se kuiltjie geklop. Hy het ’n kortbroek en T-hemp uit ’n plastieksak langs hom gehaal en aangetrek vir sy reis per trein na die dodesel in Pretoria. Sy ma het sy langmouhemp en langbroek stadig opgevou en dit onder haar arm teen haar bors vasgeknyp, haar oë op haar kind. Sy het nie aan hom geraak nie, net ’n paar woorde in hulle taal sag met hom gepraat. Hy het sy kop laat sak. Wat sy vir hom gesê het, kon ek nie hoor nie.
“Die ordonnans het gesê hulle moet klaarkry, dit was laat. Hy het begin om die boeie om die jong moordenaar se gewrigte te klamp. Dié het vinnig opgekyk na sy ma, net een keer, en toe het hy omgedraai en saam met die ordonnans en die adjunkbalju by die hof se sydeur uitgeloop.
“Die ma, haar kind se hemp en broek onder haar arm, het net gestaan. Haar oë droog. Sy het gestaar na die leë deur waar haar kind uit is.”
Koos se pyp was dood. Elsie het haar trane afgevee en haar kleinduimpiehand in syne ingevroetel. Ferdinand het met die teelepel in die kaneelsuikerpot gespeel.
Die “Opsitkers”-briewe is gepos. Nie die Sondag ná die van-waar-Gehasi-preek nie, nie die Maandag nie, nie die Dinsdag of die Woensdag nie. Na vier skuldbesmette nagte het ek die Donderdagoggend op ’n lusernbaal in die waenhuis gesit en biltong eet, jy aan my voete, en besluit die gedraal moet end kry. Net daar het ons in die bakkie gespring en die 150 kilometer dorp toe gery en die briewe gepos. Toe het die gewag begin. Uiteindelik het ek een antwoord op my vier briewe gekry. Liefie en Ragel se enigste oorlewende kind, Michael, het die brief van die dorp af vir my gebring.
Michael is so oud soos Jan-Willem. Jy en Michael kon mekaar nie verdra nie. Wanneer hy naby jou kom, het jy ’n hooikoorsaanval gekry. Julle honde is slim. Slimmer as wat ons dink.
Michael is die oudste van Ragel en Liefie se drie kinders. Die ander tweetjies is albei jonk dood: die babadogtertjie sommer so vanself, haar asempie het net een somermiddag weggewaai; die seuntjie het op die plaasdam se wal gespeel, ingeval en verdrink.
Michael se gees was boos. Hy was ’n rebel, ’n daggaroker met rastalokke, ’n drinker en ’n luiaard. Hy was kwaad vir my, vir sy pa en vir die ANC. Dié mense het hom belowe hy sou my plaas na die 1994-verkiesing kry. Toe hy by die party se kantoor op die dorp gaan vra wanneer hy die plaas kry, het hulle vir hom gelag, gesê hy is ’n mamparra en hom weggejaag. Sy saamleefvrou woon op die dorp. Hulle het ’n seuntjie, Cheslyn, en ’n dogtertjie, Mary-Subrette. Wanneer hy nie op die dorp was nie, het Michael soos ’n bloukopklipsalmander voor Liefie se huis in die son gesit. Soms het hy los werkies in en om die huis gedoen of het ek hom met die ou geel Datsunbakkie dorp toe gestuur om te gaan pos haal.
Toe ek my baadjie aantrek, die oggend toe ek Kaap toe is om my penmaat te ontmoet, sien ek twee gate op die rugpant wat Ragel netjies toegewerk het.
“Ragel!” roep ek.
Sy kom uitasem die slaapkamer binne.
“En dié?” Ek druk die baadjie in haar gesig.
“Netjiese naaiwerk,” sê sy maar kyk nie op nie.
“Ragel! Kyk na my.”
“Jy weet ek lieg nie. Moenie dit vir my moeilik maak nie.”
“Michael het verlede week my kamer uitgeverf. Dis sy hand wat my baadjie met ’n mes gesteek het.”
Sy begin weemoedig huil.
Ek het ’n ander baadjie aangetrek en Kaap toe gery om Boerseun te ontmoet.
Die tafel is vanmôre so lendelam dat my skrif lyk of ’n afkop hoender met inkpote oor my skryfboek geloop het. Ek stoot die stuk plank dat hy vas teen die deurkosyn staan. Ter wille van ’n bietjie lig is my seldeur oop en verkluim ek op die horrelpootstoel. Sal ek die probleme wat ek met die koffiedrinkende verkeerspolisie onder die skaduboom anderkant Citrusdal gehad het, beskryf? As die ounooi tog net wil raad gee. Wat moet in en wat moet liewer uit die geskrif bly?
Sy het dit ook maar swaar gehad saam met my, dié vrou. G’n wonder sy kry my nou terug nie.
