ons kan sommer net gaan uiteet. Brian.
Dis toe sy die papiere begin bymekaarmaak dat daar nog iets uitval. Iets wat haar tot agter haar ore laat bloos. ’n Piepklein broekie van deursigtige kant! Is die man mal, wonder sy by haarself. Hoe durf hy! Tog is daar niks wat haar vreugde kan demp nie. Hoe het sy nie daarna verlang om weer van hom te hoor nie! En nou dít, soveel meer as net ’n telefoonoproep! En natuurlik, sy keuse van ’n geskenk is nie so ongewoon as ’n mens in ag neem dat hy klere ontwerp en daagliks met modelle werk nie.
Sy trek haastig die romp en bloese aan. Gelukkig het sy modieuse sandale wat perfek daarby pas. Toe sy voor die spieël gaan staan, trek sy verruk haar asem in. Die kuitlengte-romp met sy oorvouspleet hang laag oor haar heupe, en die bloese met smal skouerbandjies se kantgeskulpte soom reik net-net tot by haar middel. Danksy die sonbrand wat sy op Bloubergstrand en met haar tuinwerkery agter in die erf in haar swemklere opgedoen het, is die stukkie van haar heupe wat uitloer mooi bruin gebrand. Die kleur van die uitrusting beklemtoon ook haar blou oë en donker hare. Sy smaak is ongelooflik! Nooit in haar lewe het sy gedink sy kan so stylvol en sexy lyk nie.
Toe sy Riana hoor stilhou, trek sy vinnig die klere uit. Of sy die waagmoed gaan hê om dit Saterdagaand aan te trek, sal sy nog moet sien. Intussen hoef Riana nie van die pakkie te weet nie. Sy sal haar net vertel van die blomme, want dié sal sy op slot van sake nie kan miskyk nie.
“Mensig, en dié yslike ruiker?” roep Riana dan ook uit toe sy ná ’n ligte kloppie die kamer binnekom. “Is dit van Frans?”
“Frans?” vra Pikkie onbegrypend.
“Frans Goedhardt.”
“Nou wat op aarde laat jou dink Frans Goedhardt sal vir mý blomme stuur?”
“O, ek het maar gedag . . . Jy sien, ek het vir Trix gesê jy wil aangaan met die oprig van die afdak. En sy moet vir Frans daarvan vertel het, want hy’t my skool toe gebel om te sê ek moet jou keer, want hy’t nie lus om met koppige mense te sukkel nie. Toe vra ek hom wat tussen julle twee gebeur het, wat hy gesê het wat jou so ontstel het. Hy sê toe dit was nie sy bedoeling om jou te ontstel nie, maar as jy aanstoot geneem het oor iets wat hy kwytgeraak het, sal hy die saak probeer regstel. Dié dat ek gedink het die blomme kom van hom af. Dat hy dit as ’n soort soenoffer vir jou gestuur het.”
“Na die duiwel met Frans Goedhardt! Asof ek soenoffers van hóm sal aanvaar!”
“Dan is die blomme seker van Brian?”
“Ja,” sê Pikkie, oombliklik weer in ’n beter luim. “Hy kom my Saterdagaand haal. Ek kan kies waarheen ons gaan.”
“Die blomme moet ’n fortuin gekos het,” sê Riana.
“Hy sou dit nie gekoop het as hy dit nie kan bekostig nie. En om jou nuuskierigheid te bevredig, hy was getroud, maar is geskei. Tevrede?”
“Hoe weet jy dit?”
“Yolanda het my vertel. Ook dat hy klere ontwerp en drie opleidingskole vir modelle besit.”
“Heng! Dit klink belangrik. Dan gaan jy seker ook een van die dae uit die onderwys bedank en ’n model word.”
“Moenie laf wees nie. Ek is buitendien te kort. Modelle moet mos lank en slank wees, dan nie?”
Riana trek haar skouers op. “Ek weet niks van modelle nie. Net van skoolkinders wat nie luister as jy praat nie, en van boeke merk. Ek hoop net van harte Brian breek nie jou hart nie.”
“Hoekom sal hy? Hy sou tog nie vir my blomme en . . . e . . . blomme gestuur het as hy van plan was om my hart te breek nie!”
“Nee, seker nie. Wag, ek beter loop. Laat ek maar gaan swoeg agter die boeke.”
