Elza Rademeyer

Klopdans van die liefde


Скачать книгу

af.

      Dog, dit laat haar besef sy sal haar moet regruk. Die lewe gaan voort. Sy sal nie lewenslank oor Anton kan treur nie.

      Haar laaste pasiënt vir die dag is ’n ou omie wat heeldag en aldag met allerhande denkbeeldige skete by ongevalle opdaag. “Ai, doktertjie, ek was laas nag so benoud,” kla hy. “Want ek bly mos van die tante se afsterwe af alleen in die ou woonstelletjie. En toe dag ek by myselwers: Wat word dan nou van my as my pendix in die middel van die nag bars?”

      “Het oom pyn?”

      “Nie vreeslik nie. Net so ’n snaakse gevoel hier op die krop van my maag.”

      ’n Rukkie later toe sy en John die hospitaal verlaat, dink sy weer aan die ou omie en sy denkbeeldige kwale. Dis eensaamheid wat hom daartoe dryf, dink sy . Hy soek maar net ’n bietjie aandag en simpatie. Miskien moet sy haar gedagtes oor Anton ook vereenselwig met ipekonders.

      “En as jy nou so skielik lag?” vra John.

      “Ek het sommer aan die ou omie en sy denkbeeldige kwale geloop en dink.”

      “Wel, dis goed om te hoor jy lag darem weer. Dit beteken jou hart is besig om te heel. Was Anton al in aanraking met jou?”

      “Nog nie. Ek wag nog vir genoeg moed om hom te sê waarheen hy kan vlieg.”

      “Ek wonder hoeveel hy regtig vir jou omgee. Meen te sê, as ek ’n verhouding met ’n meisie gehad het en sy bly my telefoonoproepe ontduik, sou ek lankal ’n plan gemaak het om by haar uit te kom.”

      “Sy been is in gips. Hy kan nie bestuur nie, onthou.”

      “Niks verhoed hom om iemand anders te vra om vir hom te bestuur nie. As dit ek was, sou ek ’n plan gemaak het. Selfs al het ek met ’n gebreekte rug in die hospitaal gelê en moes ek ’n ambulans huur om my na haar toe te vat. Maar kom ons laat dit daar. Hoe lyk dit, sal ons nie vanaand gaan fliek nie?”

      “Ja, ons kan maar so maak,” willig sy in, gedagtig daaraan hoe vinnig die aand verbygegaan het toe hulle gaan uiteet het.

      Die middag toe sy haar woonstel binnestap, lui die foon weer. Sy weifel ’n oomblik, maar dan lig sy met vasbeslotenheid die gehoorstuk op. As dit Anton is . . . sy is reg vir hom!

      Dit ís ook ’n hoogs ontstoke Anton. “Wat de duiwel gaan met jou aan? Is daar fout met jou telefone, of hoekom antwoord jy nie?”

      “Wou jy dan iets vir my gesê het?”

      “Wat bedoel jy daarmee? Jy weet mos ek bel jou gereeld.”

      “Wel, dit sal nie nodig wees om my hoegenaamd óóit weer te bel nie.”

      “Wat meen jy? Hoekom klink jy so . . . kwaad?”

      “Ek is nie kwaad nie. Ek vra jou net om my nie weer te kontak nie.”

      “Ek verstaan nie. Jy bedoel dit tog seker nie? Dis mos nie my skuld dat ek nie vir jou kan kom kuier nie. Ek het gedink jy sou darem Saterdag vir my kom kuier het, maar ek het nie ’n woord van jou gehoor nie.”

      “Ek het my vry dag met John uitgeruil. En ek was Vrydag daar om jou te verras, maar jy was te besig.”

      “Waarmee was ek besig?”

      “Met die rooikopmeisie daar in jou kamer.”

      Dis vir ’n lang ruk doodstil. En sy stem is ongetwyfeld onseker toe hy vra: “Was jy hier? Hier by my huis?”

      Sy weet nie waarvandaan sy skielik die kalmte kry nie, dis net daar. “Ja, reg onder jou kamervenster. Vir ’n hele ruk. Totdat die rooikop haar klere aangetrek het.”

      Dis weer ’n hele rukkie stil voordat hy sê: “Pennie, wanneer kan jy hiernatoe kom? Ons moet praat. Ek kan verduidelik. Dis nie wat jy –”

      “Ek dink nie ons het enigiets verder vir mekaar te sê nie,” onderbreek sy hom. En voel regtig lus om haarself op die skouer te klop toe sy die gehoorstuk terugplaas op die mikkie en die muurprop uittrek.

