welige wimpers. Wel, grinnik Jemma innerlik, as hierdie baba nie soos ’n reïnkarnasie van Bambi lyk nie, moet Adam laat vaderskaptoetse doen. Met sulke gene het die kind geen kans op blou of groen oë nie.
“Hi, Jemma, ek’s Adam.” Adam se Amerikaanse aksent is minder opmerklik as Kaydee s’n. Jemma wonder of hy daaraan moes werk om meer Suid-Afrikaans te klink vir sy huidige rol. Sy handdruk is ferm, sy blik reguit. “Welkom hier by ons. Wat kan ek vir jou kry om te drink?”
“Hallo, Adam. Wel, wat het julle?”
“Dit sal meer gepas wees om te vra wat hulle nié het nie.” Reuben klink geamuseer. “Sê net waarvoor jy lus het – Adam sal dit wel uit sy indrukwekkende kroeg kan optower.”
Jemma se wange smeul. Sy’t al weer vergeet met wie sy hier te make het. Vanaand sal die twee seker lekker giggel oor die versukkelde vroedvroutjie wat niks gewoond is nie!
Kaydee kom tot haar redding. Sy haak by Jemma in en stuur haar na ’n ruim leefvertrek waar ’n kaggelvuur knetter.
“Jy’s seker lus vir iets warms op so ’n koue aand. Hoe klink ’n spiced chai latte? Dit sal jou nie wakker hou as jy nou-nou wil slaap nie. Dis my drankie van keuse noudat koffie verbode is.” Sy streel oor haar boepie.
“Dit klink heerlik, dankie.”
Jemma gaan sit op die punt van ’n rusbank. Sy gluur dreigend na Reuben toe hy vir die plek langs haar mik, maar hy sien dit kamma nie raak nie. Hy vly hom neffens haar neer, so naby dat sy bobeen effens teen hare rus. Ongemerk probeer sy wegskuif, maar hy laat sy lang been net ál verder na haar kant toe kantel. Sy frons boosaardig. Hy trek sy vingers ongeërg deur sy kuif.
Ergernis vermeng met onbekende opwinding laat Jemma se hart jaag. Dit klop so wild in haar borskas dat sy wonder of Reuben dit nie dalk hoor nie. Wat ís dit met haar? Sy kyk anderpad na Kaydee wat haar op die oorkantste bank tuis gemaak het. Die meisie het haar skoene uitgeskop en haar voete, in snoesige gestreepte sokkies, onder haar ingetrek. Sy sit so sereen soos ’n kruisbeen Boeddha na Jemma en kyk.
“So,” verbreek Jemma die stilte, “is dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie?”
“Dis ’n verrassing,” straal Kaydee, haar wange bloesend in die gloed van die kaggelvuur. “Dis meer pret om te wag, dink jy nie?”
“Ek dink dis vreeslik opwindend om met die geboorte eers uit te vind. Maar deesdae is dit raar om mense te ontmoet wat geduld het.”
“Weet ek dit nie,” lag Kaydee. “Jy kan nie glo hoe almal ons verpes om tog maar uit te vind nie. Mense is só nuuskierig. Weet kastig nie wat om te koop as die geslag ’n geheim is nie. Mens sou sweer blou en pienk is die enigste twee kleure onder die son!”
“Hmm,” stem Jemma saam. “Ons lewe in ’n samelewing van instant gratification.”
Kaydee skuif vorentoe in haar stoel, haar gesig lewendig van belangstelling. “Is dit hoekom hier so ’n hoë keisersnitsyfer is, dink jy? Ek bedoel, die VSA se syfer is ook hoog, maar nie naastenby soos hier nie. Is dit waar dat tot negentig persent van vroue in privaat hospitale keisersnitte kry?”
“Dis waar, ja,” knik Jemma. “Ongeduld speel ’n groot rol – in die ma’s, die pa’s en die dokters. Party vrouens kies keisers omdat hulle wil beplan. ‘Ek het Donderdag daai bestuursvergadering. Ons doen Vrydag die snit, dan kan manlief rustig oor die naweek kom kuier.’ Dis hartseer hoe so ’n grootse gebeurtenis gereduseer word tot ’n chirurgiese prosedure.”
“Dis hoekom ons ’n vroedvrou soek,” knik Kaydee. “Om ons die beste moontlike kans te gee op natuurlike geboorte. Ons weet jy kan niks waarborg nie, maar ons kanse by jou is net soveel beter as by ’n gynie.”
Kaydee se oë gly liefderik oor Adam wat met ’n skinkbord die vertrek binnekom. Hy sit twee stomende bekers voor Jemma en Reuben neer. Dan skuif hy die koffietafel nader aan Kaydee sodat sy haar beker maklik kan bykom. Hy gaan sit styf teen haar met sy hand op haar bobeen.
