is geen vertroosting vir liggaam of gees tussen die heidene nie, my vriend.
Op die plaas, in die goeie ou dae, het my siel Sondagmôrens uitgereik na die verkondiging van die Woord. Die Sondagoggend, na die Donderdag toe ek die Viagra-voorskrif gaan haal het, het ek my lippe afgelek vir ’n middagete na die kerkdiens saam met Sannie Coetsee en die ander ou vriende in die ouetehuis. Ek het haar nommer geskakel met die telefoon teen die gangmuur in die plaashuis.
“Hallo, Sannie Coetsee. Hoe lyk dit? Het jy iets in die oond? Ná kerk skreeu my maag.”
Haar stem was swaar van die slaap: “Daan!”
“Ek sê, hoe lyk dit? Ná die spyse vir die siel, ’n proesel vir die liggaam?”
“Vir jou lyf, Daantjie, altyd. Ek sal met die kombuis reël.”
Ons kerk begin tienuur en net na agt klim ek en Kaspaas in die bakkie. Ons luister na Loof die Here. Die program se naam was altyd Alle volke loof die Here. Na ’94 het die naam getransformeer, maar Fanie Smit, die aanbieder, het darem tot die dag van sy dood sy pos behou.
Kaspaas begin ronddraai op die sitplek en kyk met smekende oë na my. Ek trek die bakkie van die pad af en maak die deur aan sy kant oop. Hy spring uit, ruik aan die stowwerige bossies en begin nies. Sommer so onder die hooikoorsaanval hurk hy teen ’n telefoonpaal.
Die “Gloria” uit Mozart se Missa Solemnis vul die kajuit. ’n Ongewone keuse vir Fanie; ek dink nie hy is baie lief vir die Roomse nie. Nogtans ’n goeie keuse vir ’n stil Sondagoggend op pad kerk toe om die Here in die hoogste hemele te loof:
Gloria in excelsis Deo.
Laudamus te …
Ek het nog skaars begin skryf en ek moes al weer my blaas gaan leegmaak. Die behoefte is altyd dringend, maar ek moet vyf minute lank sukkel om van ’n halfkoppie water ontslae te raak.
Ek skeur ’n blad agter uit my skryfboek, vou dit op en druk dit onder my stoel se lam poot in.
Ons het gereeld Sondae na Fanie Smit se program geluister, ek en jy. My liefde vir kerkmusiek gaan ver terug, Kaspaas, na ’n tyd lank voor Jan-Willem met jou op die plaas aangekom het. Een Sondagaand in die skoolvakansie het ek die draadloos se knoppie gesit en draai tussen die stasies, Afrikaans, Engels en Springbokradio. Of het Springbokradio later gekom? In ons huis het my pa ons goed laat verstaan dat ’n Christenmens nie na Springbokradio luister nie. As hy nog geleef het, sou hy RSG ook verban het. My ma het smiddae skelm na So maak mens geluister en ek het dit soms op ’n Sondagaand reggekry om die draadloos stilletjies na my kamer toe te dra om na David Davies se Top Twenty op die LM Hit Parade te luister. Dit was lank voor die bloedbad in Mosambiek toe Frelimo dié radiostasie gekaap het.
Met die knoppie se draaiery een Sondagaand kom ek toe op Roger O’Hogan se program Oh, Come Let Us Sing af. Allegri se Miserere, vertel hy, is ’n toonsetting van Dawid se boetepsalm nadat hy by Batseba ingegaan het. Die profeet Natan het vir Dawid kom sê dat die seun wat hy by haar verwek het, sou sterf. Dié stukkie geskiedenis het begin toe hy haar afgeloer het waar sy besig was om te bad op die dak van haar man, Uría die Hetiet, se huis. Vir sy pa se wellus en die moord op Uría het die Here die seuntjie met die dood gestraf. Dawid het sy klere geskeur toe Natan die oordeel oor die kind uitspreek en het uitgeroep: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid.”
Toe die King’s College Choir begin sing, het my ore gespits soos dié van my perd wanneer ek die staldeur met ’n vars geelwortel in die hand oopmaak. Die singery van die Miserere was baie mooier as ons gemeentesang, selfs met ’n goeie orreliste.
Hier skryf ek oor die Miserere, Kaspaas, en voor my seldeur dreun die sang van die monnike se gebede deur die gewelf van hul tempel. By hierdie lendelam tafel is my probleem hoe ’n mens in taal omgaan met klank. Woorde is skugter as dit by musiek kom. Dis soos die liefde. Of die dood. Of vleeslike omgang. Woorde pik aan dié goed soos die kreupel kwikstertjie lank gelede aan sy weerkaatsing in die wieldoppe van my bakkie onder die kareeboom langs die waenhuis.
