daar buite. En as jy vanaand single is …wat de hel is fout met jou? Jy’t tien jaar gehad.”
Glimlagte oral. Of glimlagte by dié wat nie alleen hier is nie.
’n Romantiese liedjie begin speel.
Jannes neem ’n bottel Vrede en Lust Syrah by die meisie wat weer agter die toonbank verskyn het, voor hy na Basson toe draai.
“Goed om jou te sien. Slow-dance. Jy weet, duty calls.”
Dan mik hy tussen die omarmde mense op die dansbaan deur na sy vroulief toe. Dit laat Basson alleen voel en ook daarvoor het hy nie ’n verklaring nie.
Die meisie beduie na die twee martini’s; lyk of hulle ordentlik gemaak is. Sy moes gesien het hoe hy na die dansende paartjies kyk, want sy kondig aan:
“Twee enkel-martini’s.”
Maar hei, besef hy, alles is nie verlore nie, want die glasies is nie al wat sy gebring het nie:
Op die servet wat sy neergesit het, staan iets geskryf.
Syfers.
Selnommer.
Basson gooi die een martini in sy keel af. Hy sien Sexy Bartender wag vir wat gaan volg. En hy sien hoe kyk sy na die dansende mense met hulle arms om mekaar se lywe. Die intimiteit. Die kontak …
“Ek slow-dance nie,” sê hy.
Reëls bly reëls.
7
Hy is ’n visserman wat huiswaarts keer met nog ’n vangs. Nee, hy is vars van die slagveld af en het nog ’n verslane teenstander aan sy kerfstok.
Hoeveel keer het hy al só by hierdie penthouse opgedaag? G’n idee nie. Hy het net geweet dit sal uitdraai presies soos wat dit vanaand weer gebeur het, en dat hy nie moet wonder hoekom dit vir hom so na roetine begin voel het nie – hy moet net aanhou onthou dat voorspoedige roetine slegs een ding beteken.
Sukses.
So haastig is hulle om by die voordeur in te kom dat hy dit omtrent oopstamp. Hy en Sexy Bartender het mos onafgehandelde sake.
Sy maak ’n waarderende geluidjie toe hy haar stewiger vasvat. Gee ’n laggie, want sy het een of twee te veel in van daardie drankies wat sy so goed meng. Dis egter nie ’n issue nie, want hy het ook. Haar lyf is sag en sy’s oulik en hy sal môre nie veel hiervan onthou nie, maar dis môre en dis fine dat hy vergeet, hy ken dan steeds nie haar naam nie.
Sy vryf oor sy nek, iets waaroor hy mal is. As ’n meisie sy koerasie so hoog wil opjaag as kan kom, dan moet sy in sy nek peuter. Hel, sy ruik lekker.
Dan …
Die geluid van ’n keel wat geskraap word.
As daar een ding is wat sy koerasie net so vinnig laat daal, so laag as kan kom, is dit om ’n man daar anderkant op die bank te sien sit. Darem ’n bekende man, maar dêmmit, nóú?
“André?”
Kiertsregop sit sy pa se kollega daar met strikdas en al, hoewel dit losgemaak om sy nek hang. Wag dalk al lank.
Sexy Bartender staan effens weg van Basson af, ongemaklik. Nie aangeklam genoeg vir wat sy klaarblyklik dink hier aan die gang is nie.
Dit is dan ook so. “Uhmmm,” sê sy, “ek speel nie dubbels nie.”
Basson weet hy behoort haar beter te hanteer, maar André knip sy oë agter sy bril se lense; hy is ooglopend ontsteld en die vooruitsig op pret met die meisie is in elk geval nou na die maan.
“Jy moet gaan. Vra vir Ben onder by ontvangs om vir jou ’n taxi te bel.”
Basson help haar by die deur uit. Sy is stomgeslaan oor hoe vinnig die situasie verander het, maar rem nog halfhartig terug en net voor hy die deur kan toemaak, kry sy die volgende uit:
“Bel my …”
André het nader gekom. “Ek probeer jou al die hele aand in die hande kry, junior.”
