die mees onvanpaste dinge. Ons gesels soms oor landsake en dan sal hy iemand in die rede val met ’n stelling oor iets wat tydens die rugby-oefening gebeur het.”
Onthou dat bogenoemde antwoorde tipiese response is – gebaseer op onderhoude met ouers van kinders met ADHD met hiperaktiwiteit. Indien jou antwoorde op van die vrae anders is, beteken dit nie dat jy of jou kind nié ’n ADHD-lyer is nie. Nie al die vrae is gegrond op die simptome waarvolgens ADHD formeel gediagnoseer word nie, maar ons kom later by die meer tegniese aspekte.
Vraelys (gedragskontrolelys)
Die vraelys of gedragskontrolelys wat volg, is ’n variasie van die Connors-lys waarvan die vrae wel gebaseer is op die simptome waarvolgens ADHD gediagnoseer word. Verskeie soortgelyke vraelyste is beskikbaar by skole en praktisyns. Die Connors-lys word ook algemeen gebruik om die doeltreffendheid van medikasie te bepaal. Die kind se gedrag word beoordeel aan die hand van kriteria vir ADHD soos uiteengesit in die DSM (Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders), ’n handleiding vir die diagnose van psigiatriese toestande wat deur die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging saamgestel word. Die vorige weergawe het as die DSM-4-TR bekend gestaan. Die DSM-5 het in Junie 2013 verskyn. Alhoewel die kriteria vir diagnose in die vorige en huidige weergawes van die DSM dieselfde is, word die kriteria met voorbeelde toegelig wat dit meer van toepassing maak op die gedrag van tiener- en volwasse ADHD-lyers.
Die vraelys hieronder sal jou ’n goeie aanduiding daarvan gee of jou kind ’n ADHD-lyer is of nie. Dit word gewoonlik deur ’n ouer sowel as deur ’n opvoeder wat die kind goed ken, voltooi. Dit gebeur wel soms dat ’n kind se gedrag tuis en by die skool heeltemal verskil. Ander faktore kan dan ’n rol speel. Hou in gedagte dat die onderstaande vraelys die simptome by ADHD-kinders opsom. Die presiese beskrywing van die diagnostiese kriteria volgens die DSM-5 volg later.
Lees die stellings en omkring telkens die nommer wat volgens jou die beste aanduiding is van die frekwensie waarmee die betrokke gedrag wat beskryf word, geopenbaar word. Dui ook telkens onder “Ja” of “Nee” aan of die gedrag na jou mening as problematies beskou kan word met betrekking tot die betrokke kind se ouderdom.
Evalueringsleutel
1 – Nooit
2 – Selde
3 – Soms
4 – Dikwels
5 – Altyd
Tel nou die aantal response wat jy as “ja” in die “Problematies”-kolom gemerk het. Indien daar vir items 1-9 ses of meer van hierdie “ja”-items is wat jy met ’n 4 of 5 gegradeer het, het die kind wat jy geëvalueer het ’n ADHD-profiel. Dieselfde geld items 10-18.
Tel nou die evalueringspunte van “ja”-items op:
Totaal A: Items 1-9 (4 of 5 en “ja”)
Totaal B: Items 10-18 (4 of 5 en “ja”)
Indien Totaal A of Totaal B 24 of hoër is, en daardie telling die gedrag van die kind in minstens twee funksioneringsplekke (byvoorbeeld die huis én die skool) weerspieël, het die kind genoeg simptome van ADHD vir ’n diagnose.
Die gedragskriteria vir items 1-9 op die vraelys hou verband met die simptome van onaandagtigheid of swak konsentrasie. Die gedragskriteria vir items 10-18 hou verband met hiperaktiewe en impulsiewe gedrag. ’n Kind kan dus ’n erge konsentrasieprobleem hê sonder dat hy hiperaktief is. Ons beskou die verskillende vorms van aandagafleibaarheid van nader in hoofstuk 2.
