langs die tuinhek ril in die wyndun lug van laat-April. Snags het ek kerkhof toe geloop om met haar te praat, maar kon nie ’n woord uitkry nie.
Nou kan ek haar nie uit my gedagtes kry nie en spook sy by my wanneer ek wil slaap.
Ek het besluit om nie die rit Kaapstad toe en my onderonsie met die koffiedrinkende verkeerskonstabels langs die pad en die laspos-parkeerplekaanwysers en ruitwassers by die winkelsentrum te beskryf nie. Moenie soos Herodotus en Homerus afdwaal nie, het die ounooi altyd vir my gesê. ’n Lid van die literati, die vrou van my, en sy het nie die meesters van kringkomposisie se tegniek verstaan nie.
Laat ek tog maar liewer begin waar ek Boerseun, soos afgespreek, om agt namiddag voor ’n restaurant in die stad ontmoet het. My vaste voorneme was om die jong man met woord en daad te oorrompel, hom ’n aand te laat beleef wat hy nooit sou vergeet nie. Ek was netjies uitgevat in ’n donker pak klere, wit hemp, rooi strepiesdas en blinkgepoleerde swart skoene. Ek het my hare die middag in die hotel se unisex-haarsalon laat kap teen ’n stoetbokram se prys.
Ons skud hand. Sy handdruk is stewig, maar dis ek wat skielik sy blik ontwyk. As Dominee my nou hier sien. Of Mevrou!
“Kom ons gaan in,” sê Boerseun. “Ek is honger.”
Hy het die eetplek gekies en die bespreking gedoen: wit tafeldoeke, lapservette, goeie messegoed. Ek gaan weer betaal dat ek hoes. Ek het vergeet hoe duur dit is om te vry en vanaand moet ek indruk maak. Ons word na ons tafel geneem en gaan sit. Ek beskou die jong man onderlangs: nie so manlik soos ek gehoop het nie. ’n Puisierige nalatenskap lê soos vroegryp oor sy gelaat. ’n Donkerbril sit bokant sy voorkop op sy skouerlengte blonde hare. Hy dra ’n swarterige T-hemp wat die een of ander band se konsert adverteer, ’n klinknaelbroek wat styf om sy kuite sit, styf om sy boude ook het ek gesien toe ons instap, en aan sy voete het hy ’n paar gloeiende groen tekkies.
’n Kelner druk die spyskaart in my hand. Ek bestudeer die Engelstalige dokument vol uitlanderwoorde. “Kosbeskrywings word ál meer blaaskakerig,” sê ek. “Ek wil nie ’n voorgereg hê nie.”
Boerseun kyk skeef na my. “Ek sal settle vir kreef. Sommer twee as jy nie omgee nie. Grotes.”
Eina, dink ek, maar gee my liewer oor aan my lus vir ’n biefstuk, halfgaar met ’n groenpeper-roomsous en bros uieringe. Dis nie op die spyskaart nie en ek bestel seared Noorweegse salm met patats en wedges en die een of ander coulis. Laas toe ek en Magrieta, en later nog ek en Dominee, in Kaapstad geëet het, was rou vis en coulis nog nie mode nie en het lywige slaptjips nog nie getransformeer tot wedges nie. Ek verduidelik in Engels aan die kelner dat die vis gaar moet wees. “Dodelike bakterieë skuil in rou restaurantvis,” sê ek vir Boerseun, wat besig is om die nageregte te bestudeer.
Die wyn is vier maal die dorp se prys. Die kelner bring die bottel en wys die etiket. Ek knik my kop. Hy maak die bottel oop en skink ’n knertsie. Ek skommel en ruik. Ek proe. Ek sluk. “Gesëend is die man wat wandel in die gees van die wingerd,” sê ek.
Boerseun kyk na my. Hy sê niks.
“Wynmakers is omtrent almal Boere, maar dit word by die dag moeiliker om ’n bottel met Afrikaans op die etiket te kry,” sê ek.
Boerseun swyg.
“Mense,” gaan ek voort, “veral, met permissie gesê, piepiejollers, donsdosies en skrifgeleerde Sadduseërs, is so haastig om ’n ander mens in ’n blik te druk met ’n etiket op die deksel: dirty old man, taalbul, rympiesmaker, rassis.” Ek knik my kop. “Veral rassis. En taalbul. Dink maar net wat die polities korrektes, hul handlekkers en pluimstrykers doen aan die stryders vir ons hanslam-moedertaal:
“Dis net Engels wat jy siin en hoor!