“Wat is so dringend?” Hy onthou hy het sy selfoon afgeskakel. Die goed lui mos net as jy nie wil hê hulle moet nie.
“Ek’s jammer. Dis jou pa.”
André vat hom aan die skouer, die eerste keer dat hulle aan mekaar raak behalwe vir ’n handdruk. Dit voel eienaardig. Verkeerd. Nog meer kommerwekkend as wat hy pas gesê het.
Hy lig ’n DVD in ’n deurskynende plastiekhouer van die tafeltjie af.
“Hy het laas week vir my gevra om hierdie vir jou te gee, die dag wat …”
Die man kry nie sy sin klaargemaak nie. Hy hou die DVD na Basson toe uit, maar Basson kom nie so ver om dit te vat nie. As hy dit nie vat nie, kan hy dalk die oomblik laat vries, kan hy die verskriklike gevoel vermy wat reeds van hom begin besit neem.
Maar hy moet dit vat. Die werklikheid gaan nie vermy word nie.
“Ek is regtig jammer,” sê André. “Dit is vir ons almal ’n groot verlies.”
Basson kyk na die DVD. Op die blink oppervlak staan bloot met ’n swart koki geskryf:
JUNIOR
André knip sy oë. “Ek dink hy wou hê jy moet dit so gou moontlik kyk.”
Dan loop hy weg, verwyder hy homself diskreet.
Basson kom agter hy is besig om na die DVD-speler toe te beweeg. Dit behoort nie moontlik te wees dat hy loop nie, sy bene is so dood. En die hand wat die DVD vashou is so swaar. Skok, besef hy. Skok, maar hy funksioneer nog.
Dit is vir ons almal ’n groot verlies, het André gesê. Hy wil glo dit kan iets anders beteken, maar daar is net die een moontlikheid.
Basson laai die DVD in die speler. Skakel die groot televisie aan. Val terug in die bank in. Weet nie of hy kans sien vir wat kom nie, weet nie eens wat dit gaan wees nie.
Die skerm kry dadelik lewe. Die opname is klaarblyklik nie deur ’n professionele persoon gemaak nie, want die beeld swiep deur die een of ander vertrek, ’n …
Ja, dis ’n hospitaalkamer.
Here, nee.
Dan kom sy pa se gesig in fokus. Daardie bekende gesig, die man wat hy soveel kere verwens het, die man aan wie hy nogtans so heg verbonde was. Twee mense wat in party opsigte so eenders is en in die res so radikaal verskil, kan nie anders as om mekaar …
Hulle het mekaar tog nooit gehaat nie. Dit het nie so ver gegaan nie, al is haat en liefde so na aan mekaar.
“Kan ek maar begin?” vra sy pa.
Basson weet hy praat met die kameraman, of wie ook al die kamera vashou, maar dit voel asof sy pa hier na sy dood vir hóm toestemming vra, soos hy in die lewe nooit het nie.
Sy pa bring effens rukkerig ’n papier te voorskyn. Senuweeagtig, hý? Nie moontlik nie. Net so min as wat al die emosie op sy gesig werklik daar kan wees. Maar dit ís en hy vou die papier oop en begin lees.
“Hallo, seun …”
Basson sluk hard.
“As jy hierna kyk, beteken dit ek en jou ma slow-dance weer. Jy weet seker hoe lank ek al daarna uitsien. Ek sou baie graag hierdie gesprek met jou in persoon wou hê, maar soos jy weet, is ek en jy deesdae petrol op mekaar se vure.”
Here, dis so waar. Dit wás so waar. Hoekom het hy nie tog maar net een keer sy mond gehou, om te hoor wat sy pa wou sê nie? Dan was dit nie nodig om dit op hierdie manier te moet hoor, met hom wat soos ’n gevangene moet sit nie. Hy wil opspring en padgee, en weet hy kan nie.
Daar is ’n huiwering by die man op die skerm toe hy vir die kamerapersoon vra: “As ek in die lens kyk, sal hy my in die oë kan kyk?”
So ’n slim man, maar tegnologie was hom altyd ’n klomp treë vooruit. Die persoon agter die kamera het nie