Elza Rademeyer

Klopdans van die liefde


Скачать книгу

skynheilig. Terwyl ek met hom uitgegaan het, het niemand my op sy foute probeer wys nie. Almal, jy inkluis, het net altyd gesê ek moet jul groete aan hom oordra en al sulke dinge. Maar nou het niemand skielik van hom gehou nie.”

      “Wat verwag jy? Jy sou my tog nie geglo het as ek vir jou gesê het jy is soos ’n donkie met twee oogklappe aan jou kop nie. Dit sou net ons werksverhouding versuur het. Ek bewaar eerder die vrede as om in vyandskap saam met my kollegas te werk.”

      Soos die vorige keer geniet sy die aand in John se gesel­skap. Die tyd gaan weer baie vinniger verby as wat dit sou as sy alleen in haar woonstel moes sit. Sy dink nie weer deur die loop van die aand aan Janie en Pieter Wasserman nie. Eers toe hulle teen middernag in die straat voor die woonstelgebou stilhou en sy sien dis donker in Janie se woonstel, wonder sy vlugtig of die twee al teruggekom het van die opvoering. Min wetend dat die twee haar ’n slapelose nag sou besorg. Want sy’t skaars ingesluimer of sy word geteister deur ’n nagmerrie van ’n berig oor die radio van ’n meisie se lyk wat iewers langs ’n grondpad tussen bome gevind is.

      Dié droom is so skrikwekkend dat sy glad nie weer aan die slaap kan raak nie. Wat weet sy, Pennie, van Pieter Wasserman af? Hy kan ’n maniak wees! ’n Moordenaar . . . enigiets! Wat het haar besiel om Janie aan hom uit te lewer! Wat gaan sy doen as hy haar regtig leed aangedoen het? Sy sal mos nooit met haar gewete kan saamleef nie!

      3

      Douvoordag die volgende oggend klop Pennie aan Janie se woonsteldeur. Sy slaak ’n sug van verligting toe die meisie ongedeerd haar opwagting in die deuropening maak.

      “Dis ’n verrassing,” begroet Janie haar. “Kom binne. Ek het so pas koffie gemaak.”

      “Ek het net kom kyk of jy veilig is,” sê Pennie.

      “Of ek veilig is?” vra Janie verbaas. “Wat sou ek dan oorgekom het?”

      “Ek bedoel, ek het net kom hoor hoe dinge gisteraand tussen jou en Pieter Wasserman verloop het?”

      “Dit was wonderlik!” borrel dit opgewonde oor Janie se lippe. “Ek het nooit geweet ’n opvoering is só fantasties nie! Dit was die wonderlikste aand van my lewe! En Pieter is net so ’n fantastiese man. Hy’t hom wonderlik gedra!”

      “Wel, ek hoop nie hy was so wonderlik dat jy besluit het om hom verniet te laat wegkom met jou gunste nie.”

      “Dit moes hom baie geld gekos het, die kaartjies vir die opvoering. En hy’t boonop ’n yslike doos sjokolade vir my gekoop.”

      “So, jy’t hom laat wegkom sonder betaling! En wat nou van jou woonstelhuur en –”

      “Dokter verstaan my verkeerd! Pieter is ’n ware gentle­man. Hy’t nie eens een keer in die rigting van bed toe gaan gepraat nie. Eintlik het hy die meeste van die tyd oor dokter gepraat.”

      Pennie laat val amper die koppie koffie wat Janie pas aan haar oorhandig het. “Oor my?”

      “Ja. Hy wou alles van dokter weet.”

      “Hoekom? Soos wat?”

      “Ek dink hy is verlief op dokter. Maar hy wou nie vir my sê hoe lank en waarvandaan julle mekaar ken nie. Ek kon aflei dat julle mekaar nie baie goed ken nie, want hy’t nie eens geweet hoe oud dokter is of hoe lank dokter al by die hospitaal werk nie.”

      “Verlief se voet! Ons ken mekaar van geen kant af nie. Ek bedoel, ons ontmoeting was heel toevallig. Hy’t my maar net opgelaai oor hy my handsak platgery het.”

      “Hy’t niks daarvan gesê nie,” sê Janie. “Hoe het dit dan gebeur?”

      “Hy’t soos die duiwel om die draai gekom. As ek nie teruggespring het op die sypaadjie nie, het hy my ook platgery. Gelukkig was dit darem toe net my handsak wat in die slag gebly het.”

      “Waar het dit gebeur?” vra Janie nuuskierig.

