weggevat en haar die skryf van treursange na daardie dag gespaar.
Dit was aan die begin van die lang vakansie aan die einde van sy eerste jaar op universiteit, die jaar van die ounooi se dood, dat Jan-Willem met jou op Ystervarkfontein aangekom het. Koos Steyn was dié dag dorp toe en het hom by ’n vriend gaan oplaai.
As ek my oë toemaak, sien ek die stofwolk agter die bakkie soos Koos die werf binnery, ruik ek die diesel. Toe hy stilhou, het jy en jou nuwe baas uit die bakkie gepeul.
“Middag, buurman. Van waar dié brak?” Die swart hond het ’n lang neus en bruin kolletjies bokant sy oë.
Koos wys met sy hand na Jan-Willem.
“Dis ’n dobermann, Pa. ’n Dobermann-pinscher. Hy is opreg.”
“Met ’n lang stert en hangore?”
“’n Mens sny nie ’n hond se stert en ore af nie. Dit maak inbreuk op sy regte.” Die plaashonde kom belangstellend nader. Met uitgestrekte nekke probeer hulle aan die metafoor vir diereregte ruik. Dié het sy sitvlak plat op die grond, sy kop onder Jan-Willem se hand.
“Siebie! Siebie!” roep ek. Die hond steur hom nie aan my nie.
“Bartholomew verstaan nie siebie, siebie nie, Pa. Hy’s Engels grootgemaak om vinniger op ’n hondeskool te leer.”
“Op Ystervarkfontein praat ons nie Engels nie.” Ek kyk na Koos wat besig is om sy pypsteel met ’n hoenderveer skoon te maak. “Wat sê jy van die gedoente?”
“Ek kuier lekker,” sê hy en gee vir Ragel die sak inkopies wat hy van die dorp af saamgebring het.
Sy sit die sak op die grond neer, verwelkom Jan-Willem met ’n drukkie en vryf die hond oor sy rug: “En dié mooie gediertetjie?”
“Wát is die hond se naam?” vra ek.
“Bartholomew, Pa.” Hy aarsel. “Bartholomew Kitchener Messerschmitt.”
“Kitchener?”
“Dis sy middelnaam. Registrasienaam.” Jan-Willem vat aan sy oorlel. “Kitchener is net ’n naam, Pa”
“Jou oumagrootjie en die kinders het onder die bosse gelê en kyk hoe Kitchener se gespuis hulle huis afbrand, hulle kleinvee se pote vasbind en met perde uitmekaar …”
“Wat daarvan?”
“Geen Engelsman met die naam Kitchener slaap in een van my hondehokke nie.”
“Bartholomew kan voor my bed …”
“Honde hoort op die werf.”
“Daan,” paai Koos. “Dis net ’n hond.” Hy draai na Jan-Willem toe. “Gee hom ’n bynaam.”
Dis ’n eerbare uitweg. “Voortaan heet jy Kaspaas,” sê ek vir die hond.
“Kaspaas is nie ’n mooi …”
“Kitchener ook nie, Jan-Willem, en Bartholomew is net so ’n gruwel in die oë van die Here soos Kitchener.”
“Dis tyd dat ek huis toe gaan, Elsie wag,” sê Koos. Hy klop sy pyp uit teen sy skoen se hak en klim in sy bakkie. In die ry leun hy by die venster uit. “Tant Elsie het vir jou ’n sjokoladekoek gebak, ou seun. Kom drink vanmiddag koffie. Bring jou pa saam. Daar is koeksisters vir hom. En dan kom stel jy jou hond voor aan Generaal.”
Kaspaas Bartholomew Kitchener Messerschmitt van der Walt, my dierbare hond, jy was aan my sy op sterbelaaide aande wanneer die winde dor oor Ystervarkfontein se kliprantjies waai. Tot jou dood toe was jy my vriend. Snags het jy in jou krakende bamboesmandjie voor my bed geslaap. Bedags was jy ’n verskrikking op die werf. Eers het jy Ore, Boggom en Voertsek, die plaashonde, doodgebyt, en daarna die katte, Poplap en Fielies. Jou enigste dierevriend was Generaal, die rifrug op Koos en Elsie se plaas. ’n Dapper hond soos jy.
