François Bloemhof

Pad na jou hart


Скачать книгу

voel vreemd om by die oop skoolhek in te ry. Om geen leerders met tasse en rugsakke te sien loop nie. Geen ma’s wat bloedjies kom aflaai of optel nie. Daar sal geen elektroniese klok lui wat soos ’n robot se gil klink nie.

      En dis natuurlik aand. Hipervreemd om in die aand na ’n skoolgebou op pad te wees; dis so ’n dagligplek.

      Dat nie almal in die klas van 2004 finansieel vooruitgegaan het sedert hulle boude die skoolbanke verlaat het nie, is reeds in die parkeerarea waarneembaar. Skedonke waarvoor hulle doerie tyd sou neus opgetrek het as hulle ouers dit bestuur het, staan hier langs mekaar en skaamkry.

      Niemand was so vrypostig om op die hoof se plek te parkeer nie.

      Hy is vir ’n oomblik lus en doen dit, maar bring tog maar sy Aston op een van die gewone plekke tot stilstand en hoop niemand skraap dit nie.

      Die klipmure skree oudheid en tradisie, alles waarvoor hy nie staan nie.

      Die atmosfeer is geforseerd-gesellig, merk hy op toe hy die skoolsaal binnestap. Ballonne dobber vrolik, kyk net hoe hang die streamers, en daar is keurig gedekte tafels met hopelik genoeg wyn om hom deur hierdie dom besluit te dra.

      ’n Ou met ’n skewe geel kepsie wat homself genoeg haat om toe te laat dat hy as DJ Weet-Bix bekend staan, identifiseer homself lomp oor die kermende mikrofoon en kry ’n volgende liedjie aan die gang, ’n ou Afrikaanse doef-doef-treffer.

      Basson kyk rond. Oral staan en sit hulle, die oudskoliere en hulle metgeselle. Dis half koddig om so op sy eie hier te wees: as iemand hom tien jaar gelede gevra het hoe hy hom dié aand voorstel, sou hy gereken het die hoofmeisie sal aan sy arm hang. Sy was nie net slim nie, maar mooi ook. Goed in netbal en gebou om te hou. Nou kan hy nie haar naam onthou nie. Sy sal wel van hóm weet.

      Net deur na die klomp te kyk, sien hy hoeveel van hulle verlang na daardie skooldae. Vir baie was dit ongetwyfeld die tyd van hulle grootste prestasies. Om soos papegaaie feite te leer en dit tydens die eksamen te herhaal, is steeds vir baie ’n manier van “dink”.

      Hy kyk na die banier:

      WELKOM TERUG KLAS VAN 2004

      Die oomblik van skok kom toe Basson sy tafel opspoor.

      ’n Ou wat nie in die droogte aangekom het nie (nog een wie se naam hy nie kan onthou nie) val reeds die voorgereg met sy tande aan. ’n Ander is doenig met sy iPad – ook hy is vir Basson naamloos en hy wonder vir ’n oomblik of hy van stres geheueverlies opgedoen het; want daar ís stres, besef hy. Daar kon net sowel COMPUTER NERD op die ou se voorkop gestempel gewees het, maar die groot, dik bril laat beswaarlik ruimte daarvoor. Voeg daarby die rare Goth-meisie met iPod-oorfoontjies in haar ore en die wit rasta wat iets verdags sit en rol, en Basson weet presies waar hy is:

      Die tafel van die enkellopendes. Dié wat nog nie pasmaats kon kry nie.

      Hy draai summier weg van die rejects en kies koers deur die mense. Die kroeg moet uitvlug bied, en gou ook.

      Basson kom by die toonbank en merk op dat die blonde meisie daaragter darem sexy is. “Twee martini’s,” sê hy, amper verbaas oor hoe outomaties die sjarmekraantjies oopgaan. As jy die tegniek eers bemeester het, werk dit maar so.

      Sexy Bartender glimlag. “Laat ek raai, een shaken en een stirred.”

      “Nee, een vir my en een vir jou.”

      Dit is die toetsoomblik. Só is dit met elke menslike onderhandeling, weet hy lankal. Dat eerste indrukke tel? Daar was nog nooit so ’n groot waarheid nie. Hy’s ’n ou en sy’s ’n meisie. Jy hoef nie veel verder as dit te dink nie. Hier is baie ouens, maar hy is die een wat by haar gaan indruk maak – of hy sal indien die oomblik reg is.

