Lodewyk G. du Plessis

Die dao van Daan van der Walt


Скачать книгу

oopmaak, hoor ek dié stem: “Jy soek witvoetjie by jou vrou se graf omdat jy weer wil gaan vry, Daan van der Walt.” Vir die tweede keer daardie aand het ek my hand teruggetrek en in my broeksak gedruk. Ek het omgedraai en huis toe geloop, die ounooi uit die linnekas gehaal en haar op die buffet neergesit, ’n koeksister in die spens gaan eet en vir jou ook een gegee. Na ek die stroop van my hande afgewas het, is ek terug eetkamer toe.

      “Jy is net bygelowig, Daan,” het ek gesê en by die leeslamp gaan sit. “Voor die doodsengel op jou skouer tik, wil jy nog ’n Kaapse draai om die boom van kennis van goed en van kwaad gooi. Jy is ’n man, nie ’n klip nie. Gedra jou soos ’n man.”

      En daar lê die “Opsitkers” toe oop voor my.

      Miskoekie van Prieska soek ’n man met vuur, lees ek.

      ’n Vroumens is ’n ander ding. As die vuur vlamvat, die miskoek begin rook, dan sê sy mans het net één ding op die brein, wil ek vir Kaspaas sê wat die koeksisterstroop vir die soveelste maal met sy pienk tong van sy lippe aflek, maar voor ek vlamvat en miskoek kan vertaal, val my oë op: Eensaam van Upington. Eerlike en opregte wewenaars met konserwatiewe waardes wat nie rook of drink nie, gesoek deur kuise, gelowige weduwee, 52, 1,65 m, 95 kg, AGS. Hou van alles wat mooi is.

      95 kilogram! ’n Rubensmodel op ’n AGS-kerkbank. Die AGS is nes die wederdopers en deesdae se ander springmielie-godsdienste wat onder die erediens hande klap en gees vang.

      “You know, Kaspaas, dit wemel nou van Gatjieponner-gemeentes met lawaaipompers, kitare, tromme, luidsprekers en wat nie al nie in die huis van die Here. Popmusiek en heupgeswaai voor Godsaltare klink vir my na Satan wat met groot gedruis appels steel in die Paradys.” Kaspaas lê op die naat van sy rug. Daar is nie genoeg Engels in die sin dat hy verstaan wat ek sê nie. “Sorry, my dog, ek kan nie godsdiens in Engels vertaal nie. Maar laat ek vir jou mooi vertel: die Here kom in stilte. Lawaai, en Hy vlieg by die kerk se vensterrame uit, weg van die aarde af reguit terug hemel toe. Geen wonder ál meer mense dink God is dood nie. God is nie dood nie, Kaspaas, Hy is met rumoer die kerk uit geboender.”

      Ek stoot my bril op my voorkop. “Daan van der Walt soek vaste spyse in die geloof, melk is vir babas. Ek lees in die koerant dat bollings Boeremans op hul knieë saamkoek in ’n sokkerpawiljoen vir ’n kitsbekering. Dan ry hulle huis toe in hul stowwerige bakkies, gaan sit voor die TV met ’n bier in die hand en kyk rugby, later die aand tugtig hulle hul vrouens wat nie aan hulle onderdanig is soos die apostel Paulus uitdruklik vir hulle voorskryf nie. Dieselfde kêrel, die prediker, het glo vir derduisende van dié mans gesê: ‘Give a clap for the Lord.’ Clap for the Lord, Kaspaas. Dis die Here, wie se naam jy nie ydellik mag gebruik nie, wat die clap moet kry.”

      Dis hoog tyd dat Jesus weer met ’n sweep onder die spul inklim.

      Kaspaas nies drie keer en Goliat, die rooiskeen-volstruismannetjie, brul in die kamp by die broeiwyfies. Ek staan op en kyk deur die venster. Die maan sit soos ’n klont plaasbotter bokant die sipresse langs die kerkhof.

      Terug in my leunstoel gly my blik af langs die kolomme. Hier en daar tel ek woorde op: hou van kosmaak, lief vir kinders, groen oë. Soms maak ek met my duur verjaardagpen ’n kruisie langs ’n advertensie.

      My blik steek vas: Boerseun, W/E, SA/SL, GSOH, LTR, cute, 21, 1.8, 70, soek vriendskap met ouer man. Plaasboere welkom.

      “Wat soek die bulkalf in die kraal vol droë koeie, Kaspaas? Nogal cute ook, die seun.”

      Geskeide Vroutjie vra: Wat het van die ware manne geword?

      Ek stoot die tydskrif onder die lamp se ligkring uit, leun agtertoe in my stoel en beskou die plafon. Is nie een enkele vrou lus vir ’n koeksister en ’n stukkie melktert op ’n Sondagmiddag nie? Waar het Pandora haar dosie verlê? Wat het van Eva met haar Granny Smith geword?

