François Bloemhof

Pad na jou hart


Скачать книгу

Ma oorlede is, het ek eers myself in my werk verloor, en toe het ek vir jóú verloor …”

      Basson kan nie anders as om te dink nie: Hoe lank wag ek nie al om daardie woorde te hoor nie? Die bekende ou bitterheid, dit is nog hier, die skok en hartseer en die lam gevoel van verlies het dit nie verdryf nie.

      “Maar of jy dit nou wil hoor of nie, jy het ook die pad byster geraak, seun. Ek erken my rol daarin, maar aangesien ek dit nie kon regmaak terwyl ek nog gelewe het nie, gaan jy my die kans moet gun om weer te probeer.”

      Waarvan praat die man tog? Nou sluit ’n mismoedige kwaadheid aan by die ander emosies. Hy klou aan die afstandbeheerder. Ek kan jou nóú stilmaak as ek wil, dink hy. Vir wat kom krap jy my so om, en dit nadat jy dood is? En vir iemand wat so lank deel van my lewe was, vir iemand wat ek beter as enige ander mens behoort te geken het, kon jy jouself donners onverstaanbaar maak!

      Die verduideliking kom egter, met ’n stout glimlag:

      “Jy weet ek is ’n slegte verloorder. Die maatskappy is joune. Al 51 persent daarvan, maar soos alles in die lewe kom dit met fynskrif. ’n Uitdaging. André sal vir jou alles verduidelik. As jy aan al my vereistes kan voldoen en dit betyds tot by die begrafnis in die Kaap maak, is jy Vecto Petroleum se nuwe CEO. Ek vertrou jy sal oor die volgende paar dae die regte besluite neem.” Sy oë raak meteens troebel. “Blerrie hel, ek dink ek het by jou ma se begrafnis laas gehuil. Ek is lief vir jou, my seun …”

      Die pa staar lank na die skerm. Dan kyk hy verby dit.

      “Was dit oukei?”

      En die seun mik met die afstandbeheerder. Die skerm gaan dood.

      “Hierdie is vir jou,” hou André iets na hom toe uit. Basson het hom nie eens sien aankom nie.

      Hy neem die koevert, huiwerig.

      André verklaar, formeel en simpatiek en onwrikbaar: “As Vecto Petroleum se prokureur is ek kontraktueel verplig om jou pa se aandele gelykop tussen die aandeelhouers te verdeel, sou jy nie elke een van sy wense nakom nie.”

      Hy tel sy aktetas op, gereed om te vertrek. Moes voor die tyd besluit het dis hoe hy dit gaan doen: loop sodra hy sy taak verrig het.

      Basson skeur die koevert oop. Binne-in is ’n vel papier waarop iets met die hand geskryf is:

      ’n Naam en adres.

      Basson kyk André uitdagend aan. “So nou toets hy my?”

      “Jy het vyf dae om in die Kaap te kom. Laat weet my of jy dit aanvaar.”

      André draai om en loop.

      Basson luister hoe die voordeur toegaan. Staar voor hom uit. Sien die potplantjie op die koffietafel.

      Verdroog, verdor.

      Hy klap dit dat dit doer trek en val en breek. Sand oral om hom, soos as wat gestrooi is.

       8

      Die oomblikke is soos ’n kaleidoskoop van indrukke wat verskillend lyk en eenders voel. Hy staan in die storthokkie onder die warm, amper kokende water en … ervaar niks. Net hitte wat sy lyf brand, niks hier binne nie. Die water stroom soos trane oor sy gesig, dis die naaste wat hy aan tjank gaan kom.

      In die half toegewasemde spieël is sy gesig verwronge. Hy kan nie sien wat daardie mens dink nie, indien enigiets. Hy doen verwoed opsitte, verbete.

      En dit raak eenuur en tweeuur en hy slaap nog nie. Maanlig stroom by die venster in. Die alarm langs sy bed lees 03:42, maar hy kyk skaars daarna. Hy lê en staar na die plafon.

      Dan is hy uit die bed, trek ’n hemp oor sy kop en haal sy skoene uit die kas uit.

