Elza Rademeyer

Klopdans van die liefde


Скачать книгу

gee ’n laggie. “Wie sê sy sal saam met my wil gaan? As sy so mooi en oulik is, sal die mans mos toustaan om haar uit te neem.”

      “Sy is van die skamerige soort, dus maak sy nie so gou vriende nie. Dit sal haar die wêreld se goed doen om ’n bietjie uit te kom.”

      “As ek besluit om haar saam te vat, sal jy my aan haar voorstel?”

      “Ja, enige tyd. Ek sal sommer nou by haar gaan hoor hoe laat jy haar kan kom oplaai. As jy my so oor ’n halfuur terugbel, sal ek jou kan sê.”

      Op pad na Janie se woonstel op die derde vloer neig ’n skuldgevoel om in Pennie pos te vat, maar sy skud dit vinnig af. Dis tog duidelik dat Pieter Wasserman net op plesiersoek uit is. Daar is talle mans wat die kuns verstaan om ’n meisie se hartseer tot hul voordeel uit te buit. Hy moet hom darem verbeel sy is só onnosel! Nee, as hy plesier wil hê, kan hy dit kry, maar teen ’n prys. Janie sukkel om ’n bestaan te maak, want sy’s nie regtig ’n gebore prostituut nie. Dis omstandighede wat haar daartoe gedryf het. En sy’t geld nodig. Sy draai kort-kort vas met haar woonstelhuur en dan is dit sy, Pennie, wat moet help. Nou kan dié twee mekaar se hande was, dan is albei geholpe.

      Toe Janie ná ’n kloppie die deur oopmaak, sak Pennie se moed tot in haar skoene. “Ag nee, Janie, kyk hoe lyk jy al weer. Jy’t dan belowe om die drank te los!”

      “Ag, dokter, as die geld nie inkom nie, raak ek moedeloos. My woonstel se huur is ook al weer agter. Maar ek is darem nie dronk nie.”

      “Jy beter jou regruk. Ek het vir jou ’n afspraak gereël vir vanaand, maar as jy só lyk . . .”

      “ ’n Afspraak? Hoe bedoel dokter nou?”

      “Ek het vir jou ’n afspraak gereël met ’n man wat ’n metgesel na ’n opvoering soek. Ek bedoel, dis die verskoning wat hy aangevoer het. Maar ek weet van beter. Of het jy genoeg geld om jou woonstelhuur te betaal?”

      “Nee, maar ek verstaan dokter nou nie so mooi nie. Dokter sê dan altyd ek moet dié soort lewe los?”

      “Ek wil hê jy moet dit los, maar of jy nou met Piet of met ’n ander man bed toe gaan, jy sal tog nie hierdie soort verdienste los alvorens jy ’n eerbare werk bekom het nie.”

      “Van waar ken dokter dan hierdie . . . e . . . Piet?”

      “Piet . . . Nee, ek dink sy naam is Pieter. Pieter Sauer­man. Nee, Wasserman. Pieter Wasserman. Ja, dis sy naam.”

      Janie frons. “Van waar ken dokter hom?”

      “Dis ’n lang storie. Ek het nie nou tyd om jou te vertel nie, want ek het ’n afspraak en moet gaan stort en aantrek. Stel jy belang om saam met hom te gaan of nie?”

      “Ek stel belang, ja. Maar die opvoering . . . Gaan hy my regtig na ’n opvoering toe neem?”

      “Natuurlik moet hy. Hy’t dit dan belowe. Hoe laat kan hy jou kom oplaai? Jy sal seker iets ordentliks moet aantrek.”

      “Ek het nie deftige klere nie.”

      “Ek sal vir jou ’n rok leen.”

      “Gits, ek voel al so skuldig. Dokter help my al klaar so baie met die huurgeld en alles.”

      “Toe maar, dis net tot jy ’n ordentlike werk bekom. Ek gaan haal gou daardie rok vir jou.”

      ’n Rukkie later is sy terug in Janie se woonstel met twee rokke. “Hier is die rok wat jy vanaand moet aantrek, en hier is nog een. Jy kan albei maar hou.”

      Janie se oë rek. “Dis dan sulke pragtige klere! Dit moes dokter ’n fortuin gekos het. Hoekom wil dokter dit nie meer hê nie?”

      “Omdat dit net slegte herinneringe vir my inhou. Hierdie deftiger een is die rok wat ek aangehad het toe ek en Anton vir die eerste keer uitgegaan het. En hierdie blou rok, hy herinner my aan iets slegs.”

