’n nuwe een gaan koop.”
“Dankie, maar dis beter dat die AA dit sommer nou kom vervang. Wat as ek vannag moet ry vir ’n bevalling?”
Selfs in die dowwe lig van die parkeerterrein kan sy sien hoe die lagkreukels om sy oë plooi. “Die AA sal jou nie va-naand met een kan help nie.”
“Dra hulle dan nie die goed saam nie?”
“Nee, man, alle batterye is mos nie dieselfde nie. Ry saam, jou vennoot kan jou kom oplaai as ’n bevalling opduik. Ek verstaan van jul webwerf julle werk altyd twee-twee?”
Jemma draai die punt van haar vlegsel om en om haar wysvinger en sug. “Ek wil nie moeite wees nie.”
“Jy bedoel jy wil nie by my in die skuld wees nie?” Sy oë lag en sy maak verleë keel skoon.
“Net so.”
“Kom, Jemma, no strings attached.”
Jemma weifel nog ’n oomblik, maar besluit dit sal kortsigtig wees om sy aanbod te weier. Sy’s moeg en allesbehalwe lus om ure lank op die AA te wag. Boonop twyfel sy of daar vanaand ’n kraamgeval sal wees. Hulle gaan waarskynlik eers weer oor ’n week of so besig word.
“Nou goed, dankie. Maar jy sal my ongelukkig moet help karwei aan my toerusting. Ek wil dit nie in Micky los nie, netnou het ek dit vannag nodig.”
“Micky?” Hy sluit die kattebak oop.
“Ek het die kar so gedoop toe ek haar gekry het. Kyk, haar registrasienommer begin met MKY.”
“Ek sien. Ek’t nog altyd gewonder hoe mense aan die name vir hul karre kom. Myne was nog altyd maar net ‘die Jeep’.”
Hy lig haar verslete swart dokterstas wat nog aan haar pa behoort het uit die kattebak. Sy beduie dat die plastiektrommel en die suurstofsilinder ook moet saamkom.
“Dis omtrent ’n pakkaas. Gaan dit saam na elke tuisbevalling toe?”
“Jip. Ek moet gewoonlik ’n paar keer heen en weer stap om als uit te dra. ’n Beslommernis as die huis ’n klomp trappe het. Of as hulle my eers op nommer nege-en-negentig bel.”
Hulle stap gesels-gesels tot voor die hoofingang. Reuben beduie na ’n blinkswart Jeep Wrangler wat half eenkant staan.
“My ryding. Nie soveel karakter soos Micky nie, maar hy kry my waar ek moet wees.”
“Darem seker ook nie so vol nukke soos Micky nie,” lag Jemma. “Almal torring aan my om ’n nuwe motor te kry: Lientjie, my ma-hulle, tot my pasiënte!”
Hy maak galant die passasiersdeur oop en laai haar toerusting op die agtersitplek. Behaaglik vly Jemma haar op die leersitplek neer. Sy kar ruik na hom, besef sy. Vars en aards.
Hy skuif langs haar in. “So, waarheen ry ek?”
Sy gee die adres van haar sinkdakhuis in ’n kleurryke ouer voorstad. By die hoofpad draai hy egter links pleks van regs. Dadelik is sy geïrriteerd. Hoekom maak die man asof hy presies weet waarheen om te ry as hy onseker is?
“En nou? Jy sal daar voor moet omdraai, my huis is anderkant toe.”
“En nou ontvoer ek jou gou vir ’n koppie koffie.”
“Agge nee, Reuben, asseblief. Ek’s vodde, ek wil gaan slaap. Ek kan vannag uitgeroep word, ek kan nie in koffiewinkels rondflenter nie.”
“Wie’t enigiets oor ’n koffiewinkel gesê?”
Woede vlam in haar op. “Jy neem my na jou kliënte toe, nè? Jy gaan my wragtig teen my sin na hulle toe sleep sodat hulle my kan probeer oorreed. Dis laag, man! Dis ontvoering! Dit sal my glad nie verbaas as jy nog my kar gesaboteer het ook nie!”
Versigtig loer Jemma na sy kant toe, skielik bekommerd dat sy nou te ver gegaan het. Maar selfs in die flikkerende stadsliggies is die skuld op sy aantreklike gesig onmiskenbaar.
“Jy hét my kar gesaboteer! Jou skurk! Hoeveel betaal hierdie mense jou om tot sulke nonsens te daal?”