      Gooi goed in ’n tas. Jy kan nie reis sonder ’n goeie tas nie.

      In wat voel na die volgende oomblik, is hy in sy motor. Dit kan nie werklik net die volgende oomblik wees nie, maar hy kan nie onthou dat hy by die voordeur uit is en met die hysbak ondertoe en dat hy na die Aston toe geloop het nie, hy’s sommer net hier in dit. Jaag deur die stil strate met klipharde musiek.

      ’n Verkeerslig is groen … raak oranje. En rooi.

      Hy trap die petrolpedaal harder in en skiet oor.

      Op ’n manier het hy by die gebou gekom. In sy kantoor. Hy wil bewe, sy hande is nie flink genoeg om sy brein se bevele te gehoorsaam nie. Hy gaan sit agter sy lessenaar en wil homself kalm dwing. Skakel die lampie aan.

      Langs die portret van hom en sy ma gewaar hy die goue voorwerp, en skielik is daar stilte in hom. Hy weet dis ’n rustigheid wat nie kan hou nie, maar tog, hy kalmeer. Sy pa moes die kompas hier gelos het.

      Hy tel dit op, wil dit oopmaak. Dit wil nie. Hy draai dit om, kyk na die inskrywing agterop:

      VIND JOU WARE NOORD

      ’n Uitdaging.

      Goed dan. Hy aanvaar dit.

      Hy druk dit in sy sak. ’n Deel van sy pa sal hy die volgende paar dae met hom saamdra.

      Hierdie keer is hy bewus van elke tree na sy motor toe. Die twee van hulle gaan immers die volgende klompie dae baie tyd in mekaar se geselskap deurbring.

      Hy klim in. Dis nog donker, maar die dag kom nou vinnig nader. Op ’n manier het die nag toe tog verbygegaan.

      En hy vat die pad.

       9

      Die son het begin opkom. Dit het dan niks beters om te doen nie.

      Dit is ’n mooi begin vir die dag, as hy objektief daarna sou kyk. Basson kan egter nie anders as om dit as deel van sy taak te beskou nie. Van sy opdrag. Dit is die nalatenskap wat hy van sy pa gekry het:

      Wérk.

      Tipies.

      Hy moet iets bewys, maar verdomp, hy sal! Hoe moeilik kan dit wees om Kaap toe te ry?

      Eers is daar egter die adres wat hy gekry het, die plek waar hy moet aandoen. Soos hy sy pa ken – of geken hét, moet hy homself herinner – sal daar ook ander plekke wees. Iets het in Basson senior se kop gebroei, dit was duidelik op daardie video.

      Basson kry sy foon uit en druk André se nommer. En toe die man antwoord:

      “André. Ek kry jou oor ’n paar dae in die Kaap.”

      Hy druk dood, draai die musiek so hard as wat sy oortromme dit kan hou en jaag op die sonsopkoms af.

      * * *

      Op die balkon van sy huis staan André in sy kamerjas. Hy tuur deur sy bril na die nuwe dag, nog met die selfoon teen sy oor.

      Hy druk dit dood.

      Dag 1, dink hy.

      * * *

      Daar is baie variasie langs die pad. Ooptes, wye wêreld.

      Basson weet hy moet probeer om dit as ’n afskeidgeskenk van sy pa te beskou. Eerder dit as ’n opdrag. Stel jouself reg in. Om te bestuur het hom buitendien nog altyd laat ontspan. Hy is in beheer van die motor, dit is hy en spoed versus die saaiheid daar buite.

      ’n Mooi saaiheid, tog. Oral om hom lyk die wêreld nog vasgevang in ’n oggend-lomerigheid. Die Gautengse geel het omgesit in ’n Oos-Vrystaatse groen.

      Langpad.

      Lang pad.

      Dan sien Basson die padteken.

      CLARENS 10

      Hy gee vet. Draai na ’n ruk op ’n grondpad af, die een wat hom na die township toe sal neem. Stof maak wolke agter die motor.

      Van penthouse na township. Wat kom maak hy hiér?

       10

      En dit is dan Clarens.