Lodewyk G. du Plessis

Die dao van Daan van der Walt


Скачать книгу

nuweling-monnike wat op die trappies vir ons gesit en kyk het, het opgespring en in daardie rigting verdwyn. Die tai ji-monnike het ’n ry gevorm en, soos hulle aan die einde van ’n les maak, met hul regtervuis in hul linkerhand geslaan en hulle ook in dieselfde rigting gehaas.

      Wat gaan aan?

      Gebede, het meester Yang gesê.

      Die monnike se bidstond het my hond se gedagte gegee, Kaspaas.

      Is jy ’n Daoïs? wil ek van meester Yang weet.

      Hy knik.

      Is Daoïsme ’n godsdiens?

      Hy beskou my asof hy my vir die eerste keer met klere aan sien. “Let’s carry on with the lesson.”

      Selfs ’n gevalle Dopper probeer weer: “Is Daoism a religion?”

      “Daoism is called Dào jiā in Chinese, meaning the School of the Dao, the School of the Way.”

      Ons Doppers gee nie maklik bes nie. “Is Daoism a religion, Master Yang?”

      “Dào jiā is a school of thought. Dào jià-o is a religion.”

      “Jia en jiao,” sê ek, “’n o maak die verskil.”

      “Ji-ā. Ji-ào,” korrigeer hy die toonhoogte waarop ek die woorde uitspreek. Die eerste ā hoog en die tweede à dalend.

      “Which one do you follow?”

      “Dào jiā.”

      “So what’s so special about Dào jiā?”

      “More than 2 000 years ago the Dào jiā school of thought sought a way to live and survive during the Warring States period, a time of constant strife in China when people lived daily in fear of death.”

      Wat soek jy, ’n Daoïs, tussen die Boeddhistetempels?

      “Let’s carry on with the lesson, Da Ni Eu.” Hy kom voor my staan, gesig na my toe, voete uitmekaar en lig sy arms stadig op.

      Nou suur Daoïsme ook nog my spysvertering in. “What about tai ji, Master Yang? Is tai ji a religion?”

      Meester Yang se arms hang in die lug. “Tài jí quán originated in Daoism and Buddhist monasteries. The long hours the monks meditated every day weakened them physically. Tài jí quán, which you Westerners call just tai chi, was developed to make them strong. Tài jí quán is a fist system based on the dynamic relationship between yīn and yáng …”

      “Yin and yang is Greek to me …”

      “Yīn is dark, yáng is bright. For a start, think balance, Da Ni Eu. The negative is dark, feminine. The feminine balances with the masculine. The masculine is positive, light. There is a balance between light and dark, positive and negative, and masculine and feminine. That is what it is all about, the principle of balance. Now stop talking.” Sy arms rys hoër.

      “Master Yang …”

      Sy arms vorm skouerhoogte ’n sirkel voor sy bors.

      Selfs Doppers gooi handdoek in. Maar ek weet wat ek wou weet: my kop is op die Smal Weg na die hemel, my voete op die Breë Dao na die verderf en ek, my balans kwyt, is êrens tussenin.

      Ek strek my arms en volg my meester se bewegings. Op en af. Op en af …

      “Fàng sōng. Fàng sōng, Da Ni Eu. Relax, relax.” Hy laat sy arms sak, kom agter my staan en masseer my skouers. “You are too tense. Go for a walk.”

      Dit was die einde van my les. Hy het omgedraai en met die monnik wat in die Tempel van Ewige Vrede diens doen, gaan praat. Ek het sy raad gevolg en gaan stap.

      Orals op die berg is tempels en tempelkomplekse met mekaar verbind deur ’n netwerk geplaveide voetpaaie en steil trappe. Goedkoop arbeid is volop hier, Kaspaas. Die kommuniste laat nie stakings en optogte toe nie.

      Die monnike saam met wie ek tai ji doen, bly nie by die Tempel van Ewige Vrede nie. Hulle woon in ’n ommuurde klooster hoër op teen die berg. Besoekers word nie daar toegelaat nie. Dié manne het versoeking oorwin. Hulle boer in hulle tempel en sê dag en nag gebede op en word met ’n plank geslaan as hulle aan die slaap raak. ’n Bastrom se slae dreun twee-uur soggens agter die kloostermure om hul opstaantyd aan te kondig. Klokke lui vir bidstondes en soggens en saans weerklink dit in die klowe soos die monnike hul gode aanroep.

