Amelia Strydom

Bosveldliefde vir Jemma


Скачать книгу

het jou mos gesê hulle’s net mense. Onseker, onervare, nes elke swanger paartjie wat na jou spreekkamer kom.” Sy elegante hande stuur die Jeep deur die slapende strate. “En dis hoe hulle behandel wil word. Soos gewone mense. Kaydee sê sy wil voel hoe dit is om net ’n mamma te wees. Ek het gesoek na ’n vroedvrou wat hulle só sou hanteer, wat nie heeltemal starstruck sou wees nie. Kaydee wil so graag omring word deur mense wat soos vriende voel, nie soos kliniese personeel nie. Toe ek jou die eerste keer sien, toe jy my so uitgevreet het by jou kliniek, het ek geweet jy is die perfekte vroedvrou vir hulle. Jy sal jou nie deur roem laat intimideer nie. Daarvoor is jy heeltemal te vurig.”

      “Eintlik het ek vanaand gebewe in my broek,” erken Jemma sag.

      Sy oë verlaat die pad ’n oomblik en kom rus op haar. “Jy’t dit nie gewys nie. Jy was ’n toonbeeld van professionaliteit. En van warmte. Dankie dat jy ingestem het om die bevalling te doen, Jemma.”

      Sy glimlag suur. “Wel, as hierdie die plek is waar ek jou moet bedank dat jy my ontvoer het, moet jy maar lekker wag!”

      “Weer die Stockhölmsindroom-ding?” vra hy ewe vroom.

      “Dit ook, ja. Maar veral die rooikopvroumens-ding.”

      “Die rooikopvroumens-ding?” vra hy versigtig, klaarblyklik bewus van die plofbare terrein waarop hy hom bevind.

      “Hmm. Ons is soos skeidsregters, jy weet? Nie altyd reg nie, maar beslis nooit verkeerd nie.”

      Toe hy lag, weerklink dit diep binne haar. Dis so kosbaar dat sy voel asof sy tevrede sal wees om vir die res van haar lewe niks groters te bereik as om nou en dan vir Reuben Stiller só te laat lag nie.

      Die gevoel maak haar oneindig bang.

      4

      “Kaydee, hi!” Jemma strek haar bene uit en skuif reg vir ’n lang telefoongesprek. Vrydae sien sy geen pasiënte nie. Mits niemand kraam nie, lê die dag skitterend van belofte voor haar. Dis vroegoggend, haar gunstelingtyd van die dag, en sy’t nog nie besluit hoe om die ure wat voorlê te benut nie. Maar ’n geselsie met ’n vriendin terwyl sy haar koppie koffie geniet, is nou presies waarvoor sy lus het.

      En ’n vriendin is inderdaad wat Kaydee geword het. Om die sangeres teen die skerp oë van die paparazzi te be-skerm gaan Jemma haar weekliks tuis ondersoek. Adam is gewoonlik op stel. Hy wil soveel werk as moontlik voor die geboorte afhandel sodat hy en Kaydee ordentlik “babymoon” kan hou.

      Aanvanklik het Jemma ’n professionele afstand probeer handhaaf. Sy was skrikkerig dat Kaydee haar gebruiklike belangstelling in haar pasiënte vir opdringerige familiariteit sou aansien. Maar hulle het so lekker gekliek dat die afsprake spoedig gesellige kuiertjies geword het. Jemma het Kaydee selfs een keer uitgesmokkel na ’n kunsfliek in ’n sonbril, ’n serp en ’n mus wat hulle laag oor haar voorkop getrek het. Micky het natuurlik die vermomming vervolmaak.

      “Hi.” Kaydee se stem is so klein en tranerig dat Jemma dit kwalik sou herken het as haar naam nie op die selfoonskerm gestaan het nie.

      “Kaydee, wat’s fout, jong? Het jy en Adam woorde gehad?”

      Die swangerskaphormone maak baie vroue buierig, veral teen die einde, maar dis die eerste keer dat Jemma Kaydee hoor huil.

      “Nee,” kom dit tussen die snikke deur. Skielik onthou Jemma dat Kaydee vroegoggend ’n afspraak by haar ginekoloog gehad het.

      “Wat sê dokter Campbell? Als reg?”

      Nog snikke, harder dié keer.

      “Kaydee, práát asseblief!” Die bevel klink strenger as wat Jemma bedoel het, maar ’n ferm benadering is nou al raad.

      “Dokter sê . . . hy sê die baba lê stuit, Jemma!”

