Helena Bester

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes


Скачать книгу

opstaan, terwyl die volwasse lyer wel sal bly sit, maar ongemak beleef.

      Ander tipiese eienskappe van ADHD-lyers

      Sleuteleienskappe van ADHD-lyers aan die hand van die DSM-5-kriteria vir die sindroom kan soos volg opgesom word:

      •is nalatig

      •aandag dwaal

      •luister nie

      •voltooi nie opdragte nie

      •is ongeorganiseerd

      •vermy inspanning

      •verloor dinge

      •is aandagafleibaar

      •is vergeetagtig

      •is vroetelrig

      •sukkel om stil te sit

      •is fisiek aktief

      •is gedurig aan die gang

      •praat baie

      •vind dit moeilik om rustig te wees

      •antwoord vinnig

      •wag nie beurt af nie

      •onderbreek ander.

      Ek wil stilstaan by ’n paar ander gedragseienskappe wat dikwels by ADHD-lyers waargeneem word.

      Impulsiwiteit

      Die impulsiwiteit wat met ADHD geassosieer word, word myns insiens nie duidelik genoeg in die DSM-5-kriteria uitgewys nie.

      Ek hoor dikwels baie vermaaklike stories oor kinders met ADHD se impulsiwiteit en verkneukel my stilweg in hoe hulle spontane eerlikheid enige pretensie blootstel. Hulle sal byvoorbeeld sonder om te blik of te bloos kommentaar lewer oor die braaivleis wat middagete sou wees en duidelik nie voor sononder gereed gaan wees nie. Almal is honger en geïrriteerd maar bly ordentlikheidshalwe stil. Jaco sê egter prontuit hoe hy voel sodra hy die eerste hongerpyn beleef. Hy bedoel nie om oom Bertus, wat vyf keer die vuur laat doodgaan het, se eer te krenk nie. Hy is glad nie bewus van die vroue wat die ongemak probeer toesmeer nie. Sodra daar dan ’n doodse stilte ontstaan oor die sonde wat die kind nou weer gepleeg het (om die ding te sê soos dit is!), sal so ’n kind net sê: “Oeps!”

      Hulle praat sonder om te dink. Hulle bedoel nie om enigeen te na te kom nie. Hulle is nie “aspris” nie. Hulle is nie soos sommige kinders wat onderlangs sal konkel en moeilikheid vir ander orkestreer nie. Hulle sê en doen ’n ding reguit. ’n Gedagte is nog skaars in hulle kop of dit is uit by hulle mond. Nodeloos om te sê – hulle is nie goed met geheime bewaar nie.

      Eerlikheid gaan byna vanselfsprekend gepaard met impulsiwiteit. Oor die mooi eienskappe van hierdie kinders en volwassenes skryf ek in hoofstuk 12 in ’n meer ernstige trant. Ons fokus nou ter wille van volledigheid en struktuur op die ander gedragseienskappe wat dikwels met ADHD verbind word.

      Ongeorganiseerdheid

      Almal maak gedurig vir ADHD-kinders afskrifte van die afskrifte wat hulle verloor het. Om vas te stel waaroor hulle nou eintlik toets skryf en om daardie inligting op een plek bymekaar te kry is ’n kuns. Wanneer jy almal wild en wakker gebel het, die apteek se faksmasjien en die naaste fotokopieermasjien ingespan het om te help en alles is gereed – dan, o gaats – weg is die kind.

      Wanneer die volwasse ADHD-lyer ’n inkopielysie moet opstel, drie telefoonoproepe moet maak en iemand moet ontvang wat onverwags opdaag, is daar chaos in sy kop. Meestal sal hy hiperfokus op een van daardie aktiwiteite (of selfs iets heeltemal anders), en wanneer dit dan neusie verby is, besef dat daar nou negatiewe gevolge is wat gedra moet word. Die skuld word dan dikwels op die ontydige buurman – of wie of wat ook al – geplaas.

      As ons nie die humor raaksien nie – ma of pa, juffrou of meneer, terapeut – dan gaan ons gedaan anderkant uitkom. Die beeld wat by my opkom, is van ’n Tom-en-Jerry-strokiesprent. Ou Tom se tong hang uit, die skouers hang, die hare staan penorent asof hy ’n elektriese skok weg het – en Jerry dartel ligvoets oor ’n heuwel weg op pad na ’n volgende avontuur, met staccato-musiek op die agtergrond.

