vir jou is. Daarom kan jy nou net nie glo dat daar iemand kan wees wat dit durf waag om anders oor jou te voel nie, nè?”
Magriet weet nie wat haar makeer nie. Dis sommer asof die woorde vanself uitborrel. Maar dis sy eie skuld. Dis hy wat die katterigheid in haar uitbring. Sy weet net nie hoekom nie.
“Is jy so giftig teenoor my omdat ek die waarheid praat? Omdat ek nie doekies omdraai nie?”
“Jy praat nie die waarheid nie, dokter. Jy kom tot gevolgtrekkings voordat jy al die feite ken. Wat die doekies omdraai betref – ’n mens kan reguit wees sonder om ander te na te kom. Ek dink hulle noem dit ‘takt’. Ek twyfel of jy al van daardie woordjie gehoor het.”
“Die woordjie ‘takt’? O ja! Die lewe het my weer geleer dat dit ’n mooi benaming vir oneerlikheid is.”
’n Oomblik kyk hulle mekaar stil aan. Dan tel Magriet haar handsak op en kom orent.
“Ons twee sal mekaar nooit vind nie. Dis sinneloos om woorde heen en weer na mekaar te slinger. Goeienag.”
Maar hy is vinniger as sy en is reeds by die deur toe sy daar kom.
“Ek het nog nie klaar gepraat nie. Ek het nog nie eens begin sê wat ek wou sê nie.”
Magriet besef dat teëstribbeling haar nêrens sal bring nie. “Dan moet jy gou maak, dokter. Ek wil gaan slaap.”
“Dankie. Om tot die punt te kom: ek wil jou vra om Ron Jooste uit te los.”
“Ekskuus?” vra sy stadig, nie seker of sy haar eie ore kan vertrou nie.
“Jy het gehoor wat ek gesê het. Los Ron Jooste uit – ter wille van jou niggie.”
“Wat het Thero met die saak te doen?” vra sy reguit, heeltemal verward. Dis tog so duidelik soos daglig dat Thero geensins belangstel in die jong dokter nie.
“Jooste se gevoel vir jou niggie was baie duidelik vir almal om te sien totdat jy jou bes begin doen het om hom af te rokkel.”
“Wag so ’n bietjie!”
“O, ja, dis waar. Kyk dan na jou gedrag vanaand op die partytjie …”
“En hoe het ek my gedra?”
Hy is heeltemal koud gelaat deur die skaars onderdrukte woede in haar.
“Jooste het die hele tyd net met jou gedans terwyl julle mekaar met skaapoë aangestaar het en dit terwyl Thero hulpeloos moes sit en toekyk. Jy behoort jou te skaam! Die kern van Thero se herstel lê daarin dat sy iemand kry wat haar weer belangstelling in die lewe gee, iemand wat vir haar omgee en dit toon.”
“En Ron Jooste is na jou mening die aangewese man vir dié taak?”
“Hy is so goed soos enige ander. Natuurlik sal dit nie blywend wees nie, maar tot tyd en wyl …”
“O, jy maak my siek!” bars Magriet los. “Watter reg het jy om ander mense se lewens te reël? En nou wil jy jou nog die reg toe-eien om selfs hul gevoelens te beheer! Ron moet op Thero verlief raak net omdat jy sê hy moet en omdat Thero, na jou mening, iemand op die oomblik nodig het. Wanneer sy dan herstel het, kan Ron maar waai. Of hy in die proses seerkry of nie, traak jou nie. Jy sal nog ’n gesonde, herstelde pasiënt aan die wêreld teruggee … die knap dokter Emile Fraser!”
Sy is byna in trane van woede. Die gedagte dat hy haar daarvan beskuldig dat sy, Magriet, besig is om Thero van Zyl se kêrels af te rokkel, is om van histeries aan die lag te gaan. En hoe durf hy beweer dat sy ’n goedkoop flerrie is? Sy vervolg in ’n kil stem: “En ek was nie bewus daarvan dat ek Ron van Thero afrokkel nie.”
“Ek is geneig om jou te glo. Miskien het dié soort ding al tweede natuur by jou geword en kom jy nie eens meer agter dat jy dit doen nie. Maar nou vestig ek jou aandag daarop, en ek verwag dat jy van hom sal wegbly.”
“Werklik, jy is verregaande vermetel. Ek …” Sy snak na asem.
