Helena Bester

Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes


Скачать книгу

vermoed dat breinbeserings ADHD veroorsaak. Daar is later vasgestel dat slegs tussen vyf en tien persent van ADHD-lyers moontlik ’n breinbesering tydens swangerskap of geboorte opgedoen het. Hedendaagse navorsers is dit eens dat ADHD meestal nie deur breinbeserings veroorsaak word nie. ADHD word ook nie met kognitiewe gestremdheid (’n lae intellektuele vermoë) verbind nie.

      Studies wat met sjimpansees en ander primate gedoen is (dr. Russell A. Barkley, 1995), het interessante resultate opgelewer. Wanneer die frontale dele van die brein van die primate verander of beseer is, het hulle gedrag getoon wat met simptome van ADHD ooreenstem. Die diere is meer geneig tot hiperaktiwiteit en ondervind probleme met konsentrasie en impulsbeheer. Talle ander studies is gedoen wat bevestig dat die frontale deel van die brein by ADHD-lyers onderontwikkel is. Een van die algemeenste behandelings van ADHD in neuroterugvoer-terapie behels juis die inhibering van die aktiwiteit van oormatig stadige breingolwe (theta-golwe) wat dikwels by onderontwikkelde frontale lobbe voorkom.

      Baie ADHD-lyers kom sosiaal onvolwasse voor. Toetse deur neuroloë toon dikwels dat die elektriese aktiwiteit in die brein van ADHD-lyers soos dié van ’n jonger persoon lyk. In neuroterugvoer-terapie word hierdie verskynsel doeltreffend behandel deur byvoorbeeld vinniger breingolwe te versterk en stadiger breingolwe te inhibeer. Evaluasies toon ook dikwels dat vertraagde motoriese koördinasie by ADHD-lyers voorkom.

      Alhoewel talle studies al gedoen is om vas te stel hoe die struktuur en anatomie van ADHD-lyers se brein van dié van nielyers verskil, is daar (sover my kennis strek) nog geen uitsluitsel verkry nie. Die breingolwe oor die frontale dele blyk wel stadiger te wees.

      Die meeste navorsers is dit eens dat daar ’n biochemiese wanbalans in die brein van ADHD-lyers is en dat dit in die meeste gevalle (80%) oorgeërf word. Oor wat die wanbalans veroorsaak, is daar nie uitsluitsel nie.

      Die biochemiese wanbalans veroorsaak dat daar gebrekkige stimulasie van die brein is in die dele wat die persoon se konsentrasievermoë en impulsbeheer beheer. Volgens dr. John F. Taylor (1997) onderproduseer die brein van die ADHD-lyer die neuro-oordragstowwe dopamien (wat wakkerheid en motivering beheer), noradrenalien (verantwoordelik vir konsentrasie en geheue) en serotonien (die goedvoelstof), sodat daar moontlik ’n tekort aan hierdie stowwe in die persoon se brein is.

      Veral die tekort aan dopamien geniet die laaste jare aandag. Die dopamienstruktuur in die prefrontale korteks funksioneer nie na wense by ADHD-lyers nie, en stimulantmedikasie soos Ritalin is juis daarop gemik om die vrystelling van dopamien aan te help. Dwelmmiddels soos kokaïen en metamfetamien (ook bekend as “tik” of “meth”) het dieselfde uitwerking. Die ADHD-lyer toon soms stimulasiesoekende gedrag as gevolg daarvan dat opwinding ’n uitwerking op die dopamienoordrag in die brein het. Dit is waarom ADHD-lyers soms vir ure aaneen rekenaarspeletjies kan speel, maar nie gefokus kan bly om ’n boek te lees nie. Die aksie op die rekenaarskerm het ’n uitwerking op dopamienoordrag. Dr. Rykie Liebenberg, ’n psigiater wat in ADHD spesialiseer, glo dat ADHD-lyers verslaaf kan raak aan die dopamienreaksie wat tydens rekenaarspeletjies in hulle brein plaasvind.

      Onlangse navorsing wat deur die Howard Hughes- mediese instituut aan die Duke-universiteit in Durham, Noord-Carolina, in die VSA gedoen is, dui daarop dat stimulantmedikasie moontlik ook die seretonienvlakke beïnvloed. Niestimulantmedikasie soos Strattera beïnvloed die noradrenalienoordrag.

      Neuro-oordragstowwe speel ’n belangrike rol in die proses waardeur inligting vanaf een breinsel na ’n volgende oorgedra word. Hierdie chemiese stowwe word in die ruimte tussen twee breinselle afgeskei en gedeeltelik deur die volgende sel opgeneem. Die oortollige molekules word deur ensieme vernietig sodat die neurone nie aanhou om boodskappe te stuur nie. Hierdie proses word deur Ritalin en ander stimulante beïnvloed. (Ons kyk in hoofstuk 8 in nader besonderhede hierna, asook na die vraag of die vervaardiging van neuro-oordragstowwe deur dieet bevorder of verander kan word.)