Die aand toe die slang my ná die tamatiebredie verlei het, elf jaar, sewe maande en twaalf dae na die ounooi se dood, het jy aan my voete gelê ná jy jou skaapbeentjies afgesluk het. Ragel is met die bord oorskietkos kombuis toe. Ek het Mozart se Kroningsmis in die CD-speler se gleuf gedruk, nog ’n koppie koffie ingegooi en weer opgekyk in die ounooi se oë en toe weg, hoër op, na die portrette teen die eetkamermuur. My oorlede pa en ma se troufoto was daar en myne en die ounooi s’n, hare toe sy haar meestersgraad gekry het en ’n rits foto’s van Jan-Willem van sy doekdra-dae af tot sy laaste jaar op universiteit, waarna daar geen foto’s meer van hom was nie, niks, net die kaal muur. My kleinseun se foto kon die verhaal van die Van der Walts van Ystervarkfontein verder vertel het, maar dié was daar ook nie. Ek sou die kleinding se portretjies hang langs die standerdvyf-foto van sy pa, das skeef, skoolbaadjie se knoop in die verkeerde gat, of by die foto van die hoërskool se eerste rugbyspan: in die middel van die voorste ry, my seun, die kaptein, breëbors tussen die ander bulletjies, gespierde Boerseuns. Soos jong olyfboompies sit hulle daar om die vrug van my lendene.
Ek is ’n oupa sonder ’n kleinkind, Kaspaas. Ek het daardie aand weer gewens my seun wil trou. ’n Vrou sou hom regsien, het ek gedink. ’n Pa raak onrustig as sy seun so lank sloer. Die man was toe al byna 32 jaar oud. Daar was nie fout met hom nie; hy het na meisies geloer as hy dink ek kyk anderpad. In dié sondige ou wêreld is ’n ouer maar bekommerd. Wat as hy ’n anderskleurige vrou loop staan en vat? Ek wil nie my medelandsburgers te na kom nie, Kaspaas, maar ek droom oor my kleinkind, ’n seuntjie met ’n blonde koppie en sy oupa se blougrys oë. My klein Danie. Oupa se aapstert!
Toe het ek deur die Landbouweekblad begin blaai op soek na die “Opsitkers”.
Van haar plek op die kas het die ounooi my dopgehou. Sy het nie geweet dat ek en jy dokter toe was nie. Ek het opgestaan en wou net haar gesig na die muur toe draai, toe jy vir my knor. Ek onthou dit goed. Miskien wou jy nog ’n beentjie hê, maar ek onthou jou knor asof jy my gedagtes daardie aand kon lees. Jy was ook soms siende soos meester Yang. Ek het nog net beplan om vir ’n paar dae van die plaas af weg te gaan, dan het jy met sulke droewige tjankies in jou mandjie geklouter en geweier om weer daar uit te klim tot die dag dat ek wegry.
Ek het mooi na die ounooi se portret gekyk, na die glimlag in haar oë, asof sy my op die een of ander kattekwaad betrap. “Ai, Magrieta,” het ek gesê, “ek sal nooit jou gesig in die hoek druk soos Kitchener se medepligtige Milner met ons Boerekinders gemaak het nie.” Ek het haar portret geneem en dit in die linnekas gaan toemaak, gesig na bo, sodat sy nie versmoor nie.
Toe vryf jy aanhoudend met jou pote oor jou neus. Ek het vir jou nog ’n hand vol beentjies uit die yskas gaan haal, my koffie klaar gedrink, ’n ruk lank koppie in die hand gesit, en dit toe omgedraai. Die woorde Noritake Progression China Japan Pearl White was na al die jare nog leesbaar.
Ek en die ounooi het op ons wittebrood ’n dosyn van dié koppies gekoop. En ’n teepot, ’n koffiepot, ’n suikerpotjie en twee bekertjies, een vir melk en een vir kookwater as die tee te sterk getrek was. Toe sy dood is, was nog net die koffiepot oor, twee of drie koppies en een melkbekertjie. Ná my vaderbeker gebreek het, het Ragel geweet ek drink my koffie net uit een van dié koppies.
Ek onthou asof dit gister was hoe ’n brulpadda by die ounooi se visdam begin kwaak het toe ek die koppie terugsit op die piering, opstaan, die musiek afskakel en vir jou sê: “I need to have a talk with the late mistress of this house.”
Die gras langs die voetpaadjie na die begraafplaas was nat teen my enkels, jou snoet klam in my hand. Die hemel so helder daardie nag, die uitspansel so naby, ek moes koes of ek het my kop teen ’n ster gestamp. By die begraafplaas se hekkie het ek gaan staan, opgekyk en geluister hoe die Here tussen die sterre asemhaal. Ek het my hand waarmee ek aan hulle wou vat, teruggetrek en in my broeksak gedruk en my knipmes vasgehou.
Rex caelestis, factor coeli et terrae, het ek geprewel, maar jy het, weens jou gebrekkige skoolopleiding tussen die Engelse, nie my woorde oor die Skepper wat die hemel en aarde geskape het, verstaan nie. Die maan het rooi oor die rantjies opgekom. Twee jakkalse het droefgeestig anderkant die fontein met mekaar gesels. Die volstruise het onrustig in hul kampe rondgetrap. “As ek Noag was,” het