“Natuurlik. Ek verstaan,” sê Magriet kalmerend. Haar keel voel skielik dik en sy neem die een skraal hand in hare. “Daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Rus nou goed en raak gou gesond.”
Die blou oë kyk angstig na haar op. Op daardie oomblik is daar geen teken van die ou selfversekerde Thero nie en dit maak Magriet skielik seer om die afhanklikheid van haar altyd so selfstandige niggie te sien.
“Magriet, dokter Fraser sê dit sal vir ’n paar maande duur. Sal jy …?”
“Natuurlik sal ek hier by jou bly. Ek sê mos daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Ek het dokter Fraser reeds belowe ek sal hier bly.”
Thero kyk haar dankbaar aan. “Dis dierbaar van jou, Magriet. Hy het my gesê ek kan op jou reken. Jy sal my nie in die steek laat nie.”
“O, so?” Magriet se oë rek in ongeloof. “Wanneer was dit?”
“Vanoggend nadat jy uit die kafee uit is en weer vanmiddag gedurende die ondersoek. Hy is ’n wonderlike mens, Magriet. Hy het net … net al my skanse afgebreek met ’n paar woorde.” Sy glimlag skeef. “Ek weet self nie hoe dit gebeur het dat ek sommer alles uitgelap het nie …” Haar stem sterf weg en sy sluit haar oë moeg.
“Moet jou nie daaroor kwel nie, Thero. Dit was die beste ding wat jy kon doen. Dis goed dat jy ’n slag kon uitpraat. Ek is seker alles sal regkom. Jy moet net rus.”
“Moenie nou al gaan nie, Magriet. Bly hier by my. Ek voel so alleen.”
Magriet weet dat dit vir haar iets besonders is om so iets te erken. Hoewel Thero baie sieker lyk as vanoggend, lyk sy terselfdertyd ook kalmer. Emile Fraser is daarvoor verantwoordelik. Hy het die wond oopgesny, gedreineer en ontsmet. Hopelik kom daar ook genesing.
“Ek sal hier by jou sit as jy belowe om nie te praat nie en te probeer slaap.”
Baie later kom Ron Jooste haar daar wegneem nadat sy eers seker gemaak het dat Thero diep en rustig slaap.
Hy neem haar na die kafeetjie om ’n koppie tee te gaan drink. Vanselfsprekend draai hul gesprek om Thero, en Ron sê: “Wat Thero natuurlik die meeste nodig het, is rus. Sy het haar blykbaar nooit die afgelope jare die tyd gegun om uit te rus nie. Daarom is Abendruhe die ideale plek vir haar herstel.”
“Ja, ek besef dit, maar wat van my? Ek is sterk en gesond. Ek is innig jammer vir Thero en natuurlik sal ek help waar ek kan om haar herstel te bevorder, maar ek kan nie maande lank hier ledig sit nie. Ek is nie aan so iets gewoond nie.”
Ron knik begrypend. “Ons kan altyd vir jou ’n werkie hier kry, maar vir eers moet jy al jou aandag aan Thero gee. Jy sal amper soos ’n private verpleegster vir haar moet wees.”
Kort daarna vergesel hy haar tot by haar kamerdeur. “Ek is bly dat Thero daarop aangedring het dat jy hier moet bly, Magriet. ’n Nuwe gesig is altyd welkom op Abendruhe.”
Sy glimlag na hom op. Sy begin al meer van hierdie jong dokter hou en is bly om te weet dat sy in die maande wat kom darem een vriend op Abendruhe sal hê.
“En moenie so bekommerd wees nie, meisie. Thero gaan weer gesond word – dit belowe ek jou.”
Hy sê dit met soveel drif dat Magriet net glimlag. Sy weet Ron sal haar niggie uit die kake van die dood self gaan uithaal, as dit menslik moontlik is.
Toe sy by haar kamer ingaan, wag ’n verrassing op haar. ’n Bos pragtige rose lê op haar spieëltafel. Sy kan ’n uitroep nie onderdruk nie – en dan sien sy die kaartjie: Jammer oor die dorings – maar dis ongelukkig net so deel van die roos as die roos self – E.F.
Sy herlees die paar woorde in die netjiese handskrif en moet teen haar sin glimlag. Emile Fraser uitgeknip! Sy moes kon weet dat hy haar nooit reguit om verskoning sou vra nie. O, nee, nie dokter Fraser nie! Tog is sy verbaas dat hy die rose gestuur het. En sy is nog meer verbaas daaroor dat sy hom so maklik kan vergewe.
Terwyl sy die rose na die beste van haar vermoë in haar waterglas rangskik, glimlag sy onwillekeurig terwyl sy haar hand vinnig wegruk toe ’n doring haar vel haak. Jammer oor die dorings! Met ander woorde, Emile Fraser is wat hy is en jy moet hom maar liewer met roos én dorings aanvaar, anders gaan jy dalk net met die dorings kennis maak en nooit die roos ontdek nie.
