op my is. Ons sal ook nooit op mekaar verlief raak nie.”
“Hoe kan jy so seker wees?”
“Ek is seker. Ek weet sommer net!” sê sy driftig.
Hy lag skielik en druk haar teen hom vas.
“Jy ontsien my gevoelens vanaand darem glad nie, nè? My manlike ego is aan flarde!”
Magriet glimlag.
“Jy is nou laf. Jy weet so goed soos ek dat jy ’n aantreklike jong man is met ’n belowende toekoms wat beslis na hartelus kan keur tussen die meisies van jou keuse. Maar Thero van Zyl en Magriet Marais is nie die soort wat jou gelukkig sal maak nie. Bly weg van hulle af.”
“Ek weet nie so seker nie, Magriet. Thero, ja. Sy is ’n onbereikbare ster. Maar jy … jy is iemand wat ’n man baie gelukkig sal maak as hy jou liefde kan wen. Jy weet, ek begin al meer oortuig raak daarvan …”
“En ek begin al sekerder raak dat jy te veel drankies agter die blad het. Dis tyd dat jy aan jou ander gaste ook aandag gee,” sê sy, en hy is verplig om haar te laat gaan.
Sy keer teësinnig terug na die hoek waar haar stola en handsak lê. Sy kyk nie na die man wat beleef opstaan toe sy haar by hulle voeg nie, hoewel sy sy blik deurdringend op haar voel.
Sy draai dadelik na die ouer dokter en vra tergend: “Hoe voel die rumatiek en liddorings, dokter?”
Lukas Pienaar lag lekker en trek vir haar ’n stoel nader. “Net een van Jooste se mengeldrankies en jy sal hierdie rumatiekbene en liddoringtone nie ken nie, juffertjie! Kom sit, dan gaan haal ek vir jou ook iets om te drink. Jy moet gedaan wees, want dit het gelyk asof my jong kollega daarop uit was om jou van jou voete af te draai.”
Sy bloos liggies en neem met neergeslane ooglede plaas. Vlugtig waag sy dit om op te kyk. Haar hart ruk. Emile Fraser is beslis ontevrede met haar. Wat het sy tog nou weer gesondig? Maar tot haar verligting is dokter Pienaar weer byna dadelik terug en sy skenk al haar aandag aan hom. Toe ’n stadige wals skielik deur die vertrek opklink, is hy dadelik op sy voete.
“Dis my dans hierdie, juffertjie. Mag ek, asseblief?”
Magriet vind Lukas Pienaar ’n gemaklike dansmaat hoewel hy prontuit erken dat die wals ál soort dans is wat hy al bemeester het. Die res van die aand slaag sy daarin om ver weg van die hoek te bly deurdat Ron en dokter Pienaar en ook van die ander mans haar nie toelaat om een dansnommer uit te sit nie. Sy is verbaas om te sien hoe laat dit reeds is toe Emile skielik opstaan waar hy die hele aand langs Thero gesit het sonder om aktief aan die partytjie deel te neem, en aankondig dat dit slapenstyd vir sekere mense is. Hy keer Ron voor toe hy en Magriet by hulle verbydans.
“Jammer om jou plesier te bederf, dokter Jooste, maar dis reeds heelwat later as wat ek gesê het juffrou Van Zyl mag bly.”
Thero teken skerp protes aan. “O, Emile, jy’s ’n nare ding!”
Magriet se wenkbroue lig. Dan het hulle al tot op voornaamterme gevorder.
“Jammer, Thero, maar dis doktersbevele,” hou hy vol hoewel hy na haar glimlag.
Sy tuit haar lippe.
“Goed dan, as die grootbaas so sê. Maar Ron is die gasheer. Hy kan nie nou hier weggaan nie,” sê sy en Magriet snap dadelik wat sy wil hê.
“Hy kan ’n paar minute verskoon word. Ek sal solank die fort hier hou,” is egter die kalm antwoord.
Thero pers haar lippe saam. Sy besef dit sal nie help om verder te argumenteer nie.
Dokter Pienaar maak ook verskoning en Magriet neem dan ook maar haar handsak en stola toe Ron met sy onwillige bondel begin aanstap.
“Dis nie nodig dat jy ook saamgaan nie, juffrou Marais. Ron is seker mans genoeg om haar in die bed te sit. Ons het nog nie gedans nie.”
Magriet is te verbaas om te protesteer. Sy voel hoe ’n arm stewig om haar gaan en kyk verlangend na die deur waar Ron en Thero pas verdwyn het.
