François Bloemhof

Pad na jou hart


Скачать книгу

daar is mos altyd die hoop dat jy jouself net nare dinge wysmaak wat ’n slim dokter met ’n paar gerusstellende woorde uit die weg sal ruim. Hy sug innerlik. Dokter wees verg soveel meer as net kennis van die mens se binne­goed.

      “Daar is hoop,” is hy dankbaar om te kan byvoeg. Dis altyd sleg om te sien hoe so ’n groot, sterk man grond toe gebring word, soveel te meer as dit een is wat ’n vriend geword het en wat jy op verskeie vlakke bewonder. “Ek sal dalk weer moet ingaan en ’n bietjie arbitreer. Hopelik is jou lyf nie so hardkoppig tydens onderhandelings soos jy nie.”

      Die antwoord wat kom, is egter beslissend:

      “Nee.”

      “Basson, hoor hom ten minste uit,” kom dit van André. Hy sit weer sy bril op, wat die dokter al afgelei het as ’n soort masker dien as hy nie wil wys wat hy voel nie; nou sit hy dit op, netnou haal hy dit weer af, dan verstel hy dit, verstel dit nogmaals.

      “Ek gaan nie weer aan my laat sny nie,” laat Basson senior hoor. “Genoeg is genoeg.”

      Dokter Scholtz frons. “Basson, die feit van die saak is, jy het nie eintlik ’n keuse nie. Jou hart gaan dit nie …”

      “Met alle respek gesê,” onderbreek sy pasiënt hom en tik teen sy bors asof dit ’n deel van sy liggaam is waarby hy nou maar min belang het, “dié … is nie my hart nie. Myne het ek al jare terug verloor en ek dink dis tyd om hom weer te gaan vind.”

      En hy draai na André.

      “Maak die oproep.”

      André se uitdrukking wys wat deur sy gedagtes gaan: Ek moet maar. Hy knik, haal sy selfoon uit sy hemp se bosak, begin ’n oproep maak en verdwyn agter die gordyntjie.

      “Kan ek jou ten minste na ’n privaat kamer toe skuif?” vra dokter Scholtz. Hy weet nie wat Basson bedoel met daardie verwysings na ’n hart wat hy jare terug verloor het nie, en dis nie sy besigheid nie. Sy besigheid is hier en nou, sy besigheid is die pasiënt se gemak.

      “Dankie, maar nee dankie. Ek verkies nog altyd die geselskap hier.”

      Dan bly daar nie veel oor om te sê nie. “Jy besef jy gaan moet aftree,” merk die dokter op. “Ek is seker jou seun is al bekwaam genoeg om die leisels oor te neem.”

      Dalk is daar ’n sweempie van kommer op die ander man se gesig, maar indien wel, is dit so vinnig weg as wat dit gekom het. Basson van Rensburg laat nie die wêreld in op sy hartsgeheime nie.

      * * *

      Nadat die dokter geloop het, kyk Basson na die kassie langs sy bed. Dit voel of dit in ’n ander vertrek staan, en tog is dit reg langs hom. Hy is so moeg asof hy pas ’n maraton voltooi het en daar lê nog een voor!

      Hy sug. Frons. Kyk na die voorwerp wat hier langs hom bo-op twee boeke lê en glim. ’n Goue voorwerp, rond, wat hy nou optel, nader bring, oopmaak met die soort gebaar wat kom van jare se vertroudheid. Hy blaas weer asem uit, maar dié keer is dit ’n ander soort sug.

      Die soort wat kom van onthou.

      Hy sien die naald beweeg …

      En vryf oor die kompas, saggies en tog ferm. Vryf daaroor soos karakters in ou fantasieverhale oor lampe gevryf het om iets wonderliks op te tower.

       4

      Die vertrek ruik na rook en dit is nie die enigste beklemmendheid hierso nie. Dit sal ook nie hier agterbly as hy loop nie; party mense dra dinge met hulle saam.

      Hein is beneuk en dis sagkens gestel.

      Om die waarheid te sê, Hein is selde nié. Ook daaroor is hy beneuk. Hy is moerig gebore en sal die eerste wees om dit vir enigiemand te vertel.

      Sodra jy die wêreld inkom, is daar moeilikheid en al manier om te keer dat dit alles na jou kant toe kom, is om ’n klomp moeilikheid van jou eie te genereer en dit in ander rigtings te stuur. Gee die bliksems iets om hulle mee besig te hou!