Jy is ’n uitgeslape kalant, dokter Emile Fraser, maar jy moenie dink jy gaan my so maklik ’n bewonderaar van jou maak nie, dink Magriet. Jou rose is pragtig, hoewel vol dorings, maar dit sal bitter onverstandig van my wees om te veel in hierdie gebaar van jou te soek. Dit sal op ’n fiasko uitloop as ek, soos al die ander, op jou verlief gaan raak, nie waar nie? Selfs Thero dink jy is ’n wonderlike man, al het jy haar aan die begin so onbeskof behandel en haar beledig deur nie deur haar skoonheid getref te word nie. O, nee, ek sal in my pasoppens wees vir jou, ou kluisenaar. Spaar maar jou rose vir jou ander dweepsieke volgelinge. Ek is nie beïndruk nie.
Maar die laaste ding wat sy doen toe sy ’n rukkie later die bedlamp afskakel, is om nog ’n keer versigtig aan die roosblare te raak … en te glimlag.
Op daardie oomblik sak dokter Fraser in sy geliefkoosde leunstoel in sy studeerkamer neer. Dit was ’n vermoeiende dag. Sy lang vingers soek instinktief na die ore van die hond aan sy voete. Baron kyk op na sy baas, maar sien sommer sy gedagtes is ver weg en hy lê sugtend, van skone genot om weer sy baas by hom te hê, sy kop oor die een skoen.
Daar verskyn ’n lui glimlag om Emile Fraser se lippe. Die meisietjie laat beslis nie op haar tone trap nie. Hy wonder wat sy van sy “vredesoffer” dink. In elk geval, Magriet Marais gaan ’n paar maande lank hier wees … en daar kan baie in ’n paar maande gebeur – veral op ’n plek soos Abendruhe waar dit so afgesonderd is en jy noodwendig baie in mekaar se geselskap kom. Hy staan lui uit die stoel op. Hy buk af en streel Baron se rug.
“Ons sal wel ’n plan prakseer, oubaas se honne,” sê hy sag en loop dan na sy slaapkamer.
4
In die dae wat volg, neem Magriet se lewe ’n vaste patroon aan. Soggens ná ontbyt gaan stap sy ’n entjie totdat sy seker is dat hulle met Thero klaar is. Van omtrent nege-uur die oggend af tot omtrent twaalfuur gaan sit sy by haar. Dan maak Thero se gortsop en waterige pap hul verskyning. Dit verg natuurlik al Magriet se oorredingsvermoë om haar sover te kry om darem aan die oninteressante kos te proe. Hoewel die grootste gedeelte van die “onsmaaklike brousel”, soos Thero dit bestempel, maar weer terugkeer kombuis toe, slaag Magriet tog daarin om haar ’n paar monde vol te laat sluk – iets waarvoor almal, veral die twee dokters, Magriet baie dankbaar is.
Ná middagete moet Thero weer rus tot omtrent vieruur die middag. Dan is Magriet vry om te doen wat sy wil en hoewel sy hierdie tyd die eerste ruk maklik verwyl met lang wandelinge en interessante boeke, besef sy dat sy iets sal moet vind om haar mee besig te hou.
Om vieruur stap sy weer Thero se kamer binne en bly daar tot ná aandete. Om agtuur word Thero gereed gemaak vir die nag en dan keer Magriet terug na haar eie kamer om haar maar tot slapenstyd besig te hou met naaldwerk of lees. Ron loer dikwels in wanneer hy nie diens doen nie en dan is Magriet innig dankbaar vir sy geselskap. Daar ontwikkel ’n hegte kameraadskap tussen dié twee. Ron weet dat Magriet nie meer as vriendskap van hom verlang nie, en Magriet is heeltemal bewus van die feit dat haar pragtige niggie die jong dokter se hart volkome verower het. Daarom kan hulle mekaar se geselskap ten volle geniet sonder vrees vir dieper komplikasies.
Van dokter Fraser sien Magriet baie min, en sy is bly daaroor. Afgesien van die een keer dat sy hom koelweg vir die rose bedank het, het hulle mekaar nog nie weer van aangesig tot aangesig gesien nie. By daardie geleentheid het hy haar fronsend aangekyk, toe sy wenkbroue effens gelig en haar ewe ernstig verseker dat dit ’n plesier was, en haar geïgnoreer.
Oom Dirk en tant Estelle, Thero se ouers, het, nadat hulle die nuus ontvang het dat hul dogter maande lange behandeling op Abendruhe sal moet ontvang, laat weet dat hulle so gou moontlik self daarheen sou kom. Maar hiervoor het dokter Fraser ’n stokkie gesteek. Hy het hulle meegedeel dat ’n besoek hul dogter in hierdie stadium meer kwaad as