Iets roer agter Jemma se ribbes. ’n Ongekende hunkering. Tot dusver het sy haar vryheid geniet, maar iets omtrent die opvallende intimiteit tussen hierdie twee maak ’n vreemde honger in haar wakker. Sal sy ooit iemand vind wat haar só sal liefhê? Saam met wie sy ’n tuiste, ’n gesin, kan bou? Dalk iemand . . . soos die man hier langs haar?
Haar asem stok in haar keel vas van skrik. Beslis nie só iemand nie! Vaderland, Reuben Stiller is alles wat sy nié in ’n man soek nie. Hy’s arrogant. Selfvoldaan. Ergste van als, ’n dokter. En hy’s heeltemal té mooi. Mens kan sulke mooi mans g’n vertrou nie. Sy gryp haar beker en neem oorhaastig ’n sluk. Eina, demmit! Kokend. Instinktief spoeg sy die brandende mond vol terug in die beker. Ag hemel, wat gaan sy nog als vanaand doen om haar naam krater te maak?
“Versigtig,” waarsku Reuben te laat. “Dis warm.”
“Dankie,” antwoord sy so kalm moontlik. “Ek kom so agter.”
Hy kom orent en haal die suikerpot van die skinkbord af. Hy skep ’n teelepel vol bruinsuiker en hou dit na haar uit. “Dè. Suig hieraan.”
Jemma gluur hom aan. “Dis suikerwater wat help vir skrik, nie suikerkorrels nie. Boonop ly ek nie aan skok nie, net aan stupidgeit.”
Hy glimlag geduldig, sy gesig so naby hare dat Jemma die kraaispoortjies rondom sy oë kan tel. “Suikerkorrels help vir ’n verbrande mond,” sê hy. “Toe, probeer dit. Rol dit ’n bietjie rond op jou tong voor jy dit insluk.”
Jemma maak gehoorsaam haar mond oop. Reuben se oë rek effens en sy besef sy moes die lepel aangevat het. Nou’s dit te laat. Haar ore suis. Sy maak haar oë toe sodat sy nie in syne hoef te kyk nie. Die metaal is koud op haar tong, die suikerkorrels grof soos sand. Sy rol dit in haar mond rond en voel hoe die soetigheid deur haar are trek.
“Beter?” vra Reuben baie sag.
Sy maak haar oë oop en sien dat sy gesig steeds digby hare is. Naby genoeg om hom te soen, dink sy koorsig. Naby genoeg om aan die stoppels op sy ken te raak. Hoe sou dit onder haar vingers voel?
“So jammer,” ruk Adam haar wegholgedagtes in die bek. “Ek moes jou gewaarsku het.”
“Moes jy?” stamel Jemma. Dan besef sy hy verwys na haar drankie, nie na Reuben nie. “Dis doodreg,” keer sy vinnig. “Dis ek wat my kop moes gebruik het.” Sy weet nie of sy jammer of bly is dat die oomblik – want dit was beslis ’n oomblik – tussen haar en Reuben verbreek is nie. Sy leun terug teen die bank om ’n bietjie afstand tussen hulle te sit. “Dankie vir die suiker. Dit voel sowaar beter.”
Kaydee hervat gretig die gesprek. “Ek wou nog vra, Jemma. Mag ek en Adam self ná die geboorte loer wat die geslag is? Is dit orraait as jy nie vir ons sê nie?”
Jemma voel asof tyd botstil gaan staan. Die bruin oë wat sy al uit soveel plakkate sien staar het, brand in hare. Langs haar hou Reuben sy asem op. Adam leun vooroor. Tot die geknetter van die kaggelvuur verstil asof die hele vertrek wag op haar antwoord. Beelde van helder winterdae langs die strand, van ’n sorgelose maand by die see flits deur Jemma se kop. Sy hoor haar ma se snedige telefoongesprekke met haar susters as hulle van haar nuwe kliënte uitvind.
Maar dan word die beelde een vir een verdring deur die afwagtende gesigte rondom haar: Kaydee se blink oë, Adam se stil vertroue, maar veral Reuben se warm blik. Sy wil dit nie eens teenoor haarself erken nie, maar daar is iets wat al heelaand tussen hulle twee prut. Iets blinks en opwindend, ten spyte van die Neandertaltaktiek waarmee hy haar hierheen gebring het. Hoe sou dit wees om vir ’n hele maand op ’n Bosveldplaas in noue kontak met hierdie man te werk? Die blote gedagte laat woer-woere agter haar naeltjie draai.
Haar vaste voornemens vermurwe. Sy gee ’n sug van oorgawe.
“Ja, Kaydee. Dis orraait. Vertel my wat’s nog als in jul geboorteplan.”
“Ek het geweet jou hartjie gaan smelt soos ’n marshmallow oor ’n braaivleisvuur.” Reuben spin behoorlik van selftevredenheid. “Dis nie net Adam wat nie vir Kaydee kan nee sê nie. Sy’t