Helena Bester

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes


Скачать книгу

iets voel. Die emosies word dan deur die hoër breinfunksies, wat oordeelsvermoë insluit, in perspektief geplaas. Die brein is dus in ’n meer geïntegreerde staat, met die hoër sowel as die laer breinfunksies wat ’n rol speel. Emosionele sowel as kognitiewe breinfunksies word betrek. Ons voel nie so verswelg deur ons emosies en asof ons geen beheer oor die situasie het nie. Die ADHD-lyer voel dikwels oorweldig deur ’n emosie waarbinne hy vasgevang is, dermate dat sy oordeelsvermoë en besluitnemingsfunksies verdring word.

      Wanneer ons bewus is van ons eie betrokkenheid binne ’n situasie – wanneer ons met ander woorde self-bewus is – kan ons oor ’n saak nadink. Sodra ons daardie bewustheid het, kan ons ons eie gedrag beoordeel en die regte keuses uitoefen. Slegs sodoende kan ’n positiewe verandering plaasvind. Emosies is nie die teenoorgestelde van ’n staat van bewustheid nie, maar is juis ’n belangrike soeklig wat kan uitwys watter vrae ons moet vra om insig en groei mee te bring.

      Ek glo bewustheid is nie net vir mense met ADHD noodsaaklik vir die bestuur van hulle simptome nie, maar ook vir elkeen van ons op ons groeipad as mens. In die hoofstuk oor neuroterapie gaan ons verder hieroor gesels, aangesien hierdie behandeling mense help om meer bewus van hulle eie gedrag te wees.

      Terug by die aanvangsonderhoud: Jy hoef nie by ’n spesifieke punt te begin wanneer jy die probleem soos wat jy dit beleef, aan die terapeut beskryf nie. Party mense se gedagtegang is meer analities en ander s’n minder sistematies. Party ma’s kom met ’n tienpuntlys, waar punt een die swangerskap is. Ander ma’s begin by iets wat die vorige dag gebeur het en ander som die probleem in een sin op.

      Dit ontstel my wanneer ek soms hoor dat toetsafnemers net tien minute vir die eerste onderhoud opsy sit. Tyd is wel ’n faktor, maar ek verstaan nie hoe ’n mens ná enkele vrae by die kern van die probleem kan uitkom nie. Ná die besoek staan jy dalk met ’n voorskrif in die hand, maar twyfel, vrae en vrese in die kop en gemoed.

      Nadat die ouer op my eerste stelling – “vertel my, ek luister” – gereageer het, vra ek vrae oor aspekte wat relevant kan wees wat die ouer nie reeds aangeroer het nie. Dit is hoofsaaklik in ouers se response op daardie eerste stelling dat ek ooreenkomste en patrone, verskuil agter algemene simptome, begin raaksien het wat ek nie noodwendig andersins sou nie. ’n Groot persentasie van kinders met ADHD het byvoorbeeld op ’n baie jong ouderdom baie hoë koors of koorsstuipe gehad. Die meeste is emosioneel baie sensitief, alhoewel dit soms voorkom asof hulle geensins bewus is van ander mense se behoeftes nie. Hulle is ook dikwels kreatiewe denkers. Veral by volwassenes blyk dit duidelik dat mense met ADHD nie van probleme hou nie. Hulle wil waarskynlik voel dat dinge rondom hulle onder beheer is omdat daar so dikwels chaos in hulle eie gedagtes is.

      Hieronder gee ek vrae wat van nut kan wees – nie net by die opstel van ’n intervensieprogram vir ADHD nie, maar ook vir ander praktiese aspekte in die bestuur van die toestand. Dalk laat dit jou as ouer glimlag in die wete dat talle ander ouers dieselfde pad loop. Soos reeds genoem, sluit ek algemene antwoorde of kommentaar in en dui ek aan as daar geen duidelike patroon is nie. Vrae wat meer toepaslik is in ’n aanvangsonderhoud met volwasse ADHD-lyers, word verderaan in hierdie boek bespreek.

      Hou asseblief in gedagte dat die antwoorde gebaseer is op my ervaring as terapeut en nie op ’n navorsingsprojek nie.

      Vrae wat lig kan werp

      Was die bevalling normaal?

      Hier is geen duidelike patroon waarneembaar nie. Sommige ADHD-kinders is natuurlik gebore en ander met ’n keisersnee in die lewe gebring, sonder dat daar komplikasies was. By tangverlossings en ander komplikasies vra ek vir meer besonderhede en gaan die beskikbare kliniese verslae na.