Hulle dans in stilte en toe Magriet die meeste van haar ergernis maar in stilte weggesluk het, besef sy dat haar dansmaat besonder grasieus en ligvoets beweeg vir sy groot gestalte. Maar sy is te styf in sy omarming en toe die musiek ophou, staan sy dadelik terug.
“Voel jy sleg?”
Sy kyk hom verbaas aan, die wind effens uit haar seile. “Nee. Hoekom?”
“Ek het maar net gewonder of jy jou dreigement van nou die middag gaan uitvoer en beswyk.”
Sy verstyf merkbaar, maar aangesien hulle omring is van mense, bly sy hom ’n antwoord skuldig en draai net haar rug kil op hom. Maar hy laat haar nie wegkom nie. ’n Hand sluit stewig om haar boarm en hy trek haar in die rigting van die deur.
“Kom.”
Sy rem terug. Sy wil dit nietemin darem nie so openlik doen dat dit die aandag van die ander mense trek nie, maar haar oë skiet vuur. Die volgende oomblik word haar handsak in haar hand gestop, die stola om haar skouers gehang en weer sluit die vingers stewig om haar boarm.
“Wat presies is die bedoeling hiervan?” fluister sy met ’n kil stemtoon toe die aandluggie aanwaai teen haar wange wat van woede gloei.
“Jy het nog nie my huis gesien nie, het jy? Ons is op pad daarheen om te gaan koffie drink.”
“Is ons? Werklik, dokter, jy matig jou darem baie aan. Ek is ’n gas van Ron, en ek gaan nie sommer ongesiens en sonder ’n woord van sy partytjie af verdwyn nie.”
“Jy het genoeg partytjie gehou vanaand. Ek sal môre self by Jooste verskoning maak vir ons twee se … e … skandalige gedrag. Maar ek kan nie langer wag nie. Ek moet môreoggend ná die operasie Simonsvlei toe. Ons sal nie gou weer die geleentheid kry om te gesels nie.”
“Ek kan regtig nie dink aan enigiets waaroor ons twee kan gesels nie, dokter. En los asseblief my arm.”
“Maar ék kan aan heelwat dink om oor te gesels, en ek kan jou arm nie los nie, want dit is donker en jy kan struikel.” Skielik doem ’n lae gebou voor hulle in die donker op en hy sê: “Dis jammer dis so donker. Jy moet eendag na my tuin kom kyk. Dis op die oomblik ’n lushof. Maar jy kan darem seker die geure ruik – veral dié van die rose … met die dorings!”
Magriet bewaar liewer die swye voordat sy dalk heeltemal uit haar humeur uit raak en laat haar nou gedwee deur die sterk arm na die voordeur lei. ’n Sagte grom uit die donker laat haar egter in haar spore verstyf. “Dis Baron,” sê hy. “Verskoon maar sy onvriendelike verwelkoming. Hy is nie gewoond daaraan dat ek dié tyd van die nag met vreemde dames hier aankom nie.”
“Werklik? Moet ek geëerd voel?”
“Nie noodwendig nie. Die ander het ek altyd so vroeg in die aand gebring.”
Sy trek haar asem skerp in en probeer haar arm uit sy greep loskry, maar sy vingers sluit met gemaklike krag net vaster.
“Kom nou, Magriet. Moenie kinderagtig wees nie. Dis te laat in die nag daarvoor.”
“Ek gaan nie hier in nie.”
“Moenie jouself vlei nie, juffrou Marais. Jy is heeltemal veilig!”
Ná hierdie verdoemende woorde is Magriet sprakeloos. Die volgende oomblik word sy ’n donker vertrek binnegelei. ’n Oomblik later skakel hy ’n sagte lig aan. Dat Emile Fraser ’n man is met fyn ontwikkelde smaak, ly geen twyfel nie, besef Magriet toe sy baie teen haar sin aan haarself moet erken dat sy lanklaas so ’n rustige en smaakvolle vertrek gesien het.
“Wel?” Sy wenkbroue is vraend gelig terwyl hy haar staan en beskou waar sy weer op haar beurt die vertrek openlik staan en bestudeer.
“Ek sou dit nie kon dink nie,” sê sy sag. “Ek het eintlik verwag om alles in rooi aan te tref.”
Hy lyk eerlik verbaas. “Hoekom?”
“Om by jou humeur te pas.”
Hy