Lodewyk G. du Plessis

Die dao van Daan van der Walt


Скачать книгу

Vroeër dié dag het ons ons laaste vraestel geskryf: Beginsel- en Metodeleer, ’n verpligte vak. Die Bybel gee die mens ’n ekstern kosmiese visie op die werklikheid, het die professor ons klomp eerstejaars vroeër daardie jaar in die Totiussaal onderrig.

      Ek en Ferdinand en Flip was van graad een af saam in die klas. In ons eerste jaar was ons in dieselfde koshuis. Flip het gestoei met Grieks en Hebreeus vir ’n graad in die teologie, ek en Ferdinand het Engels en Romeins-Hollandse reg die stryd aangesê. Ons was al drie saam in die Afrikaans- en Latynklas.

      Latyn was my gunstelingvak.

      Ja, Kaspaas, ex Africa semper aliquid novi.

      Ek het na my tweede jaar Latyn gelos. Net genoeg kennis van die taal gehad om baie sinne verkeerd te vertaal.

      Ek en Ferdinand was daardie aand besig om die las van die akademiese juk van ons skofte te lig met ’n paar biere. Daar was ’n klop aan ons kamerdeur. Die bierblikke is vinnig in die hangkas toegemaak. Ons mag nie gedrink, gedans of in die koshuiskamers gevry het nie. Ek en Ferdinand was skuldig aan die mindere van die drie PUK-sondes.

      “Wie’s daar?”

      “Flip.”

      Ferdinand maak die deur oop. Kaalbolyf, met ’n handdoek om sy onderlyf en sy hare nog nat van die stort, kom Flip die kamer binne. Snoet in die lug soos ’n hond snuif hy. “Ek ruik bier, manne!”

      Ons haal die bier uit die kas. Flip sluit die deur, knak ’n blik en sê: “Prosit.”

      “Pro-sim, pro-sis, pro-sit,” sê ek.

      “Fok u, Daantjie!” sê die toekomstige bedienaar van die Woord.

      “Subjunktief, Flippie,” help ek hom reg.

      Gedurende die drinkery raak sy handdoek los en laat hom in ’n staat van onkuishuid. Ferdinand stamp aan my: “Daai ding van hom is so klein, hy het ’n vergrootglas nodig om te pie.”

      “Hy’s die regte grootte, wanneer dit saak maak,” sê Flip.

      “Wanneer maak dit saak vir ’n predikant-in-wording?” vra ek.

      “Wanneer ek hare in my handpalm kweek,” sê Flip en knoop weer die handdoek om sy onderlyf.

      “Gaudeamus igitur! Juvenes dum sumus,” sê ek. Ons was jonk en baie slim.

      Ferdinand wed Flip syne is langer as Flip s’n.

      “Hoe sal ons weet?” vra Flip.

      “Ons sal meet,” sê Ferdinand, “dan sal ons weet,” en hy gee Flip ’n liniaal. “Toe, meet jou tinktinkie.”

      Flip neem die liniaal en meet homself.

      “Nee, man,” sê Ferdinand, “jy kan nou mos nie van jou poephol af wil meet nie. Ek sal jou meet.”

      Ferdinand meet Flip. Hy draai na my toe. “Ek is jou kamermaat,” sê hy. “’n Kamermaat moet weet,” en hy meet my. Vir Flip sê hy: “Vanaand doop jy die kampioen hier tussen ons drie met bierskuim.”

      Ek meet Ferdinand. En ek meet Flip om seker te maak dat Ferdinand nie verkeerd gemeet het nie. “Want,” sê ek, “hoe kon Ferdinand behoorlik meet met ’n hand wat so bewe?”

      “Jou gat,” sê Ferdinand.

      Flip betwis die mate en hy meet my en hy meet Ferdinand. En ons stry en ons meet mekaar oor en weer ter wille van sekerheid. Grootte is belangrik vir ’n universiteitstudent.

      Toe sê Flip: “Kom ons kyk wie kan die verste skiet, dan weet ons meer,” en net daar begin hy.

      Maar die ding wil nie werk nie.

      Toe sê Flip, die predikant-in-wording, en neem nog ’n slukkie bier: “Laat ons aan mekaar bystand verleen, broeders.” En hy staan my en Ferdinand by. En ons staan mekaar by en onderskraag mekaar. En dit werk. En ons is seker nou weet ons.

      Ons het nie gesterwe ná ons van die verbode vrug geëet het nie, Kaspaas, nie toe nie. Die dood kom, maar hy kom later, sou ons met die verloop van jare ál meer besef. Ferdinand het in sy bed geklim en gesê hy is vaak. Ek het ook ingekruip en Flip het by my op die bed kom sit en gesê: “Ek kan nie in hierdie toestand na my kamer toe loop nie. Daai tokkelok-kamermaat van my …”

      Ek het muur se kant toe geskuif op my smal koshuisbed en Flip het so half skuins teen my kopkussing aangeleun.

