Helena Bester

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes


Скачать книгу

impulsiwiteit, onbetroubaarheid, oorhaastigheid en onbedagsaamheid. Hulle moes self leer hoe om die deurmekaarheid in hulle kop te hanteer. Hulle wil nie weer met dieselfde probleme opgesaal word nie.

      Walter se vrou het gebel. Sy, Helga, is raadop. “Dit voel asof daar vyf kinders in die huis is en nie net vier nie. Dis nou reg of weg,” het sy gesê. Helga het gehoor van die nuwe behandeling vir ADHD wat by my praktyk beskikbaar is.

      Helga het nie self kinders nie. Sy het Walter twee jaar ná sy eerste vrou se dood ontmoet en hulle is kort daarna getroud. “Walter kan so dierbaar en snaaks wees,” vertel Helga. “Maar ná ’n paar maande se getroude lewe het ek begin voel asof ek in ’n nagmerrie leef.”

      Hulle lewe saam was in ’n chaos gedompel. Die kinders het geen roetine gehad nie en daar was nie behoorlike reëls nie. Hulle wou saans televisie kyk totdat hulle aan die slaap raak en was baie traag om gebalanseerde maaltye op vaste tye te eet. Daar was gedurig klagtes van die skool. Helga het getrou die kinders se huiswerkboeke nagegaan, maar die huiswerk is gereeld nie gedoen nie omdat dit bloot nie aangeteken is nie. Helga het die probleme een vir een gepak, soos ’n akker of blombedding wat jy stelselmatig skoonmaak en bewerk. Kort voor lank was die basiese strukture in plek. Daar was slapenstye, huiswerktye, etenstye en kuiertye. Daar was minder klagtes van die skool en Helga het meer in beheer gevoel.

      Aanvanklik het Helga haar nie te veel gesteur aan die woedeuitbarstings en kinderagtige optrede wat soms by Walter kop uitgesteek het nie. Sy was te oorweldig deur die aanpassings wat die kinders van haar geverg het. Dit is eers by nabetragting dat sy besef het dat Walter se onvoorspelbaarheid reeds van die begin van hulle verhouding aanwesig was.

      As kind het Walter nie van skool gehou nie. Hy was gedurig in die moeilikheid en is as “stout” bestempel. Sy huiswerk was dikwels nie gedoen nie en sy punte swak. Hy was met die verkeerde maats deurmekaar en het in ’n stadium selfs die skool probeer afbrand. Walter vertel hy besef nou dat hy gewoon sy maats se uitdaging aanvaar het sonder om aan die nagevolge te dink. Dit voel vir hom asof hy soms tonnelvisie het en glad nie die groter prentjie kan raaksien nie. Hy betrap homself byvoorbeeld gedurig op ’n oorreaksie en dit maak nie saak hoe onredelik sy optrede is nie, dit voel vir hom asof hy nie daaruit kan loskom nie. Hy voel magteloos daarin vasgevang. Dit is soms asof hy van buite af toekyk op homself.

      Daardie dag met die brandstigting was dit dieselfde. Hy het by ’n klaskamer ingebreek onder aanmoediging van sy vriende. Hy was meegesleur deur die aandag en die intensiteit van die emosies. Daardie dag sou hulle vir die onderwyser ’n les leer. Dit was eers toe hy die petrol oor die opgefrommelde koerantpapier uitgooi en dit aan die brand steek dat hy besef het watter ernstige saak dit is en watter erge gevolge dit kan hê. Hy het die vlamme verwoed probeer blus terwyl sy “vriende” laat spaander het. Hy sê dat dit nooit sy bedoeling was om die skool af te brand nie. Dit was net asof sy optrede met hom weggehardloop het. Gelukkig kon Walter daardie dag die vlamme blus, maar op ’n meer simboliese vlak kan vure soms deur ondeurdagte optrede aangesteek word wat nie so maklik geblus kan word nie.

      Helga vertel dat Walter soms tuiskom wanneer die jongste seuntjie reeds in die bed is. Hy sal die kamer luidkeels binnestorm terwyl Helga ’n slaaptydstorie lees. Hy sal die kind uit die bed optel en ’n stoeiery begin, waarna hy weer wawyd wakker is. Dit voel dikwels vir Helga asof Walter net van sy eie behoeftes bewus is en geen sin vir verantwoordelikheid het nie. Hy sal byvoorbeeld uitgelate voel en aan tafel ’n spelery met die kinders op tou sit wat in ’n tranedal eindig omdat hy nie grense stel of wal gooi wanneer dinge handuit ruk nie. Helga voel selfs asof sy nie met vrymoedigheid die kinders onder sy toesig kan laat wanneer haar aandag elders vereis word nie.

      Walter bedryf sy eie onderneming, wat dikwels na aan bankrotskap was vanweë ondeurdagte besluite. Ook hier moes Helga reddingswerk verrig. Die onderneming is lewensvatbaar en het baie potensiaal. Walter het dikwels in die verlede ’n tweede en selfs derde onderneming aan die gang probeer kry terwyl hy nalaat om behoorlik na sy bestaande onderneming om te sien.