“Ek stel nie belang in wat jy van my dink nie, juffrou Marais,” sê hy ysig. “Dit was ’n gemene, lae ding om te doen juis noudat Thero al jou liefde en begrip nodig het.”
“En jy? Jy wou haar nie eens ondersoek nie! As ek jou nie so te sê op my knieë kom smeek het nie, sou jy haar laat gaan het sonder om ’n vinger te verroer!”
“Jy verkeer onder ’n wanindruk, juffrou. Ek sou Thero nooit toegelaat het om hiervandaan te vertrek sonder dat ek alles in my vermoë gedoen het om haar te help om haar gesondheid terug te kry nie. Ek wou maar net die weerstand afbreek wat sy in haar opgebou het. ’n Mens kan net gesond word as jy wíl en daardie feit moes sy eers onder oë kry en erken alvorens ek haar kon behandel.”
Magriet kyk hom radeloos aan. Toe sy dus daardie dag by hom gaan smeek het om Thero te ondersoek, was hy reeds vasbeslote om alles vir Thero te doen. Sy kon maar haar asem gespaar het!
Sy voel skielik oneindig moeg en vee oor haar oë. Liewe land, die dag toe sy Thero beloof het om haar na Abendruhe te vergesel, het sy nooit gedroom dat sy in so ’n web van emosionele roeringe vasgevang sou word nie. Nog minder het sy verwag om met ’n man soos Emile Fraser kennis te maak. Sy staan op en neem haar handsak die tweede keer.
“Ek kan jou verseker, dokter, dat ek Thero nooit doelbewus leed sal aandoen nie. Ek is ook nie so verwaand om een oomblik te dink dat ek ’n man wat in my niggie belangstel van haar sal kan afrokkel nie. Jy het in elk geval my belofte dat ek nie tussenbeide sal kom as hulle … as hulle ’n wederkerige gevoel vir mekaar het nie.”
“Ek verwag meer as dit, juffrou. Ek verwag jou plegtige belofte dat jy Jooste geensins aanmoediging sal gee nie. Ek eis van jou …”
Weer begin Magriet se bloed kook.
“Jy het geen reg om enigiets van my te eis nie, dokter. Ron Jooste is my vriend. Ek weier om hom sonder rede aanstoot te gee net om jou belaglike wens te bevredig.”
“My wens om van jou niggie ’n gelukkige, gesonde mens te maak, is dus in jou oë belaglik.”
“O! Jy weet goed ek bedoel dit nie so nie!” Sy beur by hom verby na die voordeur. “Ek wens ek het nooit my voete hier gesit nie!” roep sy uit.
Hy kry haar aan die skouers beet en ruk haar taamlik hardhandig van die voordeur af weg.
“En ek is bly dat jy na Abendruhe gekom het. Ek sal nog van jou ’n mens maak. As jy dan altyd ’n man op sleeptou moet hê, gooi jou vangnette vir my uit. Ek het presies dieselfde as wat Ron Jooste het en ek is heel moontlik nog ’n beter vangs. My kollega is nog ’n bietjie onervare, gans te onervare vir ’n meisie soos jy!”
“O! Jou … jy …” stotter sy buite haarself van woede.
Hy hou haar magteloos aan die skouers gevange. Skielik lag hy openlik op haar af.
“Ek dink … ek dink …” stik Magriet die woorde uit, “ek dink jy is die gemeenste, inmengerigste, verwaandste …”
“Ensovoorts, ensovoorts,” murmel hy en skielik trek hy haar stywer teen hom vas en fluister laggend teen haar mond: “Ek dink dit gaan nogal interessant wees om jou belangstelling in Jooste na my oor te plaas!”
Sy lippe rus kort en hard op hare. Dan laat hy haar skielik gaan en gryp haar arm vas wat sy vinnig oplig.
“O nee! Daardie soen was nie ’n klap werd nie! Slaap lekker. En onthou om môreoggend ’n tas te pak vir sowat drie dae. Ons sal nie langer as dit weg wees nie.”
Magriet se oë knip vinnig asof sy sukkel om by te hou by sy gedagtegang en vra verward: “Waarheen gaan ons?”
Sy oë spot.
“Jy leer gou! Ons gaan Simonsvlei toe. Ons vertrek sodra ek seker is my operasiegeval van môre is buite gevaar.”
“Hoekom moet ek saamgaan?”
“Sodat ek jou in die oog kan hou, Grietjie. Jy dink tog seker nie dat ek jou drie volle dae lank vrye teuels hier sal gee nie.”