Lukas Pienaar lag sy hartlike, vrolike lag.
“Sy was reg vir jou! Jy het jou net betyds bedink. Ja, sy is ’n lieflike kind. Thero van Zyl se skoonheid tref jou amper soos ’n skok. Maar die niggie se skoonheid is blywender, iets wat hoe langer hoe meer boei.”
Dokter Fraser se gedagtes het egter in ’n ander rigting koers gekry.
“In verband met meneer Bester, môre se operasiegeval …”
En aan die agterkant van die gebou is die partytjie reeds in volle swang. Magriet is verbaas om soveel jong mense daar bymekaar te sien. Sy het al opgemerk dat die grootste gedeelte van die personeel aan die ouerige kant is en sy het dit toegeskryf aan die feit dat Abendruhe so afgesonderd is. Maar vanaand ontmoet sy hier ook ’n paar jong mense, soos ’n paar van die verpleegsters, die rekenmeester en sekretaris van die hospitaal, asook twee pasiënte wat op vertrek staan.
Hulle is ’n vrolike groepie bymekaar en Magriet geniet die aand terdeë, totdat sy Thero se gesigsuitdrukking gewaar. Sy stap vinnig nader, effens skuldig omdat sy haar laat intrek het by die ander geselskap terwyl Thero doodstil in die een hoek moet sit. Sy is klaarblyklik so verveeld dat Magriet eintlik ongemaklik rondkyk of daar nie van die ander gaste is wat dit ook opgemerk het nie. Sy bid dat Ron nie nou na hul kant toe moet kyk nie. Dis egter ’n saak van onmoontlikheid om Thero se onvergenoegdheid en verveling so goed weg te steek dat Ron dit nie agterkom nie, sodat hy die ware toedrag van sake gou agterkom. Magriet sien die ongelukkigheid in sy oë en sy besef dat dit hom diep seermaak dat die meisie van sy hart so klaarblyklik geen belangstelling in hom of sy partytjie toon nie.
Skielik vererg Magriet haar bloedig vir hierdie bedorwe niggie van haar en neem haar op die plek voor om nie toe te laat dat Thero die aand bederf nie.
“Is daar dan nie belowe dat hier vanaand ook gedans gaan word nie?”
Sy pyl nou doelbewus op Ron af, haar stem opgewek. Ron sit sy glasie neer en glimlag, maar sonder sy ou spontaneïteit.
“Beslis, meisie. Kom ons gaan soek die eerste dansmusiek uit.”
Solank as wat hulle daarmee doenig is, is dit stil tussen hulle. Toe die eerste vrolike klanke opklink, begin hulle dadelik dans. Dan, teësinnig maar asof hy homself nie kan keer nie, merk hy op: “Dit lyk nie asof Thero die partytjie juis baie geniet nie. Miskien was dit ’n fout om haar te laat kom.”
Magriet byt op haar onderlip en sê dan: “Sy is nog baie swak en natuurlik is dit vir haar moeilik om nie self aan die partytjie deel te neem nie – veral vir haar wat maar altyd die siel van so iets was.” Magriet kyk in Thero se rigting en sien die vies gesig wat haar niggie trek nadat sy ’n teugie van haar vrugtedrankie geneem het. Sy lag verleë, want sy weet Ron het dit ook gesien. “Dan, natuurlik, hou sy niks van daardie koeldrank wat sy nou daar vashou nie. Thero is aan iets sterkers gewoond.”
Ron kyk vinnig op haar af. Daar is ’n diep frons tussen sy oë.
“Sy mag geen alkohol inneem in haar toestand nie. Neem sy dikwels drankies?”
“Gewoonlik op partytjies – maar almal drink mos maar ’n drankie of wat op partytjies,” keer sy vinnig, maar die frons bly tussen sy wenkbroue.
“Soos ek van haar praat kon aflei, was sy omtrent elke aand op ’n partytjie. Met ander woorde, sy moet baie alkohol gebruik het. Sy het seker baie bewonderaars, nè, Magriet? Ek bedoel, ’n meisie soos sy sal seker nie veel aandag aan ’n … ’n jong doktertjie soos ek skenk nie, nie waar nie?”
Magriet kyk op na hom, maar hy kyk nie na haar nie. Hy staar somber oor haar kop in die rigting waar Thero verveeld sit en luister na die geklets en gelag om haar. Magriet aarsel en besluit dan dat die waarheid tog die beste uitweg sal wees.
“Ja, Ron. Sy het baie bewonderaars. Ek sê nie sy sal nie aandag aan ’n man soos jy gee nie, maar ek dink nie jy moet jou hart heeltemal op haar verloor nie. Ek sou nie graag wou sien dat jy … seerkry nie.”