Die hoofdoel van hierdie en soortgelyke vraelyste is dat dit as ’n hulpmiddel deur ouers, onderwysers en terapeute aangewend word. Soms word dit gebruik om ’n persentasiepunt aan ADHD-gedrag te koppel. Ek is skepties hieroor, omdat al die items dan gewoonlik in berekening gebring word, terwyl net daardie eienskappe wat aanpassingsprobleme veroorsaak en nie ouderdomstoepaslik is nie, aandag behoort te geniet. Ek is ook skrikkerig vir die gedagte dat ons kinders kan stereotipeer deur hulle ’n nommer om die nek te hang.
Volgens die riglyne van die nuwe DSM word daar wel van die klinikus wat die diagnose maak, verwag om die graad van ernstigheid van die versteuring aan te dui. Daar behoort gespesifiseer te word of die persoon aan ’n “ligte”, “gematigde” of “erge” graad van ADHD ly.
Ek vertrou dat jy in hierdie stadium ’n goeie oorsigtelike begrip van die simptome en die algemene beeld van ADHD het. Die res pak ons stap vir stap aan.
2
Algemene vrae oor ADHD en verwante toestande
Deel 1: Vrae oor ADHD
Verwarring oor die terme
Die Engelse afkorting “ADHD” (vir attention deficit hyper-activity disorder) is so algemeen bekend dat dit al in Afrikaans ook só gebruik word, deur Jan Alleman sowel as professionele mense en ondersteuningsgroepe. Die letters word dus doodgewoon in Afrikaans uitgespreek.
Die vertaling vir attention deficit hyperactivity disorder is aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS). Ander terme wat gebruik word, is:
•aandagtekort-hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV)
•aandagtekort-hiperaktiwiteitsindroom (ATHS)
•aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (AAHS)
•aandagtekortsteurnis
•afleibaarheidsindroom
•aandagafleibaarheid
•aandagafleibaarheidsindroom sonder hiperaktiwiteit
•aandagafleibaarheidsindroom met hiperaktiwiteit
Die Engelse afkorting “ADD” staan vir attention deficit disorder en verwys na daardie groep mense by wie ADHD sonder hiperaktiwiteit gediagnoseer is.
Wat is ADHD?
ADHD kan as ’n neurochemiese wanbalans in sekere dele van die brein gedefinieer word. ’n Sterk genetiese komponent is teenwoordig. Dit beteken dat ADHD oorerflik kan wees.
Hoe word ADHD gediagnoseer?
In die vorige hoofstuk het ons met behulp van ’n meer informele vraelys of kontrolelys na die diagnose van ADHD gekyk. In hierdie hoofstuk sal ons die formele diagnose daarvan in nader besonderhede ondersoek.
ADHD word gediagnoseer volgens ’n lys kriteria of simptome (sien hieronder) wat in die DSM-5 uiteengesit word. Daar bestaan nog geen bloedtoets of ander kliniese ondersoek soos ’n breinskandering of elektroënkefalogram (EEG) wat diagnosties aangewend kan word nie. Databasisse wat die resultaat is van navorsing deur instansies soos die Brain Resource Centre in Australië toon egter duidelik dat die breingolfaktiwiteit van ADHD-lyers afwyk van die norm, nes in die geval van mense met ander versteurings.
Sommige klinici voer aan dat gevorderde skanderings soos die SPECT (single-photon emission computed tomography) en PIT (photo image tomography) wel verskille uitwys. By die Internasionale Sielkundekongres wat in 2012 in Kaapstad gehou is, was daar sprake daarvan dat die DSM-5 moontlik kriteria wat EEG-data insluit, vir die diagnose van ADHD sal bevat, maar dit het toe nie gerealiseer nie. Die grootste verandering in die DSM-5 is die voorbeelde wat toegevoeg is om die diagnose van volwasse lyers te vergemaklik. Die Amerikaanse NIMH (National Institute of Mental Health), die grootste organisasie vir navorsing oor geestesgesondheid ter wêreld, het in Mei 2013 aangekondig dat hulle hulle navorsing nie langer op die DSM-5-kategorieë van versteurings gaan baseer nie, maar eerder op die kognitiewe, genetiese en neurologiese komponente daarvan. Neuroterapie is een so ’n terapie wat op neurologiese aspekte fokus, wat kan beteken dat daar die volgende paar jaar baie meer navorsing daaroor gedoen sal word. Tans is die kriteria wat hieronder genoem word, egter die enigste vir die diagnose van ADHD.