jy my vertel het. Jul rusies oor die tye wat hy laat opgedaag het vir jul afsprake. Jy was nie lus vir fliek nie, maar Anton het daarop aangedring. Anton was saam met jou na jou tante op Jongensfontein, maar dit het hom so verveel daar dat julle douvoordag die Sondagoggend teruggekom het Kaap toe sonder om op pad terug ’n woord met mekaar te praat. Die talle kere dat hy –”
“Ja toe, los maar. Ek dag jy is ’n vertroueling. Nou moet ek uitvind jy’t boekgehou van alles om dit op jou vingers af te tel!”
“Toe maar, ek gesels nie met ander daaroor nie. En ek bly jou vriend. Wat het gebeur? Het hy jou afgesê?”
Sy skud haar kop. “Ek wou hom by sy huis gaan verras en toe . . . was daar ’n ander meisie.”
“Ek sien. En toe?”
“Ek het hulle gehoor . . . gehoor praat.”
“Hier, vat my sakdoek en droog jou trane af. Wat het hy te sê gehad toe jy hom daaroor konfronteer?”
“Ek het hom nog nie weer gesien of met hom gepraat nie.”
“Het hy die hele naweek niks van hom laat hoor nie?” vra John met opgetrekte wenkbroue.
“Hy’t Saterdag gebel, maar ek het my selfoon afgeskakel en die prop van die sitkamer se telefoon uitgetrek.”
“En hy kan nie na jou toe ry nie, want sy been is in gips. Dink jy hy vermoed onraad?”
Sy vee vinnig oor haar oë met sy sakdoek en hou dit na hom toe uit. “Dit kan my nie traak wat hy vermoed nie.”
“Hm, dis wat jou mond sê, maar ongelukkig nie jou hart nie. Vir hoe lank gaan jy met hom wegkruipertjie speel?”
“Wat bedoel jy met wegkruipertjie speel? Ek sê jou dan dis klaar tussen ons. Oor en uit!”
“Nee, jy’s nie klaar met hom nie, want dan sou jy hom gebel en dit vir hom gesê het. Jy wil hom straf sodat hy kan voel wat dit is om seer te kry. In jou hart hoop jy hy sal jou om vergifnis smeek en dan sal alles weer dooddollies tussen julle wees.”
“Onsin. As ek sê ek is klaar met hom, dan ís ek! En nie net met hom nie, met al wat man is! My vriendin Tersia het presies dieselfde stel afgetrap. Dis ’n duidelike bewys dat geen man te vertrou is nie!”
“Ons sal maar sien,” sê hy met ’n effense glimlag voordat hy wegdraai om voort te gaan met sy werk.
Pennie wroeg die dag deur.
Die aand in haar woonstel toe die telefoon lui, wik en weeg sy lank of sy dit moet beantwoord. Dog, haar moed begewe haar weer eens. Netnou bars sy in trane uit wanneer sy sy stem hoor. Hy moenie agterkom . . . of dink sy is verleë oor hom nie.
“Jy kan jou nie aand ná aand in die woonstel sit en verknies nie,” sê John twee dae later vir haar. “Kom ons gaan eet vanaand iewers.”
“Ek is nie lus nie. My aptyt is in elk geval van so ’n aard dat dit net ’n vermorsing van geld sal wees.”
“Ek nooi jou, so jý hoef nie te betaal nie.”
“Wat van jou pelle en dinge? Ek dag dan dis jul pokeraand?”
“Hulle kan sonder my klaarkom.”
“Jy hoef nie vir my jammer te wees nie.”
“Ek bejammer jou g’n stuk nie. Jy het self dié ongelukkigheid oor jou gebring. Jou oë behoort lankal oop te gegaan het vir sy selfsugtigheid.”
“Sies, maar jy’s lelik! Toe ek en Anton nog danig was, het jy nooit sleg van hom gepraat nie.”
“Toe sou jy nog minder wou hoor wat ek van hom dink as nou. Hoe laat moet ek jou kom oplaai?”
“Ek weet nie. Ek is nie lus . . .”
“Ek sal agtuur by jou woonstel wees.”
Dis toe nie so sleg om van haar woonstel en die telefoon af weg te kom nie. John is ’n gawe maat. Juis die feit dat hy haar nie bejammer of sag met haar probeer wees nie, veroorsaak dat sy sy geselskap geniet.