      Ná skool het Walter by ’n rits verskillende firmas gewerk. Dit het gewoonlik goed begin, maar ná ’n ruk het hy onbetroubaar geraak of in ’n onderonsie met ’n ander werknemer betrokke geraak. Gelukkig het hy sy pa se onderneming geërf. Met tye het dit goed gegaan, maar hy kon nie goeie beginsels konsekwent deurvoer nie. Hy was byvoorbeeld soms baie vriendelik met kliënte en dan weer kortaf en selfs ongeskik. Helga het van Walter se take self oorgeneem en ander gedelegeer om die wisselvalligheid in die gehalte van hulle diens te beperk.

      Helga het die punt bereik waar sy nie langer kans gesien het om Walter se verantwoordelikhede op haar te neem en gedurig krisisbestuur te verrig nie. Sy wou ’n huwelik hê waarin verantwoordelikhede gedeel word en sy soms op haar lewensmaat se leiding kon staatmaak.

      Walter is reeds as kind met aandagafleibaarheid gediagnoseer, spesifiek die soort met hiperaktiwiteit. In sy geval het die hiperaktiwiteit met opponerende gedrag gepaardgegaan.

      By sekere kinders en volwassenes is sekere simptome van ADHD meer prominent as by ander. Nie alle mense met ADHD het alle simptome van die toestand nie. Almal se gedragspatrone, swak en sterk punte, persoonlikhede en vaardighede verskil. Wanneer ek van “tipiese gevalle” praat, wil ek geensins mense se individualiteit ondermyn nie. Ek wil mense help om hulle emosioneel te identifiseer met die inligting in hierdie boek, en daarom deel ek nie slegs feitelike kennis nie.

      Die eerste onderhoud

      Verskeie vakgebiede kan lig werp op die soort vrae wat die terapeut tydens die aanvangsonderhoud kan vra. Deur ervaring en persoonlike voorkeur verander of verfyn die terapeut daardie vrae totdat dit soos akkurate soekligte die relevante hoekies belig.

      In hoofstuk 1 gee ek ’n voorbeeld van hoe so ’n aanvangsonderhoud kan verloop. Gaan gerus deur die lys vrae en probeer dit met betrekking tot jou kind of jouself as kind (indien jy die inligting tot jou beskikking het) beantwoord. Onderwysers en terapeute of studente kan die vrae as riglyne gebruik om die relevante agtergrondinligting makliker deur te sif.

      Ek sluit hoëfrekwensieresponse, oftewel die antwoorde wat ek die algemeenste van ouers hoor, op die vrae in. By sekere vrae kon ek (nog) nie responspatrone vasstel nie, hoewel daardie vrae met sekere aspekte van ADHD verband hou. ’n Mens hoor en lees byvoorbeeld dikwels dat slaapprobleme algemeen is onder mense met ADHD. Van die duisende kinders met ADHD met wie ek die afgelope drie-en-twintig jaar vir lang tye intensief gewerk het, is daar minder wat slaapprobleme het as dié wat nie het nie. By vrae waar daar volgens my nie ’n duidelike patroon is nie, dui ek dit so aan.

      Vrae is vir die terapeut ’n werktuig van onskatbare waarde. Maar selfs belangriker is die vermoë van die terapeut om te kan luister. Ongeag hoe deurtastend die vrae is wat die terapeut vra, is daar altyd ’n moontlikheid dat ’n belangrike komponent misgekyk word. Nog ’n gevaar is dat ’n bepaalde stel vrae die probleem net vanuit een hoek belig. Dit kan jou as terapeut bevooroordeeld maak. Dit is soos wanneer jy op rooi motors op die pad fokus: Dit kan later vir jou voorkom asof daar baie meer rooi motors is as wat daar werklik is. En hoe langer jy, figuurlik gesproke, deur ’n bepaalde lens, of dan stel vrae, na ’n mens kyk, hoe duideliker gaan sekere aspekte van daardie persoon raak en hoe vaer ander, wat ’n uitwerking kan hê op die vorm van intervensie waarop jy besluit. Daarom is my eerste stelling gewoonlik: “Vertel my, ek luister.” Hierdie belangrike oop vraag kan vir jou as terapeut ’n perspektief bied wat jou beperkende lens of vrae nie kan nie.

      Vir jou as leser vra ek nou die volgende: Verwoord die kern van die probleem soos jy dit by jou kind (of jouself of ’n kind in jou klaskamer) ervaar. Bewuswording is ’n belangrike stap in genesing of dan in die besluitneming wat tot ’n positiewe verandering kan lei.

      Prof. Rudolph E. Tanzi van die departement neurologie aan die Harvard-universiteit se mediese skool sê in Super Brain (2012), ’n boek wat hy saam met die medikus en skrywer Deepak Chopra geskryf het, dat ons in elke taak wat ons uitvoer óf onbewus óf bewus óf self-bewus (bewus van ons eie rol in die situasie eerder as “skaam”) is. Wanneer ons onbewus is, word ons deur ons emosies en laer breinfunksies voortgedryf. Die brein is dan in ’n ongebalanseerde staat van funksionering. Ons besluitnemingsfunksies is verswak en ons gedrag word deur