Op skool en universiteit,
word ons moedertaal fermoor.
Iemand wat vir Afrikaans opkom,
word geskolde en gesmaad;
hy is ouderwets en dom.
’n Taalbul, noem hul hom.
Soos die digter ons vertel,
hy word ferag, gefloek, gelaster,
en beswadder fan di hel.”
Boerseun se oë rek groter en groter. Terwyl ek my gedig voordra, loer hy links oor sy skouer. En dan regs. Dan sak sy kop. Voor ek hom kan vertel van die taalbulle met wie ek in my gedig in gesprek getree het, land die kos voor my op die tafel; op my bord, so groot soos ’n Fordson-trekker se voorwiel, is daar ’n verpiepte torinkie in die middel: aartappelwiggies soos koelkamerstene op die vis gestapel, die vis op ’n plas soetpatats en blertse rooi coulis.
“Ek hou van kos,” sê ek. “’n Bord kos. ’n Bord vol kos soos ’n boek vol storie, gesout en gepeper. ’n Slaphakskeentjieboek wat die leser soos die geur in asynsoet uitjies op ’n kruistog neem na vreemde wêrelde en smaakgenot. Om te eet is soos ’n pelgrimsreis saam met die heilige Brandaan, die man wat ’n boek vol kettery verbrand het. Terwyl die vet uit die speenvark op die kole drup en ek lippe aflek vir die sagte liesvleis, wil ek luister na die heilige man se gesprek met die kop van ’n onthoofde reus.”
“No shit,” sê Boerseun en takel die wit kreefvleis in die stekelrige pienkrooi dop.
“Lees jy boeke?”
“Net my iPhone.”
Woordeloos gee ek my aandag aan die Meccano-konstruksie op die patatmoeras op die Fordson-trekkerwiel op die tafel voor my en vra: “Hoe benader ’n mens die toring van Babel? Een blaas op die ramshoring en hy stort ineen en jy kan begin eet. Maar ’n horing het ek nie.”
“O fok, wat’s fout met jou?” vra Boerseun.
“My ma het my hoeka geleer dis nie goeie maniere om aan tafel soos ’n broeis hen in jou kos te skrop nie.”
“Wie’s daai heilige dude van wie jy netnou gepraat het?”
“Die heilige Brandaan of die …”
“Whatever.”
“Die heilige Brandaan was ’n ab.”
“Ab wat?”
Ek moet keer dat hierdie gesprek nie skeefloop soos die een met die proponent nie. “’n Ab is die hoof van ’n abdy.”
Boerseun staar my aan met ’n oop kreefmond.
“’n Abdy is ’n plek soos ’n klooster. ’n Plek vol monnike. ’n Plek vol mans.”
“Dit kan sexy wees. No shit. Sommer baie sexy.”
“As jy ’n boek aan die brand steek, straf God jou. Brandaan is vir nege jaar uit sy abdy verban. Dit was sy vonnis. Nege jaar lank moes hy op die see vaar om die vreemde wonders van God se openbaringe te aanskou.”
“Tough shit.”
Ek besef ek het weer die pad byster geraak. Laat ek terugkeer na kos voor ek in die mis trap. Ek glimlag vir die jong man en sê: “Ek kan ’n skaapboud met roosmaryn en marmelade bak dat jy weke nadat jy dit geëet het, kwyl as jy aan my boud dink. Jy word in die hiernamaals vergewe wanneer jy terugverlang na die nasmaak van die souterige sous in jou mond.” Ek neem ’n slukkie wyn. “Flentertjies knoffel speel wegkruipertjie onder die bruingebakte kors. Bitter roosmarynblare en bittersoet marmelade kielie my boud dat hy skaterlag. Sousboontjies, ’n bietjie meer soet as suur, en vars groenertjies uit die tuin met ’n kruisementblaartjie of twee, net skrikgemaak in kookwater, maak ogies vir my boud.”
Hy sê niks. Ek probeer weer: “Jy weet, ek is oortuig skaapboud en knoffel is dieselfde dag geskape, nog voor Adam en Eva begin rok dra het.”
Koponderstebo karring hy met sy vurk in een van die krewe se borsholte.
My eerste hap vis laat die torinkie op my bord wankel, die tweede laat hom skeef staan en met die derde slaat hy neer in die plas patats soos ’n koei wat gif gevreet het. Die salm is lekker, al wriemel die bakterieë in die middel van die moot. “Die geheim van vis gaarmaak