vir die diagnose van ADHD
1 Onaandagtigheid
a.Die persoon skenk dikwels nie aandag aan detail nie en begaan nalatige foute in sy of haar skoolwerk, werk of ander aktiwiteite (detail word byvoorbeeld misgekyk of uitgelaat, of die werk is onakkuraat).
b.Die persoon sukkel dikwels met volgehoue aandag tydens take of spel (vind dit byvoorbeeld moeilik om tydens lesings, gesprekke of lang leessessies gefokus te bly).
c.Dit kom dikwels voor asof die persoon nie hoor wanneer hy of sy direk aangespreek word nie (dit kom byvoorbeeld voor asof die persoon se gedagtes elders is, selfs in die afwesigheid van afleibare stimuli).
d.Die persoon handel take dikwels nie af nie. Skool- en huishoudelike take of werksopdragte word dikwels nie voltooi nie (take word byvoorbeeld aangepak, maar die persoon verloor gou fokus en die aandag word maklik afgelei).
e.Die persoon vind dit dikwels moeilik om take te beplan of aktiwiteite te organiseer (sukkel byvoorbeeld om take te prioritiseer, sukkel om besittings te orden, werk slordig en ongeorganiseerd, tyd word swak bestuur, behaal nie tyddoelwitte nie).
f.Take wat volgehoue inspanning vereis, word dikwels vermy, die persoon is onwillig om die take uit te voer of die persoon het ’n hekel aan take (byvoorbeeld skoolwerk of huiswerk; by ouer adolessente en volwassenes die voorbereiding van verslae, voltooiing van vorms en hersiening van lang verslae).
g.Dinge wat vir take of aktiwiteite benodig word, word dikwels verloor (byvoorbeeld skoolartikels, potlode, boeke, beursie, sleutels, papierwerk, bril, selfoon).
h.Die persoon se aandag word maklik deur eksterne stimuli afgelei (by adolessente en volwassenes kan dit gedagtes oor nieverwante sake insluit).
i.Vergeetagtigheid in daaglikse aktiwiteite kom dikwels voor (byvoorbeeld in die uitvoering van alledaagse take en verpligtinge; by ouer adolessente en volwassenes die beantwoording van oproepe, vereffening van rekeninge en nakoming van afsprake).
2 Hiperaktiwiteit en impulsiwiteit
a.Die persoon vroetel dikwels met sy of haar hande of voete, of is kriewelrig terwyl hy of sy moet stilsit.
b.Die persoon staan dikwels van sy of haar sitplek op waar daar van hom of haar verwag word om stil te sit (verlaat byvoorbeeld sy of haar sitplek in die klaskamer of kantoor of in ander situasies waar daar van hom of haar verwag word om op een plek te bly).
c.Hy of sy hardloop of klouter dikwels in onvanpaste situasies rond (by adolessente of volwassenes kan die gedrag beperk wees tot ’n gevoel van rusteloosheid).
d.Hy of sy vind dit dikwels moeilik om rustig te speel of vrye tyd rustig te bestee.
e.Die persoon is dikwels “aan die gang” of tree op asof hy of sy motories aangedryf word (het byvoorbeeld ’n onvermoë of vind dit moeilik om vir lang tye staties te wees, soos in restaurante of tydens vergaderings; kan deur ander as rusteloosheid ervaar word of ’n onvermoë om by te hou).
f.Hy of sy praat dikwels oormatig.
g.Die persoon blaker dikwels antwoorde uit voordat die vraag klaar gevra is. Hy of sy voltooi ander se sinne of vind dit moeilik om in ’n gesprek sy of haar beurt af te wag.
h.Die persoon vind dit dikwels moeilik om sy of haar beurt af te wag (vind dit byvoorbeeld moeilik om in ’n tou te staan en wag).
i.Hy of sy onderbreek ander dikwels of val hulle lastig (onderbreek byvoorbeeld gesprekke, speletjies of aktiwiteite, of gebruik ander se besittings sonder toestemming; adolessente en volwassenes kan inbreuk maak op aktiwiteite waarmee ander besig is of daardie aktiwiteit oorneem).
Voorwaardes vir die diagnose
•Belangrike voorwaardes geld alvorens ’n diagnose van ADHD volgens bogenoemde kriteria gemaak kan word. Dit is:
•Die simptome moet minstens ses maande lank ononderbroke teenwoordig wees.
