eers ’n duidelike prentjie in sy kop het van hoe ’n goed versorgde tuin lyk. Hy gaan wys vir hom so ’n tuin. Hy som die prentjie vir sy seun op met “groen en skoon”. Hy wys sy seun daarop dat daar benewens die natuurlike kleure nie ander kleure in die netjiese tuin is nie. Hy verduidelik dat skoon beteken dat geen papiere, bene, speelgoed of stokke rondlê nie. Hulle ruim dan saam een helfte van die tuin op. Jong Stephen vergelyk dan die twee helftes en ruim daarna die tweede helfte op.
Hulle gaan dan ’n ooreenkoms aan. Die seun is nou self verantwoordelik vir die opruiming van die tuin. Hy mag sy pa se hulp vra. Twee maal per week sal hulle saam deur die tuin loop vir inspeksie. Vir twee weke rig sy pa hom af met die twee woorde “groen en skoon”. Ná twee weke glo Covey dat sy seun nou self die verantwoordelikheid sal aanvaar en dat hy hom nie langer daagliks hoef te herinner om sy tuinwerk te doen nie. Die beoogde uitkoms het egter nie gerealiseer nie.
Ná nege dae en ’n toenemende chaos in die tuin weerstaan Covey die versoeking om met sy seun te raas en hom te beveel om sy pligte na te kom. Hy nooi sy seun om saam met hom deur die tuin te stap, sodat hulle sy vordering kan evalueer – dit doen hy met ’n vriendelike stemtoon en glimlag.
Toe hulle buite kom, begin die seun se stem bewe en hy sê: “It’s so hard, Dad.” Die pa wil natuurlik weet wat dan nou so moeilik kan wees. Maar in plaas van die verwagte sarkastiese opmerking sê die pa eenvoudig: “Is there anything I can do to help?”
Die deursnee-kind kan nie op sy eie ’n vertrek opruim soos jy dit sou doen nie. Jy moet hom dit leer. Dit verg tyd en geduld. Op die lang duur spaar dit jou wel baie tyd. Dit gaan nóg meer tyd en geduld kos om ’n ADHD-kind “af te rig” om sekere verantwoordelikhede te aanvaar en opdragte doeltreffend uit te voer. Al fokus jy net op een bykomende verantwoordelikheid per jaar, vorder julle. Behalwe dat jy op die lang duur tyd terugwen, begin jy op ’n positiewe wyse ’n verantwoordelikheidsin by jou kind aanwakker. Respek en vertroue is baie sterk motivering. Maak gebruik daarvan.
Dit bring ons by die karaktertrekke wat met ADHD verbind word wat meer met emosionele ontwikkeling verband hou.
Onverantwoordelikheid
’n Swak ontwikkelde verantwoordelikheidsin word dikwels met ADHD-lyers verbind. Die pligsbesef wat óf laat óf dikwels net gedeeltelik ontwikkel, bekommer my meer as enige van die ander simptome en geassosieerde eienskappe van ADHD. Dit is juis hierdie aspek van die gedrag van ADHD-lyers wat baie spanning in die huishouding veroorsaak. Ek glo nietemin dat hierdie kinders wel stelselmatig geleer kan word om verantwoordelikheid te aanvaar. Die proses moet stadig verloop – soos teen Kilimandjaro uit. Die voorbeeld van Stephen Covey wat sy seun leer om die tuin op te ruim, het ek met ’n doel gekies. Daaruit blyk duidelik dat die manier waarop Covey sy seun stap vir stap leer om ’n taak te voltooi, ’n sin vir verantwoordelikheid kweek. Jy hoef nie elke negatiewe simptoom of eienskap van jou kind afsonderlik te takel nie. Die manier waarop jy met jou kind kommunikeer, kan dikwels die meeste probleme doeltreffend takel. Die kernbeginsels vir kommunikasie met ADHD-lyers word later bespreek.
Jy as ouer hoor waarskynlik gereeld kritiek aan oor jou kind se gebrekkige sin vir verantwoordelikheid. As onderwyser wonder jy miskien waar om die streep te trek. Jy weet reeds ’n ADHD-kind verg ekstra hulp en ondersteuning. Die vraag is: Hoeveel vergunnings moet jy toelaat en wanneer kan jy begin verwag dat die kind self verantwoordelikheid aanvaar? Ek vind die volgende riglyne sinvol in hierdie verband:
•Voeg take waarvoor die kind verantwoordelik is, een vir een by.
•Neem die kind stadig en stap vir stap deur die proses om die nuwe taak aan te leer.
•Onthou dat ADHD-kinders ’n agterstand van tot 36 maande (drie jaar) in hulle emosionele ontwikkeling of, meer spesifiek, in hulle gepresenteerde gedrag toon. Die ADHD-seun in graad 9 se gedrag lyk dus soos die gemiddelde graad 6-seun se gedrag. Dit gee jou ’n idee van die optrede wat jy van ’n ADHD-kind kan verwag.