      “Agge nee.” Jemma vryf hard oor haar oë. Sy’s dankbaar dis niks ernstigers nie, maar die implikasies van die nuus is steeds sleg. ’n Baba wat stuit lê, met die boudjies ondertoe, maak ’n keisersnit noodsaaklik. Nie net sal Kaydee nie op die wildplaas kan kraam nie, sy sal nie eens natuurlik geboorte kan gee nie.

      “Dalk sal dokter Campbell die baba probeer draai?”

      “Hy hét,” snuif Kaydee. “Dit was vrek ongemaklik, maar die kleintjie wou nie roer nie.”

      “Ai, jong . . .”

      “Ek’s so teleurgesteld! Ek kan nie glo dit gaan nie uitwerk soos ek en Adam gedroom het nie. En as dit hierdie keer ’n keiser is, sal ek nooit weer ’n tuisgeboorte kan hê nie.”

      “Daar’s darem nog ’n paar truuks wat ons kan probeer,” troos Jemma.

      “Regtig?” Kaydee sluk hard.

      “Regtig. Jy moet twee keer per dag vir vyftien minute met jou boude in die lug lê. Ek sal jou nou-nou kom wys hoe. En ek wonder . . .”

      “Wat?” snuif Kaydee gretig. “Is daar nog iets? Ek sal enigiets probeer, regtig!”

      “Wel, daar is ’n ander tegniek ook. Dis onkonvensioneel, maar ons het niks om te verloor nie. My enigste voorwaarde is dat jy dit eers met Reuben uitklaar.”

      Tien minute later lui haar foon weer. Reuben se naam flits op die skermpie.

      “Jemma Lindeque,” antwoord sy in haar beste nabootsing van selfversekerde professionaliteit. Sy’s amper te bang om te hoor wat Reuben van haar voorstel dink. Gelukkig hou hy haar nie lank in die duister nie.

      “Môre, is dit die sangoma?” Terglus bruis soos vonkelwyn in sy stem. Jemma wil die foon deur die venster smyt.

      “Het jy miskien ’n beter voorstel?” vra sy skerp. “Het jy enige voorstel wat nie ’n spinaal en ’n skalpel behels nie?”

      “Ongelukkig nie,” sê hy vroom. “Maar ek’s ’n regte dokter, nie ’n kwaksalwer nie. ’n MBChB, nes jy my anderdag herinner het. My opsies is beperk tot, uhm, wetenskaplike ingrepe. Gelukkig is jy daar om meer . . . holisties te werk te gaan.”

      “Jy dink dis ’n stupid idee,” snou sy, boos dat sy soveel omgee wat Reuben Stiller dink. Sy háát dit om te wonder of hy die seerkry in haar stem kan hoor.

      Asof hy haar gedagtes kan lees, vervolg hy ernstiger. “Ek dink dit kan nie kwaad doen nie. Ek gaan nie vir jou jok nie, ek twyfel of dit sal werk. Maar ek dink Kaydee kort die gemoedsrus dat sy alles probeer het. Ek sal saam met jou gaan, vir morele ondersteuning en om die hartklop te monitor. Kan ek jou oor ’n uur kom oplaai?”

      “Oukei,” brom Jemma. “Ons sal by dokter Wu moet langs ry om moxa te kry. Hy’s al akupunkturis wat ek ken.”

      “Akkoord.” Hy probeer hoorbaar sy lag sluk. “En Jemma?”

      “Wat?”

      “Moet ek jou met die Jeep kom haal, of sal ons albei op jou besemstok pas?”

      Sy druk die rooi knoppie op haar foon voordat sy hardop swets. Besemstok, inderdaad!

      Jemma wag op haar rooi stoep toe die Jeep voor die hek stilhou. Die wind sny deur haar jeans. Gelukkig het sy ’n snoesige rolnektrui aan, en ’n wolmus om haar ore warm te hou. Reuben wip uit die viertrek en sy stap hom tegemoet.

      “Vir wat staan jy hier buite en bibber?” raas hy. “Dis ’n helse koue front dié.” Wasem stroom met elke woord by sy mond uit. Jemma probeer die hek oopsluit, maar haar vingers is dom van die koue. Reuben steek sy arm deur die tralies en vat die sleutels by haar. Toe hy die hek oopmaak, trek hy haar onverwags teen hom vas.

      “Jou neus gloei van die koue,” fluister hy in haar nek. “Kom hier dat ek jou warm maak.”

      Voor Jemma kan keer, is sy lippe op hare. Haar ore zoei. Haar binnegoed smelt soos sjokolade oor ’n vlam. Toe hy haar skouers los en terugtree, voel dit asof sy van ’n mallemeule afklim. Sy staan stil, maar die bekende mure en kaal jakarandas van haar straat bly draai . . . en draai . . .

      “Vir