      Hein kyk om hom. Wat is hier anyway om oor tevrede te wees? Die rokerige ruimte lyk soos die een of ander vrot kunstenaar se idee van “armsalig”. Iemand wou verlore drome en verkwiste tye op tasbare wyse uitbeeld en toe lyk dit só. Alles so tweedehands.

      As hy nou opstaan en in die spieël gaan kyk, weet hy wat hy sal sien: iemand met daardie selfde afgeleefdheid in sy oë. Tweedehandsgeit. Daardie dis-al-wat-daar-is-dit-help-nie-jy-wag-vir-beter-dinge-nie.

      Hy moet beter dinge gaan háál. Met hierdie hande.

      Op sy vingers is daar tatoeëermerke. Hy het hom nog altyd verbeel dit laat hom selfs harder slaan, soos permanente knuckle-dusters. Die kaalgeskeerde kop en bruingrys snor en bokbaardjie rond die prentjie af – en die oë wat so ’n barshou kyk. Of dit glúúr.

      Hy lees die brief nog ’n keer om seker te maak hy verstaan dit reg.

      En kyk na die Rapport op die moeë tafeltjie. Voorbladnuus:

      JONG VAN RENSBURG

      NEEM VECTO PETROLEUM

      DIE TOEKOMS IN

      Goed, hy raak maklik kwaad, dit weet hy. Maar selfs al het hy nie, sou hy hom nog steeds vervies het vir die mannetjie. Aantreklik. Jonk. Die tipe wat nie eens dink hoe gelukkig hy was om met die verdomde goue lepel in die mond gebore te word nie.

      Op die TV wat ’n paar meter van hom af dreun, word juis gepraat oor die maatskappy se toekoms, oor die nuwe rigting wat ingeslaan word.

      Basson van Rensburg Jr.

      Dis wat onder die foto staan. Hein het ook ’n gly in mense wat vanne vir name het. En blonde ouens. Blonde meisies kan gaan, obviously, solank die kleur natuurlik is. Hy haat mense wat hulle hare dye. Haat mense met perfekte tande soos Basson van Rensburg junior. Hy wonder hoeveel tandartsbesoeke dit gevat het om hulle so te kry. Maar tien teen een het hulle net so uitgekom, soos blomme in goeie grond, saam met die blou oë en opsigtelik fikse lyf. Hy haat ook die selftevredenheid waarmee party mense sulke tande uitstal. Maar hoe, as jy alles anders het, kan jy nie selfvertroue ook hê nie?

      In vergelyking met hom, Hein Vermeulen. Eiewaarde is iets wat hy moet vat waar hy dit kan kry. Ten minste weet hy hoe! Hy’t dit al so dikwels gedoen, en sal weer.

      Jy vat dit by ander, dis die geheim. Hoe kleiner jy hulle maak, hoe groter raak jy.

      So eenvoudig.

      Terwyl hy na daardie dinge kyk, na die brief, na die koerantopskrif en die foto, stryk hy oor sy baardjie.

      “. . . kommer oor die toekoms van Vecto Petroleum,” praat hulle nog op die TV. “Basson van Rensburg senior, die huidige uitvoerende direkteur, was nie beskikbaar vir terugvoer nie.”

      Hein maak ’n snorkgeluid.

      Om sy nek wieg dit aan ’n hangertjie: ’n koeël.

       5

      Dis ’n Aston en blerrie mooi. Slanke lyne, ’n sensuele leer-suggie as jy gaan sit, strelende koelte uit die lugreëlaar – en gewoonlik, om die opwinding wat so ’n ryding bied nog verder te verhoog, polsende musiek wat dawer in dié geslote ruimte.

      Nou raak die musiek stil, al is dit byna ’n sonde om so ’n enjin af te skakel. Basson van Rensburg junior het pas geparkeer op die plek wat vir hom opsygesit is. Hy klim uit en soos altyd strek die Vecto Petroleum-gebou soos ’n magtige staalarm na bowe. Basson maak die motordeur toe, streel outomaties oor die bakwerk, stap dan na die ingang. Hy haal nog nie sy sonbril af nie; dis so ’n eksklusiewe item dat dít byna ’n sonde sou wees.

      Voor by die toonbank sit … Hy kan nooit hulle name onthou nie, maar sy is jonk en aantreklik, soos die ontvangsdames altyd is. As hier die slag ’n gewone mens sou sit, een met plooie en ’n goeie klompie lewensjare, sou hy dink hy’s in die verkeerde gebou!

      Agter die rooiraam-brilletjie helder haar oë op toe sy hom sien. Sy was besig om ’n Sarie te lees, maar haastig word dit weggebêre.

      “Môre,