koer in die gereepte witstam-bloekombome. Drie vrybriewe en die brief aan Boerseun is in my kerkbaadjie se binnesak, die Viagra-voorskrif in my Bybel en ek luister na die Wet van die Here; die moets en die moenies vir mans wat God op die berg Sinai met sy eie vinger op twee kliptafels geskryf het terwyl sy volk met koorsange en onder tamboeryngeklank om die goue kalf dans. Saam met die kerk van alle eeue bely ek my geloof. Ons verootmoedig ons voor God in gebed. Die broeders staan eerbiedig. Die susters sit. Terwyl Dominee, soos hy nog al die jare doen, vir die regering bid om leiding van Bo en vir die weduwees en wese in hul eensaamheid hier onder, draai oom Hans Langoor en sy seun Skeel Piet om om te gluip na die spleet tussen die borste van die suster met ’n laehals- rok op die bank agter hulle.
“Amen,” sê Dominee. Die gemeente hoes en skuif reg vir die Skriflesing en die verkondiging van die Woord. Jy begin opstaan. “Down!” sê ek. Die volstruisveer in Sannie Coetsee se hoed bewe. Die teksvers is II Konings 5 vers 27: Daarom sal die melaatsheid van Naäman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe.
Ek voel aan my bas hier kom weer ’n preek oor apartheid en die skuld wat ons en ons nageslag vir ewig gaan aankleef, maar ek is verkeerd. Dominee gooi sy net vanmôre wyer as dié skandvlek op ons gewete. Na aanleiding van Gehasi se korrupsie preek Dominee oor al ons sonde in die algemeen en ons liefdeloosheid en die straf daarvoor in die besonder.
Ons gemeente het agter in die ry gestaan toe die Lam van God vir ons sondes aan die kruishout betaal het. Daardie betaling waarvan die Roomse in hul mis sing, het by ons gemeente verbygegaan soos ’n windgeritsel vroegaand in ’n terpentynboom in die dal van Josafat.
God se profeet Elisa was Gehasi se baas, en hy het wonderwerke verrig, Kaspaas. Hy het Naäman se melaatsheid genees en die geskenke wat Naäman hom uit erkentlikheid aangebied het, van die hand gewys. Gehasi het gaan konkel, die geskenke onder valse voorwendsels verkry en by sy huis weggesteek.
Toe hy voor die profeet verskyn, glimlag hy breed en maak of hy van g’n toet of blaas weet nie.
“Van waar, Gehasi?”
“Van g’n nêrens af nie, my heer.” Voor Gehasi ’n vinger kon lig om ’n vlieg seer te maak, kom die profeet Elisa hom summier met ’n vierpondhamer by: “Die melaatsheid van Naäman sal jou en jou nageslag vir ewig aanklewe.” Die Bybel sê toe Gehasi van Elisa af weggaan, was hy reeds melaats en, sê die Bybel verder, sy melaatsheid was soos sneeu.
Onthou jy hoe warm dit daardie oggend in die kerk was, Kaspaas?
Ons kerk het sentrale lugverkoeling én waaiers teen die dak gehad; kruisbande én ’n gordel om te verseker dat die kerk, die bruid van Christus, se onderkleed nie afsak en die gemeente naak voor die kansel staan nie, kan ’n mens maar sê.
Terwyl Dominee ons kasty met God se strawwe vir ons sondes, raak die lugverkoeling se gesuis stil en die waaiers teen die dak draai al stadiger en kom tot stilstand. ’n Kragonderbreking. ’n Paar vlieë sirkel lusteloos om die waaiers. Sweetdampe en laventelwalms kom swaar op ons lê. Ek is bekommerd oor jou, dat jy ’n hooikoorsaanval sal kry, met jou maag en al in die kerk. Jou kop lê op jou pote en jy hou my dop. Ek buk af en vryf jou ore. Toe sit ek agteroor en begin om II Konings 4 te lees, ’n hoofstuk wat ek myself lank gelede beloof het ek nooit weer sou lees nie.
Die profeet Elísa het af en toe by ’n naamlose ryk Sunamitiese vrou en haar bejaarde man ingewoon. Die egpaar was kinderloos. Die laaste keer het hy by sy vertrek vir die vrou gesê: Jy gaan ’n kind kry. Nie lank daarna nie kom sy agter sy is swanger en gee geboorte aan ’n seunskind. Hy was net mooi groot toe hy eendag saam met sy pa op die lande besig was om die oes in te samel. Skielik skree die seun: My kop, my kop, en val neer. Sy pa sê vir een van die werkers: Dra hom na sy moeder toe. Die vrou het haar seun op haar skoot vasgehou tot hy later die middag gesterf het. Sy het hom in Elísa se kamer op sy bed gaan neerlê en van Sunem af vertrek na die berg Karmel om die man van God te gaan roep. Hy is saam met haar na haar huis toe waar hy by sy kamer ingegaan, die deur agter hom gesluit en bo-op die seun gaan lê het, sy mond op die seun se mond, sy oë op die seun se oë en sy hande op die seun se hande. Vir ’n lang tyd het hy op die seun gelê, sodat die seun se vlees warm geword het. Elísa het toe van die liggaam afgeklim en, het ek in vers 35 gelees, één keer heen en weer deur die huis geloop en toe wéér op die seun geklim en oor hom gebuig. Die seun het sewe keer genies en sy oë oopgemaak en gelewe.
