gesê het ek moet hom nie Flip noem nie, maar Dominee, want, het hy gesê, hy is die gesalfde van die Here.
Die Tempel van Ewige Vrede,
Longshan,
China.
3 Maart
Liewe Magrieta,
Ek krap ou koeie uit die sloot met my ondersoek, en dit ontstel my. Ek het vanmiddag tydens die skrywery hartkloppings gekry.
Dis jou skuld. Jy het altyd gesê: “Skryf jou gedagtes neer, Daan, dan maak hulle dalk sin.” Nou doen ek dit en is ek doodbang iemand lees my gedagtes. As hier ’n kluis in die sel was, het ek my skryfboek toegesluit. ’n Kluis in my sel! Op ’n plek sonder ’n toiletbak in die kleinhuisie.
Het julle wasbakke in julle kamers, Magrieta? Het julle kamers? ’n Eie kamer? ’n Private badkamer en toilet? Julle was tog seker julle nuwe liggame in die hemel? Waarop sit julle wanneer julle van julle wolke afklim? Julle moet tog slaap ook? G’n mens kan die hele tyd in die goue strate loop en halleluja sing nie.
Jou ou man dink aan jou, Magrieta. Na jou begrafnis het ek nie jou leesbril weggegooi nie. Hy is in Kaapstad saam met my ma se valstande en my pa se mansjetknopies in een van Liefie se Springbok-tabaksakkies in die laai tussen my sokkies en onderbroeke.
Dis al vir vanaand.
Jou langslewende eggenoot,
Daan van der Walt
Naskrif: Ek wil jou nie ontstel nie, maar ek is desperaat. Ek moet hier wegkom en ek kry niemand om my te help nie. Ek kan nie eers ’n taxi bestel nie. Niemand verstaan my nie. Ek wil nie tai ji leer nie, Magrieta. Ek wil huis toe gaan.
VIER
’n Verlepte sonnetjie loer agter reënwolke uit. Dit bly donker in my sel, moeilik om te skryf. My oë gaan ingee. My sitvlak ook. En dis nie al nie, meester Yang het gister die tempel van die Here geskend. Hy het my gemartel om my yin en my yang te balanseer omdat daar fout is met my qi. “After the treatment the colour of your skin will tell us the state of your qì,” het hy gesê.
“Tell us,” my dierbare hond. Asof ek belangstel in die toestand van my qi. Wat vir ’n ding is qi? Waar aan my lyf sit hy?
Ek moes my jas, my trui, my hemp en my onderhemp uittrek, my onderbroek tot wie weet waar afdruk en in die koue op my maag op die kang gaan lê. Die helfte van my sel se vloeroppervlakte is kang. Bedags sit ek op die ding, snags moet ek daarop slaap. Daar is nie ’n matras op nie. Die monnike slaap so, hard en min. Die eerste twee nagte het ek nie ’n oog toegemaak nie. Dit maak nie saak nie, het meester Yang gesê, want ek mog nie plat lê nie. Ek moes sit sodat die kristalle in my binneoor wat hul balans verloor het, hulle ewewig kon vind. Gisteroggend het ’n monnik vir my ’n bamboesmat gebring vir die kang en dis waarop ek op my maag gaan lê het sodat my meester die kleur van my qi kon sien.
Hy het ’n dosyn bolvormige glase uit ’n swart leertas gehaal en op my skryftafel neergesit, ’n stuk watte tussen twee eetstokkies vasgehou, dit in alkohol gedoop, aan die brand gesteek en die vlam in ’n glas gedruk om die lug daarin te verhit. Die kokend warm glase het hy een vir een soos bloedsuiers langs my ruggraat af tot op my stuitjie geplak. Hy suig die slegte qi uit, het hy gesê. Soos die glase afkoel, voel dit toe of hulle die murg uit my rugstring suig. Meester Yang het probeer glimlag. “Chinese doctors have been cupping their patients since ancient times. It opens the five meridians on your back, allowing the qì to flow. Flow like water.”
As jy nog gelewe het, Kaspaas, het ek jou net daar beveel om hom aan die bobeen te byt.
Laas nag moes ek op my maag slaap met ’n rug so vol bloedkolle soos Josef se kleed. My rug is vanmôre berge en dale soos in die gesangvers, en ek kan nie eers my verwonding behoorlik aanskou nie; hier is nie ’n spieël nie en my nek is te styf om my kop soos ’n slanghals te draai.
Meester Yang het die kleur van die bloedblase op my rug beskou na hy die glase met woep-geluide soos proppe uit ’n wynbottel afgetrek het. “Light to bright red. Just as I thought. Your blood is too hot. Too much yáng, too little yīn.”
