Haar snesies is gedaan. Sy sal soos Tersia maak en haar kop hoog hou. Ten minste sal Anton nie die voorreg smaak om haar af te sê nie. Sy sal hóm die trekpas gee. Laat hy daardie giggelende skepsel vat! Laat hy met haar trou. Laat hy doen net wat hy wil!
Haar treë raak driftig. Om te dink sy wou hom verras. Wat ’n verrassing was dit nie! Ongelukkig vir háár en nie vir hom nie. Om te dink hy’t die dag voor hy sy been gebreek het nog van verloof raak gepraat! Selfs toe sy van moegheid kla, gesê dit sal nie meer lank wees dat sy so hard moet werk nie, want sy vrou moet by die huis bly en hul kinders grootmaak.
Mog hy en juffrou Giggel kinders by die dosyne hê! Mog hulle . . . Haar ontstelde gemoedstoestand veroorsaak dat sy so byna die motor wat met ’n spoed om die draai kom te laat gewaar toe sy die straat na die bushalte wil oorsteek. Sy spring gelukkig betyds terug, maar haar handsak glip uit haar hand en om alles te kroon, slaan sy soos ’n sak patats op die sypaadjie neer toe haar voet agter die randsteen haak.
Haar handsak is nie so gelukkig soos sy nie. Die motor se wiele tref dit met ’n knarsgeluid. Sy vlieg orent en raap die sak op voordat nog ’n motor daaroor kan ry, maar die chaos binne-in die handsak laat haar sommer van voor af in trane uitbars. Haar botteltjie duur parfuum is daarmee heen en die sak se voering is besmeer met lipstiffie en poeier. Ook haar identiteitsdokument is sopnat en besmeer. Wat ’n gemors! Nugter weet hoekom sy nie met een van haar eie voertuie gery het nie! Maar dan sou sy seker nie geweet het wat sy nou weet nie. Want Anton en juffrou Giggel sou haar motor of motorfiets hoor stilhou het . . .
“Kan jy nie kyk waar jy loop nie!” klink die ergerlike stem van ’n man skielik langs haar op. “Dit was so amper of ek het jou raak gery.”
“Dis oor jy soos die duiwel gejaag het!” snou sy hom ewe ergerlik toe. “ ’n Mens sou sweer hier is nie iets soos spoedbeperkings nie!”
“Ek is haastig.”
“O, haastig! En daarom kan jy jaag soos jy wil!” Sy vlek die handsak oop en druk dit onder sy neus. “Kyk die skade wat jy aangerig het. Hierdie parfuum het my ’n fortuin gekos! Kyk hoe lyk my handsak!”
“Waar bly jy?” val hy haar onbeskof in die rede. “Kom klim in my motor dat ek jou kan wegbring.”
“Nee dankie. Ek laat nie my nek breek deur jaagduiwels nie.”
“Dis jý wat onverskillig was. Jy kan dankbaar wees jy is nie net so platgery soos jou handsak nie! Kom nou, ons kan nie hier staan en redekawel nie.”
“Dis nie ek wat redekawel nie. Jy het geen skade opgedoen nie, so gaan klim in jou motor en kry jou ry.”
“Ek bied jou ’n geleentheid aan. Vir die laaste keer: ry jy saam of nie?”
“Dink jy ek is so mal om my deur ’n wildvreemde man te laat verongeluk? Nee dankie!”
Hy draai om, maar sy hoor hom brom: “Vroumense! Beduiwelde goed!”
“Haai, wat sê jy daar? Wie gee jou die reg om te sê ek is beduiweld?”
Hy draai om en sy oë spuug vuur. Maar toe hul blik ontmoet, gee hy plotseling ’n kuggie en sy stem is heelwat sagter toe hy sê: “Ek is jammer. Het jy ’n probleem?”
Sy veranderde houding ontsenu haar vir ’n wyle, want sy kan dink hoe sy lyk met haar rooigehuilde oë. Dog, simpatie is die laaste ding wat sy wil hê. “Moenie dink oor jy met ’n duiwel vir ’n vrou sit dat almal soos sy is nie!”
“Ek hét gesê ek is jammer. Wat kan ek doen om jou te help?”
Sy skielik sagte oë doen haar nie goed nie. Haar tong haak vas en haar traankliere begin van voor af werk.
“Hier,” sê hy toe sy die vertoiingde snesie uit haar handsak haal. “Gebruik my sakdoek en laat my toe om jou huis toe te neem.”