      “In Kampsbaai. Goed, ek sal toegee dat ek ’n bietjie onverskillig was deur nie op te let vir aankomende verkeer nie, want dit was net nadat ek van Anton se ontrou uitgevind het. Maar dit het Pieter Wasserman nie die reg gegee om die spoedbeperking te oorskry nie!”

      “Hoe dit ook al sy, hy was baie nuuskierig oor dokter. Hy wou weet of dit regtig verby is tussen dokter en Anton. Ek dink Anton moet sy kop laat lees. Om te dink hy verkies ’n ander meisie bo dokter!”

      “Mans is maar so. Die gras lyk altyd vir hulle groener aan die ander kant van die draad.”

      “Ja, ’n mens kan weinig mans vertrou. Maar ek dink Pieter is anders. Ek glo nie hy sal sy meisie verkul nie.”

      “Dis wat jy jou verbeel! Hy sal maar nes al die ander wees. Vir al wat ons weet, is hy nog straks getroud ook.”

      “Dan sou hy mos nie so uitgevra het na dokter nie.”

      “Wat wou hy dan nóg weet?”

      “Allerhande dinge. Hy was baie verbaas toe ek vir hom sê dokter was die ander dag agt en twintig. Hy’t seker gedink dokter is twintig of so, want dokter lyk mos nie naastenby na agt en twintig nie.”

      “Wat het hy met my ouderdom uit te waai?” vra Pennie vererg.

      “Ek sê nog steeds hy is verlief op dokter.”

      “Onsin. Waar kom jy aan so ’n lawwigheid? Ons was seker nie eens ’n volle halfuur in mekaar se geselskap nie. Wat het hy oor homself te sê gehad?”

      Janie dink eers. “Noudat dokter dit noem, hy’t nie eintlik oor homself gepraat nie. Ek weet nie eens watter soort werk hy doen nie.”

      “Nou sien jy! Dit wys jou duidelik hy’s nie te vertrou nie.”

      “Wel, hy was beslis nie daarop uit om my te misbruik nie. En ek glo nie hy’s getroud nie. Hy is eenvoudig nie die soort man wat sal jok nie.”

      “Daarvan moet jy glad nie so seker wees nie. Waar gaan jy nou geld kry om jou woonstelhuur te betaal?”

      Janie se gesig val en haar oë verdof. “Ek weet nie. Ná gisteraand voel ek nie meer lus vir customers nie. Ek wens ek kon ook ’n eerbare lewe lei.”

      “Ai, Janie, ons sal ’n plan móét maak.”

      “Ag, dokter weet nie hoe hard ek al probeer het nie. Maar al die plekke soek mense met geleerdheid. Soms wens ek daardie stiefpa van my het nog geleef. Ek sou hom voorwaar vermoor het!”

      “Dan was jy in ’n nog groter gemors. Hy en jou ma is in elk geval albei dood, dus sal dit nie help om ’n wrok te koester nie. Ons moet aan jou toekoms dink. Jy’s nog bloedjonk, jy kan nie jou lewe op hierdie manier slyt nie. Maar ons kan later weer daaroor gesels. Ek moet gaan klaarmaak om werk toe te gaan.”

      Toe Pennie by ongevalle kom, vra John tot haar verbasing of sy dink Janie sal deug as ’n huishoudster vir ’n bejaarde egpaar.

      “Ek sal haar vra. Dis moeilik vir my om jou vraag te beantwoord, want ek ken haar nie baie goed nie. Net van groet en nou en dan ’n paar woorde wissel. Ek weet nie of sy enigiets weet van kosmaak en huiswerk nie.”

      “Hoor by haar. Ek het gister toevallig gehoor een van my vriende se ouers soek ’n huishoudster. Hulle is welaf, maar bejaard en nie so gesond nie. En dankie dat jy gisteraand saam met my gaan fliek het. Ek het die prent nogal geniet.”

      “Dis ek wat vir jou dankie moet sê. Ek het dit ook geniet.”

      “Dit het vir my so gelyk en ek is bly. Miskien sal dit jou help om minder oor Anton se dinge te tob.”

      “Ek tob nie oor hom nie.”

      “Maar jou lewenslus is darem nog nie wat dit was nie, en jou oë blink ook nie soos dit vroeër geblink het nie.”

      “Genade ons, word ek dopgehou?”

      “Nee, ek is maar net oplettend.”

      “Dis nie nodig om my elke dag soos ’n skoukoei te takseer