•Die simptome moet strydig wees met die ontwikkelingsvlak van die persoon.
•Verskeie van die simptome moes voor twaalfjarige ouderdom begin het.
•Die simptome moet ’n negatiewe uitwerking op die persoon se sosiale, akademiese of werkprestasie hê of inmeng met sy of haar funksionering op hierdie gebiede.
•Die simptome mag nie die gevolg wees van skisofrenie of ’n ander psigiatriese toestand nie en moet nie beter verklaar kan word deur die diagnose van ’n gemoedsversteuring, angsversteuring, dissosiatiewe versteuring, persoonlikheidsversteuring of substansgebruik of onttrekkingsimptome nie.
•Die simptome moet aanwesig wees in minstens twee omgewings (byvoorbeeld by die skool of werkplek, tussen vriende en familie, of tydens ander aktiwiteite).
•Minstens ses simptome onder nommer 1 of ses simptome onder nommer 2 moet by kinders jonger as sewentien jaar teenwoordig wees. By ouer adolessente en volwassenes moet daar minstens vyf simptome onder nommer 1 of vyf simptome onder nommer 2 teenwoordig wees.
•Die simptome moet nie uitsluitlik die gevolg wees van opposisionele gedrag, ’n gedragsteurnis, vyandiggesindheid of ’n onvermoë om opdragte uit te voer of instruksies te verstaan nie.
Die voltooiing van beoordelingsvraelyste, soos die gedragskontrolelys in hoofstuk 1, kan ’n waardevolle hulpmiddel wees om onnodige of verkeerde diagnoses uit te skakel. So ’n kontrolelys behoort deur ’n ouer sowel as ’n onderwyser voltooi te word.
Volgens die beoordelingskriteria van die DSM-5 word daar tussen drie groepe ADHD onderskei:
ADHD oorheersend aandagtekort
Hierdie groep lyers word ook die “onaandagtige groep” genoem. By hierdie groep is daar by kinders jonger as sewentien jaar minstens ses simptome onder nommer 1 van die DSM-5-beoordelingskriteria teenwoordig en minstens vyf simptome by adolessente en volwassenes. Minder as ses (vyf by adolessente en volwassenes) van die simptome onder nommer 2 is teenwoordig.
ADHD oorheersend hiperaktief-impulsief
By hierdie groep is daar minder as ses simptome (minder as vyf by adolessente en volwassenes) onder nommer 1 teenwoordig, maar wel ses of meer (minstens vyf by adolessente en volwassenes) onder nommer 2.
ADHD aandagtekort/hiperaktief-impulsief gekombineerd
Hierdie groep word ook die “gekombineerde groep” genoem. By hierdie groep is daar minstens ses simptome onder nommer 1 (minstens vyf by adolessente en volwassenes) asook minstens ses simptome (minstens vyf by adolessente en volwassenes) onder nommer 2 teenwoordig. Hierdie groep is ook die grootste groep.
Die drie vorms van ADHD volgens die DSM-5 word verderaan met voorbeelde toegelig.
Dr. Daniel G. Amen, ’n Amerikaanse psigiater en neuroterapeut, onderskei in sy boek Healing ADD: The Breakthrough Program that Allows You to See and Heal the Six Types of ADD (2001) tussen ses vorms van ADHD. Hy grond sy bevindings hoofsaaklik op inligting wat hy van breinskanderings verkry het.
Kom ADHD slegs by kinders voor?
Nee. Vroeër jare is geglo dat ADHD ontgroei word. Dit is egter meestal nie die geval nie. Die hiperaktiwiteitskomponent van die gekombineerde en oorheersend hiperaktief-impulsiewe groepe ADHD neem wel meestal af. Sommige volwasse lyers het die toestand beter geleer hanteer, wat hulle simptome minder opsigtelik maak. Die meeste mense met ADHD wat ouer is as dertig, is nooit as kinders gediagnoseer nie. Die mediadekking van die afgelope twintig jaar het ’n groter bewustheid van ADHD tot gevolg gehad, wat ’n hoër frekwensie van diagnoses meegebring het. Mense het die simptome van ADHD in hulleself of by hulle kinders herken en dit by ’n kundige gaan aanmeld. Of die nuwe fokus op ADHD daartoe gelei het dat professionele mense meer geredelik diagnoses van ADHD begin maak het, bly ’n ope vraag.
Wat veroorsaak