Скачать книгу

let egter dikwels op dat die kinders baie doeltreffend onder mekaar kommunikeer. By my werkskole en speletjies- of swemdae by my praktyk aan die einde van skoolkwartale het ek dikwels groepe van twintig of meer kinders met ADHD bymekaar. Dit lyk na ’n chaos, maar die kinders werk en speel te heerlik saam en verstaan mekaar baie goed. Vroeër jare wou ek gereeld ingryp om die reëls te verduidelik. Hulle is egter heeltemal in staat om dit self te doen, al is dit in ’n taal wat bitter moeilik is om te volg. Almal word betrek en niemand word uitgestoot of verwerp nie.

      Oorhaastigheid

      ADHD-lyers is geneig om opdragte en ander inligting verkeerd te interpreteer omdat hulle oorhaastig daarop reageer. Dit geld kinders sowel as volwassenes. Hulle het ook dikwels swak ouditiewe prosesseringsvaardighede en verstaan dus nie altyd wat hulle hoor nie (die kere dat hulle wel luister!). Tog kan dit ook voorkom asof hulle niks gehoor of verstaan het van wat gesê is nie, en dan is ’n mens verbaas oor wat hulle wel ingeneem het. Job se geduld is soms nodig om ’n kind te help voorberei vir ’n toets. Nadat die ma elke punt in die boek opgesom het en drie keer saam met die kind deur al die werk is, is sy dikwels oortuig daarvan dat hy nie die vaagste benul het van die feite waaroor sy nou self toets kan skryf nie. En dan, net voordat sy gereed is om die hare uit die kop te trek, rammel Gert die feite doodluiters volledig en akkuraat af.

      Soms internaliseer die kinders baie meer van wat hulle hoor as wat ons dink. Ander kere kan hulle weer die eenvoudigste opdrag heeltemal verkeerd interpreteer.

      Nalatigheid

      Nalatige foute is nog ’n gevolg van ADHD-lyers se oorhaastigheid. Ma gaan Jasper se antwoordstel saam met hom deur. Al het hy die werk baie goed geken, behaal hy ’n karige drie uit twintig. Hy het die vrae nie behoorlik deurgelees nie, ’n hele bladsy oorgeslaan, en sy antwoordstel is verkeerd genommer.

      Onderprestasie

      Kinders met ADHD vaar dikwels akademies swak en glad nie in ooreenstemming met hulle vermoë nie. Hulle is dus meestal onderpresteerders. Kenners glo tot 80 persent van ADHD-kinders presteer nie na hulle vermoë nie. Studente aan universiteite en ander tersiêre instellings wat aan die sindroom ly, se prestasie word ook negatief beïnvloed.

      Fisieke kenmerke

      Die meeste navorsers is dit eens dat die volgende fisieke eienskappe algemeen by ADHD-lyers voorkom:

      •kieskeurige óf vraatsige eetgewoontes

      •allergieë (die gene wat allergieë en ADHD oordra, is volgens prof. André Venter van die Universiteit van die Vrystaat naby mekaar op dieselfde chromosoom geleë)

      •slaapprobleme

      •koördinasieprobleme (kom lomp voor, het ’n swak balans en slordige handskrif).

      Ek wei nie te veel uit oor die fisieke kenmerke van ADHD-lyers nie, omdat daar in dié verband nie duidelike patrone na vore gekom het met die kinders met wie ek deur die jare gewerk het nie. Ek kom byvoorbeeld minder lyers met slaapprobleme teë as dié wat slaap sodra die kop die kussing tref.

      Sommige ADHD-lyers is kieskeurige eters en ander nie. Baie vergeet om te eet as hulle nie daaraan herinner word nie. Wanneer hulle dan honger word, is hulle verskriklik honger en moet hulle onmiddellik eet.

      Wat koördinasie betref, het die meeste ADHD-tieners waarmee ek te doen kry, ’n voorliefde vir skaatsplankry nes ander tieners. Ek het dit ook al probeer – ’n mens moet nogal rats op jou voete wees om dit reg te kry! Ek glo wel dit is oor die algemeen waar dat ADHD-lyers ’n probleem met fynspierkoördinasie het. Dit strook met my ervaring dat hulle soos gereïnkarneerde krappe skryf! Maar hulle handskrif verbeter wel beduidend wanneer hulle op medikasie is, en baie teken pragtig. In daardie gevalle (en ek vermoed in die meeste gevalle) is die slordige handskrif nie die gevolg van swak koördinasie nie, maar iets anders.

