hy terug. Die naambordjie op haar baadjie se lapel, voor haar onignoreerbare bors, het toe die ding gedoen. Haar wit bloes se knope is in ’n tweestryd gewikkel: baklei om alles toe te hou, skimp om losgemaak te word.
Hy hou aan met stap, sy bril nou af. Die hysbak se deur is nie oop nie, sien hy, en hy verpes dit om te wag.
Juffrou Beukes het hom ingehaal en lyk of sy nie mooi weet hoe om die koffiekoppie én lêer vas te hou nie.
“So, het meneer al ’n date vir vanaand?” vra sy toe hulle instap.
Nes hy gedink het. Hy ken ’n verskuilde skimp as hy een hoor en dié een is nie eens in die minste verskuil nie.
Basson druk die knoppie vir die vyfde verdieping.
Die deur skuif toe, en 1, 2, 3, 4, 5 tel die liggies bokant die deur die verdiepings af.
En toe die deur daar bo oopskuif, is dit hy wat met die lêer en koppie staan.
En sy met deurmekaar hare en lipstiffie wat gesmeer het, en een minder knoop wat toehou.
“Juffrou Beukes, jy weet mos ek date nie,” sê hy voordat hy nonchalant uitstap.
“Meneer se pa is …”
Die hysbakdeur skuif toe en demp haar woorde. Sy is in elk geval te uitasem om haarself mooi hoorbaar te maak.
* * *
Op die foto lyk hy anders: hier is Basson van Rensburg junior nog báie junior, net tien jaar oud.
Basson senior sit met die geraamde foto, die enigste stukkie warmte – of so voel dit vir hom – hier in sy seun se kantoor, agter sy lessenaar. Die raam is van ligte hout en van agter die glas glimlag hulle, sy vrou en sy seun. Die foto is kort voor haar dood geneem; twee gelukkige mense op die familieplaas ’n leeftyd gelede.
As Elaine nog gelewe het … Sy was die een wat alles aanmekaargehou het, met soveel empatie, sorgsaamheid, begrip, al daardie goed wat ’n mens méns maak.
Maar toe is sy weg.
Sy seun is skielik daar, hy skuif die glasmuur se deur oop. Lyk nie bly om hom hier te sien nie. Lyk ook nie vies nie. Hy lyk net soos ’n sakeman moet lyk, onberispelik netjies en korrek.
Basson kan nie die emosie uit sy stem hou toe hy vir sy seun sê nie: “Ek onthou nog daai dag op die plaas. Ek het jou leer kettie skiet. Jy was ’n natural.” Hy kan ook nie die glimlag keer nie. “Jou ma was so bekommerd jy gaan iemand se oog uitskiet. Ons was so gelukkig …”
Sy seun was met die verwysing na háár ’n oomblik lank van stryk, maar hy neem die portret, hou dit voor hom soos ’n skild.
Die pa sluk. “Ek is jammer jy moes sonder haar grootword, seun.”
Daar is nie dieselfde mate van emosie by sy seun nie: “Goed om te sien Pa is weer op die been. Hoe gaan dit met die hart?”
Die boodskap is baie duidelik: Basson junior wil nie oor sy ma gesels nie, en gáán nie. Hy verneem ook maar net na sy pa se welstand omdat dit is wat veronderstel is om te gebeur.
“Nog aan die klop,” probeer die ouer man ’n grap maak.
Dit lig nie die stemming nie. “Wat is so belangrik dat Pa persoonlik al die pad van die Kaap af moes kom? Ek’s seker dis teen Dok Scholtz se reëls. André kon ook mos maar die getekende dokumentasie …”
“Basson, besef jy wat die gevolge van jou besluit gaan wees?”
Dit moet op die tafel kom, dit kan nie langer uitgestel word nie.
Dit lê ook letterlik op die tafel, die opgevoude koerant met daardie opskrif wat hom so koggel:
STAKINGS DREIG
Vecto Petroleum en OILSA in samesprekings
Die jonger man se lippe trek dun. Dit word weer eens ’n kragmeting; Basson senior het dit al probeer keer, maar dit gebeur net. Sulke tye toets hulle mekaar, wil elkeen voel hy is die een met die sê. Dêmmit, dalk was dit ’n vrot idee om sy seun dieselfde naam te gee! Dit was te dikwels ’n geval van wie is die régte Basson van Rensburg?