      In die nag het ek wakker geword. Flip was kaal langs my onder die laken, sy tong in my mond. Ek het geproe hoe smaak sy asem en sy liggaam geruik. Later die nag was daar ’n vreemde smaak op my tong en toe ek my kop oplig, sê Flip met ’n sug, ná sy asem tot bedaring gekom het, twee woorde: “Jis, Daantjie.” Net dié twee woorde. Ek onthou hulle. Dit was sy laaste woorde aan my op universiteit. Vir ses jaar het hy nie weer met my gepraat nie.

      Toe ek die volgende oggend wakker word, was Flip nie meer in die kamer nie. Terwyl Ferdinand sy broek aantrek, knipoog hy vir my en sê: “Dit tel nie, my china. Ons was dronk,” en hy trek sy ritssluiter op.

      Ek en Ferdinand het nooit weer oor die voorval in ons koshuiskamer gepraat nie en ek het hom nie van Flip-in-die-nag vertel nie. Ek en Ferdinand het vriende gebly tot sy dood onlangs. Na hy jare lank as advokaat in die stad gepraktiseer het, later as senior advokaat, is hy hier in ons wêreld as regter aangestel. Hy wou terugkom na sy mense toe. Tot ek van Ystervarkfontein af weg is, het hy naweke by my op die plaas kom bly wanneer die rondgaande hof moord- en gewapenderoof- en verkragtingsake op ons dorp verhoor het.

      Ons het om die braaivleisvuur, glas rooi wyn in die hand, gesit en gesels oor mense in die regsberoep en probleme in die regstelsel in die Nuwe Suid-Afrika. Ons het ons koppe in verbystering geskud oor politici wat dink die baie wette wat hulle maak en die swaar vonnisse wat hulle vir die howe voorskryf om op te lê, sal misdaad bekamp. Laataand wanneer die as wit geword het oor die gloeiende kole, het ons Doc en Mack en die boys in Cannery Row en Sweet Thursday onthou en oor die Amerikaners se intieme kennis van die Model T-Ford se vergasser gelag. Hy het my op hoogte gehou van sy drie seuns se doen en late. Al drie regsgeleerdes en oor die aarde verstrooi. Na hy geskei is, het hy my vertel van die nuwe vrouens in sy lewe.

      Wat maak ’n vrou mooi? het hy dikwels gevra en dan self geantwoord: “Haar liggaamshouding, hoe sy loop, kop omhoog asof die wêreld aan haar behoort, hoe sy gaan sit en haar bene kruis, hoe haar hare blink en om haar gesig en tot in haar nek hang.

      “Ek kon my verkyk aan Magrieta. Hoe sy ’n koppie tee drink,” het hy dan gesê. “Magrieta was ’n mooi vrou. ’n Goeie vrou ook. Jy, Daan, was ’n gelukkige man met ’n vrou soos Magrieta,” het hy gesê en uit sy maag gelag. Ek het stilgebly. My dierbare ou vriend het geweet, maar ook nie geweet nie. As hy geweet het, het hy nie gesê nie. Hý kon wanneer die nag koud word en ’n man diep onder die komberse lê, na sy musiek luister en droom hoe hy, soos Doc, van goeie meisies slegte meisies maak.

      Nou is Ferdinand ook nie meer daar nie. Kort na hy getuienis afgelê het in my aansoek om borgtog is prostaatkanker, reeds ver heen, by hom gediagnoseer. Hy het ’n verskriklike lyding gehad. Die kanker het na sy beendere versprei. Kon vir geen oomblik stilsit nie. En die dokters vertel ons ons hoef nie bang te wees vir prostaatkanker nie. Dis ’n stadig ontwikkelende, langdurige siekte. ’n Ander kwaal sal jou doodmaak lank voor prostaatkanker die kans kry om dit te doen, het ou dokter Mes se jong vennoot my gerusgestel toe ek bekommerd was oor my prostaat.

      Was dit Ferdinand wat veroorsaak het dat ek hulp gesoek het by die “Opsitkers”? Hy het voorgestel dat ons saam gaan vakansie hou op Plettenbergbaai. “Ons kry vir ons twee mooi jong vrouens,” het hy laggend gesê, “dan steek ons Plet aan die brand.”

      Tot aan die einde van my vyfde jaar toe ek met ’n LLB-graad van die universiteit af weg is, het Flip my vermy. Asof hy wou sê: wyk, Satan. Ek het na die heel agterste bank in die Latynklas geskuif. Van daar het ek hom dopgehou. Flip was vir my soos die jong koning Dawid, mooi van aanskyn. In my Bybel het ek gelees: Dawid het voor koning Saul gestaan, en dié het hom baie liefgekry. Jónatan het hom ook liefgehad. Na sy dood sou Dawid oor daardie liefde skryf.