’n Gebrekkige sin vir verantwoordelikheid hou ernstige implikasies vir ’n mens se hele lewe in. Dit is noodwendig so dat jou beroepslewe, verhoudings en sosiale funksionering negatief deur onverantwoordelike optrede beïnvloed word. Daar is ontstellende syfers oor ADHD-lyers wat die ronde doen, soos dat 32-40% van hulle nie hulle skoolloopbaan voltooi nie en dat 80% onderpresteer, soos reeds genoem. Net so skrikwekkend is studies wat wys dat 40% van tienerswangerskappe onder ADHD-lyers voorkom, dat 50-70% van hulle by antisosiale aktiwiteite betrokke raak en dat die padongeluksyfer hoër onder ADHD-lyers is.
Daar is nog sulke syfers. Ek verkies om te fokus op die feit dat 60-68% persent van ADHD-kinders wel hulle skoolloopbaan voltooi. Ja, hierdie kinders het ’n geneigdheid tot onverantwoordelike en roekelose gedrag. Wees bewus daarvan en wees ook realisties daaroor. Toegewings moet gemaak en spesiale moeite gedoen word met die aanleer van verantwoordelikheid. Hou in die proses die onderliggende beginsel van die gedig “Kinders leer soos hulle leef” wat jy vroeër gelees het, in gedagte.
Soms beny ons dalk selfs kinders met ADHD die vryheid wat hulle ervaar. Maar dikwels dra die gedrag van volwassenes by tot hulle onverantwoordelikheid – soos die volgende gevallestudie toon.
Lourens is ’n ADHD-lyer in graad 9. In sy geval is dit inderdaad aardjie na sy vaartjie. Hy is ’n hoogs intelligente seun. Volgens die IK-toets wat hy afgelê het, is sy verbale sowel as sy nieverbale vermoëns superieur. Hy is dus intelligenter as minstens 91% van veertienjarige seuns in Suid-Afrika. Sy prestasie reflekteer dit glad nie. Ek en sy ma maak in oorleg met sy skool aanpassings en spook en spartel om Lourens se punte te laat verbeter. ’n Tutor word aangestel om smiddae met sy huiswerk te help. Sy ma moet elke dag hot en haar bel en organiseer om alles gekoördineer te kry. Intussen begin die tutor (wat ook talle ander verantwoordelikhede het) geduld verloor en haar frustrasie hoop op.
Op ’n dag kom die skool vroeër uit. ’n Nuwe rolprent draai en Pa besluit hy en sy seun gaan ’n bietjie bond. Ma stres, want die tutor arriveer ’n uur nadat die twee uit die fliek kom. “Daar is niks om oor bekommerd te wees nie,” sê Pa, “dis oorgenoeg tyd.” Hy sal toesien dat die kind betyds is. Hy weet mos hoe belangrik dit is dat hy vir die volgende dag se toets leer. So gaan fliek hulle. Die fliek kom uit. Pa en seun gaan drink gou ’n koeldrank. Dit was nou ’n fliek so in hulle kraal. Hulle praat dat die biesies bewe. Die selfone is natuurlik nog afgeskakel. Die tutor kom. Ma bel en ry op en af. Die tutor gaan. Pa en seun geniet hulle besprekingsessie terdeë en kom heelwat later gelukkig en tevrede by die huis aan.
Swak deursettingsvermoë
Energie om dinge aan te pak het ADHD-lyers gewoonlik oorgenoeg van. Dit is die dissipline en vermoë om dit deur te voer wat ontbreek. In die werkomgewing werk dit gewoonlik goed om sulke mense as inisieerders aan te stel, terwyl ander werknemers die dikwels baie kreatiewe idees raakvang en deurvoer.
’n Nuwe projek, speletjie of taak word dikwels gretig en flink aangepak, maar sodra dit nie meer ’n uitdaging is nie of as langdradig en omslagtig beleef word, taan die belangstelling. Die swak deursettingsvermoë hou met ’n gebrekkige verantwoordelikheidsin en die vermyding van inspanning verband. Dit is belangrik dat hierdie aspekte vanaf ’n vroeë ouderdom in die ouerhuis aandag geniet. Die kind behoort byvoorbeeld huishoudelike take te hê wat sy elke dag moet afhandel. Dit is ook belangrik dat die kind deur die ouer se voorbeeld leer om take deur te voer.
Ongeduld
Nog ’n eienskap van ADHD-lyers is dat hulle meestal baie ongeduldig is. Hulle hou nie daarvan om in ’n tou te staan of hulle beurt af te wag nie. Bordspeletjies waaraan die hele gesin kan deelneem, is ’n goeie manier om hierdie probleem te takel. Ongeduld by ADHD-lyers kan later baie spanning in hulle verhoudings veroorsaak.
Woedeuitbarstings
Woedeuitbarstings kom nogal baie by jonger ADHD-kinders voor – en ook by sommige volwasse lyers. Hulle emosies ry dikwels wipplank. Sommige studies dui daarop dat tot 90% van ADHD-lyers woedeuitbarstings kry. Die een oomblik is hulle woedend kwaad vir jou en die volgende oomblik val hulle jou om die hals – woede vergete.