      Swak beplanningsvermoë

      ADHD-lyers sukkel om vooruit te beplan. Die lewe van menige ouer sal minder stresvol wees indien hulle hierdie feit aanvaar. As jy vandag Daniël se hele tas uitpak en netjies in vakkies met plakkers en al organiseer, beteken dit nie dat jou werk in dié verband nou vir die volgende jaar afgehandel is nie. Volgende week sal sy tas weer vol los papiere wees. Woensdag se huiswerk sal weer by Sondag s’n (of glad nie) ingeskryf wees.

      Volwasse ADHD-lyers sal soms supernetjies en dan weer superslordig wees. Vanweë ’n perfeksionistiese karaktertrek wat dikwels by hierdie mense teenwoordig is, sal hulle buitengewoon lank neem om hulle lessenaar perfek te orden, maar ’n paar dae later is dit weer ’n volslae deurmekaarspul.

      In die geval van ADHD-kinders loon dit tog die moeite om gereeld hulp te verleen met organisering, strukturering en ander vaardighede wat hulle nog nie bemeester het nie.

      ’n Gedig deur die Amerikaanse gesinsraadgewer Dorothy Law Nolte, hier in Afrikaans vertaal deur Nonna Weideman, verwoord watter belangrike dinge kinders uit ’n ouer se voorbeeld leer:

      Kinders leer soos hulle leef

      As kinders met kritiek saamleef, leer hulle veroordeel.

      As kinders met vyandigheid saamleef, leer hulle baklei.

      As kinders met vrees saamleef, leer hulle om bang te wees.

      As kinders met bejammering saamleef, leer hulle om hulleself te bejammer.

      As kinders met spot saamleef, leer hulle om skaam te wees.

      As kinders met jaloesie saamleef, leer hulle wat afguns is.

      As kinders met skande saamleef, leer hulle om skuldig te voel.

      As kinders met verdraagsaamheid saamleef, leer hulle om geduld te hê.

      As kinders met aanmoediging saamleef, leer hulle selfvertroue.

      As kinders met aanprysing saamleef, leer hulle om te waardeer.

      As kinders met goedkeuring saamleef, leer hulle om van hulleself te hou.

      As kinders met aanvaarding saamleef, leer hulle om liefde om hulle te vind.

      As kinders met erkenning saamleef, leer hulle om ’n doelwit te hê.

      As kinders met mededeelsaamheid saamleef, leer hulle om vrygewig te wees.

      As kinders met eerlikheid en regverdigheid saamleef, leer hulle wat waarheid en geregtigheid is.

      As kinders met sekuriteit saamleef, leer hulle om vertroue in hulleself en in dié om hulle te hê.

      As kinders met vriendelikheid saamleef, leer hulle dat die wêreld ’n lekker plek is om in te woon.

      As kinders met kalmte van gees saamleef, leer hulle om gemoedsrus te hê.

      Waarmee leef jou kinders saam?

      Soos almal leer ADHD-kinders hulle waardes en gewoontes uit hulle omgewing – veral hulle ouerhuis – aan. Die positiewe dinge in die gedig wat ons by hulle wil tuisbring, is soveel belangriker as byvoorbeeld ’n mooi handskrif of ’n netjiese kas. Die beginsel bly egter dieselfde. Indien ’n ADHD-kind in ’n geordende huis grootword, is sy lessenaar by sy werkplek vyftien jaar later georden. Dit is belangrik om te onthou dat sekere van die simptome en probleme wat met ADHD gepaardgaan, vaardighede behels wat wel aangeleer kan word.

      Een hiervan hou verband met die vermoë om te beplan en die deeglikheid waarmee ’n taak aangepak en uitgevoer word. Jy weet hoe die proses verloop as jy jou kind vra om die motor te was of om gou die leefkamer op te ruim of die gras te sny. Indien jy jou kind eers leer hoe om die opdrag uit te voer, soos Stephen Covey in The Seven Habits of Highly Effective People (1989) sy seun leer hoe om die tuin te versorg, kan die uitkoms anders lyk. Covey wys verskeie beginsels uit wat van onskatbare waarde is vir die benadering van ’n kind met ADHD. Ons sal later meer indringend daarna kyk. Vir eers wil ek illustreer hoe ’n ADHD-kind, net soos enige ander