Haar blus is uit toe hy haar aan die arm neem en na sy motor stuur. Dit sal nie help om teë te stribbel nie, besef sy. Die motor gaan baie vinniger wees as ’n bus. Sy moet so gou moontlik by die huis kom voordat haar miserabele toestand haar in ’n verdere moles dompel.
“Waar woon jy?” vra hy toe hulle wegtrek.
Sy snuit eers haar neus in sy sakdoek voordat sy die adres verskaf.
“Voel jy beter?” wil hy ná ’n rukkie weet.
Sy knik haar kop en verwens sy simpatieke houding, want dit laat haar net nog meer ellendig voel.
“Waar werk jy?”
Sy noem die naam van die hospitaal.
“Jy is dus ’n verpleegster,” maak hy sy eie afleiding. “Geniet jy dit om met siek mense te werk?”
Sy knik weer haar kop.
“Jy is nie lus vir gesels nie, nè?”
Sy skud haar kop. En al sy pogings om haar verder aan die praat te kry, misluk dan ook jammerlik.
“Ek is jammer ek het jou laat skrik,” sê hy weer toe hy voor die woonstelblok stilhou. “En ek is jammer oor jou handsak. Kan ek vir jou ’n ander botteltjie parfuum koop?”
Sy snuit haar neus. “Nee.”
“Wat is jou naam?”
“Pennie de Villiers.”
“Ek is Pieter Wasserman. Aangename kennis.”
Sy hou die sakdoek na hom uit. “Dankie dat jy dit vir my geleen het.”
“Jy kan dit maar eers hou en was,” sê hy. “Ek sal dit op ’n ander dag by jou kom haal.”
Natuurlik sal hy nie ’n besmeerde sakdoek wil terughê nie, dink sy ’n bietjie verleë. Sy druk die sakdoek in haar handsak en haal haar beursie uit. “Ek sal vir jou geld gee om ’n nuwe sakdoek te koop.”
“Nee dankie. Jy sal my nie glo nie, maar daardie sakdoek het nogal sentimentele waarde vir my.”
“Dan sal ek dit was en by die kantoor van die verpleegsterstehuis los. Jy kan dit daar gaan afhaal.” Toe klim sy uit en loop na haar voordeur toe.
Vanselfsprekend sleep die res van die dag langsaam verby. Van woonstel skoonmaak kom daar niks. Vir wie of wat moet die woonstel skoon wees? Dit sal haar pas om in die stof te versmoor. En die aand toe die telefoon lui en sy Anton se stem herken, skakel sy onmiddellik haar selfoon af. Ook die foon in die sitkamer se prop trek sy uit. Van slaap kom daar egter min.
Is dit haar preutsheid wat Anton na die arms van ’n ander meisie gedryf het? wonder sy vir die soveelste keer. Sou sake anders verloop het as sy meer toegeeflik was? Het hy gelieg toe hy gesê het hy respekteer haar gevoelens oor voorhuwelikse seks en dat hy nie daarop sal aandring nie? Hy wás die laaste tyd baie opgeruie en vatterig . . .
Elke keer dat die snikke kom, druk sy haar kop in die kussing om dit te smoor. Sy sal nie huil nie! Sy sal hom uit haar gedagtes verban en nooit weer aan hom dink nie!
2
Dis nie vir Pennie vreemd dat almal die volgende dag by die werk wil weet of sy siek is nie. Sy het in die spieël gesien hoe sy lyk. En sy’t geweet grimering gaan nie die tekens van haar trane en die min slaap verdoesel nie. Maar sy skryf haar “siekte” toe aan hooikoors. As hulle dink sy jok, is dit tot daarnatoe.
Maar vir John kan sy nie bluf nie. Toe hy Sondag terugkeer werk toe, gee hy haar net een kyk. “Wat gaan aan met jou? Hoekom lyk jy soos een wat ’n week lank gehuil het?”
“Hooikoors. Al van Vrydagaand af.”
“Hooikoors se voet!” sê hy onomwonde. “Jy en Anton het natuurlik weer rusie gemaak. Maar hierdie keer moes dit nogal erg gewees het om jou só te laat lyk.”
“Dis klaar tussen my en Anton. Alles verby!”
Sy kop knik. “Hm. Ek het gedink dit gaan nie hou nie.”
“Wat het jou só laat dink?” vra sy verbaas.