      Ek het om die kloostermuur geloop en op pad terug by die geeldaktempel ingeloer. Dié was volgepak met mans in okergeel klede, almal besig om in die lotusposisie voor ’n glimlaggende Boeddhabeeld te bid. Ek het besluit dis tyd om aan die gang te kom met my Historia en is terug na my sel toe.

      Die Viagra-voorskrif was nog in my hempsak toe ek by die eetkamertafel aansit vir die tamatiebredie wat ek geruik het met my tuiskoms ná my kuiertjie by Elsie op Witklippieskraal. Die bredie is vetterig en ek stoot my bord eenkant toe.

      Ragel kom staan in die deur met ’n pot koffie, ’n bekertjie kookmelk en ’n bak beentjies vir Kaspaas. Sy sit die skinkbord langs my Landbouweekblad op die tafeltjie onder die leeslamp neer.

      “Wat is fout met my kos?” Sy tel my bord op en beskou die oorskiet. Kaspaas hou my fyn dop.

      “Ek is nie honger nie.”

      Sy kyk na my. “Jy lyk nie siek nie.” Sy brom iets wat klink na drankasem en sê: “As my kos nie goed genoeg is nie, Klei’baas, soek iemand anders om vir jou te kook. Een wat jou oorle’ se handskrif kan lees.”

      Magrieta se portret staan reg teenoor my op die eetkamerkas. Ek kyk haar in die oë. Sy weet dis nie sy wat die resep uit Leipoldt se boek afgeskryf het nie. Dis in Elsie se netjiese skooljuffrouhandskrif.

      “Jy kyk verniet vir jou oorle’.” Sy skink vir my ’n koppie koffie in. “Môre is jy die ene galsterigheid van hierdie pot koffie wat jy gevra het.”

      Ek staan van die tafel af op en gaan sit op die leunstoel by die leeslamp. Kaspaas volg elke beweging. “Attention!” beveel ek. Hy spring op en kom sit penorent voor my stoel. Ragel pluk die vadoek van haar skouer af.

      “Môre antwoord ek nie die foon nie,” sê ek.

      “Askies?”

      “As die dokter môre bel, sê vir hom ek is nie hier nie.”

      “Moet ek vir jou lieg?”

      “Wat skeel jou, Ragel?”

      “Niks.” Sy skommel by die deur uit. In die gang hoor ek haar sê: “Michael is weer gerook.”

      Voor ek met haar oor haar seun se daggaverslawing kan simpatiseer, sê Kaspaas: “Ieegg, ieegg,” en stamp met sy neus teen my been.

      “Look me in the eye, dog.” Hy kyk vinnig na my en dan na die bak met bene. “Dag!” beveel ek. Hy weet hy moet my op Afrikaans groet, anders kry hy niks. Ek skud sy poot wat hy na my toe uithou, neem ’n beentjie en hou dit in my hand sodat net ’n puntjie tussen my duim en voorvinger uitsteek.

      “Smile!” beveel ek. Hy trek sy lippe van sy tande af weg asof hy in hoopvolle afwagting vir ’n selfie poseer. Ek knik my kop. Hy neem die beentjie versigtig met sy voortande, slinger dit met ’n swaaibeweging van sy kop in die lug, vang dit, kraak dit tussen sy tande en sluk dit in.

      “Good dog.”

      Ek skuif agtertoe op my ongemaklike stoel. Die tromme slaan hard by die geeldaktempel.

      Jy besef natuurlik jy was eintlik Jan-Willem se hond, Kaspaas. Hy het met jou op die plaas aangekom, soos met sy witmuise, malmokkies en mak duiwe. Terug by die koshuis het hy van sy diere vergeet en moes ek hulle versorg en dan maak die ounooi rympies oor my. Prulrympies. Wanneer sy uit haar literêre ivoortoring tree, was sy ’n kleppermanspoëet, vol knittelryme:

      Eers was dit trippe trappe trone,

      varkies in die bone.

      Toe jou seuntjie groter was,

      het