      By die ongeveer twintig persent van ADHD-lyers wat die versteuring nie oorgeërf het nie, is ander faktore betrokke. Verskeie navorsers het ’n verband tussen die ma se stresvlakke tydens swangerskap en die voorkoms van ADHD onder kinders gevind. Prof. André Venter, hoof van die departement pediatrie en kindergesondheid aan die Universiteit van die Vrystaat, sê in ’n artikel in die tydskrif Sarie dat daar ’n hoër voorkoms van ADHD is onder kinders wat tydens oorloë gebore is omdat die stresvlakke van swanger vroue dan hoër is. Dit het ’n hoër vlak van die streshormoon kortisol in die bloed van die ma tot gevolg, wat die ontwikkeling van die frontale lobbe van die baba se brein beïnvloed. Volgens prof. Venter tel MIV en meningitis of enigiets anders wat inflammasie in die brein veroorsaak, ook onder die niegenetiese oorsake van ADHD.

      Naby-verdrinking of -versmoring of ’n breinbesering wat byvoorbeeld in ’n motorongeluk of selfs weens ’n hou teen die kop tydens spel opgedoen is, kan tot die simptome van ADHD lei. Breinskade, veral weens ’n suurstoftekort, kan ook maklik tydens geboorte opgedoen word. ADHD-simptome kom veral voor wanneer die skade aan die frontale lobbe van die serebrale korteks opgedoen is.

      Hoewel omgewingsfaktore nie ADHD kan veroorsaak nie, kan dit wel die simptome daarvan erger laat vertoon. ’n Kind by wie daar byvoorbeeld ’n geneigdheid tot hiperaktiwiteit en impulsiwiteit bestaan, kan in ’n geordende, rustige milieu makliker leer om haar gedrag te reguleer. Indien daar egter ’n hiperaktiewe vaderfiguur in die huishouding is wat die kind gereeld tot aktiewe gedrag stimuleer in situasies waar rustige gedrag meer gepas is, sal daardie kind se hiperaktiewe gedragspatrone versterk word en meer prominent en problematies wees. Die bestuur van die gedrag van ADHD-lyers in die huismilieu sowel as in die skoolomgewing is dus baie belangrik en word verderaan in hierdie boek bespreek.

      Word meer seuns as meisies met ADHD gediagnoseer?

      Daar word wel meer seuns as meisies met ADHD gediagnoseer, alhoewel ek vermoed dat meer meisies wat lyers is, nie gediagnoseer word nie.

      Vroeër jare is algemeen geglo dat daar ongeveer agt seuns met ADHD is vir elke meisie. Daardie verhouding het later tot 6 tot 1 gekrimp en word deesdae op 3 tot 1 geraam. Daar is dus drie keer soveel seuns met ADHD as meisies. Die voorkoms van ADHD onder volwassenes is eers redelik onlangs nagevors. Daar is heelwat meer pa’s wat met ADHD gediagnoseer is as wat daar ADHD-ma’s is. Omdat daar soveel ongediagnoseerde ADHD-volwassenes is, is die beskikbare syfers nie ’n akkurate weerspieëling van die ware toedrag van sake nie. In die DSM-5 word ADHD by volwassenes in die meeste kulture op 2,5% geraam.

      Op watter ouderdom word ADHD gediagnoseer?

      Die simptome begin gewoonlik teen drie- of vierjarige ouderdom hulle verskyning maak, alhoewel die diagnose meestal eers heelwat later plaasvind. In my ervaring was daar die afgelope sowat tien jaar ’n drastiese toename in diagnoses onder kinders in graad R. Dit gebeur egter dikwels dat die diagnose eers teen graad 3 plaasvind. Ek kom ook steeds talle hoërskoolleerders asook volwassenes met ADHD teë wat nooit gediagnoseer is nie. My gevoel is dat ’n diagnose voor sesjarige ouderdom onbetroubaar is, aangesien ADHD-simptome dan nog moeilik onderskeibaar van doodgewone ouderdomstoepaslike gedrag is. In ekstreme gevalle is ’n vroeër diagnose wel moontlik.

      Wat is die hoofsimptome van ADHD?

      Die drie hoofsimptome is:

      •aandagafleibaarheid

      •hiperaktiwiteit

      •impulsiwiteit.

      Al drie simptome is nie noodwendig by alle ADHD-lyers teenwoordig nie. Ongeveer 85 persent van ADHD-lyers word as die “gekombineerde groep” – waar al drie simptome aanwesig is – gediagnoseer. By adolessente en volwassenes is die hiperaktiwiteitskomponent egter dikwels as “praterigheid” teenwoordig. Hulle hardloop en spring dus nie noodwendig oormatig baie rond nie, maar praat gewoonlik baie. Iets wat ek dikwels by hierdie ouer lyers opmerk, is dat hulle fisieke ongemak, veral in hulle gewrigte, beleef wanneer hulle vir lang tye moet stilsit. Hulle toon ook soms emosionele probleme en perfeksionistiese en/of obsessief-kompulsiewe gedrag.

      Die aanhoudende gevroetel en rusteloosheid wat so dikwels die gekombineerde en hiperaktiewe vorm van ADHD kenmerk, is dalk ook minder opsigtelik