Daar kom, soos hy kon verwag het, ’n kort antwoord sonder emosie:
“Tegnologie het lankal die res van die wêreld se hande-arbeid oorgeneem.”
En hier is hulle weer volstoom aan die gang, dit kon toe tog nie gekeer word nie. Dis tyd vir die senior Basson om sy standpunt te stel en hy staan op om dit te doen:
“Stop met daai rympie. Dis mos nie hoe ek jou grootgemaak het nie.”
“Nee, dit is nie. Pa moes werk.”
Dis ’n voltreffer, toegedien met die nodige kilheid. Hy moenie daarop reageer nie; om daardie pad te vat gaan hom net by verloor uitbring. Hy hét sy kind afgeskeep, maar kan nou niks daaraan verander nie. Hopelik kan hy wel nog ’n verskil maak aan ander mense se lewens. Om van sy seun se besluit in die koerant te moes lees, was geen aangename ervaring nie. Hierdie seun wat so anders optree as wat hy self sou, omdat hy anders dink. Anders ís. Hy weet g’n pa mag verwag sy seun moet nes hy dink en doen nie, maar tog!
“Basson, om oor ons koppe te gaan met so ’n belangrike besluit doen die beeld en waardes waarvoor die maatskappy staan net skade.”
“Tyd is geld, Pa. Ek gaan voort, met of sonder julle handtekeninge.”
Hy poog om bloot ferm te klink. Nie woedend nie. Nie ontsteld nie. “Dis mense se lewens waarvan ons hier praat, Basson, en dis nog steeds mý maatskappy, wat ek van die grond af opgebou het met die hulp van daai mense wat jy nou met jou blink nuwe masjiene wil vervang.”
Hy moet gaan sit, skielik doodmoeg. Hy haal asem, kyk na sy seun se gesig om te probeer uitmaak of iets ingesink het, maar dit lyk nie so nie. Hy besef hy het tog maar woedend geklink, kan voel hoe sweet op sy voorkop begin uitslaan, en hy leun teen die stoel waaruit hy orent gekom het. Hy gaan voort, en frustrasie sluit aan by die kwaadheid:
“Besef jy hoeveel families is afhanklik van ons? Ek sal nie toelaat dat jou wanindruk van sukses alles wat ons familie opgebou het, vernietig nie.”
Die teenargument: “En wie se wanindruk van sukses het óns familie vernietig?”
Nogmaals ’n lae hou waarteen hy geen verweer het nie.
Basson senior voel homself versag. “Gee my ’n kans om dinge reg te maak met jou? Ek besef na Ma se dood was ek nie …”
Hy kom nie verder nie. Die ontvangsdame het skaars geklop, toe is sy al binne.
“Jammer om te onderbreek, maar meneer se tienuur met die ad agency wag in die raadsaal.”
Uit is sy. In ’n ongemaklike stilte bly hulle agter, die horde emosies al wat deurmekaar is in die deeglik geordende kantoor.
Basson senior was vir ’n oomblik nie seker met wie die meisie praat nie. Maar sy tyd van besluite neem oor advertensies is verby.
“Verskoon my, Pa. Veilig reis.”
En uit is sy seun, die sakeman.
Hy bly staan ’n rukkie, dan haal hy die ou kompas uit sy sak. Vir oulaas kyk hy daarna. Dit het hóm altyd rigting gegee – of so het dit gevoel. As dit so voel, dan is dit mos so.
Sy asemhaling is swaar. Hy moes hom nie so opgewerk het nie, maar hy wou mos nooit leer nie! Hy kry dit onder beheer. Asem in, asem uit. In, uit. Daar’s hy, dis beter.
Hy verlaat sy seun se kantoor.
6
Tien jaar uit die skool; wanneer het dit gebeur? Al daardie saai periodes voel soos gister. Die onderwysers wat seker nie so sleg was soos ’n mens daai tyd gedink het nie, sy klasmaats wat definitief nie so wonderlik was soos wat hy toe gemeen het nie …
Basson kan nie aan homself verklaar hoekom hy eens die affêre bywoon nie. Sy eerste reaksie toe hy die e-pos kry, was om te frons.