“Tegnies gesproke het ek nie jou kar gesaboteer nie. Ek het bloot nagelaat om jou te sê dat jy vroeër vanaand die kajuitliggie aan vergeet het. Ná jy jou lippe rooi gemaak het in die spieël.”
Dit tref Jemma soos ’n skoot yswater in die gesig. Dis waar. Skaamkwaad gluur sy by die venster uit.
“Dankie tog, so jy’s ’n skadelose stalker, nie ’n motorsaboteur nie.” Sarkasme drup uit haar woorde soos sjokoladestroop uit basaarkrimpvarkies. Sy onderdruk ’n rilling en voel hoe haar tande teen mekaar wil-wil kletter.
“Jy kry koud. Hoe onbedagsaam van my.” Hy skakel die verwarmer aan.
“Dankie,” mompel sy onwillig. “Maar ek klappertand altyd so as ek die hel in is. Van kleins af. Dis flippen embarrassing.”
“Adrenalien,” sê hy droog, sy oë stip op die pad. “Ek’s jammer om ’n pes te wees, Jemma. Jammer dat ek hierdie . . . onkonvensionele metodes gebruik om jou te probeer oortuig. Ek is regtig nie gewoonlik so opdringerig nie. In hierdie geval voel ek net dat, wel, dat die doel die middele heilig.”
“En wat is die doel miskien? Is dit die lekker vet tjekkie wat jou onkonvensionele metodes motiveer, of die heimlike begeerte om daai handsome bakkies van jou op ’n paar koerantvoorblaaie te kry?”
Sy swye ná haar beskuldiging is so koel dat Jemma haar baadjie stywer om haar skouers trek. Dikbek kyk sy hoe die straatligte verbyflits. Hulle lê ’n hele paar kilometer in stilte af voor hy eindelik weer praat.
“Ons is hier. Probeer net een ding onthou. Agter al die geld, al die roem en die blink is Kaydee en Adam net twee opgewonde, onseker jong mense wat ondersteuning nodig het deur ’n groot nuwe ervaring.”
Jemma maak haar mond oop om ’n antwoord terug te slinger, maar besef dan dat sy regtig niks het om te sê nie.
3
Sy’s nie seker wat sy verwag het van ’n huis wat ’n glansakteur sal huur terwyl hy ’n fliek verfilm nie, maar hierdie stylvolle woning in ’n stil Groenkloofstraat strook nie met die vae prentjie in haar kop nie. Daar waak wel ’n bonkige sekerheidswag by die hek, maar selfs dié stel haar teleur toe hy hulle nie eens voorkeer nie.
“Lyk my Rambo verwag ons,” merk sy op. “Seker volle vertroue gehad dat jou ontvoering sou slaag.”
Reuben sê niks, kom maak net vir haar die deur oop sodra hulle geparkeer het en probeer haar arm neem. Sy ruk weg. “Los! Stockhölmsindroom is vir sissies. Ek hang g’n aan ontvoerders nie.”
Hy proeslag. “Kyk waar jy loop, die paadjie is bietjie ongelyk.”
Die tuin is behang met feetjieliggies en strelende klaviermusiek kom op die naglug aangedryf. Jemma mik stuurs voordeur toe met Reuben kort op haar hakke. Sy blik brand soos gloeiende kole op haar rug.
Jemma is stomgeslaan toe Kaydee self die voordeur oopmaak en haar met ’n gilletjie om die nek val. Onwillekeurig deins sy effens terug. Sy’s gemaklik met fisieke kontak – ’n vroedvrou moet wees – maar dis nie die verwelkoming wat sy van ’n celebrity verwag het nie.
“Jemma! Jy’s hier! O dankie, dankie, dankie dat jy gekom het!”
Toe die wurggreep om haar nek skiet gee, kry Jemma kans om die lewende legende behoorlik te beskou. Kastaiingbruin hare val in sagte golwe om ’n fyn hartvormige gesiggie. Groot bokkiebruin oë laat die meisie selfs jonger as drie-en-twintig lyk – bitter onskuldig vir iemand wat reeds sedert haar tienerjare in die kollig leef. ’n Ligpienk truitjie drapeer wolksag om haar vroulike rondings en netjiese boepie.
Kaydee druk Reuben net so warm teen haar vas. “Hoe kan ek dankie sê dat jy haar oorreed het om te kom? Jy’s ’n engel, Reuben.”
Dis op die punt van Jemma se tong om Kaydee te vertel hoe die “engel” haar soos ’n wafferse Mafioso bedrieg en ontvoer het, maar sy bedink haar toe ’n mansfiguur