      Janie frons. “Iets slegs?”

      “Ja. Dis uit tussen my en Anton.”

      “Hoekom?” vra Janie verstom.

      “Hy’t my met ’n ander meisie verkul.”

      “O.”

      “Nou toe, daar’s jou rokke. Gaan stort en was jou hare. Ek sal netnou jou hare in ’n kapsel kom tooi. En gooi oogdruppels in jou oë. Jy moet mooi lyk.”

      Sy is kwalik terug in haar woonstel of Pieter bel weer. “Dis alles gereël,” sê sy vir hom. “Janie sal agtuur gereed wees.”

      “Hoe laat moet ek daar by jou wees?”

      “By my? O, om julle aan mekaar voor te stel . . . So tien minute vroeër sal reg wees.”

      “Ek dink ons moet dit liewer los.”

      “Onsin! Jy kan nie nou kop uittrek nie. Janie is in vervoering oor die opvoering. En nou moet jy my asseblief verskoon, want ek wil gaan stort.”

      Toe Janie ’n halfuur later in die deftige rok en met haar lang hare in ’n netjiese kapsel opgetooi voor haar staan, wil daar weer ’n skuldgevoel in Pennie posvat, maar sy skud dit af. Janie lyk pragtig. Sy lyk allesbehalwe na ’n prostituut. Pieter Wasserman behoort dus tevrede te wees met sy blind date. Hy sal ook nie sy belofte om haar na die opvoering te neem kan omseil nie, want hy behoort genoeg verstand te hê om te weet ’n meisie trek haar nie só deftig aan net om saam met ’n man in die bed te klim nie.

      Sy het self net klaar aangetrek toe John opdaag. Dis nog goed twintig minute voor Pieter moet opdaag, sien sy toe sy op haar horlosie kyk. “Gaan ons eers koffie drink?”

      “Ek het so pas koffie gedrink,” sê John. “Maar as jy lus is vir koffie, kan –”

      “Nee wat, dan los ons dit. Ek is ook nie lus vir koffie nie. Maar ek moet ongelukkig . . . Nee wag, ek sal ’n ander plan maak. Ek het iemand belowe ek sal hom aan iemand op die derde vloer gaan voorstel. Maar ek kan mos vir hom ’n briefie op die deur sit met die nommer van die woonstel waar hy moet gaan aanklop.”

      “Iemand aan iemand gaan voorstel,” sê John met ’n laggie. “Dit klink regtig snaaks.”

      “Dis iemand wat iemand . . . Ag, los dit,” sê Pennie. “Jy weet tog wat ek bedoel.”

      Sy is dankbaar John is nie so nuuskierig dat hy vra wie die iemand is nie, want sy weet instinktief hy sal niks van haar kookspul hou nie. Hy weet van Janie en ook in watter woonstel sy is. Dus wag sy tot hy klaar die voordeur gesluit en weggedraai het voordat sy die briefie vasplak.

      In die motor gesels hulle oor alles en nog wat voordat sy die gesprek na Janie toe stuur. “Ek wens Janie kan ’n eerbare werk bekom. Ek het vir haar een van my rokke gegee en jy kan nie dink hoe jonk en onskuldig sy daarin lyk nie.”

      “Wíl sy ’n ander soort werk doen?” vra hy. “My kennis van prostitute is nie waffers nie, maar sover ek weet, is dit vir die meeste van hulle ’n leefwyse wat hulle nie maklik vir iets anders sal verruil nie.”

      “Janie is nie gelukkig nie. Regtig! Dis ’n sameloop van omstandighede wat haar daartoe gedwing het. ’n Stiefpa wat haar as kind gemolesteer het en ’n onsimpatieke ma. Sy was maar veertien toe hulle haar uit die huis geskop het. Sy’s eintlik ’n mooi meisie. En ook nie dom nie. Maar sonder kwalifikasies . . . Dis bykans onmoontlik om ’n vaste werk te bekom.”

      “Ek sal my ore en oë oophou,” sê John. “Miskien kan sy iewers as ’n kelnerin gaan werk. Het jy nog nie weer van Anton gehoor nie?”

      “Ja, ek het.”

      “En?” vra hy met ’n onderlangse blik in haar rigting.

      “Ek het hom vertel waarheen hy kan vlieg.”

      “Het jy regtig?”

      “Ja, regtig. Ek jok nie vir jou nie.”

      “Ek is bly jy’t die moed bymekaar geskraap.”

      “Hoekom?