      Dis goed ’n uur later toe sy die telefoon terugprop. Tant San bel haar gewoonlik hierdie tyd van die week, dus kan sy dit nie die hele aand ontkoppel hou nie. En Anton sou darem seker al moed opgegee het as hy haar weer wou kontak.

      ’n Rukkie later lui die foon. Maar dis nie tant San óf Anton nie. Dis iemand wat sê hy is Pieter Wasserman.

      Die naam en stem klink vaagweg bekend, maar sy kan om die dood nie onthou waar sy dit vroeër gehoor het nie. “Waarmee kan ek help, meneer Wasserman?”

      “Noem my asseblief Pieter. Ek het net gewonder . . . hoe dit met jou gaan. Of jy al oor jou ergste hartseer is.”

      “My hartseer?” vra sy verbaas. “Wat bedoel u?”

      “Wel, jy was beslis nie gelukkig en vol vreugde toe ek jou verlede Vrydagmiddag by jou woonstel afgelaai het nie.”

      “O, is dit jy! Jammer, ek het jou naam vergeet. Luister, ek is baie jammer oor die sakdoek. Ek sal dit in ’n koevert sit en jou naam daarop skryf. En dit dadelik by die verpleegsterstehuis se kantoor gaan afgee. Wat het jy nou weer gesê is jou naam? Piet . . .?”

      “Pieter Wasserman. Maar los dit, ek sal die sakdoek sommer daar by jou woonstel kom haal.”

      “Nie vanaand nie. Ek gaan uit.”

      “Saam met die ou wat jou so laat huil het?”

      “Nee, saam met . . . iemand anders. Sommer ’n vriend.”

      “En wat doen jy môreaand?”

      “Ek weet nog nie. Ek kan nie belowe dat ek hier gaan wees nie.”

      “Luister, ek het twee kaartjies vir ’n opvoering vir van­aand. Kan jy nie jou afspraak met jou vriend kanselleer en my vergesel nie?”

      “Nee.”

      “Hoekom nie?”

      Sy frons. “Hoekom vat jy nie jou vrou saam nie?”

      “Wat ek waar moet kry? Ek het nie eens ’n meisie nie.”

      Dis ’n infame leuen dat hy nie ’n meisie het nie, dink sy. Sy het weliswaar nie veel notisie van hom geneem nie. So min dat sy nie eens sy naam onthou het nie. Maar sy kan darem onthou dat hy nie so onaansienlik is dat hy op sy ouderdom nog sonder ’n vrou of meisie sal wees nie. “Jammer, maar ek glo jou nie,” sê sy dan ook terstond.

      “Dis regtig. Ek gee jou my woord. As jy gewillig is om my beter te leer ken, sal jy sien ek praat die waarheid.”

      “Ek stel nie daarin belang om jou beter te leer ken nie.”

      “Ag, komaan. Ek kan mos nie alleen na ’n opvoering gaan kyk nie. Dit sal nie lekker wees nie.”

      “Dankie, maar ek stel nie belang nie. Jy kan môreoggend jou sakdoek –”

      “Die sakdoek kan wag. Dis nie so dringend soos ’n metgesel na die opvoering nie.”

      “Maar ek sê mos ek stel nie belang om jou te vergesel nie.”

      “Voel jy nie ’n titseltjie jammerte vir my nie? Ek was dan so jammer vir jou toe jy so hartseer was dat ek vir twee nagte nie ’n oog kon toemaak nie.”

      Sy deursigtige wit leuentjie laat haar effens glimlag. “In daardie geval sal ek iemand anders kry wat saam met jou kan gaan.”

      “Iemand anders?”

      “Ja, ek ken ’n baie mooi meisie hier in die woonstelgebou wat verskriklik graag ’n opvoering sal wil bywoon. Sy was nog nooit by so iets nie en sal wat wil gee om saam met jou te gaan.”

      “Jy bedoel ’n blind date?”

      “Jy sal nie spyt wees nie. Sy’s jonk, mooi en alles wat ’n man van ’n meisie kan verlang.”

      “Ek stel nie in háár belang nie. Waaroor moet ek met ’n vreemde meisie gesels?”