      Was daar enige komplikasies of trauma kort ná geboorte, tot en met die tweede lewensjaar?

      Daar was dikwels ’n insident van baie hoë koors.

      Was jou kind ’n rustige of woelige baba?

      Baie ADHD-kinders was moeilike babas wat selde deurgeslaap het.

      Het jou kind die ontwikkelingsmylpale binne normale perke bereik?

      “Ja. Sy het eintlik vroeg begin loop. Sy het wel ’n bietjie laat begin praat. Sy het ook nog altyd half onduidelik gepraat. ’n Mens weet steeds nie altyd wat sy sê as jy haar nie ken nie.”

      Was jou kind vanaf ’n vroeë ouderdom (van so drie of vier) baie veeleisend of het sy soms alleen gespeel?

      Verbasend baie ouers getuig dat hulle kind wel op voorskoolse ouderdom ure lank alleen kon speel. (Die simptome begin volgens die literatuur meestal op hierdie ouderdom presenteer.) Sommige kinders was wel baie veeleisend en woelig vandat hulle begin loop het.

      Wanneer het jy die eerste keer negatiewe terugvoer van die skool ontvang?

      Die “probleme” begin gewoonlik in die graad R-jaar. Dikwels neem die juffrou se klagtes in die tweede helfte van die jaar toe in dringendheid. (Indien die negatiewe terugvoer eers in graad 2 of daarna begin het, is ’n leerprobleem dikwels ’n kernprobleem.)

      Wat is die hooftema van die klagtes?

      “Hy konsentreer nie wanneer ons op die mat werk nie.”

      “Sy voltooi nie haar take nie.”

      “Hy pla ander maatjies.”

      “Hy praat tussenin.”

      “Hy wag nie sy beurt af nie.”

      “Sy tekeninge/handskrif is onnet.”

      “Sy verloor alewig dinge.”

      “Hy vergeet om boodskappe huis toe te neem of sy huiswerk neer te skryf.”

      “Hy sukkel met lees.”

      (Die aard van die response op hierdie vraag varieer baie volgens die kind se ouderdom. Ek skryf later uitgebreid oor gedragspatrone wat dikwels met ADHD gepaardgaan. Bogenoemde is slegs enkele voorbeelde van klagtes wat algemeen voorkom.)

      Sukkel julle om dissipline toe te pas?

      In meer gestruktureerde huishoudings is daar minder probleme. ’n Algemene klagte is wel dat dit dikwels voorkom asof die kind nie hoor nie. Gedrag wat as stout en ongehoorsaam beskou word, kom ook baie voor.

      Gestel jy gee vir jou kind twee of drie opdragte om uit te voer. Sal sy die opdragte onthou en reg uitvoer?

      “O, nee. Op pad na die eerste een word haar aandag afgetrek – en wanneer ek haar tien minute later soek, sit sy met die hond en speel.”

      Staan hy soggens betyds op en is hy betyds gereed vir skool?

      “Dit is elke oggend ’n stryd. Dit sal hom ure neem net om sy sokkies aan te trek as ek hom nie aanjaag of dreig nie. So gaan dit met tande borsel, ontbyt eet en alles wat hy moet doen. Ons is elke oggend laat.”

      Doen sy gereeld en getrou haar huiswerk?

      “Huiswerktyd is die ergste in ons huishouding. Dit duur ’n ewigheid om aan die gang te kom en dan eindig dit in ’n huilery. En alles is alewig weg en deurmekaar.”

      Hoe lyk sy toetspunte oor die algemeen?

      “Beroerd. Soms weet ek voor my siel hy ken sy werk. Wanneer die toetspunte huis toe kom, is dit egter ’n ander storie.”

      “Soms lyk die punte uitstekend en ander kere baie swak.”

      Kan sy alleen sit en huiswerk doen?

      “Glad nie. As ek my rug draai om iets te doen en terugkom, is sy nie eens meer by die tafel nie. Soms, wanneer ek haar die dood voor oë sweer om te bly sit en werk, bly sy wel sit. Wanneer ek ’n halfuur later terugkom, het sy nog niks gedoen nie.”

      Wat was jou intuïtiewe gevoel oor jou kind se intellektuele vermoë van kleintyd af?

      “Dit is wat ek nie kan verstaan nie. Almal het altyd opgemerk dat sy so vlug van begrip en wakker is. Dit was vir ons ’n groot skok toe die eerste skoolrapport kom.”