voete. “Hierdie maak nie seer nie, Kaydee. Glad nie soos vanoggend se tegniek nie. Ek gaan nie eens aan jou maag raak nie. Ek gaan die moxa net langs jou kleintoontjies hou. Dit gaan gloei, maar ek belowe ek sal jou nie brand nie.”
Ag, laat dit asseblief werk, bid sy stil, laat hierdie liewe jong ma haar hartsbegeerte kry.
Ná ’n paar minute skuif Kaydee ongemaklik rond, haar hand op haar maag.
“Nóú’s sy wakker!” sê sy. “Dit voel of sy wil uitklim!”
“Kom ons hoop dan sy – of hy – woel sommer heeltemal onderstebo,” sê Reuben. “Jy besef natuurlik dat jy dikwels praat asof dit ’n dogtertjie is? Is dit maar sommer, of het jy per ongeluk iets met ’n sonar raakgesien? Of liewer, iets nié raakgesien nie?”
Kaydee lag verleë. “Ek kon van die begin af nog net aan ‘haar’ dink. Ek weet nie hoekom nie. Adam is weer oortuig dis ’n seuntjie.”
“My geld is op jou,” sê Jemma. “ ’n Ma weet gewoonlik. Net solank jy nie te verknog is aan die idee nie.”
“O, glad nie,” verseker Kaydee haar. “Solank die baba gesond is. Dis maar net dat dit vir my voel soos ’n meisiekind.” Sy streel weer oor haar boepie met daardie universele lief-kosing wat nog altyd vir Jemma so mooi was.
“Sjoe,” lag Reuben dan, sy oë op hul pasiënt se golwende buik. “Hierdie baba doen omtrent aerobics daar binne! Dalk moet ek nog my woorde vreet, Jemma!”
“Dink jy dan dit gaan nie werk nie?” vra Kaydee, haar oë eensklaps weer blink van die trane.
Reuben gee haar bobeen ’n drukkie met spyt oor sy hele gesig geskryf. “Moet jou nie aan my steur nie, Kaydee, ek het skeptisisme saam met my moedersmelk ingekry. Ons dokters word geleer om niks te glo wat ons nie wetenskaplik kan uitpluis nie. Maar ek het al genoeg van die lewe gesien om te weet daar’s dinge wat ons nie verstaan nie. Ek hoop hierdie is een van daardie gevalle. Indien nie, is daar nog altyd ’n kans dat sy vanself sal draai.”
Kaydee knik dapper.
“En as sy weier,” troos Jemma, “dan lewe ons gelukkig in ’n era met die tegnologie wat jou en jou baba albei veilig anderkant uit sal kry. So ja, ek dink dis lank genoeg. Kom, ek trek jou sokkies weer vir jou aan. Jy kan hoeka nie meer jou voete bykom nie.”
Reuben monitor die hart nog ’n minuut of wat terwyl Jemma ’n laaste paar instruksies gee. “Gee dit tot môre kans, dan sal ek kom kyk of iets verander het. Rus lekker vanaand, en moenie huiwer om my te bel nie. As dit nie dadelik werk nie, kan ons Sondag weer probeer.”
Toe hulle by die voordeur uitstap, die koue in, kyk Jemma na Reuben. Hy glimlag skeef en hou sy hande omhoog, albei duime in sy vuiste toegevou. Die gebaar bring ’n knop in haar keel.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.