Yang is vir manlikheid. Jou heer en meester is te manlik. Ek kon dit vir hom gesê het sonder dat dit nodig was om my op my pyn-kang te martel.
Hy het ’n stink kruiemengsel in die monnike se kombuis gaan stook. Ek moet die konkoksie drie keer per dag sirkelvormig van links na regs om my dantian invryf. My dantian is ’n Chinese ding binne-in my maag, suid van my naeltjie. En net voor hy by my sel uit is, sê hy ek moet aangaan met tai ji.
Ek is oortuig tai ji is ’n soort godsdiens. Waarom anders doen net die kloostermonnike dit? Woordeloos sweef hulle elke oggend voor die tempel soos geeste uit die hiernamaals. Die ander monnike staar die uitverkorenes aan met afguns in hul oë.
Ek is seker jy wil meer hoor van hoe ek gemolesteer is, maar ek wil iets skryf oor die dag toe ek Kaap toe gery het om te gaan kuier. Oor dié dag is ek seker is ’n windmaker vryer soos jy ook nuuskierig.
Ag, Kaspaas, as ons op die plaas was, het ek nou vir jou ’n kerfie biltong gegee. Ek sou op ’n lusernbaal in die waenhuis sit en ons sou saam biltong eet en vanaand sou Ragel vir ons souskluitjies maak. Hoe lekker het regter Ferdinand nie altyd aan haar souskluitjies gesmul nie!
Een aand het Ferdinand en my bure Koos en Elsie by my geëet. Jy het met ’n dooie mossie in die bek die eetkamer ingekom en die voëltjie by my voete neergesit. Ek het van die tafel af opgestaan en hom in die kombuis in die asblik gegooi.
Na ete het ons oor misdaad in die Nuwe Suid-Afrika gesels. Ferdinand het gesê dat hy sy lewe lank teen die doodsvonnis was, maar die laaste tyd het die plaasmoorde so wreedaardig geword dat hy voel die doodstraf is die enigste gepaste vonnis.
Hoe bepaal ’n hof ’n straf wat regverdig is, wou Koos weet.
Een wat die misdadiger na behore straf, maar ook die kenmerk van genade toon, het Ferdinand gesê.
Hy was omgekrap oor die media se gewoonte om ’n ieder en ’n elk en veral die klaer aan die einde van ’n strafsaak te vra of hulle tevrede is met die hof se vonnis. Die klaer is selde tevrede met die vonnis. Niemand sal haar verkwalik as sy aandring op ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand nie. Weerwraak is menslik, maar in sy wese barbaars. Dis waarom daar howe is om strafsake te bereg en waarom die staat die misdadiger vervolg, het hy gesê.
Toe voeg hy by: “Jy sal onthou, Daan, appèlregter Holmes het gesê straf moet nie die beskuldigde soos ’n vierpondhamer agter die kop tref nie. Genade is ’n element by die bepaling van ’n gepaste straf in ’n beskaafde samelewing.”
In my tyd as aanklaer was die voorgeskrewe vonnis vir moord, as daar nie versagtende omstandighede teenwoordig was nie, die doodstraf. Ek onthou hoe naarstiglik advokate vir die verdediging na grashalms gegryp het ter versagting. Dié aand het ek hulle vertel van ’n doodsvonnis in ’n saak waarin ek aangekla het.
Die regter het laat die middag die doodsvonnis uitgespreek: Jy sal hiervandaan na ’n plek van aanhouding geneem word waar jy aan jou nek opgehang sal word totdat jy dood is.
“Ag nee, Daan, is dit nou nodig?” Koos het sy arm om Elsie se skouers gesit.
Ek het my nie van stryk laat bring nie: “Van die ouer regters het ook nog bygevoeg: Mag God jou siel genadig wees.
“Toe my regter sê jy sal aan jou nek opgehang word totdat jy dood is, het dit gevoel of die hofsaal se mure om ons toevou en ons nie kon asem kry nie. ’n Paar oomblikke was dit doodstil in die hof, daar was net die wind in die takke van die twee sipresbome langs die hof. ’n Ou vrou se angswekkende gil het die stilte verbreek. Sy het ’n kombers oor haar kop getrek en begin weeklaag. ’n Jong vrou in ’n lang swart rok het gekerm. Ander toeskouers het hard begin huil. Die veroordeelde se ma het langs die ou vrou met die kombers opgestaan en na die beskuldigdebank toe geloop. Almal se koppe het in haar rigting gedraai en dit het weer stil geword in die hof. Jy kon haar voete hoor sleep. Haar seun, ’n jong man van 22 jaar, was besig om sy klere uit te trek. Die hofordonnans het hom vertel dat