadeloos stuur sy hom deur toe.
“Jemma, kan ons nie net –”
“Nee, ons kan nie. Ek’s seker jy sal ’n ginekoloog kan invlieg vir die celebrity-bevalling as die prys reg is. Weet nie wie die pasiënt se rug gaan vrywe nie, want geen gynie sal so laag daal nie. Maar ek laat myself en my professie nie so beledig nie. Óf ’n pasiënt vertrou my óf sy kan dit heeltemal los. Ek werk nie met ’n dokter wat oor my skouer loer nie.”
Toe hy vir oulaas in die deurkosyn omswaai, sien Jemma die onweer in sy blougroen oë. Hy kners sigbaar op sy tande.
“Lyk my iemand het ’n chip op haar skouer. Kan nie sê ek’s verbaas nie. Ek het gewonder of jy nie issues het nie – die enigste verpleegkundige in ’n familie van dokters. Ook maar goed ek het jou persoonlik kom sien. Ek sal die Jordans laat weet dat ek nie so ’n opvlieënde geitjie kan aanbeveel nie, maak nie saak hoe bekwaam jy is nie.”
En daarmee verdwyn hy in die gang af.
2
“Lientjie, néé!” Jemma pluk venynig aan die treklaken om die kreukels glad te kry. “Moenie jy ook nog karring nie! Ek het géén begeerte om my swaar verdiende verlof op te offer om iewers in die grammadoelas vroedvrou vir die sterre te gaan speel nie.”
“Oukei, oukei! Jinne, jy laat dit klink asof die mense van jou verwag om die baba gratis en verniet te kom vang. ’n Maand in ’n luukse privaat reservaat met net een ou pasiëntjie klink nou nie vir my na ’n hengse opoffering nie, en veral nie as mens in ag neem dat jy ses maande se inkomste gaan verdien nie. Jy kan mos maar daar ook gaan ontspan en boonop ’n hoop dollars bymekaarmaak.”
“Ek soek die séé,” brom Jemma. “Nie die dorre ou Bosveld nie. En ek soek rus en vrede. Elke jaar vandat ek hierdie praktyk oopgemaak het, vat ek Julie af, want dis ons stilste babamaand, sodat ek vir vier salige weke aan geen selfoon of serviks hoef te dink nie.” Sy skop ’n geel geboortebal dat dit met ’n gekletter teen die asblik aan rol. “Én jy vergeet van daardie onuitstaanbare mansmens.”
Lientjie skud onverstoord ’n kussing reg. “Die onuitstaanbare mansmens het darem ’n pragtige bos lelies met ’n alte verskonende kaartjie gestuur. En jou aanbeveel ten spyte van jou parmantigheid, anders sou die Jordans tog nie daai vreeslik vrygewige aanbod gemaak het nie. Ek’s seker Stiller het nie bedoel om jou achilleshiel nerfaf te trap nie, Jem. Hoe moes hy nou weet jy gaan in ’n tierwyfie verander net omdat daar ’n dokter op standby is?”
Jemma snork onvroulik, maar Lientjie hou haar doof en praat voort. “Eintlik verstaan ek nie waaroor jy so ’n bohaai opskop nie. Meeste pa’s skop mos teen tuisgeboorte. Dit kos altyd oorreding om hulle te oortuig dis veilig. Dis seker nou Adam Jordan wat aandring op ’n dokter, man, nie Kaydee nie. En hulle ís ver van ’n hospitaal af daar op die wildplaas.”