Allegri se musiek was ’n ontdekking soos ’n hele bak koeksisters net vir myself. Daar sit ek toe die ene ore, David Davies se Top Twenty vergete, die prente van Audrey Hepburn en Jean Simmons teen my slaapkamermuur bloot prente. Ek luister. Ek hoor. Die manstemme in die Miserere sing-praat eentonig asof hulle bid, die seunstemme smeek tot God.
Een ou kleintjie se stem styg bo die ander uit en sweef en swiep soos ’n blouvalkie onder die koepel van hul katedraal.
My sestienjarige gemoed was in beroering. Dat boetedoening ná owerspelige seks so hartroerend en so mooi kan klink, het my in vervoering gehad. Ek het hoendervleis gekry, piepkind wat ek was. Die stemme het my ruggaring soos die fyndraai geriffel.
Dáárdie aand, by kerslig, die gesin se mediumgolf-draadlosie aan ’n karbattery buitekant my venster gekoppel, het my owerspelige liefdesverhouding met die Katolieke en die Engelse se bleek kerkstemme begin. Die ware fyndraai het later gekom; in die jaar toe ek die Latynse woorde geleer het vir “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid”. Miserere mei, Deus, secundum magnam misericordiam tuam, die taal waarin die Miserere gesing word. Die taal van die bonae litterae, die groot letterkunde van die Romeine, soos ek later by die ounooi sou leer. Eens die taal van die Rooms-Katolieke Kerk.
Net mans is toegelaat om die Miserere met Paasfees vir die Pous in Rome te sing en toe ek begin grootword, het ek geleer dat dié wat so hoog sing castrati genoem is. Ek kon dit verstaan, want net ’n man wat dié offer moes bring, kan so weemoedig klink. Nog later het ek meer geleer van kastrasie. Die vroegste van alle kastrasies het ’n kosmiese spektakel tot gevolg gehad. Die Titaan Cronus het sy pa Uranus met ’n sekel van klip kastreer. Uranus het sy greep op Moeder Aarde laat los, van haar af opgespring en die hemelkoepel gevorm. Die kastreerder, Cronus, die kannibalistiese verorberaar van sy eie kroos, is weer deur sy jongste seun Zeus, die god van die bliksemstraal en die donderslag, verban na gitswart Tartaros, ’n plek so ver onder Hades as wat die aarde is onder die hemel. Dis die plek waarin, volgens die apostel Petrus, die rots, die siele van diegene wat Gods Woord verdraai, gedompel en geoordeel word. Soos Pandora se kruik en Eva se slang is die ontmanning van ’n man vanaf die vroegste tye met ons, Kaspaas.
In Rome het die Pous gelas dat enigiemand wat ’n afskrif van die Miserere maak, geëkskommunikeer sou word. Mozart het hom nie aan die dreigement gesteur nie, het Roger O’Hogan daardie Sondagaand vertel. Na een keer se luister het die jong komponis dieselfde aand die Miserere noot vir noot uit sy kop by kerslig genoteer.
As jy dink jy het genoeg hare op jou bors, ekskommunikeer jy hulle wat nie met jou saamstem nie, Kaspaas, jy verwyder hulle uit die gemeenskap van die heiliges. Eers martel jy hulle, dan kastreer jy hulle en dan skop jy hulle uit. Dis hoe die Roomse dinge gedoen het, het ek later uitgevind toe ek by Eco en Yourcenar en Vodolazkin die Roomse Gevaar beter leer ken het. As ’n man hom met ’n ander man misgaan het en ’n bewaker van die goeie sedes verklik hom, het die Pous hom op ’n winderige dag laat verbrand sodat die vlamme langer aan hom kon lek voor hulle hom insluk en verteer.
Ek wil vandag saamslaap en lepellê op ’n enkelbed in my Historia ondersoek. Geen wonder my gedagtes het ontspoor toe ek moes wag omdat jou maag seer geword het op pad kerk toe nie, Kaspaas. Toe jy terugklim in die bakkie was Fanie Smit besig met die “Agnus Dei”. Die Katolieke het in hul mis gesing van die Lam van God wat vir die sondes van die wêreld betaal het en ons vrede gee.
Ons het in ’n stofwolk van die kant van die pad af weggetrek, maar jou maag was nog steeds nie lekker nie en ek het my vensterruit afgedraai.
Vyf voor tien.
Ons hou voor die kerk stil en betree die huis van die Here. Ek gaan sit op my bank op my kussing en druk die ounooi se kussing agter my rug in, jy lê op jou matjie langs my voete. Sannie Coetsee, skuins voor my, kyk om en knipoog. Ek glimlag vir haar voor ek my hoof buig en bid: Ag, Here, help my vanmôre om my dwalende en sondige gedagtes in toom te hou. Hou die speenoud kalwers op hok, die klein jakkalsies uit die wingerd. Amen.
Die orrel hef die lofpsalm aan:
Die mossie vind ’n huis, o Heer
Die swaeltjies lê in nessies