Die volgende middag is Pikkie skaars by die huis toe die deurklokkie lui. Hulle moet ’n loergaatjie laat aanbring, dink sy, maar haas haar tog voordeur toe in die hoop dat dit Brian is. Maar dis Frans wat voor haar staan toe sy die deur oopmaak. En tot haar ergernis vra hy nie eens of hy mag inkom nie, maar loop sommer ongenooid binnetoe en maak hom ewe nonchalant op ’n stoel tuis.
“Riana is nog nie hier nie,” sê Pikkie bot. “En jy moet my verskoon, want ek –”
“Ek is nie hier om Riana te sien nie. Ek verstaan dat ek jou glo ontstig het Sondag. Wat het ek gesê wat jou nie aangestaan het nie?”
“Presies alles, meneer Goedhardt. Maar ek is nie meer kwaad nie, want ek het nie tyd vir onbenullighede nie.”
“So. Beteken dit jy het jou plan om ’n afdak op te rig laat vaar?”
“Inteendeel! Ek gaan dit so gou moontlik laat oprig.”
Die telefoon se gelui verhoed dat hy kan antwoord. En tot haar verbasing is dit Neville Meyer.
“Neville!” sê sy verras. “Waar het jy aan my telefoonnommer gekom?”
“By die skool. Jy’t mos vir my gesê waar jy skoolhou. Ek wou jou egter nie daar pla nie, toe gee hulle my jou huisnommer. Hoe gaan dit?”
“Goed. Baie goed. En met jou?”
“Nie te vrot nie. Ek het darem intussen ’n paar skilderye verkoop, so nou het ek weer ’n paar rand om te spandeer. Dit het my laat wonder of jy nie een aand saam met my wil gaan uiteet nie. Boetman het my eintlik op die gedagte gebring – hy’t nou die dag gevra of daardie mooi tannie dan nooit weer by ons gaan kom stort nie. Hoe lyk dit, sien jy kans?”
“Wanneer?” vra sy huiwerig, gedagtig daaraan dat sy nie ’n besoek van Brian wil misloop nie.
“Wat van môreaand?”
Brian se afspraak is vir Saterdagaand, dink sy vinnig. Dis onwaarskynlik dat hy môreaand sal opdaag.
“Goed, dit sal reg wees. Maar hoe gaan jy weet waar ek bly?”
“Gee net jou adres vir my. Ek ken Bellville taamlik goed, so ek behoort daar uit te kom.”
Die onverwagse oproep van Neville maak dat sy skoon van Frans vergeet het. Haar moed sak tot in haar skoene toe sy omdraai en sien hy sit nog daar. “Ek het gedag ons het klaar gepraat,” sê sy kortaf.
“As ek om verskoning vra oor die aanstoot wat ek jou skynbaar die vorige keer gegee het, sal jy jou planne vir ’n afdak staak?”
“Nee.”
Hy kom orent. “Goed, gaan dan maar voort en kyk waar jou koppigheid jou bring.”
“Dankie,” sê sy sarkasties en maak sonder meer die deur oop om aan te dui dat hy moet gaan. Hy’s skaars uit of sy klap die deur driftig toe. Kamtig verskoning kom vra, maar terselfdertyd dreig hy haar. Gmf!
Vrydagmiddag hou sportaktiwiteite by die skool haar so besig dat sy haar moet haas toe sy by die huis kom om nie laat te wees vir Neville se afspraak nie. “Onthou jou voordeursleutel as jy vanaand uitgaan,” sê sy vir Riana. “Want ek gaan ook uit en ek weet nie hoe laat ek terug sal wees nie.”
“O, ek het dan gedink Brian neem jou môreaand uit?”
“Dis reg, Brian kom my môreaand haal. Ek gaan vanaand saam met Neville.”
Riana steek in haar spore vas. “Slaan my dood! Gister was jy nog tot oor jou ore toe verlief op Brian, maar nou gaan jy saam met Neville uit! Jy’t dan gesê Neville het nie eens jou adres of telefoon-”
“Hy’t my nommer by die skool gekry.”
“O. In elk geval, ek bly vanaand tuis, want daar is fout met my motor. Hy kom net nie weg nie, hoes en proes die hele tyd. Nou gaan Frans vanmiddag na hom kom kyk.”
“Frans Goedhardt?”
“Einste.”
“Ek dag hy’s ’n bou-inspekteur. Ek het nie geweet hy is ’n motorwerktuigkundige ook nie.”
“Trix het gesê ek moet hom vra. Dis glo ’n stokperdjie van hom om aan motors te werk.”
“Gmf,