kan dalk ’n akteur wees. Die een of ander held in ’n TV-sepie. Hy’t die lyf daarvoor. En dis opvallend dat hy sulke donker oë en donker wenkbroue het, want sy hare is blond. Sy lig haar skouers. Dit kan wees dat sy hom toevallig op TV gesien het. Maar sy naam is onbekend aan haar. Dis in elk geval so selde dat sy en Riana TV kyk dat sy loshande sal druip as sy ’n vraestel oor die akteurs op TV moet beantwoord.
“Ek verstaan jy hou ook skool,” sê hy toe sy met die koffie terugkeer. “By watter skool gee jy onderwys?”
“By die Tegniese Hoërskool in Dalen.”
“So, jy en Riana is nie by dieselfde skool nie. Julle moet dus met twee voertuie ry.”
“Ja, ongelukkig. Ek sê ongelukkig, want nou moet ons elkeen ons eie motor hê, en die huis het net een garage. Ons maak maar beurte. Een nag slaap my motor buite en die volgende nag hare. Maar die son verniel dit so dat ons besluit het om ’n afdak hier voor die garage op te rig.”
Sy kop knik. “Riana het my vertel van jul planne. Maar . . . julle kan vergeet daarvan.”
“Hoekom?” vra sy verbaas.
“Daar is nie genoeg spasie tussen die garage en die straat vir ’n afdak nie.”
“Ek dink daar’s genoeg plek. Hier is mos nie sypaadjies nie, so die erf strek tot teenaan die straat se randsteen.”
“Die spasie vir ’n sypaadjie moet steeds daar wees. Jy mag nie daarop bou nie.”
“Vir wat nie? Die mense loop in die straat. Niemand loop ooit in die tuin nie.”
“Daar is ongelukkig dinge soos reëls en regulasies van die munisipaliteit wat nagekom moet word. Een daarvan is dat daar geen struktuur op ’n sypaadjie opgerig mag word nie.”
“Hoekom nie?”
“Omdat dit die motors in die straat se uitsig belemmer en ’n ongeluk kan veroorsaak, om maar een van die redes te noem.”
Sy vervies haar. Nie soseer oor wat hy sê nie, want sy redenasie klink logies, maar oor die manier waarop hy oor sy koppie koffie na haar kyk; asof sy ’n dom, onnosel kind is. “Hier is nie ’n hoek of iets wat hul uitsig kan belemmer nie. Dis ’n lang, oop straat wat hier verbyloop.”
“En as daar ’n kind van agter jul afdak uitgehardloop kom, reg voor ’n voertuig in?”
“ ’n Kind wat waarvandaan moet kom? Ek en Riana het nie kinders nie.”
“Kuiergaste se kinders? Wie moet verantwoordelikheid aanvaar vir die ongeluk?”
“Die bestuurder,” sê sy nou regtig vererg. “Hy moet kyk waar hy ry. En waarvoor het ’n motor remme?”
Hy gee ’n suggie en plaas sy leë koppie op die skinkbord voordat hy terugleun in sy stoel en sy bene kruis. “Ons gaan nie ver kom met dié soort redenasie nie. Feit bly, dis onwettig om ’n struktuur op te rig wat die boulyne oorskry. En as julle ’n afdak bou waar julle hom wil bou, sal dit definitief die boulyn moet oorskry om effektief te wees.”
“Ag, boulyne se voet! Dis óns huis en óns erf. Wettiglik gekoop en betaal. Ons kan daarop bou wat ons wil.”
Sy wenkbroue lig. “Hoe gaan julle die bouplan goedgekeur kry?”
“Bouplan vir ’n afdak! Ons het nie bouplanne nodig nie. Net vier pale en sinkplate.” Hy lyk sweerlik geamuseerd, sien sy toe sy na hom kyk. Dit maak behoorlik die duiwel in haar los. “Wat traak dit jou in elk geval wat ons planne is? Wie is jy om te sê wat ons mag bou en wat nie?”
“Ek is toevallig die bou-inspekteur van hierdie area. Die munisipaliteit vereis ’n bouplan vir elke struktuur wat opgerig word, al behoort die huis en erf aan wie ook al. En dis ek wat jul bouplan sal moet goedkeur of afkeur.”
“Ek sien. En jy’t klaar besluit jy sal dit afkeur. Hoe vermetel tog!”
“Ek sal nie ’n ander keuse hê as om dit af te keur nie. In elk geval, het jy al daaraan gedink hoe onooglik die soort afdak gaan lyk wat julle beplan?”