      Kan lekker kos maak en hou van dans, sien ek uit die hoek van my oog.

      Doppers en skilpaaie dans nie. Ons eie kerkvader Totius het so gesê en hy was nie ’n vrugtedief nie.

      W/E, SA/SL, GSOH. Almal hoofletters. Nie een van die vrouens gebruik kodes nie. Is die mannetjie ’n bokryer?

      Sooibrand kruip van die krop van my maag af op in my bors. Dis hoe koeksisters met ’n man maak.

      Ek skryf drie briewe: twee aan weduwees en een aan ’n geskeide vrou. Ek is skrikkerig vir laasgenoemde soort vrouens. ’n Donkie stamp hom net een keer teen ’n klip, maar ’n mens herhaal sy foute.

      Ek pak die briewe op ’n stapeltjie bo-op die Viagra-voorskrif, staan op, skakel die eetkamerlig af en stap kombuis toe. Ek maak die yskas se deur oop, suig ’n slukkie kondensmelk uit die blikkie agter die groot bottel agurkies, maak my bekertjie vol water vir my mond wat droog word in die nanag en kyk oor die verlate werf uit. Die maan dryf in Kaspaas se waterbak. Môre lek my hond se pienk tong maanwater.

      Ek loop terug na die eetkamer, skakel die lig aan en skryf ’n kort briefie aan Boerseun. Ek wil weet wat beteken die geheime kodes.

      Die Tempel van Ewige Vrede,

      Longshan,

      China.

      2 Maart

      Liewe Magrieta,

      Dit reën al amper heeldag, ’n sagte, deurdringende reën. Sou die rysboere tevrede wees?

      In my geskiedskrywing het ek vandag besin oor die Bybelse aanwysing dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie.

      Ons sukkel so om in die hemel te kom en soms wonder ek of die gespook en gespartel die moeite werd is. Kon die Here nie maar in sy raadsplan voorsiening gemaak het dat Johannes ’n beter droom gehad het nie? Wat is ’n openbaring werd wat nie eers vir jou vertel of daar bome langs die goue strate in die Nuwe Jerusalem is nie? En voëltjies wat mens vroeg soggens wakker sing nie? En paddas wat snags kwaak?

      Reën dit in die hemel, Magrieta? Is daar ’n rukwind wat gaan lê net voor ’n storm losbars? Slaan die reuk van nat aarde op na ’n boer se neus ná ’n donderstorm? Is daar darem ’n stroompie water waarin ’n sonstraal weerkaats? En die maan?

      Die son het hier laat vanmiddag ’n rukkie geskyn. Ek het gaan stap en op smouse buite die suidelike Poort na Hemelse Vreugde afgekom. Daar is meer stalletjies as by die Poort na Saligheid of die Poort na Ewige Vrede en ’n groter verskeidenheid kos. Vir aandete het ek katoor-noedels in ’n kartonbakkie gekoop en aan Poplap en Fielies gedink. Onthou jy hoe jy die katte se ore gekielie het wanneer hulle op ons bed lê en slaap? En nou eet ek katoor-noedels hier in die verderf.

      Ek het koue op my blaas. Ek moes vandag kort-kort ’n draai loop en moet al weer uit in die nattigheid.

      Jou langslewende eggenoot,

      Daan van der Walt

      DRIE (a)

      Dit moes hoofstuk drie gewees het dié, maar ek sit al ’n halfuur voor die tafel sonder om ’n woord te skryf. Nee, Kaspaas, dis nie skrywersblok nie. Net ware skrywers raak verstop. Ek het baie om te sê. Die probleem is die ounooi. Gisteraand het ek haar verwys na Genesis 2 vers 18. Die Here het die fout wat hy gemaak het om Adam alleen in die Paradys tussen die wilde diere te laat ronddwaal, ingesien en vir hom ’n hulp geskape. Ek wou die ounooi laat verstaan dat ek ook ’n hulp wou kry. Maar ek ken haar. Sy maak nooit weer ’n oog toe as ek vir weduwees en geskeides begin ogies maak nie. Verlede nag het dit al begin. Sy het my aanhoudend met vreesaanjaende nagmerries gepla, vrou na vrou het my getreiter terwyl Boerseun in die slaapkamer se hoek vir my gestaan en lag het. Ek beter vir die ounooi nog ’n brief skryf. Ek moet haar vertel hoe dit met ons wewenaars gesteld is op die aardse tranedal. My Historia moet vir eers wag totdat ek die ounooi gepaai het. Sy sal ook omgekrap wees omdat die volgende brief in die middel van nêrens die struktuur van my geskrif opfoeter, maar dit kan nou nie anders nie.

      Die Tempel van Ewige Vrede,

      Longshan,

      China.

      3 Maart

      Liewe Magrieta,

      Gisteraand