      Gebondenheid aan die konkrete

      Kinders met ADHD (maar selfs ook die volwasse lyers) is oor die algemeen ongelooflik gebonde aan die konkrete in hulle denke. ’n Gevolg van hierdie konkreetgebondenheid is dat hulle werklik sukkel om opsommings te maak. Probeer ’n slag self ’n deel van die inhoud van ’n leerarea opsom wanneer jy en jou kind weer met skoolwerk spartel. Jy sal agterkom hoeveel abstrakte denkprosesse daarby betrokke is. Help jou kind dus daarmee of, indien nodig, doen dit selfs in die geheel vir hom. “Maar hy moet mos verantwoordelikheid leer,” sê juffrou C en Ouma. Die waarheid is dat jy net soveel energie en tyd het en dat daar soms belangriker sake is wat jou aandag vereis.

      Jy het waarskynlik ook reeds agtergekom dat jou kind soms net nie ’n grappie kan snap nie. Ander kere verbaas sy weer almal met haar humorsin. Dit wil voorkom asof grappe van ’n meer abstrakte aard nie deur kinders – en dikwels ook nie deur volwassenes – met ADHD gesnap word nie. Omdat hulle so konkreet-gebonde is, interpreteer hulle dinge dikwels absoluut letterlik.

      Op ’n dag gee ek vir ’n kind ’n aktiwiteit wat hy met inkleurkryte moet voltooi. Philip is nege jaar oud. Ek vra hom om ’n rooi kryt te kies vir die volgende patroon. Hy grawe in die roomysbak vol kryte en vis ’n baie kort enetjie – omtrent twee sentimeter lank – uit. Ek sê toe iets soos: “Ek sien jy kies toe die langste een.” Baie ernstig sê Philip: “Is nie, tannie, kyk,” en hy pak summier twintig of wat ellelange rooi kryte op die werktafel uit.

      Kinders met ADHD word dikwels verkleineer of gespot omdat hulle dinge so letterlik opneem. ’n Ouer broer of suster sal hulle selfs voor vriende iets toesnou soos: “Verskoon my broer, hy’s ’n bietjie dof.”

      Nog ’n gevolg van hulle konkreet-gebondenheid is dat hulle met sekere afdelings van wiskunde – spesifiek woordsomme – sukkel. Met ander dele gaan dit gewoonlik goed. Party van die kinders wat na my vir terapie kom, is selfs briljant in wiskunde. Kinders met ADHD is ook geneig om met die interpretasie van begripsleesstukke te sukkel. Hoewel hulle die feitevrae korrek kan beantwoord, lol dit as dit by die insigvrae kom.

      Rigiditeit

      Kinders met ADHD is dikwels rigied en hou nie van ontwrigting nie. ’n Onverwagte verandering in hulle roetine – enigiets onvoorspelbaars – kan hulle baie onseker en angstig laat voel.

      Drikus, agt jaar oud, se hele dag is ontwrig toe sy oupa hom by die skool moes gaan haal. Gewoonlik pik sy ouma hom by ’n spesifieke hek op. Maar dié dag sou sy oupa hom oplaai, en wel by ’n ander hek omdat dit die enigste is wat hy ken. Hy sou ook nie voor twee-uur daar kon wees nie. Deeglike reëlings is getref, maar Drikus kon dié dag glad nie konsentreer nie. Toe sy juffrou soos afgespreek saam met hom na die punt stap waar hy vyftien minute vir sy oupa sou moes wag, het hy hartstogtelik begin huil. Hy was verward en angstig. Toe daar niemand by die hek is nie, het hy na die gewone hek gehardloop, daar gaan sit en verseg om na rede te luister. Hy was bang dat sy oupa sou wegry as hy nie op die gewone plek wag nie.

      Nog ’n uiterste geval is dié van die tienjarige Barend, ’n kranige rugby- en krieketspeler wat gereeld op sportkampe gaan. Sy ouers moet vooraf die volledige program by die organiseerders bekom sodat hulle Barend na al die eetplekke kan neem wat hulle gaan besoek. So kan Barend vooraf die spyskaart bestudeer en sal hy weet wat om te bestel. Met enige onverwagte afwyking van die plan ervaar Barend byna ondraaglike angs.

      Swak taalvaardighede

      Kinders sowel as volwassenes met ADHD sukkel dikwels om hulleself behoorlik uit te druk. Dit kan enersyds moeilik wees om te hóór wat hulle sê, en andersyds om te verstáán. Hulle mompel dikwels, en praat vinnig of deurmekaar. Hulle vleg ook graag verskillende stories ineen. Dit kan ’n kuns wees