Haar lyding en dood het die huis, die werf, die plaas in lanfer toegespin en die fondament onder my voete laat verkrummel. Die week na die begrafnis het Ragel die laaste boeke wat nog rondgelê het, bymekaargemaak en in die ounooi se studeerkamer weggesluit en die sleutel op die bedkassie voor my bed neergesit. Ek het in die veld rondgedwaal.
Die laaste paar maande voor haar dood het haar skrifgeleerde Sadduseër-vriende wat op die plaas geboer het terwyl sy besig was met haar studie, verdwyn; skoon vergeet hoe hulle weke lank in die rondawelhuis langs die boord gebly en soggens mieliepap met karringmelk en spek en eiers en saans borde vol braairibbetjies en varkwors verorber het. Die bokswyn, wat ek skelm vir hulle in Hermanuspietersfontein- en Het Vlock Casteel-bottels oorgetap het, tongklappend geprys en oor Derrida cum suis geargumenteer tot die son soggens opkom en dan op ordentlike matrasse met lakens en komberse daaroor gaan slaap. Vreeslik slim en vér heen.
Met my het hulle skaars gepraat. Ek het “Klap julle handjies, al die bobbejaantjies” gesit en neurie terwyl dié skepsels hulle dik eet aan die kos op my tafel. Wanneer ek en Magrieta boekevat, het hulle buite gaan staan en die plaaslug besoedel met stink sigarette, daardie Alistair-vent, haar professor, ook. Alistair! Wat vir ’n naam is dit vir ’n man, Kaspaas? En die ounooi was vreeslik danig met hom.
Een van Alistair se kopdoekdraende kanoeters het my aan my eie tafel ’n galaanval gegee toe hy in sy hoogdrawende jargon iets soos die volgende met ’n frons bokant sy geelsug-oë gesê het: “Jy weet, Magrieta, met deeglike skrutinering en oorweging partisipeer jy in die diskoers oor die fenomenologie van die eksistensiële trauma van die 21ste eeu se postmoderne antropologie om die grand narratives – vergelyk Foucault – van die heersende epog te dekonstrueer.”
Excuse my French, Kaspaas. Ek het net daar die vent se glas rooi wyn omgestamp. Wat nies jy nou weer? Dit was per ongeluk. Die klein gorrelpyp het sy stoel agtertoe gestoot, opgespring, byna daaroor geval, en verbaas na die nat kol by sy gulp gestaar. Dis toe dat ek vir hom sê: “Jy bloei, hartjie.”
’n Turksvyblom bloei ook, Kaspaas, maar nie oor Foucault nie.
Later die aand, in die slaapkamer, wou ek van die ounooi weet: “Wat soek die spul hier, Magrieta?”
“My vriende stel belang in my studie, Daan.”
“Is daai Alistair-poephol met sy krimpvarkiebaard net ’n vriend, Magrieta?”
Sy het my nie geantwoord nie. Net na my gekyk met daardie blou oë van haar.
Hulle lyk mos almal eners, haar mansvriende: grys kortbaarde soos die een of ander Siberiese hondspesie, en blow job-haarstyle. Eenvormig in hul voorkoms was hulle soos die draers van ’n Mao-uniform. O, ek het dit geniet om na hul lewers te hap wanneer hulle in my dooswyn versuip.
By wie kon ek oor dié deel van my lewe kla, Kaspaas? Dit was voor jou tyd. In die melkstal, by die vriend uit my kinderjare, het ek my hart oopgemaak. “Bottelbabas, die lot …” het ek my sin begin.
“… nooit ’n nat, warm pram se tepel in die smoel gehad nie,” het Liefie my sin klaargemaak en gelag. Hy het hom verkyk aan die klere van die geleerde here wat op my plaas rondparadeer. “Na ’n dag op die trekker lyk my overall orraaiter as die pass downs van jou mêrrempie se tjommies,” het hy gesê en die punt van Witlies se stert tussen die spantou en haar been ingedruk.
“Hulle oefen om so te lyk,” het ek gesê. “Dié menere trim hul balhare. Hulle perm die kroesies en blaas hul holle droog met warm lug.” Liefie het so gelag, hy het nie gesien hoe Witlies haar stert losruk nie. Sy het hom soos ’n brommer deur die gesig geklap.
Ek het oorgeleun na sy kant toe vir die speensalf. Die pienk vaselien moes aan bod kom, voor ek met Blommetjie se taai spene in gesprek kon tree vir die metaforiese kragtoer om melk in die emmer tussen my bene te kry.
In die huis het dit stiller geword. Ek en Magrieta het ál minder gehad om vir mekaar te sê. Wat ons moes sê, het ongesê gebly. Ek bedoel, wat ék moes sê, wat ék moes probeer regmaak tussen ons, het soos ’n Afrikaneros op my tong gelê.
Na haar dood het haar