“Ons gaan dit mos verf. Dieselfde kleur as die huis. En dan gaan ons nog ’n rankplant ook –”
“Luister, dis onnodig om jou brein verder te vermoei op iets wat nie kan werk nie. Dink logies oor die saak. Julle het bure wat ook in ag geneem moet word. Hulle sal nooit toestemming gee vir so ’n stellasie . . . ek wil amper sê hoenderstellasie, soos wat julle hier wil –”
“Hoenderstellasie!” hyg sy by verontwaardig verby. Sy skuif vorentoe op haar stoel en haar oë spuug vuur. “Kyk, nou gaan jy darem net te ver! Jou opinie oor ons afdak is ongevraag en totaal oorbodig. So, hou dit vir jouself. Daar is maniere om by jou verby te kom.”
Sy wenkbroue wip. “Watter maniere?”
“Soos om jou te ignoreer.”
“Ek sien,” sê hy so kalm en beheers dat sy voel na ontplof. “Dit kan ’n verkeerde besluit wees. Een wat julle uiteindelik baie geld gaan kos. Hardkoppigheid gaan jou nêrens bring nie. Jy sal weer moet dink oor die saak en –”
Sy vlieg as ’t ware op uit haar stoel. “Ek het klaar gedink. Verskoon my, ek het beter dinge om te doen as om hier met ’n redelose mens soos jy te sit en redekawel.” Daarmee los sy hom alleen en stap na haar kamer toe. Maar sy’s kwalik daar toe die telefoon in die sitkamer lui. ’n Oomblik lank oorweeg sy dit om die gelui te ignoreer, maar dan dink sy aan Brian. Hy kon haar nommer by Yolanda gekry het. Sy haas haar terug sitkamer toe.
Dis egter nie Brian nie, maar haar ma wat wil weet of dit nou reg is dat tant Doortjie by hulle bly as sy Kaap toe kom.
Sy keer haar rug op die man in die stoel. “As dit moet, dan moet dit seker maar.”
“Sy is nou hier om te kom verneem of dit reg sal wees.”
Wat haar ma bedoel, is dat sy nie uit haar beurt moet praat nie, weet sy. Want soos sy tant Doortjie ken, staan dié nou dig langs haar ma om na die gesprek te luister. “Dit sal reg wees,” sê sy dus maar en onderdruk die sug wat op pad was. “Ongerieflik, maar laat sy maar kom.”
“Die trein arriveer vieruur op die Kaapse stasie. Sal jy haar gaan haal?”
“Ja, ek sal so maak.”
“Tant Doortjie sê baie dankie. Sy staan hier neffens my.”
Net soos sy gedink het, flits dit deur Pikkie se gedagtes. Nuuskierige ou agie. Dit maak dat sy die gehoorbuis onnodig hard terugplaas toe hulle tot siens gesê het.
“Moeilikheid?” vra die man in die stoel. “Jou gesig lyk soos donderweer.”
“Niks wat jou aangaan nie,” snou sy hom toe en haas haar terug na haar kamer toe. Die vervlakste mansmens, dink sy vies. Vir wat het Riana hom van hul planne vertel? Van waar ken sy hom? Riana moet tog net nie so mal wees om op hom verlief te raak nie! Dit sal hulle twee se jare lange vriendskap totaal ruïneer, want sy, Pikkie, sal nooit saam met so ’n arrogante skepsel om dieselfde vuur kan sit nie. Haar eie bedenkinge oor die afdak ten spyt, na dese sal sy sorg dat dit gebou word!
Toe sy Riana se motor in die oprit hoor stilhou, kom sy agter sy het nog geen vordering gemaak met haar nasienwerk nie. Haar gedagtes het al weer die loop geneem na die vorige aand. ’n Aand wat sy nooit in haar lewe sal vergeet nie. Wat gaan van haar word as Brian nie weer van hom laat hoor nie? Dis ondenkbaar dat sy hom nooit weer sal sien nie.
’n Rukkie later hoor sy Riana en die Goedhardt-mansmens buite gesels. Hulle bespreek seker die afdak. Hy probeer seker nou vir Riana ook oortuig dit gaan soos ’n hoenderstellasie lyk.
’n Rukkie later kom Riana haar kamer binne en kom staan langs die lessenaar. “Ek is bevrees ons sal moet vergeet van die afdak,” sê sy. “Frans sê ons kan nie so ’n struktuur oprig nie. Dis onwettig.”
“Wie is hy om –”
“Hy’s ’n neef van Trix,” val Riana haar in die rede.