“Ons werk elke dag saam,” sê sy tydens hul ete. “Maar eintlik ken ek jou baie sleg. Leef jou ouers nog?”
“Net my ma. My pa is al jare oorlede.”
“Het jy broers en susters?”
“Net ’n getroude suster wat naby my ma in Windhoek woon.”
“Was jy al verlief?”
“Nee. Ek het een keer so gedink, maar . . . Ag, vergeet dit. Dit was nie liefde nie.”
“Hou jy nie van meisies nie?”
“Natuurlik hou ek van sommige meisies. Soos my ma en my suster. En nogal ’n bietjie van jou ook.”
“Baie dankie!” sê sy kamma sarkasties. “Wat ’n kompliment vir my!”
Hy glimlag ook. “Die nouste ontkoming wat ek in my lewe gehad het, was toe ’n weduwee-vriendin van my suster haar verbeel het sy is verlief op my. Ek moes lelik bontstaan om háár af te weer.”
“Hm. Jy moes darem seker so ’n bietjie notisie van haar geneem het om haar te laat glo jy sal in haar belangstel.”
“Ja, ek het van haar vier onhebbelike kleingoed notisie geneem deur hulle eendag die loesing van hul lewe te gee oor hulle my ma se blomtuin verwoes het. Toe glo sy ek is net die regte man om haar dierbare bloedjies op die regte pad te hou.”
Pennie is verbaas om te sien hoe die tyd verbygespoed het toe hy haar by die woonstel aflaai. Dit was ’n genoeglike aand. Baie beter as dat sy die aand in haar woonstel sou gesit en tob het oor haar en Anton se liefdesake.
Liefdesake? Sy’t gelukkig nog nooit vir hom gesê sy het hom lief nie. Maar hy sal weet hoe sy oor hom voel . . . of moet sy sê, gevoel het? Want as sy dink aan wat daar in sy kamer gebeur het . . . voel sy niks anders as pyn en hartseer nie. Daar is nie regtig plek in haar hart oor om nog vir hom ’n gevoel te hê nie. Of sy dit wil weet of nie, John is reg. Sy wíl Anton straf. Sy wíl hê hy moet wonder wat aangaan en hom doodbekommer. En sy wíl hê hy moet berou toon en om vergifnis pleit. Maar as dit sou gebeur, wat dan? Wil sy hom regtig terughê? Dit sal beteken sy sal moet vergewe en vergeet. Hoe gaan sy dít regkry?
Die volgende oggend op pad na die hospitaal kom sluit ’n jong verpleegstertjie by haar op die grasperk aan. Nadat sy Pennie gegroet het, sê sy: “Daar was gisteraand ’n man by die verpleegsterstehuis wat na dokter gesoek het.”
“Wie?”
“Hy’t nie gesê wie hy is nie. Dis so ’n langerige man. ’n Baie aantreklike man. Hy’t sulke swart krullerige hare.”
Pennie kan aan niemand dink wat by die meisie se beskrywing pas nie. “Het hy gesê hoekom hy na my soek?”
“Nee. Hy’t net gevra of ek verpleegster Pennie de Villiers ken wat daar in die woonstelblok bly. Toe sê ek vir hom sover my kennis strek, woon daar net ’n dókter Pennie de Villiers.”
“En toe?”
“Toe wou hy weet of ek vir hom kan sê hoe laat dokter tuis gaan wees. Ek kon hom nie sê nie. Toe het hy in sy motor geklim en gery.”
“Hoe het sy motor gelyk?”
“Dit was ’n wit Mercedes.”
Daar is derduisende mense wat met wit Mercedesse ry, dink Pennie toe sy verder stap. Maar voor ongevalle se deur steek sy vas. Genugtig, is dit nie dalk die man wat haar in Kampsbaai opgelaai en huis toe gebring het nie? Hy soek seker sy sakdoek. Sy’t skoon vergeet om dit by die verpleegsterstehuis se kantoor te gaan afgee. Wat is sy naam nou weer? Dit kan haar om die dood nie byval nie. Sy sal maar die sakdoek kantoor toe vat en vir die ontvangsdame daar sê iemand sal die sakdoek kom afhaal. Nugter weet van watter sentimentele waarde so ’n simpele ou stukkie lap kan wees. Maar nou ja, sy het beloof om dit aan hom terug te besorg.
“Hoekom