      En dis reg, hy weet mos.

      Sexy Bartender glimlag nog breër. “Koop al ’n drink, al het hy nog nie eers my naam gevra nie.”

      “Teen sy reëls. Eers is dit ’n naam, nommer, date, en voor hy sy oë uitvee, wil jy hom huis toe vat om aan jou ma voor te stel.”

      Jy moet hulle reg aan die begin laat verstaan hoe dit werk. Dan kan daar nie later verwyte wees nie – en as daar is, kan jy hulle terug verwyt omdat hulle nie ore gehad het nie.

      Sy kan haar man staan: “Ek gee nie my nommer uit nie.”

      “Dis wat julle almal sê.”

      Basson kan sien sy geniet die uitdaging. Uiteindelik een wat nie so maklik gaan wees om …

      Dan breek die oomblik in stukke.

      “Basson! Van! Rensburg!” hoor hy en kyk om.

      Dis Jannes, vergesel deur Phillip soos so dikwels destyds. Basson is bewus daarvan dat die meisie agter ’n rooi gordyn in verdwyn.

      “Hoe gaan dit, dude?” gaan Jannes voort. Kan dit regtig wees dat hy nog dieselfde bril dra as way back? Lyk presies dieselfde, maar Basson wil dit nie glo nie. “Wag, wag, wag …Whazzzzzzzz uuuuuup!”

      Dieselfde ou Jannes, dus. So simpel en voorspelbaar soos sy swartraambril. Phillip lyk meer modieus as hy, maar ook net omdat niemand mínder sou kon nie.

      Basson is nog besig om tot verhaal te kom. Die twee was jare gelede ’n tsoenami in die kleine en het duidelik nog min van hulle slaankrag verloor. Asof om dit te bewys, val hulle saam in:

      “Whazzzzzzzz uuuuuup!”

      Wat sê jy nou daarop?

      “Jannes. Phillip. Lanklaas.”

      Jannes wys net tande. “Grootste playa in die geskiedenis van die skool!” beduie hy na agter vir enigiemand wat wil hoor. “Mister Celebrity. Sê my dis jou Aston wat daar buite staan?”

      “Dis my Aston daai.” Hy wonder hoekom hy eensklaps nie so ingenome voel met daardie feit nie, asof dit net té vertonerig is vir hier rond.

      “Ek het jou gesê dis Van Rensburg s’n!” sê Jannes met ’n harde begeleidende toetgeluid vir Phillip, asof hy pas ’n groot strategiese oorwinning behaal het.

      “En julle? Gannit goed?”

      “Ja, lekker.” Trots kom lê swaar in Jannes se stem. “Awe­some! Verlief en verloof. Werk ook vir my pa. Besigheid is goed. Die tweedehandse kar-industrie boem.”

      Basson kyk vraend na Phillip.

      En Phillip lig sy hand en wys een van daai goed waarvoor Basson so bang is. Dit sit styf om sy vinger.

      “Geringde duif.”

      “Jammer om dit te hoor.” Basson raak aan die lag, maar dis duidelik nie vir hulle snaaks nie. “Ek grap sommer. Kinders by dosyne, of hoe sê hulle?”

      “Die tweede een is op pad, ja,” kom dit opgewonde van Phillip.

      “So, waar is sy?” wil Jannes weet.

      Basson lig sy wenkbroue. “Wie?”

      “Die supermodel wat jy date?”

      “Date? Nee, ek hou maar my opsies oop. Wie weet, dalk gee Mercia vanaand weer vir my ’n privaatles in Pienaar se Biologie-stoor.”

      Hy onthou háár nog goed. Mooi Mercia met die nuuskierige lippe, die nog meer verkennende hande … Trouens, daar was nie een deel van Mercia wat nie bereid was om alles te probeer nie.

      Maar hier’s fout. ’n Ongemaklike stilte het neergedaal.

      Jannes maak keel skool.

      Phillip se gesig is uitdrukkingloos. “Sterkte met daai ‘oop opsies’.”

      Dan stap hy weg. Basson weet nie hoekom dit hom so aardig laat voel nie; hy is tog nie afhanklik van ’n ou klasmaat se goedgesindheid nie? ’n Loser boonop. Wat is dit vanaand met hom, dat hy hom steur aan ander se menings?

      “Mercia en Phillip is al drie jaar getroud,” lig Jannes hom in.

      Basson sê eerder niks, voor hy sy voet dalk nog verder by sy