Hy kyk af na haar en glimlag skeef.
“Hoeveel van Thero se verslae bewonderaars moes jy al troos, Magriet?”
Sy frons en verstyf in sy omarming.
“Ek weet nie wat jy bedoel nie. Ek is jammer as jy my verkeerd verstaan het of dink ek was voorbarig …”
“Dis ek wat om verskoning moet vra, Magriet,” sê hy vinnig. “Ek is seergemaak en toe haal ek dit op jou uit. Dis vriendelik van jou om my te waarsku en ek weet jy het gelyk. Ek is ’n sot om my hart op jou pragtige niggie te verloor, maar daar het jy dit.”
Magriet kry hom innig jammer.
“Miskien sal Thero nou begin verander, Ron. ’n Mens weet nooit nie. Wie weet, miskien is jy nog die een wat haar hart werklik gaan raak.”
Maar hy skud sy kop.
“Nee, Magriet, ek weet nou ek is nie die een wat tot haar hart sal deurdring nie – nie met ’n man soos Emile Fraser in die omtrek nie,” sê hy met bitterheid in sy stem, en Magriet kyk hom ontsteld aan. Dan kyk sy ook in die rigting waarin hy kyk en trek haar asem in. Emile Fraser en Lukas Pienaar het hul verskyning gemaak en die verandering wat skielik by Thero ingetree het, is te opvallend om ongemerk verby te gaan. Alle verveeldheid het soos ’n kleed van haar afgeval. Sy sit daar stralend; die oë blink en die aanloklike glimlag nooi dokter Fraser om langs haar plaas te neem. Sy lig die glasie koeldrank na hom op terwyl sy haar ander hand intiem op sy arm plaas.
Magriet weet nie wat om te sê nie. Sy voel ongemaklik en skuldig, asof dit sy is wat Ron in die gesig gevat het. Toe die musiek ophou, hou Ron haar terug en toe die volgende lied se klanke opklink, is sy verlig toe hy haar weer in die ritme inswaai. Vir geen geld ter wêreld wil sy nou na daardie hoekie terugkeer nie.
“Ek dink ek sal na jou wyse waarskuwing luister, Magriet. Ek besef nou ek het geen kans teen ’n man soos my kollega nie.”
“Maar … maar wie sê vir jou …?” stry Magriet nog teen haar beterwete.
“Dis tog so duidelik soos daglig dat jou niggie net oë vir dokter Fraser het. Sy het nie eens om die ontwil van goeie maniere probeer om haar verveeldheid vir my weg te steek nie, maar die oomblik toe Emile Fraser die vertrek binnekom, is sy sprankelend,” sê Ron beslis.
Op daardie oomblik klink Thero se klokhelder laggie deur die vertrek en Ron swaai Magriet in ’n wilde rondomtalie sodat sy uitasem teen hom moet aanleun om nie haar ewewig te verloor nie.
“Liewe land, Ron, jy kon my darem gewaarsku het,” kry sy dit uit.
“Kom ons vergeet van hierdie verspottigheid van my en geniet die aand, Magriet. Jy dans soos ’n droom en jy is ’n wonderlike maat. Ek is jammer as ek my soos ’n dikmond kind gedra het. Vergewe my maar.” Hy lag kortaf. “Dis seker maar groeipyne. Dit sal weer oorgaan.”
Sy glimlag moederlik na hom op. Die arme Ron. Die seer lê nog in sy oë, maar hy doen sy bes om dit weg te steek. Die minste wat sy kan doen, is om hom te help. Sy gooi haar kop uitdagend agteroor, intens bewus van die oë wat hulle vanuit die een hoek dophou. Laat hom dink wat hy wil, dink Magriet roekeloos. Dis hy wat gesê het Thero mag na die partytjie kom. Laat hy haar nou besig hou.
“Nou toe, kom, dokter Jooste. As jy wil tiekiedraai, ek is reg vir jou! Jy ken my nog nie!”
Ron se gesig is ernstig toe hy weer sy arm om haar slaan. “Miskien is dit waar die fout lê.”
“Wat bedoel jy?”
Hy kyk peinsend op haar af.
“Miskien moet ek jou beter leer ken. Miskien sal my oë dan oopgaan en sal ek besef, soos wat my verstand my al lankal vertel, dat jy ’n veel idealer vrou vir my sal wees as daardie bedorwe niggie van jou.”
Sy frons ontevrede en sê vinnig: “Asseblief, Ron, ons is goeie vriende en dis al.”
“Daar skort seker iets met my. Is die gedagte dat ons twee miskien op mekaar verlief kan raak so onaanvaarbaar vir jou?”