Ek het my Bybel toegemaak en die sweet met my sakdoek van my voorkop afgevee. ’n Rooigesig-kransduif het lawaaierig op die vensterbank gepronk en sy wyfie getrap.
“Amen,” sê Dominee aan die einde van die seëngroet en onder die klanke van die orrel loop ons die kerk uit.
Sannie Coetsee vang my oog en tik met haar vinger op haar polshorlosie.
“Sien jou nou-nou,” sê ek, en ek en jy loop na my bakkie toe.
By die supermark hou ek stil. Dis nie meer sonde om ’n koerant op ’n Sondag te koop nie. Die Rapport is uitverkoop. Ek vat toe maar ’n Sunday Times. Daar is genoeg tyd om die koerant deur te blaai. Op bladsy 11 vang my oog die opskrif When the other woman is a man. Ek lees: Getroude vrouens dink hulle mans loop agter ander vrouens aan, maar hulle is dikwels verkeerd. Navorsing het gevind dat een uit tien getroude mans owerspel pleeg met ’n ander man.
Ek gooi die koerant langs jou neer op die sitplek. “Julle Engelse sal ook enigiets skryf om julle koerante te verkoop.” Ek skakel die bakkie aan en ry ouetehuis toe vir middagete.
Ek is laat en gaan sit langs Sannie Coetsee aan die gesamentlike etenstafel. Sy het die pampoenbak in haar hand. Op my bord lê ’n varktjop, ’n skeppie klonterige kapokaartappels en ’n handjie vol voosgekookte ertjies. Donderdag nog het ek vir dié mense twee hele skape gebring, en ek kry ’n varktjop en waterige boerpampoen. Ek beloer die mans in die eetkamer. Ou mans, geklee in wit hemde, dasse en baadjies. Twintig van hulle. Watter twee spook met ’n varktjop op die bord en ’n doodsonde in die hart?
“Nog ’n skeppie pampoen, Daantjie?” vra Sannie Coetsee.
Die monnike se gebede het stil geword. My arm is lam van die skrywery, maar ek gaan deurdruk. Nee, Kaspaas, ek het nie owerspel of moord gepleeg nie. My sonde is dié van ’n yd’le jonkheidslewe op ’n enkelbed.
Sannie Coetsee se skeppie pampoen het my sooibrand gegee die oomblik dat ons in die bakkie geklim het vir die reis plaas toe, ’n sooibrand wat my nie laat los het nie. Ek het nie daardie aand geëet nie. Jy was olik en het vroeg in jou mandjie geklim. Toe ek gaan slaap, het jy gelê en snork.
Op die bedkassie was ’n amper leë pakkie teensuurtablette, my beker water, die Vulgaat, my flitslig, lipsalf en die botteltjie trane vir my droë oë. My vyf kussings het reg gelê: twee onder my kop, een agter my rug vir warmte, een voor my bors vir omhelsing en die blou kussinkie tussen my benerige kniekoppe. Ek het die mussie wat Elsie vir my gehekel het op my kop gesit, ’n slukkie water geneem en die lampie voor my bed afgeskakel.
My oë was skaars gewoond aan die donker toe ek van hom bewus word: my Spook. Soos ’n aardmannetjie het hy by my op die bed geklim.
Hy kom van ver af, hierdie spook van my. Ek het nie eers met jou oor hom gepraat nie, Kaspaas. ’n Halwe eeu gelede het ek sy nek omgedraai en hom begrawe, maar wanneer ek hom die minste naby my wil hê, vergeet hy dat hy dood is en versteur hy my ewewig. Soos ’n wafferse gees het hy sy grafsteen weer weggestoot, nakend herrys en met sy boepens en uitpeul-naeltjie op my katel geklim. Ek moes keer of hy het met sy klam voete, vuil toonnaels en harige bene by my onder die komberse ingekruip.
Met sy mosterd-en-ystervylsel-asem het hy in my oor gefluister: Ek het kom seker maak jy het nie dalk die goeie ou dae vergeet nie.
Terwyl jy in jou mandjie lê en fyn geluidjies maak, het my spook my teruggeneem na ’n aand in my prille jeug, ’n aand in my koshuiskamer op die PUK, soos ons die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys genoem het. Dit was aan die einde van my eerste jaar daar. Ek was saam met my kamermaat, Ferdinand du Plessis. Hy het nes ek ’n advokaat geword. Hy later ’n regter en ek ’n bout in sy moer vasgeroes in ’n gebreekte eenskaarploeg. Ek, die plaasjapie wat sy vrou probeer oortuig het dat die Sestigers die leser vervreem het met